Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Jy máák ’n verskil, dis wat jou aanvuur’
Hanlie Retief gesels met Johanna Strauss
Elke oggend as Johanna Strauss, die kinderhuis se nuwe hoof, deur die hekke ry, kom lê die verantwoordelikheid vierkant in haar...

Elke oggend as Johanna Strauss, die kinderhuis se nuwe hoof, deur die hekke ry, kom lê die verantwoordelikheid vierkant in haar...

‘Ons is daar weg in ’n groot motor met ’n vriendin van my ma, in haar statige ou Wolseley. Die kar het soos ’n groot skip oor die pad gewieg. Daar was ’n hek. Ons het die paadjie afgery. Voor die gebou was daar ’n tuin met ’n bankie. Ek is aan die vriendelike juffrou Prins voorgestel en sy het by my op die bankie kom sit en my hand vasgehou. Daarna het my ma my gegroet. Sy het weggery en deur die venster vir my gewaai. Ek sal dit nooit vergeet nie, ek het op die bankie in die son gesit en na my klein handjies gekyk. Ek was ses jaar oud. My ma was weg.”

Johanna Strauss is die nuwe hoof van die Durbanville-kinderhuis. Covid-19 se inperkings het groot uitdagings aan die kinderhuis, en geldinsameling, gestel. “Maar dié is ’n huis vir kinders, waar hulle geborge en veilig is.” Foto: Edrea du Toit

Dis hoe die skrywer Herman Lategan sy aankoms by die Durbanville-kinderhuis beskryf. Sy ma kon nie finansieel vir hom sorg nie en hy was ’n jaar lank in die kinderhuis. Vir die eerste maand het hy, verlam deur verdriet, nie ’n woord gepraat nie. “Ek onthou daardie gevoel van stom wees. En ek het geweet: Eendag as ek weer praat, sal ek nooit weer sonder woorde wees nie. Ek sal die donkerte met woorde besweer.”

Vir die akteur Ramey Short het daardie smal paadjie deur die hekke, verby die bankie, een ding beteken: tronk. “Waaruit ek wou ontsnap. Ek is as baba by die Durbanville-kinderhuis afgelaai, my hele kinderlewe was daar. Eers later het ek besef daardie hekke was my deur tot ’n veilige hawe, tot geborgenheid, ’n toekoms.”

Elke oggend as Johanna Strauss, die kinderhuis se nuwe hoof, deur die hekke ry, kom lê die verantwoordelikheid vierkant in haar: “Ek moet sorg dat 144 kinders geliefd en geborge voel.

“Dat dit huis is vir kinders.”

Maar, voeg sy dadelik by, in dié werk voel jy meestal ontsaglik goed. Jy kan dit nie verhelp nie, jy voel, jy sién jy maak ’n verskil, en dis wat jou aanvuur.

“Ek het in ’n finanstydskrif gelees dis makliker om geld te maak as om ’n verskil te maak. Hier kan jy.” Sy gee ’n laggie.

Ook Johanna se pad tot by die hoofskap het met ’n draai begin. Twee jaar terug het hul geliefde kinderhuishoof skielik aan ’n hartaanval gesterf. ’n Nuwe hoof is aangestel, maar laasjaar, op 1 Mei, is sy dienste beëindig en Johanna moes inderhaas as hoof begin waarneem.

“Deur die hek, af met die paadjie tot ’n nuwe kans vir 144 kinders. Ons het ook ’n satelliethuis in Kraaifontein, asook ’n oorbruggingshuis vir jong volwassenes wat studeer. Ons is een van min kinderhuise in die land wat dit bied.”Foto: Edrea du Toit

Skielik is sy, die bemarker en geld­insamelaar, die lang blonde tannie met die groen oë by wie kinders smiddae ná skool kom staan vir ’n kopvryf en geselsie – vir die hallo-hoe-was-skool wat kinders gewoonlik by hul ouers kry, nou Die Hoof.

“Dit was in die middel van die eerste Covid-19-vlaag. Ek en my kollegas het besef as ons nie saamstaan nie, gaan ons dit nie maak nie. Die kinders is reeds ingeperk binne die grense van die kinderhuis. Hulle wissel tussen die ouderdomme van 2 en 18, en hulle is in 38 skole – die logistiek . . .

“Gewoonlik kom hulle smiddae tussen eenuur en drie-uur terug. Maar met grendeltyd was hulle heeltyd hier, en die aan-en-afdae later by die skole was ewe uitdagend. Dink jou in: Hoe gee jy tuisonderrig vir 130 kinders? Ons het nie iPads of skootrekenaars waarop kinders aanlyn kan leer nie. Maar,” glimlag sy, “daar is altyd ’n plan te make.”

Jy sien elke dag hoe kinders die beste probeer maak uit niks.

Vier maande lank was daar ook geen kontak tussen die kinders en familielede nie, en hulle kon ook nie vakansies huis toe gaan nie.

“Ons buite-maatskaplike werker moes eers vasstel of die kinders na omstandighede gaan waar Covid-19-regulasies darem gevolg word. Gevolglik kon baie kinders nie Desember huis toe gaan nie. Dan besef jy: Daar is werklik niémand wat na hulle kan kyk nie.

“Boonop het baie reeds die trauma ervaar van ’n ouer wat dood is. Die vrees dat familielede aan Covid-19 kan sterf, is vir hulle erg.

“Ouers bly vir hulle die belangrikste mense in hul lewens, ongeag uit watter omstandighede hulle kom. Soos die dogtertjie wat vir my gesê al wat sy van haar ma onthou is haar lag, en dis genoeg.”

Dis in skerfies opmerkings wat hulle hier en daar laat val, waar die seer wys. “Soos die seun wat sê hy slaap saans so lekker, en dan sien jy in sy lêer hy was tuis elke aand fisiek aangerand.

“Twee sussies se ma is op ’n stadium oorlede. Al wat hulle van haar het, was die beursietjies wat sy vir elkeen gegee het, en ’n foto wat die maatskaplike werker van die ma geneem het die dag toe die kinders hier afgelaai is.

"Nou, hier, is daardie sirkel voltooi.”

“ ’n Veertienjarige seun, ’n goeie atleet, sê anderdag vir my: ‘Tannie, as ek in ’n kar ry, kyk ek altyd rond vir gevaar, want die oomblik as ek gevaar sien, weet ek ek moet vlug.’ Dit het my so geraak, ’n kind wat heeltyd in vrees leef, en weet dat hy vir homself moet sorg.”

Johanna het op universiteit maatskaplike werk as hoofvak gehad, maar sy is weggelok deur die opwinding van bemarking. “Ek was lank betrokke by die bemarking van Iziko-museums, die deel binne my wat welsyn wou doen, het ek 36 jaar lank opsy gestoot. Nou, hier, is daardie sirkel voltooi.”

Johanna se sukses lê in haar passie, vertel een van die kinderhuis se hoofborge. Sy is nooit bang of skaam om geld te vra nie, haar uitgangspunt is altyd: ek vra nie vir myself nie, maar vir minderbevoorregtes. Sy ken ook haar teikenmark – sy weet ’n rugbydag met Toks van der Linde pas beter by ’n klomp Durbanville-wynboere as by die konsulêre korps.

“Ek en Melanie Stipp, my kollega, saam met Aleit Swanepoel en Soli Philander by ons vrouedag-geselligheid in 2018.” Foto: Verskaf

“Sy is ook hardnekkig op ’n mooi manier, sy herinner haar donateurs elke dan en wan aan die nood van die kinderhuis, net genoeg dat hulle skuldig voel, maar nie soveel dat dit hulle irriteer nie,” vertel die borg.

“Haar kreatiewe idees oor hoe om mense se hartsnare te roer – van ’n swierige bal tot rugbydae vir mans, high teas vir vroue, tot skenk R50 per kind, dis immers net twee koffies – word landwyd nagevolg. ’n Fenomenale vrou.”

Alles draai om die kinders, sê Johanna eenvoudig.

As ’n kind uit sy ouerhuis weggevat word, is daar werklik geen ander uitweg nie, dis bloot té gevaarlik vir die kind.

As jy ’n kind uit sy gemeenskap haal en in ’n versorgingsentrum plaas, is die finansiële onkoste per kind 20 keer hoër, vertel sy. Staatsubsidies dek net ’n derde hiervan.

“Covid-19 het geldinsameling, inkomstebronne, laat wegval. Dit slaan jou op jou knieë. Toe begin ons met virtuele veldtogte. Met die #R50-veldtog het ons ’n amper ’n halfmiljoen rand gemaak. Ons het besef mense sit nou voor hul rekenaars, so ons het daarop gefokus om hulle gereeld op hoogte te hou. Deesdae is dinge koud en klinies, so jy probeer om vrywilligers en donateurs daardie gevoel van ‘behoort’ te gee, dat hulle iewers saakmaak.”

As ’n kind uit sy ouerhuis weggevat word, is daar werklik geen ander uitweg nie, dis bloot té gevaarlik vir die kind.

“Saam met Lezaan Lennox, raadsvoorsitter van die Durbanville-kinderhuis, en Wikus van der Merwe by ons jaarlikse bal in 2019.” Foto: Verskaf

“Sekeres noem ons die hoekie-kinders, die ouers laat hulle aan hulself oor, sit hulle in ’n hoekie. Dis hulle wat later straatkinders word.

“So 14 van ons kinders ly aan fetale alkoholsindroom, baie is seksueel misbruik, en omtrent almal is verbaal afgebreek.

“Volwasse mense wat intellektueel sukkel, het dikwels nie die vaardighede om goeie ouers te wees nie. In Suid-Afrika is daar ook nie regtig vir hulle hulp nie, so dit raak ’n siklus van kinderverwaarlosing.

“Ons kinderhuiskinders droom groot, maar hul wêrelde is baie klein."

“Dis hoekom ek die kinderhuis sien as ’n uitkoms vir ’n kind, want enige kind word met potensiaal gebore. Ek sien dit in ons sitkamer, as die ouers by hul kinders kuier. Die ouers lyk afgerem, geklap deur die lewe, en hul kinders is mooi aangetrek, rooiwang, die kind se wêreld het tasbaar verander.

“Ons kinderhuiskinders droom groot, maar hul wêrelde is baie klein. Hulle sal sê: ‘Tannie, eendag gaan ek dít word,’ maar as ek vir hulle vra: het jy al hieraan of daaraan gedink, miskien jou eie besigheid begin, of kantoorwerk doen soos ek? Hul selfbeeld is eenvoudig te veel in skerwe om wyd te dink.”

Die oud-Bok Joe Pietersen het al gereeld vir die kinders vakansietye foefieslaaids kom oprig. Hy het opgemerk die kinders speel met absolute oorgawe, asof hulle geen vrees het nie. Met rugby hardloop hulle skoon oor die ander kindertjies, lag Johanna. Die wil om te presteer is soveel groter as dié van meeste kinders daarbuite.

“Ek en my man Pieter Strauss.” Foto: Verskaf

“Dis verskriklike nederige kinders hierdie, vriendelik, hardloop altyd om jou te groet. Hulle is dankbaar, want hulle is al aan soveel swaarkry blootgestel.”

Dis ’n oopveg vir geleenthede vir hulle, alliepad, deur die kinderhuispersoneel.

Om kinders in skole geplaas te kry, is deesdae vir enige ouer ’n uitdaging. Vir Johanna is dit ’n nagmerrie. “Ons ontvang deur die jaar kinders en soms wag hulle maande vir ’n plek in ’n skool. Só raak hul skoolwerk nog verder agter, wat lei tot negatiewe gedrag en ’n nóg slegter selfbeeld.

Kinderhuise se grootste knelpunt is probleemkinders wat eerder in jeugsentrums met groter veiligheid behoort te wees.

“Die waglyste by leergestremde sentrums is ontsaglik lank. Die burokratiese uitdagings net om ’n kind weer op sy of haar ontwikkelingsvlak te kry, is enorm. Ons het ’n informele skooltjie op die perseel waar ons die kinders tydelik probeer help.”

Kinderhuise se grootste knelpunt is probleemkinders wat eerder in jeugsentrums met groter veiligheid behoort te wees. “Daar is eenvoudig net nie genoeg vlak 3-sentrums vir probleemkinders in Suid-Afrika nie. Kinders met dié soort problematiese, gewelddadige gedrag vereis baie personeel. Hoogstens nege van ons 144 kinders gee ons probleme, maar dit het ’n groot invloed op die ander kinders en personeel.”

Die swak gedrag van veral ouer kinders het verlede jaar die dagblaaie gehaal toe die kinderhuis se bure begin kla het.

“Saam met my seuns, Dian en Petri. Hulle sê altyd hulle sal dit verkies as hul vroue eendag werk as hulle kinders het, want hul ma het.”

“Dis dadelik gehanteer. Maar ek dink baie mense het ’n wanindruk van ’n kinderhuis. Dis ’n rehabilitasiesentrum. Die kinders se grootste uitdaging is roetine. Gedragsmodifikasie is ’n lang proses.”

Soos die samelewing en gesinne in Suid-Afrika verval, raak maatskaplike uitdagings al groter.

“In my dosyn jaar by die kinderhuis het die profiel van die kinders baie verander. Kinders word nou veel langer aan negatiewe gedrag en mishandeling blootgestel voor hulle by ons uitkom, en hulle is lang tye uit die skool. Hulle pas dus moeiliker aan.”

“Om hier te werk, laat baie ego-dinge in ’n mens wegval."

Haar man, Pieter, ’n digter en Afrikaans-onderwyser by die Hoërskool Stellenberg, het pas afgetree. “Johanna, jy trek jou die goed te veel aan,’’ maan hy altyd, lag sy.

“Om hier te werk, laat baie ego-dinge in ’n mens wegval. Jy is minder gefokus op jouself, want jy sien elke dag hoe kinders die beste probeer maak uit niks.

“Vir my is dit op ’n manier wonderlik dat hulle hier is. Want hier kan hulle gehelp word. Hier is hulle veilig.”

“Nog altyd mal oor kinders. Hier is ek en my bababoetie Schalk.”

Gekoester deur Johanna Strauss. Ma en kaptein van hierdie ark teen weerloosheid en ellende.

Sondagmiddae en rooi lipstiffie...

Melanie Stipp, bemarkingskoördineerder by die Durbanville-kinderhuis, was vandat sy vyf was tot op 18 ’n Durbanville-kinderhuiskind. Sy vertel:

Sondae is besoektyd. Jy wens die tyd verby. Jou maag is vol skoenlappers van opgewondenheid. Jy ken al die roetine, so selfs al kan jy nog nie tyd lees nie, weet jy wanneer besoektyd kom. Dis eers kerk, dan middagete, ’n vinnige middagslapie en dan besoektyd. Jy borrel amper oor van opgewondenheid terwyl jy by die “groot hek” staan en wag. Jy mis nie één kar wat verbyry nie. Soms staan jy heeltyd daar: tot besoektyd verby is en niemand opdaag nie . . .

Weer eens ’n verbreekte belofte; ’n kneusplekkie op jou hart, maar die hoop steeds soos ’n brandende vlam.

Ek onthou een spesifieke Sondag met besoektyd soos gister. My ma en stiefpa het kom kuier. My stiefpa was so dronk dat hy skaars kon loop en het die hele besoektyd op die gras gelê en slaap. Niks kon egter die blydskap demp om my ma te sien nie. Ek onthou hoe ons haar vir “onsself” gehad het. Ek het haar handsak uitgepak. Dit was vir my die lekkerste ding om te doen. Dit was amper soos om ’n skatkis oop te maak. Daar was honderde papiertjies, grimering wat los in die handsak gelê het en ’n paar pilhouertjies en sakkies met pille in. Haar handsak het altyd ’n unieke reuk gehad – ’n kombinasie van grimering, parfuum en sigaretrook.

Ek het ’n ou lipstiffiehouertjie uitgegrawe. Dit was rooi lipstiffie. Daar was skaars enige lipstiffie oor en jy kon dit nie eens meer uitdraai nie. Versigtig het ek dit teen my lippe gedruk, maar niks wou uitkom nie. My ma het sommer haar vinger gebruik om van die rooi lipstiffie uit te krap en aan my lippies te smeer. Ek het my mond getrek om vir haar ’n soentjie te gee. Ek het uit my maag gelag vir die rooi lipstiffiemerk wat so skuins oor haar wang gesit het.

Vol selfvertroue het ek ook my vinger gebruik om daarvan uit te krap en aan my ma se lippe te smeer. Dit was sommerso rofweg aangesmeer en het oor die rand van haar lippe gegaan. Sy het gelag en gevra of sy mooi lyk. Vir my was sy die mooiste vrou in die hele wêreld!

Toe besoektyd verby was, het ek en my sussie begin huil. Ons wou hê sy moes langer bly. Ons wou so graag saam met haar gaan. Sy het probeer verduidelik, maar ons het net al harder gehuil. Sy het later die ou lipstiffiehouer voor my uitgehou en gevra of ek dit wou hê. Natuurlik het ek snikkend ja gesê. Haar voorwaarde was egter dat ek haar moes belowe ek sal ophou huil en ek het. Daardie lipstiffie was die beste geskenk wat sy vir my gegee het.

Ek het die lipstiffie in my hand vasgehou terwyl ek toekyk hoe hulle by die hek uitgery het. In my hart het ek gehoop vir meer sulke Sondae. Ek het bly hoop en bly glo dat omstandighede sou verander. Ongelukkig, oor ’n tydperk van 13 jaar, kon ons nie teruggeplaas word in hul sorg nie.

Rooi lipstiffie en Sondagmiddae raak steeds my hart aan . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.