Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Bouer van jong, vergete lewens
Hanlie Retief gesels met Jurgens van der Walt
Op Sedgefield het ‘n bende jong seuns by karre ingebreek, straatligte stukkend gegooi en heeltyd amok gemaak. Toe neem Jurgens van der Walt hulle onder hande. ‘n Dansgroep is gestig, ‘n groentetuin in die township, en nou is hierdie jong kriminele lieplappers net gewone seuns. Mét ‘n toekoms.

"Ek hou daarvan om mense te help, maar ek is verskriklik hardegat. ’n Bitter ongeskikte ou. My arme vrou is my filter, want ek het g’n takt nie en my taalgebruik is ook nie altyd van die beste nie.”

Klein lieplappers wat vir kwaadgeld in Sedgefield se strate rondgehang het. Foto: Verskaf

Só beken Jurgens van der Walt: Toe hy sien hoe ’n klein lieplapper ’n straatlig in Sedgefield met ’n klip staan en uitslaan, het hy rooi gesien. Hy het die mannetjie gejaag, gevang en gebulder: “Nóú gaan ek met jou ma-hulle praat, want hierdie gemors moet ophou.”

Ses maande later noem dié kind en sy bende amokmakers vir Jurgens Pa.

Met emmers geduld, ’n armvol planne en ’n goeie skeut hardegatgeit het Jurgens hul lewe reggeruk, vir hulle ’n toekoms oopbaklei.

En gewys wat ’n gewone mens kan doen om van ons land ’n beter plek te maak.

Jurgens en sy vrou, Karen, het vyf jaar terug ’n gastehuis in Sedgefield, die klein kusdorp tussen Wildernis en Knysna, gekoop.

“Ek was my lewe lank in die boubedryf in Johannesburg en Pretoria, ons het restaurante gebou. My oom-hulle het ’n gastehuis in Plettenbergbaai en toe byt die gogga ons. Dis hemels hier, maar dié groepie kinders het almal se lewe op die dorp versuur.

“Hulle het heeltyd in die strate rondgehang en nonsens aangejaag. Steel handsakke en selfone, breek in karre in, ’n totale lastigheid. En die hele lot gebruik dwelms.”

Jurgens het hulle gereeld uit die strate gejaag en gedreig om hul gaaie aan die brand te slaan, maar dan vloek hulle hom en trek ’n vinger oor die keel.

Lekker astrant.

En toe slaat dit my: Hierdie kinders maak hulself groot, ons moet help.
Die stukkende straatlig waar alles begin het.

Die klip deur die straatlig was die laaste strooi. Hy laai toe die kind in sy kar en vat hom township toe om met sy ouers te praat.

“Die huis was ’n shack van 4 m by 4 m. Binne was dinge maar rof. Laat ek só sê: Daar was nie juis entoesiasme om na my te luister nie.

“En toe slaat dit my: Hierdie kinders maak hulself groot, ons moet help.”

Maar hoe? Die vraag het bly knaag.

“ ’n Vooraanstaande ou in Sedgefield het vir my gesê ons moet net genoeg sake teen hulle bymekaarmaak en die dag as hulle 18 is, sluit ons hulle toe.

“Ek was verstom. Is dít nou die Suid-Afrika wat ons wil bou? Wat soek ek dan nog hier, hoekom is ek nie lankal in Perth nie?”

Toe gee die kinders self vir Jurgens die eerste stap na ’n oplossing. ’n Danstreetjie.

Nou noem hierdie klomp seuns vir Jurgens van der Walt Pa. Foto: Verskaf

“By Sedgefield se mark het hulle Saterdae dansies begin doen vir geld. Terwyl die een helfte dans, rol die ander helfte die mense se sakke. Stout. Maar toe ek sien hoe lekker jive dié kinders, spring ’n plan in my kop. Danslesse.”

Hulle wou eers niks van Jurgens weet nie. “Weens ons geskiedenis,” lag hy, “ek het hulle toe al ’n paar keer met die dood gedreig.”

Jurgens maak toe ’n deal met hulle: Hy sal vir hulle met ’n bedelbrief op sosiale media geld vir dansklere kry en dans- en musieklesse reël. “Op twee voorwaardes: Hulle moes ophou met hul vandalisme; en om die mense te verpes.”

Die tien knape sê toe: Deal.

Dis dierbare kinders, maar ’n addict is nie die kind nie; ’n addict is ’n vieslike ding.

“Die gemeenskap het dadelik ingestem om te help, want almal was al so gatvol vir hierdie kinders dis net nie waar nie!”

Jurgens en Karen het die klompie Pep Stores toe geneem vir alles van strikdasse en kruisbande tot onderbroeke. Ná hul eerste dans-en-sangles is die Top Shots gebore.

“Die eerste Saterdag het die groepie R1 500 gemaak. Die veiligheidswag het amper ’n oorval gekry en vir my kom sê as die mense weet watse liedjies hulle sing sal hulle nie ’n sent gee nie, want dis opruiende struggle songs!”

Ná die tyd het Jurgens en Karen hulle by ’n marktafel laat sit vir ’n wiskundeles terwyl hulle die geld probeer tel.

Dit was gou duidelik tel is nou nie eintlik groot by hulle nie, skerts hy.

Elkeen het R50 gekry en die res het Jurgens vir hulle in ’n nieregeringsorganisasie se trustrekening geplaas.

“Daar is baie geelhout-saailinge in die kwekery. Die kinders gaan hulle nou in kleipotte wat hulle self gemaak het, by die mark verkoop, ná die inperking. Foto: Verskaf

“Hulle was vuur en vlam daarvoor. Hulle het naderhand tot R2 700 ’n Saterdag verdien. Kort voor lank het hulle meer geld as hul ouers gehad.”

Die eerste vyf Saterdae het hulle met hul R50 reguit stasie toe gehardloop om dagga te koop. “Dagga is hierdie kinders se selfmedikasie; hulle rook om te vergeet van die sukkelbestaan en honger kry in die township.

“Maar op die sesde naweek gebeur daar toe ’n mini-wonderwerk: Hulle vra my om hulle by ’n spazawinkel af te laai waar hulle handevol swiets gekoop het.

“Die aandag op hulle, die handeklappe en die foto’s saam met mense het dié kinders skielik ’n bietjie menswaardigheid laat proe. Hulle kon net kinders wees wat swiets met hul sakgeld koop.”

Tot hulle die volgende week weer so verskriklik gerook was, kon Jurgens niks met hul uitrig nie.

“Dis dierbare kinders, maar ’n addict is nie die kind nie; ’n addict is ’n vieslike ding.

“Eintlik al wat opgehou het, was die kinders se vandalisme. ’n Menigte mense het die pad met hierdie kinders saam met ons begin en hulle het almal van die bus af geval. Ekself ook, baie kere, maar dan oorreed my vrou my weer om aan te gaan. En net wanneer jy dit die minste verwag, verras hulle jou en jy sien hoeveel vordering hulle gemaak het.”

Die probleem ontstaan gewoonlik by die ouer broers en kinders in die gemeenskap. Die sogenaamde dropouts.

Hierdie kinders het geen kans as ’n mens nie ingryp en help nie. As almal van ons net ’n kind, of tien, kan help . . .
“Sedgefield se Top Shots ken hulle moves.” Foto: Verskaf

“Die laerskool druk die kinders graad vir graad deur, dan aanvaar die hoërskool hulle nie, want hulle kan nog nie lees of skryf nie. Dié kinders sit dan ledig in die township rond en gebruik die kleintjies om by die huise in te breek, want die polisie kan nie die kleintjies straf nie. In my dae was daar verbeteringskole. Dié kinders word net gelos.”

In Januarie het die kinders ewe plegtig vir Jurgens gesê hulle wil weer teruggaan skool toe. Dié keer het hulle met hul eie spaargeld skoolklere gaan koop. “Skoolklere, tasse, penne . . . Jís, hulle was trots gewees.”

Om dit te vier het Jurgens en Karen hulle na ’n pizzaplek geneem.

“Ek sal nooit hul opgewondenheid om terug skool toe te kon gaan, vergeet nie. Op die eerste skooldag moes ons eers in die ingangsportaal gaan wag. In ’n ry sit ons toe daar, dressed to kill and nowhere to go.”

Net om by die skoolhoof te hoor die kinders is nie welkom nie. Hulle is vier jaar gelede geskors en te ver agter.

“En hoe kan sy ’n straatslim 15-jarige dwelmgebruiker saam met ’n negejarige meisietjie in ’n klas sit, sê sy vir my. Boonop is daar 55 kinders in ’n klas, waarvan tien, 15 óók moeilikheidmakers is. Ek het dit verstaan.”

Maar toe Jurgens daar uitstap en die ry trotse kinders sien sit, kon hy dit nie oor sy hart kry om vir hulle te sê die skool wil hulle nie hê nie.

Leë mae lei tot leë breine.
“Toe Smutsville se kinders sien ek bring vir mý groepie kos, wou hulle ook hê, want die regering se inperking-kospakkies was nêrens te sien.” Foto: Verskaf

“Toe sê ek maar vir hulle ‘Tuisskool is jul voorland’ en skryf daai aand weer bedelbriewe – vir tuisskool-instellings.

“Drie dae later bel Breinlyn se uitvoerende hoof my en bied alles verniet aan. Al wat ek moes doen, was om die kinders se skoolgereedheid te toets.

“En dís waar ons toe agterkom nie een van hulle is gr. 1-gereed nie. Hulle is tussen 13 en 15 jaar oud!”

Net duskant moedverloor pieng die volgende plan in Jurgens: Hulle kan bedel, steel, dans, kanse vat; hulle oorleef op straat – dis vaardighede! Kom ons leer hulle nóg.

“Oom Willie Pedro het vir ons ’n stuk grond van sy kwekery in Smutsville gegee waarop die kinders nou ’n stewige groentetuin het.

“Nico Liebenberg, Sedgefield se pottebakker, het hulle geleer om potjies te maak waarin geelhout-saailinge op die mark verkoop word. Nóg vaardighede.”

Eendag gaan hy ’n tegniese skool hê vir dié kinders, droom Jurgens, waar hulle gaan leer om loodgieters en elektrisiëns en timmermanne te word.

Reeds voor Covid-19 het Jurgens en Karen gereël dat die kinders elke derde dag “ ’n ordentlike bord kos” by ’n welsyngroep kry. “Die ander dae het die gemeenskap ingespring. Ons kon letterlik sien watter verskil voeding maak.

Ek gee die regering en die skool 100% die skuld vir die gemors waarin hierdie kinders vandag is. Die skool het hulle uitgegooi en vergeet van hulle.
“Die Top Shots, uitgevat in hul Pep Stores-uitrustings. Hulle verdien tot R2 700 ’n Saterdag by die bekende Wild Oats-mark by Sedgefield.” Foto: Verskaf

“Leë mae lei tot leë breine.”

Van 100 of meer klagtes per maand kry die polisie nie meer één oor dié kinders nie.

“Die polisiehoof het vir my gesê hy weet nie wat ek met hierdie kinders aangevang het nie, maar dit werk. Dis maar net aandag en liefde, was my antwoord, dis al wat ’n kind nodig het.”

Tydens die inperking het Jurgens gereël om steeds vir “sy” kinders kos te neem. “Maar toe vra 500 ander honger townshipkinders waar is húlle kos, want die staat se kospakkies bly missing.”

Plan maak, weer.

En dís waar ons toe agterkom nie een van hulle is gr. 1-gereed nie. Hulle is tussen 13 en 15 jaar oud!

Hy het Martie Rooi, ’n voormalige teatersuster en “ ’n tawwe girl”, nadergetrek.

“Sy en vyf ander Smutsville-moeders het nou 11 sopkombuise wat vir meer as 1 000 kinders twee etes per dag gee.

“Vroue met glimlagte; ek het soveel respek vir hulle.”

En die heel beste vir hom: Die gemeenskap doen alles.

“Ek het gesê ek soek nie ’n tafel met ’n klomp wit mense wat kos uitdeel nie, dis vernederend. Interessant, waar rassespanning voorheen altyd dinge kom deurmekaarkrap het, het die sopkombuise die gemeenskap nader aan mekaar gebring.

“Mense het respek vir mekaar begin kry.”

Maar soos in skynbaar elke gemeenskap in die land het Sedgefield ook sy kwota rassiste. “As jy iets aanpak, koor hulle dit sal nooit werk nie. En as jy dan faal, koor hulle: sién.”

jurgen van der walt
Jurgens van der Walt en sy vrou, Karen. “Enige mens moet ’n kans kry in die lewe.” Foto: Edrea du Toit
My arme vrou is my filter, want ek het g’n takt nie en my taalgebruik is ook nie altyd van die beste nie.

Sy “dierbare” Karen, met wie hy al 32 jaar getroud is, herinner hom heeltyd: Jurgens, dis nie ’n resies nie, dis ’n marathon.

“Ek gee die regering en die skool 100% die skuld vir die gemors waarin hierdie kinders vandag is. Die skool het hulle uitgegooi en vergeet van hulle.

“Die wet sê hulle moet binne 21 dae gaan soek word. Dis ’n skánde wat hulle aan ons kinders doen.”

Wat laat hom aanhou?

Hy sug. ’n Diep sug. En dan vertel Jurgens sý verhaal; hoe hy self geen kinderlewe gehad het nie. Soos Sedgefield se jong amokmakers was Jurgens ook altyd die slegste, domste en lelikste kind in die skool. Hy was in 13 skole. Nadat disleksie half toevallig by hom gediagnoseer is, is hy toegelaat om sy eksamens mondeling te doen.

“Van toe af het ek onderskeidings gekry. Ek sê net, enige mens moet ’n kans kry in die lewe. Daar is soveel ongelykheid en onregverdigheid in ons samelewing, dis apartheid se wrede nalatenskap. Ek help net tien kinders.

“Daar is miljoene van hulle in Suid-Afrika. Hierdie kinders het geen kans as ’n mens nie ingryp en help nie. As almal van ons net ’n kind, of tien, kan help . . .”

Word dit dalk soos emeritusaartsbiskop Tutu gesê het: Gooi elke goeie daadjie saam en dit oorrompel die wêreld.

Luister: Hanlie Retief gesels met Jurgens van der Walt

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.