Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met Lana Marks
Mal oor melktert én Donald Trump

Donald Trump het nog nooit ’n oortreffende trap gehoor waarvan hy nié gehou het nie, is al gesê.

Tremendous! Amazing! Terrific! Moron! Stupid! Extraordinary! The very, very best!

By haar spesiale kaggelfoto’s, met dié van haar saam met pres Trump in die Withuis se Oval Office, ’n foto en dag ná aan haar hart. Foto: Deon Raath

Nou, pylreg uit Die Don se dampkring, sy Mar-a-Lago-oord in Florida, Amerika, luister mens na sy ambassadeur in Suid-Afrika, en dis dieselfde politiek, dieselfde hiperbole. Ewe ongelooflik! Ewe fantasties! Ewe buitengewoon!

Maar of jy reken sy is Trump se bag lady, of sy middelvinger aan Suid-Afrika soos Financial Mail dié aanstelling van iemand met zero diplomatieke ervaring beskryf het, ’n “diplomatieke neofiet” volgens New York Magazine – Lana Marks is ’n vars bries.

Die varsste bries ooit, kan mens self hiperbool oor dié blonde oud-Suid-Afrikaner wat haar eie handsak-empire van niks af opgebou het nie.

Wat sy nooit oor die jare verloor het nie, is haar Oos-Londense gulheid. Sy gesels ’n hond, nee, ’n hele trop, uit ’n bos. Toe sy hoor ek bly in die Kaap: “Gelukkige jý! Kaapstad het ’n spesiale plekkie in my hart, ek het my man daar ontmoet.”

44 jaar gelede. Op die President-hotel se terras. Drankies saam met haar broer. Tafel langsaan: Geleentheid. Psigiater by Groote Schuur-hospitaal wat Chris Barnard se oorplantingspasiënte deur hul emosionele neerslagtigheid help. Dr. Neville Marks.

Ek is so bly ek beleef Suid-Afrika in die Ramaphosa-era.

“Hy was saam met ’n meisie wat ek uit my universiteitsdae in Johannesburg geken het. Ons het begin gesels . . .

“En ek moet dié ook asseblief met jou deel,” borrel haar stem effe uitasem. “Ek was ’n redelike goeie junior tennisspeler in Suid-Afrika en het in 1985 twee titels in die Makkabese Spele vir Amerika gewen.

“Daar op die terras vra Neville of ek tennis speel. ’n Bietjie, antwoord ek, en hy nooi my vir ’n wedstryd die volgende dag.

“My ma het altyd gesê as jy teen ’n ou speel, is dit beter om te verloor. Maar teen Neville, het ek besluit nonsens daarmee, en ek wen hom. Nege dae later het hy my gevra om te trou.”

Sy lag uitgelate. “Kan ek nóg ’n storie vertel? Die enigste keer wat Neville ’n stel teen my gewen het, was die dag voor ons seun gebore is. Ek het soos ’n peer gelyk. Nou nog verkondig hy dat hy wél al teen my gewen het.”

Die dag nadat hy verkies is, het pres. Trump vir Lana Marks gesê sy kom Suid-Afrika toe as sy ambassadeur.

Sy is die vierde lid van Mar-a-Lago wat aangewys was vir ’n pos in Trump se administrasie.

“Ek weet pres. Trump wou my hier hê. Toe ek hom ’n dag nadat hy verkies is gelukgewens het, het hy vir my gesê ek is sy kandidaat. Ek dink dit was so slim van hom om my aan te stel, want ek ken Suid-Afrika. Sedert ek in 1976 hier weg is, was ek al 20 keer terug gewees.”

Toe die Amerikaanse senaatskomitee destyds wou hoor hoekom hulle vir haar moet stem en nie vir ’n beroepsdiplomaat soos haar voorganger nie, die gerekende Patrick Gaspard, het sy haar internasionale sakeonderneming as motivering voorgehou, asook dat sy Afrikaans en Xhosa magtig is.

’n “Baie pro-aktiewe individu”, noem sy haarself in ons onderhoud. In haar “vorige lewe” het sy “ongelooflike” mense oor die wêreld heen ontmoet, en die media breedvoerig leer hanteer.

“Ek is só dankbaar vir pres. Trump dat hy dié eienskappe in my raakgesien het. Hy het juis sterk gevoel oor die feit dat dit ’n plus sou wees dat ek nie ’n loopbaan-politikus is nie. Van daardie einste loopbaan-ambassadeurs kom nou na my toe vir raad.”

“Ek was ’n redelike goeie junior tennisspeler in S
“Ek was ’n redelike goeie junior tennisspeler in Suid-Afrika en het in 1985 twee titels in die Makkabese Spele vir Amerika gewen.”

Sy het reeds buitengewone verhoudinge opgebou met pres. Cyril Rama­phosa “en al die ministers, en al die sakemense”.

Kan sy nog Afrikaans en Xhosa praat?

“Ja, ek kan,” kom die Afrikaans. “Toe ek vier was, het die buurt se ‘nannies’ na my Xhosa kom luister. Dis omtrent 1 000 jaar gelede, so my Xhosa is maar verroes, my Afrikaans is beter.”

Om die Afrikaanse kinders se Taalbondeksamen by Clarendon High School for Girls in Oos-Londen te skryf, het haar ma haar ekstra lesse laat neem. “Mag ek nóg iets deel? Die onderwyser het my die Rapport van hoek tot kant laat lees, so ek kan nie eens vir jou begin sê hoe opgewonde ek is oor dié onderhoud nie,” borrel sy oor. “Ek kom ’n lang pad met Rapport!”

Haar gunsteling- Afrikaanse sêding is “baie dankie”. “Mens kan iemand spoggeriger bedank, maar vir my sê ‘baie dankie’ die heel meeste.”

Haar kinderjare in Oos-Londen is soos ’n outydse skyfie-aand: “Pragtige strande”, “pynappelplase”, “wildreservate”, “tennistoernooie op buurdorpe”. “Ek was ’n gelukkige kind in ’n hegte gesin.”

Haar pa, Alec Bank, was destyds ’n gesiene eiendomsontwikkelaar en invloedryk in die Joodse gemeenskap.

“Daar was tradisioneel ’n uitstekende verhouding tussen die Joodse gemeenskap en die Afrikaners. Ons was altyd welkom op die plase.”

Haar pa het as jong seun uit Litaue na Suid-Afrika gekom. “Van sy familielede is daar dood, maar met sy blou oë en blonde hare kon hy ontsnap.”

Die jong Lana Bank het “absoluut niks” van die politiek geweet nie. Maar toe kom speel Donald Woods, die struggle-aktivis-redakteur, gereeld tennis by hul huis. “Ek het geluister hoe Donald van Steve Biko vertel. Vir die eerste keer het ek bewus geword van wat in Suid-Afrika aangaan. Dit het my permanent verander.”

Op 1 Mei 1976, ’n dag ná haar troue en minder as twee weke voor die Soweto-opstande, het Suid-Afrika vir Marks in ’n vliegtuig se dampstreep finaal verdwyn.

Sy het haar handsak-empire op ’n kombuistafel van ’n woonstel in Miami begin – met ’n paar sketse en haar pa se sakelesse.

Eintlik kan sy koningin Liesbet vir dié idee bedank. “In 1984 is ons uitgenooi na haar verjaardagpartytjie op die koninklike jag Britannia. My man was ’n baie prominente dokter, wêreldwyd.”

Sy wou “hierdie wonderlike” pers-en-rooi pakkie dra, maar helaas kon sy in die ganse Palm Beach nie ’n bypassende handsak (verkieslik van alligatorleer) opspoor nie.

En nét daar pieng die liggie in haar blonde kop. Nismark! Haute couture-handsakkies in wilde kleure!

Van haar eerste smeulpienk alligatorleerhandsak tot ’n empire met Helen Mirren met ’n Lana in haar een hand en ’n Oscar-beeldjie in die ander op die verhoog, Angelina Jolie, Sarah Jessica Parker, Charlize Theron . . . prinses Diana in ’n kakiebroek met ’n Lana-gordel op daardie beroemde landmyn-foto’s.

Prinses Diana sou eintlik die naweek van haar dood ’n vakansie van vier dae saam met Marks in Italië gehad het. Maar toe is Marks se pa dood aan ’n hartaanval, sy moes kanselleer en Diana sterf in ’n tonnel in Dodi Fayed se Mercedes.

“Ek het nog altyd in my hart gedink as sy saam met my was, sou dit nooit gebeur het nie. Ek verwyt myself daaroor. Sy was die wonderlikste mens, van binne én buite.”

Toe Palm Beach se eksklusiewe Wasp-klubs weier om die Joodse Marks-egpaar as lede te aanvaar, het hulle by die peperduur, eksklusiewe Mar-a-Lago lidmaatskap gekry.

En haar toekoms was in die sterre geskryf.

“Ek was gereeld by my vlagskipwinkel in New York, baie betrokke by liefdadigheid, en by een só ’n geselligheid het ek en Donald Trump begin gesels. Hy was toe al ’n baie skerp, intelligente sakeman, baie innemend en baie, baie, oopkop.” Trump was by haar dogter se troue in 2010 op Mar-a-Lago en hoogs beïndruk met Marks wat die swierige geleentheid self gereël en geen moeite of geld ontsien het nie. “Hy het van die hele onthaal gehou, ek het alles self, van begin tot einde, gedoen.

“Ek en my man en die Trump-familie het vir 23 jaar kontak behou. Ek was ongelooflik bevoorreg.”

“Agent Orange” is nié die Trump wat sy ken nie, antwoord sy ferm.

“Ek het die ware Trump leer ken, ’n kant van hom waar hy absoluut ’n hart het. Hy is ’n goeie mens. Mense weet dit nie.”

Die president is “misverstaan” toe hy gesê het Suid-Afrika is ’n misdaadgeteisterde gemors, sê Marks.

Trump praat die taal van die blouboordjiewerkers op straat, sê sy. “Al wat hy gedoen het, was om van die probleme in Suid-Afrika uit te lig, probleme wat inderdaad nou deur pres. Ramaphosa getakel word.”

Oor Trump se omstrede 2018-twiet waarin hy sê hy het Mike Pompeo, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, gevra om grondonteiening en plaasmoorde te ondersoek, haal die ambassadeur presies aan wat sy destyds vir die Amerikaanse senaatskomitee gesê het: “Plaasmoorde en alle moorde is skokkend en onaanvaarbaar.”

En dis dit.

Haar ambisieuse doelwit is om Suid-Afrika onder Amerika se top-20-handelsvennote te kry.

“Amerika is Suid-Afrika se derde grootste handelsvennoot. Ek hou nie van nommer drie nie, ek wil nommer een wees.”

Uiteraard was daar aaklige staatskaping en korrupsie, maar pres. Rama­phosa en sy ministers werk baie hard om dit so vinnig moontlik te oorkom.

George Floyd se dood het haar diep geraak, sê sy.

“Dit druis in teen alles waarvoor ons staan. Soos Suid-Afrika het Amerika ’n komplekse verlede, waarvan die probleme nou ondersoek word.”

En Trump se olie-op-die-vuur-twiets soos “when the looting starts, the shooting starts”?

“Vryheid van spraak is ongelooflik belangrik in Amerika. Maar plundery en die vernietiging van eiendom is ’n heel ander saak. Kom ons laat dit daar.”

Die geskiedenis sal Trump onthou vir die “buitengewone, buitengewone werk wat hy vir Amerika, en globaal, verrig het,” sê sy.

Sy het persoonlik deur die Withuis gesorg dat Suid-Afrika die eerste land was wat ’n besending van 1 000 Amerikaans-vervaardigde ventilators gekry het. “Geen ander land het soveel gekry nie.

“En dan, natuurlik, was daar die fantastiese telefoongesprekke tussen pres. Ramaphosa en pres. Trump, en tussen hulle is daar ’n fantastiese verhouding en ek dink dié verhouding tussen ons twee lande sal net aanhou sterker word.”

Om terug te wees in ons jong demokrasie raak aan haar hart. “Ek is so bly ek beleef dit in die Ramaphosa-era.”

Sy stuur haar seun gereeld Woolworths toe vir hul mini-koeksisters, lag sy. “Hulle is kleiner, so ek verbeel my ek eet minder.”

Madame Ambassadeur is ook mal oor melktert en malvapoeding en o goeiste, sy’t ’n swak vir Peppermint Crisp. “En boerewors – wat kan ek sê.”

Wat ’n seëning was dit nie om die Groot Amerikaanse Droom self te kon leef nie, sug sy behaaglik. “En nou kan ek teruggee aan my geboorteland . . . dit opsigself is ’n droom.”

Meer oor:  Lana Marks  |  Donald Trump  |  Vsa  |  Ambassadeur  |  Diplomaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.