Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Toe huil almal saam met my’
Hanlie Retief gesels met Jill Levenberg
Jill Levenberg warrel die ateljeegang af soos ’n wafferse Kaapse suidooster, ’n storm in ’n sexy swart rokkie, hare wild en los, vol gesels en ’n glimlag wat jou amper insluk.

Jill Levenberg warrel die ateljeegang af soos ’n wafferse Kaapse suidooster, ’n storm in ’n sexy swart rokkie, hare wild en los, vol gesels en ’n glimlag wat jou amper insluk.

“Ek en my hondekind, Stoney, in ons huis in Kensington in die Kaap.” Foto: Edrea du Toit

Van Mymoena Samsodien, die Moslem-matriarg wat Jill ’n paar minute gelede nog statig en gedoek voor kameras in die Suidooster-ateljee gespeel het, is daar nou niks te siene nie.

Sy wip neer op ’n stoel, knars ’n bottel water oop en vat ’n paar vinnige slukke. Net onder haar roksoom lees jy die fyn sierletters op haar bobeen: Gracious words are a honeycomb, sweet to the soul and healing to the bones.

Spreuke 16:24.

Hy’t gesê niemand sal my weer liefhê nie. En nou is ek absoluut ‘fine’. Nou is ek?.?.?. lékker!

“Ek en Mymoena stem ooreen, maar sy dra nie mini’s nie, sy’t nie wille hare nie en sy’t nie tatoes nie . . .”

Sy wys ’n Chinese tekentjie op haar linkerskouer (“in Duitsland gedoen, way back, die Duitser het gesê ek is die héél eerste swart vel wat hy al gedoen het”), daar’s sterretjies op haar voete en die nuutste: ’n Swermpie voëls op haar regterskouer by haar pa se naam, Joey.

“My pa en my ma is my alles, en ek was definitief ’n daddy’s girl. My pa was ’n liewe, sagte gentleman. Laas jaar op ’n Sondagoggend, nadat hy vir ons oudergewoonte koesisters gaan haal het, het hy in sy kerkpak op die kombuisvloer neergesak. Ek was nog opgedress in my sequins-rok vir ’n Moedersdag-funksie by Kuier. Ons jaag toe met hom agterin die kar hospitaal toe, maar hy het eintlik al daar op die kombuisvloer gesterf.”

Sy druk met haar hand op haar tatoe-voëltjies. “Hulle is vir my Daddy, want hy kom nou altyd na my toe in voëls.”

Dis al vyf jaar gelede, maar dit voel soos gister toe Jill daar naby haar ouerhuis in Kensington in ’n taxi geklim het vir die oudisie om Mymoena te speel.

Sy het spesiaal haar Moslem-buurvrou gevra om vir haar ’n kopdoek te bind. “Ek trek altyd vir oudisies aan soos ek my voorstel die karakter sou.

“Sommige huil of lag en spreek my aan as Mymoena. En dan sê hulle gewoonlik: ‘Sjoe, jy lyk darem veel sexier in die regte lewe!’ ”

“Dis hoekom ek die kopdoek wou dra, ek wou travel soos Mymoena. En toe ek in die taxi klim, wás ek Mymoena.”

Die kopdoek is nogal ’n ander ding, glimlag sy. “Jy transformeer, jy is onmiddellik iemand anders. Dis asof jy ’n ander soort trots het, ek het ook amper ’n bietjie beskermd gevoel, dit was baie interessant. Ek het al baie Moslemvroue gehoor sê: ‘My man gee nie om of ek die purdah (next level met ’n skrefie in) dra nie, ék verkies dit, want ek voel vry.’ ”

Jill kan dit goed verstaan, en sy’t eintlik al self ’n purdah oorweeg, want vandat sy so bekend geraak het, oorval mense haar. “Sommige huil of lag en spreek my aan as Mymoena. En dan sê hulle gewoonlik: ‘Sjoe, jy lyk darem veel sexier in die regte lewe!’ ”

“Kyk hoe jonk is ek..."

Maar, sê Jill ernstiger, sommige bedank haar ook vir die waardigheid waarmee sy Mymoena speel. “Omdat Mymoena die eerste Moslem-matriarg in ’n sepie is, is dit uiters belangrik dat sy reg uitgebeeld word. Een keer het ’n 91-jarige Moslemvrou vir my gesê dit het so lank in die demokrasie geneem om Moslemvroue op TV te kry, dánkie. En sy weet ek is ’n Christenvrou, maar ek doen Mymoena justice.

“Ek en sy het altwee trane in die oë gehad.”

Dis ’n groot verantwoordelikheid, hierdie rol, nie net om die woorde op te sê nie, maar die maniér. “Die egtheid daarvan, dat sy met ’n geskiedenis kom anders as myne.”

Jill het die storielyn twee jaar gelede uitgedink, maar Suidooster was toe nog nie gereed daarvoor nie.

Mymoena het die afgelope ses maande Suidooster-kykers op hol gehad.

Haar man, die apteker AB Samsodien (Cedwyn Joel) en Ruiterbosch se Moslempilaar, het vergeet hy is al 30 jaar gelukkig getroud en sy oog laat dwaal na die aanvallige weduwee Farah Adjerahn (Lee-Ann van Rooi). Mymoena se hart was gebreek. En toe gaan staan en trou AB boonop die slinkse Farah.

Jill het die storielyn twee jaar gelede uitgedink, maar Suidooster was toe nog nie gereed daarvoor nie. Ses maande gelede het sy dit met Cedwyn bespreek en die vervaardigers het die groen lig gegee.

“Met mammie en daddie in ons agterplaas in 12de Straat, Kensington.” Foto: Verskaf

’n Tweede vrou in die Moslemkultuur is baie algemeen, maar mense weet nie van dié gebruik nie, vertel sy.

“Ek het al gehoor van moderne Moslem-paartjies met ’n klousule in hul kontrak om ’n tweede vrou uit te sluit.”

Die impak van hierdie storielyn het almal onkant gevang. Mymoena het die stem geword van vroue wie se mans hulle verkul.

“Aanvanklik het baie mense, oor die spektrum, gesê die storielyn is nie vir hulle lekker nie. Maar soos die verhaal ontwikkel het, sê baie vir my hulle het Suidooster begin kyk juis omrede dié storielyn. Wit, bruin, swart, álmal skryf op Facebook: ‘Dankie, ek het saam met jou gehuil, dis ook mý verhaal.’ ”

“Ek was al verneuk in ’n verhouding. Dis ’n donker plek as jy uitvind hy het jou belieg..."

Is Jill Levenberg al deur ’n man verkul?

Sy kyk op, kyk jou vas in die oog.

“Ek was al verneuk in ’n verhouding.

“Dis ’n donker plek as jy uitvind hy het jou belieg, dat hy een realiteit vir jou voorgehou het, maar agter jou rug leef hy ’n ander realiteit. Dis ’n plek wat ek ken, ’n seer plek.

“Met my matriekafskeid. Ek was 17.” Foto: Verskaf

“Om as Mymoena daardie plek te vind was daarom nie vir my moeilik nie. Waar Mymoena op die vloer was, verneder, uitgeroep het tot God want jy voel verpletter, jy wil nie weer opstaan nie, weet nie wat om te vertrou nie, wat is eg en wat nie.

“Wat het jy verkeerd gedoen, jy het maar net liefde gegee . . .”

Jill haal haar hoed af vir die manier hoe Lee-Ann die verleidelike Farah gespeel het. “Cedwyn, ook. In die tonele waarin AB vir Farah afsê, waar hy so jammer is, want op ’n manier het sy ook sý oë verblind. Ek klap vir hulle hande, want dit was so ég gespeel. Ek ken min vroue wat nog nie verneuk is nie.”

“Ek oordeel jou nie, elke mens het sy of haar eie storie. Daar is mense wat op die affair-paadjie in tweede huwelike is wat nou gelukkig is. Maar dink twee keer oor die pyn wat jy vir ’n ander mens kan veroorsaak.”

Vir die Farahs in die lewe wil Jill sê: “Ek oordeel jou nie, elke mens het sy of haar eie storie. Daar is mense wat op die affair-paadjie in tweede huwelike is wat nou gelukkig is. Maar dink twee keer oor die pyn wat jy vir ’n ander mens kan veroorsaak.”

Sy trek haar rug kiertsregop, haar mond vasberade. En dan begin Jill Levenberg haar eie verhaal vertel, vir die heel eerste keer.

“Ek was lank in ’n verhouding met ’n man met ’n narsistiese persoonlikheidsafwyking. Soos Farah vir Mymoena en AB in diep waters laat beland het, só het hierdie man my lewe ’n ongelooflike hel gemaak.

“Christo Davids, die regisseur van Queenie-hulle, gee my hier ’n lekker druk.” Foto: Verskaf

“Die hel wanneer jy uitvind hy leef veelvuldige ander lewens. Op daai stadium is jy klaar so diep in die verhouding ingesuig, so lief vir hom, jy is magteloos terwyl hy met jou kopspeletjies speel, jou belieg.”

Sy kan nou ander vroue help, die patrone en kenmerke van ’n narsis uitwys. Eers gooi hy jou toe met aandag en liefde, die sogenaamde love bombing, en dan begin die kritiek. Hy breek jou af, net om jou daarna weer op te tel – wipplank, heeltyd. Tussendeur is daar ook ander vroue, maar jy is die ‘amptelike’ een.

“Jou sesde sintuig vertel jou iets is nie reg nie, maar as jy hom konfronteer, draai hy dit net om en beskuldig jóú.

Terwyl dit met haar baie sleg gegaan het, het Jill Clarissa Pinkola Estés se boek Women Who Run With the Wolves onthou.

“Jy begin jouself wantrou, jy wonder of jy nie besig is om jou varkies te verloor nie.”

Terwyl dit met haar baie sleg gegaan het, het Jill Clarissa Pinkola Estés se boek Women Who Run With the Wolves onthou. “Hoe sy sê ’n vrou moet in die grond vir die bene gaan grawe. Toe doen ek presies dit: Elke aand terwyl hy slaap, het ek sy boodskappe op sy selfoon gelees. Ek het dit nog nooit tevore gedoen nie, en nog nooit weer nie. Al die ander vroue, al die ander lewens wat hy gelei het, was in sy boodskappe.”

Dit het haar ’n jaar en ’n half geneem om hom finaal te los. Sy het aanhou teruggaan na hom, maar elke keer kon sy langer wegbly, totdat haar eiewaarde uiteindelik genoeg was om hom finaal te los.

“In die inperking het ek kos uitgedeel in Kensington en Factreton.”

“Jy moet afstand kry, probeer uitvind: Hoekom bly ék in so ’n verhouding wat my laat voel ek verdien niks beter nie. Want dis vir seker nie liefde nie. Hy het altyd vir my gesê niemand anders sal my weer liefhê nie.

“En nou is ek absoluut fine. Nou’s ek . . . lékker!” lag sy. ’n Groot, oorrompelende lag.

Vandat sy kan onthou, was Jill mal oor die verhoog. Haar eerste “groot” rol was in st. 4 by St. John’s Roman Catholic Primary toe sy Nancy in die blyspel Oliver gespeel het. “I’d do anything for you, dear,” sing sy ’n reël en draai haar kop skuins.

“En dis mos ’n les vir die lewe: Moenie worry oor technicalities nie, spéél!”

“Shaleen Surtie-Richards en Royston Stoffels was die beoordelaars. In lewende lywe! Met een van die songs wou die mikrofoon nie werk nie. Ná die tyd kom sê Shaleen: ‘Julle is fantasties, maar luister, as die mic nie werk nie, lós hom en gaat net aan!’

“En dis mos ’n les vir die lewe: Moenie worry oor technicalities nie, spéél!”

Op laerskool het sy ’n musiekgroep begin, op 11 in ’n gedig geskryf “one day I’ll be on Broadway, under the lights, I’ll be on stage”.

“Dit was crazy.”

“Ek en Stoney op onse happy place, Woodbridge Island se strand.” Foto: Verskaf

Sy sal nooit haar eerste oomblik op die Baxter-teater se verhoog vergeet nie, debuut op sweet sixteen.

“En laat ek dit sê, lúid: In skoolkurrikulums vlieg kuns en drama eerste by die venster uit as daar nie ’n begroting is nie. Dis hartseer, sonder my betrokkenheid by Music Active sou ek nooit geweet het ek wil ’n aktrise word nie.”

Dié Kersfees het Mymoena vrede in Ruiterbosch, haar AB het tot sy sinne gekom. En Jill hou fees saam met haar geliefdes in Kensington, saam met haar “engeltjie” wie se lewe sy 15 jaar gelede gered het, en wat háár al deur moeilike tye gehelp het. “Stoney! My honnekind is ’n mengsel van jackrussellhond, Dalmation, rifrug én staffie wat hééltyd in die parkie vir die voëls blaf!

“Ek en Sandra Temmingh. Sy was my lektor in Afrikaanse drama by die Universiteit van Kaapstad. Sy was ook onlangs my regisseur in die teaterproduksie Die Al Kind, geskryf deur Herschelle Benjamin. Sy is een van my grootste mentors. Foto: Verskaf

“Hierdie jaar was ’n moeilike een.

“Ons het baie uitdagings gehad. Maar ek wil net ’n gedagte hier los. As vroumense wil ons altyd oral wees en almal help. En dis belangrik dat ons help, dat ons daar is vir ander mense. Maar hierdie feestyd: Moenie bang wees om nee te sê nie. Want daai liefde kan nie rêrig uit jou borrel as jy dit nie eers vir jouself gee nie. So, gee tyd vir jouself sodat jy gesonder kan wees om daai liefde weg te gee vir ander.

“Onthou, wees veilig. En geniet die feestyd.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.