Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ingegrendel sedert 1978. Maar vry!
Hanlie Retief gesels met Julius van der Wat
Op 27 Maart 2020 het Suid-Afrika se totale inperking begin. Lockdown. Grendeltyd. Twee-en-veertig jaar gelede, op 11 Junie 1978, het Julius van der Wat se inperking begin.

Op 27 Maart 2020 het Suid-Afrika se totale inperking begin. Lockdown. Grendeltyd.

“In Nature’s Valley het ek vrye teuels. Ek kan gaan waar ek wil, óók restaurant toe vir ’n melkskommel nadat ek in die bos was. Ek is mal oor sjokolade!”

Twee-en-veertig jaar gelede, op 11 Junie 1978, het Julius van der Wat se inperking begin. Vir hom is daar egter nie ’n entstof-einddatum nie.

Sy grendeltyd is vir altyd.

“Ek is ’n serebraal gestremde spastiese kwadrupleeg,” begin dié merkwaardige man sy ongewone verhaal in ’n e-pos-gesprek.

Hy kan net sy kop en regterhand baie effens beweeg.

Julius hou op die oomblik saam met sy familie vakansie by Nature’s Valley, op die Tuinroete. Terwyl die strand ge-Cele is, ry Julius met sy elektriese rolstoel met Forest-rylaan tot in die woud en terug “na die ‘Vallei van Drome’ ” en plaas daarna sy roetekaart op Facebook: 8,4 km teen 9:16/km, tyd: 1h18m.

“My broer Izak het my onlangs bekend gestel aan die Strava-app. Dit meet die afstand wat jy aflê. Jafta (Morudu, Julius se heeltydse helper) aktiveer die Strava vir my.

“Boccia is baie lekker, want dit verg strategie, dinkwerk. By my hier is Jafta Morudu.” Foto: Verskaf

“Terwyl almal nou hier brom dat hulle nie kan strand toe gaan nie, het ek vrye teuels. Ek ry die strate plat. Nature’s Valley is vir my ’n geheime paradys.”

Dis ook vir Julius ’n manier om die samelewing daarvan bewus te maak dat iemand wat gestremd is óók aktief kan wees tydens ’n vakansie. En dit gate uit geniet.

Almal in Nature’s Valley ken hom al in sy T-hemp waarop “Spastic” in Tastic Rice-letters staan.

‘Julius is ’n byekorf van intelligensie en humor’

“Hulle stop my in die straat en vra hoe gaan dit.”

Die fotograaf Obie Oberholzer, ook ’n Nature’s Valley-burger, vertel in ’n De Kat-artikel dat hy oor die 20 jaar wat hy al vir Julius ken, “stadigaan besef het dat daar binne-in hierdie man ’n veld vol blomme groei, binne sy uiterlike dop van gevangenskap, sy fisieke tronk, het ’n byekorf van intelligensie, kreatiwiteit en humor gegons”.

Julius is as een van ’n tweeling gebore. Sy tweelingbroer, Koos, word as “normaal” beskou. “Die aanhalings hier is belangrik!” skerts hy.

“My broer Izak het dié valhelm met die metaalstaaf geprakseer. Nou kan ek kuns doen, wat vir my geweldig bemagtigend is.” Foto: Obie Oberholzer

Hulle is twee maande prematuur gebore en het elk net onder ’n kilogram geweeg. “My ma, Bini, onthou ons was so klein ons kon saam in ’n skoendoos pas. Ek kon in my pa se handpalm lê.”

Sy pa, Johan van der Wat, was ’n bekende Johannesburgse ginekoloog, ’n baanbreker in sy veld. “Daar is ’n ongeskrewe reël dat ’n dokter nie die bevalling van sy eie kinders kan hanteer nie.”

Op sy derde dag het klein Julius asemhalingsprobleme ontwikkel omdat sy longe nog nie goed genoeg ontwikkel was om te kon asemhaal nie. Hy is aan ’n asemhalingstelsel gekoppel, een vir volwassenes, want gespesialiseerde stelsels vir prematuurbabas het destyds nog nie bestaan nie.

Hy noem die voorbeeld van Stephen Hawking, die Britse teoretiese fisikus en kosmoloog wat van ’n masjien afhanklik was om te kon praat.

“Ek het breinskade opgedoen as gevolg van ’n suurstoftekort voordat hulle die asemhalingstelsel kon koppel. Die verpleegpersoneel by die Mary Mount-hospitaal in Johannesburg het egter my lewe gered. Ek is hulle eindeloos dankbaar daarvoor.”

Julius het skade opgedoen aan die motorkorteks van sy brein, met die gevolg dat hy uiters beperkte beweging het. Gelukkig, sê hy, is die kognitiewe deel van sy brein nie aangetas nie “en daarvoor is ek die Here dankbaar”.

“Hoewel dit ’n bietjie inspanning verg kan ek praat en ek wil dié vermoë nie verloor nie. Die alternatief is om van ’n masjien afhanklik te wees, maar dan verloor jy spontaneïteit, want die masjien moet geprogrammeer word.”

“’n Mens kan gestrem én gelukkig wees. Jou gestremdheid definieer jou nie.” Foto: Verskaf

Hy noem die voorbeeld van Stephen Hawking, die Britse teoretiese fisikus en kosmoloog wat van ’n masjien afhanklik was om te kon praat. Julius vermoed dat dit baie tyd moes geneem het vir Hawking om studente se vrae ná lesings te beantwoord, omdat alles deur die masjien moes plaasvind.

Om te kan kommunikeer, fisiek of deur middel van sy tablet, is vir Julius belangrik, want hy glo hy kan vir ander ’n voorbeeld wees.

“Gestremdheid is onlosmaaklik deel van my, maar dis net ’n klein deel van my wat my as mens uniek maak.

“Mense sê dikwels vir my: ‘Kyk hoe gelukkig is jy al is jy gestrem.’

“Daar was een kardinale draaipunt in my lewe, toe my fisioterapeut, Kerrie Austin, vir my gesê het ek moet ophou fokus op dit wat ek nié kan doen nie, want dit weet ons almal lankal. Ek moet eerder fokus op wat ek kán doen, mét my gestremdheid, nie ten spyte daarvan nie.

“Mense sê dikwels vir my: ‘Kyk hoe gelukkig is jy al is jy gestrem.’ Maar ek is gelukkig. Mens kan gelukkig wees al het jy ’n erge fisieke gestremdheid. Dit is nie ’n einde nie, maar die begin.”

Sy lewensleuse is nou “I have cerebral palsy, cerebral palsy does not have me”.

Fyn dink. Julius was al drie keer SA kampioen in sy afdeling. Foto: Verskaf

Julius is mededirekteur van die organisasie Abilities Without Limits en ambassadeur vir Loslitdag, die vlagskipprojek van die Nasionale Raad vir Mense met Gestremdhede (NCPD), asook van Nappy Run, waarin doeke vir gestremde kinders ingesamel word.

Saam met die ma van ’n hemipleeg-dogtertjie (verlam aan die een kant van haar lyf) het hy die webwerf cpresource.org begin. “Ons werk aan ’n enkele databasis vir alle hulpbronne vir serebrale gestremdheid.”

Op sewe was Julius al rekenaarvaardig. Tegnologie is vir hom ’n uitkoms, ’n deur tot vryheid.

“Mense wat my nie ken nie, verstaan my nogal moeilik oor die foon.

Die tafel en die valhelm stel Julius in staat om ten volle onafhanklik te wees.

“WhatsApp is soveel makliker. Ek gebruik ’n skaatsplankhelm wat Izak vir my aangepas het met eenvoudige toebehore, soos ’n metaalarm waaraan hy ’n stylus-pen met kleefband vasgemaak het.”

Vir ’n taak as eerstejaarstudent in ingenieurswese het Izak en sy pelle vir Julius 'n tafel ontwerp wat aan sy rolstoel vasgemaak kan word. Die tafel en die valhelm stel Julius in staat om ten volle onafhanklik te wees.

Izak: “Dis nou al 20 jaar later en hy gebruik die tafel nog elke liewe dag.

“Enigiets om dit vir hom ’n klein bietjie makliker te maak is die moeite werd. Een ding van my broer is sy vasberadenheid. As hy sê hy doen ’n ding, dan gebeur dit. ’n Pel van my wat met depressie gesukkel het, het altyd gesê hy kan nie verstaan hoe Julius nog enigsins glimlag nie. Dis die kombinasie van vasberadenheid en positiwiteit waaruit so baie mense inspirasie put.”

“Ek en Jafta Morudu. Ons lewens is ineengestrengel.” Foto: Obie Oberholzer

Die grootste geskenk wat SketchBook op sy iPad vir hom kon ontsluit is sy kreatiwiteit. Met die rekenaarpen “verf” hy op die tablet se skerm. Só kan hy ’n kreatiewe stem deur abstrakte kuns vind.

Dis vir hom baie spesiaal, want sy ouma Hannatjie van der Wat was ’n bekende abstrakte kunstenaar. “Ek het ’n hegte band met haar gehad – sy is in Januarie vanjaar oorlede.

“Van my werke was al op uitstallings, is verkoop en hang tot in Amerika in mense se huise. Dis bemagtigend.”

Sy digitale grafiese werke is meestal uitbundig kleurvol; soms meer monochroom, meer introspektief. Maar altyd blydskap, ’n viering van die lewe.

Maar sy mense, dié wat hom ondersteun, staan soos ’n leërskare om hom.

Obie noem vir Julius “Binneman” en skryf van Julius se stryd teen die samelewing se standaarde van verwagte normaliteit. “Hy lyk vreemd en daarom staar mense na hom sonder om gemoeid te raak. Hulle praat dikwels met sy helper, baie van hulle omdat hulle bang is hy sal antwoord soos hy lyk.”

Maar sy mense, dié wat hom ondersteun, staan soos ’n leërskare om hom.

Ma Bini is ’n sterk vrou wat vyf seuns grootgemaak het, vertel Julius. “Sy het my nooit laat voel dat ek anders is nie.

“My broers spot my tot vandag toe nog soms goediglik oor my gestremdheid, nes broers maar maak! Met ’n erge fisieke gestremdheid kom ’n goeie sin vir humor nuttig te pas.”

“Deur die jare het ons al baie aanpassings gemaak om my lewe so gemaklik as moontlik te kan maak.” Foto: Herman Verwey

Toe Julius so ses was, het ’n verwer wat vir sy pa gewerk het opgemerk dat Bini hulp nodig het met haar gestremde kind en bied toe uit sy eie aan om na Julius te begin omsien.

“Jakob Mokoena was vir bykans 26 jaar my arms en my bene.

“Al my assistente is vir my soos engele en soos my skaduwee. Die ding van hierdie mense, soos Jafta en Jakob, is dat hulle hul persoonlike lewe opoffer om my op te pas en my behulpsaam te wees. Ons lewens is ineengestrengel.

“Ek en Jafta moes eendag Kaap toe vlieg en my pa het die kaartjies bespreek, met Jafta s’n as ‘Jafta van der Wat’! Ons moes dit inderhaas op die lughawe verander.

In sy tienerjare het Julius meermale soos Jakob in die Bybel met God geworstel.

“Omdat ons naby aan mekaar leef, kan ons soms maar lékker kopstamp!

“Gelukkig gebeur dit bitter selde en ons kom gou daaroor en gaan aan. Ek is so oneindig dankbaar vir my omsieners. Jafta het dit so raak beskryf toe hy gesê het ons twee vee mekaar se trane af.”

Op Mary Bornman, ’n arbeidsterapeut, se aandrang het Julius aan boccia begin deelneem. Dis ’n paralimpiese sport vir rolstoel-atlete met erge fisieke gestremdhede. Sedertdien was hy al drie keer die Suid-Afrikaanse kampioen in sy afdeling.

“Mary glo jy het potensiaal, al is jy hóé erg fisiek gestremd. Sy gee mense die toerusting om hulself te bemagtig, die res is in jou hande.

Hanlie Retief

Mary: “Julius is baie erg gestrem en dis verstommend om te sien wat hy bereik met die bietjie wat hy het. Met boccia is hy strategies, dis sy kop wat die kampioen is, sy ongelooflike geheue. Hy ken die eienskappe van elke bal.”

Julius se boesemvriend, Sarel van der Merwe, is ’n boekhouer. Hulle kom al van kleuterdae saam en het op laerskool begin saam studeer vir toetse en eksamens. Hy is ’n dipleeg, wat beteken sy onderlyf is in ’n mate beïnvloed, so hy loop moeilik. “Ons is saam deur moeilike tye en deur baie vreugde, soos om saam na groot sportwedstryde te kyk.”

In sy tienerjare het Julius meermale soos Jakob in die Bybel met God geworstel. “Hoekom ék en nie my broer nie?

“Een aand in my koshuisbed – ek was so 13, 14 – het ek God se stem gehoor. Hy het vir my gevra: ‘Hoekom bevraagteken jy My so baie? Ek het ’n doel met jou lewe in jou rolstoel en wanneer jou doel bereik is, gaan Ek jou opneem na die hemel en daar sal jy ’n verheerlikte liggaam hê, jy sal kan loop.’

“Ek is oortuig dit was die Here wat met my gepraat het en van toe af het ek berusting en leef ek volgens Sy wil vir my lewe.”

Daar was twee geloofsbeproewings daarna. “Mense het vir my gesê my geloof is nie sterk genoeg nie en dis hoekom ek nie kan loop nie. God het my elke keer daardeur gedra.”

Die afgelope week het Julius saam met sy broer en dié se seuntjie van hul huis tot by die Grootrivierbrug, onderdeur eeue oue kalanders, gery. Hulle op hul fietse en Julius in sy rolstoel.

Al heers daar grendels oor sy lyf kan sy siel die bloutes in.

“Ek glo elke mens, gestremd of nie, is Sy skepping. En Hy maak nie foute nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.