Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Teenpool vir die EFF
Hanlie Retief gesels met John Steenhuisen
John Steenhuisen skuif agter die mikrofoon in. Dis sy oomblik. Hy wag vir stilte. Skielik roep iemand uit “John Vuli Gate!” en die nuwe DA-leier erken dit met ’n vingerswaai en ’n breë glimlag.

John Steenhuisen skuif agter die mikrofoon in. Dis sy oomblik. Hy wag vir stilte. Skielik roep iemand uit “John Vuli Gate!” en die nuwe DA-leier erken dit met ’n vingerswaai en ’n breë glimlag.

“Die week het op ’n drafstap begin, Johannesburg, Pretoria, Lenasia, George, Knysna.” Hier is John Steenhuisen twee dae in die Protea-hotel in Wanderers. Foto: Elizabeth Sejake

Die boudswaai-internettreffer was sy speelse veldtoglied vir die DA-leierskap, en nou het die blou hekke voorwaar vir John Steenhuisen oopgeswaai.

“Ja, ek kán die ‘John Vuli Gate’-moves maak,” lag hy.

’n Mondigwording terug, op 22, het Steenhuisen Durban se stadsaaltrappe opgedraf as die jongste stadsraadslid ooit.

Verlede Sondagaand het hy John F. Kennedy in sy mond geproe. Kennedy, die blou Demokraat wat hy van kind af al bewonder, volg, navolg.

“Kennedy het nie beloftes gemaak nie, hy het sy ondersteuners uitgedaag. Ek dink ek het die DA die afgelope jaar uitgedaag om dieper te dink, versigtiger, doelgerig. Ek kon hulle uitdaag tot ons by ’n beter DA uitgekom het.

“Soveel mense het ons afgeskryf toe Mmusi Maimane die DA-banier presies ’n jaar gelede spreekwoordelik op die grond gegooi het. Niemand gaan dit weer optel nie, dis die einde van die DA, is geglo.

“En kyk nou net. Ons is uiteindelik by ’n plek waar ons hoop vir Suid-Afrikaners kan bied. Soos Kennedy, toe Amerika in hopeloosheid vasgevang was.

“Ja, ek het John Kennedy in my mond geproe.”

Nou wag volgende jaar se munisipale verkiesing, Steenhuisen se lakmoes-toets. Reeds word bespiegel of hy, soos Maimane, op sy swaard gaan val indien die DA verder steun verloor.

“Mmusi het nie bedank oor die swak verkiesingsuitslag nie, dit was die interne beleidsverslag wat hom laat loop het.”

Die afgelope week het één reaksie op die DA-verkiesing ’n hele stroom geword: Hoe kies ’n party ’n spierwit leierskorps in ’n land waarin net 8% van die bevolking wit is. Al sê die party hy is nierassig, stem mense tog vir ’n party waarin hulle hulself verteenwoordig sien?

“Ons grootste steun onder swart Suid-Afrikaners was onder Tony Leon en Helen Zille, in ’n tyd toe almal presies geweet het waarvoor die DA staan.”

“Nonsens. Hoekom kyk almal vas in die DA se topdrie? Beoordeel ’n party aan sy hele leierspan – die ANC se topses, die EFF se sentrale bevelspan, die VF Plus se hoofraad. Die DA se topleiers is die mees diverse in die land. Of dit nou Ivan Meyer, ’n bruin man van die Wes-Kaap is, James Masango van landelike Mpumalanga, of Refiloe Nt’sekhe, ’n jong swart vrou van Johannesburg – die DA-kieser is verteenwoordig.”

Altesaam 80% van die 2 000 afgevaardigdes het vir Steenhuisen gestem, waarvan verreweg die meerderheid swart is. In KwaZulu-Natal, Steenhuisen én sy teenstander Mbali Ntuli se tuisprovinsie, het 68% vir hom gestem, benadruk hy.

“Dis ’n mite dat net ’n swart leier swart stemme kan lok.”

’n Mite waarmee Helen Zille die DA lank aan die neus gelei het met haar Mazibuko- en Maimane-projekte?

“Die inperking was vir my uitdagend. Ek hou daarvan om met mense op straat te gesels, hul lewensverhale te hoor. Zoom-vergaderings is doeltreffend, maar frustrerend.”

“Ons grootste steun onder swart Suid-Afrikaners was onder Tony Leon en Helen Zille, in ’n tyd toe almal presies geweet het waarvoor die DA staan.”

En die praatjies binne die DA dat hulle nou maar wel vrede gemaak het om net ’n 24%-party te bly?

“Dis nie waarvoor ék my hand opgesteek het nie. Ek wil nie vir die res van my lewe die leier van die opposisie wees nie, ek wil op die regeringsbanke sit. Die DA moet die kern word van ’n nuwe meerderheid in Suid-Afrika, ’n meerderheid van goeie mense in alle partye, mense wat diep omgee vir die land, bekommerd oor die gemors waarin ons nou is.

“Die uitdaging oor die volgende vyf jaar gaan wees om dié mense te gaan soek, om ’n nuwe meerderheid en konsensus in Suid-Afrika te vind.

“Ons het dalk verskillende politieke sieninge, maar tien, 15 raakpunte moet gevind word om Suid-Afrika saam uit die moeras te lig. ’n Groot volksparty om die ANC te kan aandurf. In dié proses wil die DA ’n beduidende speler wees.”

Soos De Lille laasjaar vir Maimane I told you so gesing het, “so sing ek nou vir Ramaphosa we never promised you a rose garden.”

Die munisipale regeringsverkiesing is die DA se groot kans om die momentum wat die party verloor het, te herwin, sê hy.

“Ons het darem nou weer ’n DA-burgemeester in Tshwane, en ons fokus daarop om ANC-steun in 44 munisipaliteite waar die ANC besonder kwesbaar is, onder 50% te druk. In 23 van dié munisipaliteite kan ons selfs ’n volle meerderheid kry.”

Koalisies?

“Ons hou ons opsies oop, maar ons sal koalisies op ’n baie meer georganiseerde, professionele, deurdagte manier benader.

“Ek soek vaste geskrewe koalisieooreenkomste waarin koalisievennote hulself tot ’n gedragskode en program van aksie verbind. Nooit weer regeer ons van raadsvergadering tot raadsvergadering nie, dis hopeloos te onstabiel vir ordentlike regering. Dan eerder die opposisiebanke.”

“Tydens die grendeltyd het ek meer tyd kon kry by Terry, my vrou, en Olivia, ons driejarige dogter. Sy is nes ek: hardkoppig en vurig.” Foto: Verskaf

Ná vyf jaar in die koalisie-skool erken die DA sy foute. “In Tshwane en Johannesburg het ons vaste koalisievennote dikwels gevoel die DA luister nie na hulle nie, dat die DA gelei word deur ’n party buite die koalisie. Hulle het met reg gegrief gevoel. Nooit weer nie.

“Laat ek dít sê: die EFF maak dit al hoe moeiliker om mee saam te werk. Hul gedrag in Senekal, hul rasse-uitbarstings is die totale teenpool vir dit waarvoor die DA staan.”

Hy is nie bekommerd oor ’n verlies aan bruin steun in die Wes-Kaap nie. “Tussenverkiesings het intussen gewys ons staan steeds sterk. Op haar hoogtepunt in die Onafhanklike Demokrate kon Patricia de Lille net 2% tot 6% van die bruin stem kry.”

Die hardnekkige bewerings oor De Lille se betrokkenheid by die omstrede Beitbrug-grensdraadprojek laat hom agter sy hand glimlag.

“Daar is nou ’n hersiening van die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid en ek is trots op dr. Leon Schreiber (DA-LP) se veldtog daarvoor."

“Met ’n nog groter glimlag oor die verslag van die spesiale ondersoekeenheid.” Dis dieselfde De Lille wat hulle in die DA leer ken het, sê hy. “Inmenging in die administrasie, aanstellings en tenders. Surprise, surprise!

“Aan almal wat gesê het ek voer ’n heksejag teen Patricia: Een keer is dalk ’n fout, maar twee keer word ’n patroon. Nou is sy nie meer my probleem nie, maar Cyril s’n.”

Soos De Lille laasjaar vir Maimane I told you so gesing het, “so sing ek nou vir Ramaphosa we never promised you a rose garden,” sê hy laggend.

Ná verlede jaar se rampspoed-verkiesing het die DA skielik ’n nuutgevonde begrip ontwikkel vir kwessies wat wit Afrikaanse mense raak, soos moedertaalonderrig en plaasmoorde.

“Daar is nou ’n hersiening van die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid en ek is trots op dr. Leon Schreiber (DA-LP) se veldtog daarvoor.

“Wel frustrerend is die wanopvatting dat ons net ’n klein Afrikaner-elite wil beskerm. Die meeste Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika is nie wit nie. Dis belaglik om te verwag dat ’n jong bruin seun uit Mier in die Noord-Kaap nie in sy moedertaal aan ’n universiteit kan studeer nie.”

Ná die DA se suksesvolle Paia-aansoek (Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting) het die party nou insae in die volle gegewens oor die US-rektor se pogings om oudregter Edwin Cameron te oorreed om die kanselierspos te aanvaar. “Dit wys duidelik dat daar ’n ontstellende samespanning was. Die saak is nog ver van afgehandel. Ek dink die universiteit moet terugstaan en hul planne herbedink.”

Dis ietwat mosterd ná die maal, word gesê. Maties het klaar verengels sonder ’n piep van die DA. Waar was die DA toe prof. Hermann Giliomee en die taalstryders hulle nodig gehad het?

“Die DA het destyds probeer om alles vir almal te wees en gedink as hulle opkom vir Afrikaans, lyk dit asof ons net omgee vir wit kwessies.

"As ’n party by sy waardes hou, wurm hy hom nie uit kwessies nie. Ons gaan nou in die frontlinie wees vir dinge wat Suid-Afrikaners raak. Ek sal net so hard baklei vir Zoeloe en Xhosa as vir Afrikaans.”

“Moedertaalonderrig, plaasmoorde . . . Die DA het hom uitgewurm uit soveel belangrike kwessies. Mense het deur die DA se geveinsde vertoon van sorgsaamheid gesien.

“Nie meer nie. As ’n party by sy waardes hou, wurm hy hom nie uit kwessies nie. Ons gaan nou in die frontlinie wees vir dinge wat Suid-Afrikaners raak. Ek sal net so hard baklei vir Zoeloe en Xhosa as vir Afrikaans.”

Op hoërskool het hy DP-pamflette in Durban-Noord se posbusse gegooi. Voortvarende kind van ’n bankbestuurder-ma en skoolsielkundige-pa, nooit graad gevang nie, net politiek, politiek. Op 30 leier van die DA in die Durban-metro, ’n jaar later provinsiale DA-leier.

In die parlement was hy bekend as orator, ’n klassieke hoofsweep met die bynaam “ANC Slayer”.

In sy jaar as tussentydse leier is gereeld gesê leierskap verg ander talente as dié van ’n hoofsweep en Steenhuisen is ’n briljante hoofsweep . . .

“Tony Leon noem my ’n outodidak, iemand wat nuwe dinge vinnig aanleer. ’n Hoofsweep soek skoor, ’n partyleier moet meer van ’n staatsman wees. Ek glo ek kan dit vir die DA wees.”

Maar staatsman was Steenhuisen gewis nie tydens sy TV-skermutseling in Mei met die SAUK-ankervrou Flo Letoaba nie. Bekend vir sy kort lont, het Steenhuisen ontplof toe Letoaba by hom wou weet namens watter Suid-Afrikaners hy praat as hy sê Suid-Afrikaners reken die inperking het sy doel gedien en die ekonomie moet nou weer oopgestel word.

Die twee het mekaar minute lank doodgeskree.

“Nié die optrede van ’n staatsman nie,” erken hy, “maar of jy nou Kaizer Chiefs, Ernie Els of Tiger Woods is, almal het ’n slegte dag, en dit was myne.

“Maar daar was ’n silwer randjie, want #JohnSpeaksForMe het daarna ’n hele naweek getrend. Jy kan blootstelling soos dié nie koop nie, kan jy?”

Die streng inperking was vir hom persoonlik moeilik.

“Ek is mal daaroor om met mense op straat te gesels, hul lewensverhale te hoor. Zoom-vergaderings is doeltreffend, maar frustrerend, want as politikus soek jy oogkontak, jy lees liggaamstaal, die gees in ’n vertrek.”

Om by die huis te werk met ’n driejarige was ’n uitdaging.

“Olivia sou in die middel van ’n vergadering kom vra dat ek haar toilet toe vat,” sê hy laggend. “In ’n oproep met die president het sy op my skoot gespring en vir hom hallo geskree. Die president het haar baie vriendelik gegroet, die jintelman wat hy is.

“Ek het my twee oudste dogters, Ashleigh (14) en Caroline (12), wat by my eksvrou in Durban bly, verskriklik gemis. En dit het my ontstel hoe swaar mense tydens die inperking gekry het. Om te sien hoe ’n vrou agterin ’n polisiewa geboender word net oor sy atjar op die sypaadjie verkoop . . . verskriklik.”

En toe sit hy boonop ’n hele paar Covid-19-kilogramme aan, erken hy laggend. “Gelukkig draf ek darem nou weer. En ek het van hierdie rekbande gekoop waarmee jy veronderstel is om jou spiere te oefen . . .”

Maar Covid-19 het hom anders na die lewe laat kyk, sê Steenhuisen. Skielik was die bure nie meer vreemdelinge nie, “maar vriende wat ek nooit sou gehad het nie. Ek besef nou hoe belangrik dit is om vriende buite die politiek te hê.

“En . . . om tyd vir my gesin te maak. Vir die eerste keer het ek tyd gehad om ’n band met klein Olivia te vorm. Sy is nes ek, vurig en hardkoppig!”

Geskiedenis word soms gemaak deur die onwaarskynlikste mense, sê hy.

“Ons land gly nou ’n baie ernstige ekonomiese depressie binne. Iets drasties moet nou gebeur.

“Ek dink nie mense gaan omgee oor die kleur van die kat nie, solank die kat net die muis vang. Die DA het nou ’n plan om die muise te vang.

“Ek vra Suid-Afrikaners om die DA ’n nuwe kans te gee.”

  • Lees ook die artikel in Weekliks.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.