Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die dag toe Leon begin sien
Hanlie Retief gesels met Leon van Nierop
Sy eerste fliek het hy in 1957 op ’n styfgespande laken sien flikker. Nou is dit sy karakters wat op die lakens speel . . .

Leon van Nierop op sy pos voor die grootskerm. foto: Deon Raath

Hoe gebeur dit dat ’n bleeksiel van Brakpan, eens ’n seun met puisies en ’n minderwaardigheidskompleks so groot soos ’n Oos-Randse mynhoop, ’n erepenning ontvang van die Akademie én boonop die hyg terugsit in hygromans?

As jou naam Leon van Nierop is, dan gebeur dit.

In sy stomendste boek ooit, die blitsverkoper Katelknaap, lees jy: Sy snak na haar asem. ‘Oe, stadig, stadig, stadig. Dit het laas vir my voor die Groot Trek gebeur.’ Hy glimlag effens. ‘Wat jy nou ervaar, was nog nie invent tydens die Groot Trek nie.’ ‘O, my bybie . . .’

Jinne.

’n Ent verder: Skep asem, my lief.

Goeie raad vir diegene wat dié boek onder hande kry.

Dis maar een kant (bepaald donker, op die skakerings van grys) van dié rolprentresensent, skrywer, regisseur, omroeper en oudprofessor.

Laksman. Die plesierengel. Ballade vir ’n enkeling. Wolwedans in die skemer, Ratels en Stralerjakkers vir die radio. Dis alles syne. En hope ander. En boonop nog ’n tienstuks liefdesromans wat hy onder die spulse skuilnaam Jacqueline Brink gepleeg het.

Leon is vanjaar die ontvanger van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se sonderlinge erepenning vir die bevordering van die rolprentkuns, spesifiek vir sy boek Daar doer in die fliek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprentbedryf.

“Ek het gehoor van Die Prys net voor ek die teater vir ’n voorvertoning ingestap het. Ek was vir ’n oomblik letterlik duiselig.”

Die begin van Leon se eie reis met die silwerdoek klink self soos iets uit ’n Hollywood-draaiboek, ’n Out of Africa.

Brakpan se opstelskrywertjie met die predikantskuif.
Sy ma het hom altyd in die blou Vedette inryteater toe gesmokkel.
Leon (4) by sy oupa Ben Wartington.
Leon was met vakansie by sy ouma-hulle, Tienie en Ben Warrington, in Botswana toe hy die eerste keer gaan fliek het. Foto: Verskaf

“Dit was 1957. Ek was vier jaar oud. My oupa en ouma het ’n plaas naby Francistown in Bo­tswana gehad, toe nog Betsjoeanaland. Die middag het Ouma vir my gesê ons gaan vanaand bioskoop toe. Ek het nie geweet wat dit is nie.

“Ons het seker 40 myl ver gery verby olifante en moes stilhou vir leeus wat oor die pad loop. En ek dog: niks gaan interessanter wees as dié diereskouspel nie. Maar toe gaan sit ons in die saaltjie op die dorp en Daar doer in die Bosveld begin draai.”

Op die styfgespanne laken het klein Leon vir die heel eerste keer beelde op ’n doek sien beweeg.

“Ek was heeltemal oorweldig. Maar amper interessanter as die fliek, was die reaksie van die mense om my, hoe daai stroewe boere in die paadjies rondkruip van die lag. Wat gebeur, het ek gewonder, hoekom doen die fliek dít aan hulle?

“Dís waar die resensent in my gebore is.

“Terwyl ons in die jeep terugry, vra Ouma: ‘Maar wat is dit wat jou nou so opgewonde maak?’ Toe sê ek vir haar daai man in die fliek is eintlik Oupa, nè, want Oupa kan ook nie (nes Jamie Uys) met vroumense werk nie.

“My ouma het só gelag. En toe sê sy vir Oupa: ‘Leontjie kyk anders na die bioskoop as ons.’

“En ek het dit nou nog . . .”

In sy hoërskooljare het sy ouers hom douvoordag Saterdae in die blou Ford Vedette Brakpan-stasie toe aangekarwei. Met ’n retoerkaartjie is hy Parkstasie toe en dan het hy al die pad geloop tot by Sterland in Claimstraat.

“Dit was asof die stoel (gewoonlik vyfde ry van voor, want daardie kaartjies was die goedkoopste – 35c in die oggend, 53c in die middag! – net vir my gemaak is. Omdat ek Saterdagoggende gefliek het, was daar min mense, en dit was asof die rolprent net aan my behoort. Die skerm, so naby aan my, het my amper ingesluk – dis net die stoel wat my in die teater geanker het.”

Onlangs in Amsterdam het hy homself weer gaan verloor in die Tuschinski, die 1921-fliekpaleis.

“Ek het my vergaap aan die luuksheid van die muurbehangsels. Toe raak ek bewoë, want skielik was ek weer 14 met die wêreld se flieks wat wag – daardie oomblikke wanneer jy ’n lewensveranderende fliek die eerste keer sien – dis soos om vir die eerste keer verlief te raak.”

Hy is een van enkeles wat volgehou het om oor rolprente te skryf, sê Leon. “In ’n voorskou van Black Panther is daar 60 kamtige resensente. Met ’n kunsrolprent daag so twee of drie van ons ou die-hards op. A Wrinkle in Time? Net twee. Waar is die ander 58?

“Dié volgehoue, koppige vasberadenheid het bygedra tot die erepenning. Ek is maar altyd die getroue ou esel wat daar gaan sit, maak nie saak wat wys nie.”

Die slegste fliek wat hy al in sy lewe geresenseer het, was Kampterrein, ’n Afrikaanse film wat laasjaar gewys het en hy het op sy tande gekners om nie sarkasties te wees nie.

Die allerbeste het in 1974 op hom gewag in ’n lesinglokaal by die Universiteit van Kaapstad.

Weer op ’n styfgespanne laken. Weer het dit sy lewe kom omtiep: 2001: A Space Odyssey.

“Dis waar ek finaal besef het ’n rolprent kan ook ’n filosofie wees, nie net vermaak nie.”

2001, vanjaar al 50 jaar oud, is steeds die een fliek wat hom ’n rede gee hoekom hy hier op aarde is.

Op 65 weet Leon die lewe is wél ’n odussee.

“Jy gaan deur ’n leerproses, jy vorder tot ’n volgende vlak, word hergebore as iets anders. Al verstaan ek steeds nie die heelal en ons plek hierin nie, was 2001 die naaste wat ek daaraan kon kom.”

Langs Snoopy-strokies, sy “bybel”, skerts hy, het Leon op sy kennisgewingbord ’n aanhaling van Stanley Kubrick (die regisseur van 2001): “The very meaninglessness of life forces man to create his own meanings.”

“Dis wat ek probeer doen met my boeke en resensies.”

Soos die grootoog-vierjarige tussen harde boere op harde stoele in ’n Francistown-saal, só is Leon van Nierop op 65 steeds die waarnemer van mense, die wewer van stories.

“Gister, op ’n boekbekendstelling van Katelknaap, sê ’n Indiese vrou sy het nooit kon dink dat ’n man met soveel respek oor ’n vrou se sekslewe kon skryf nie.”

Dit gaan oor die sekskapades van Tristan, ’n Johannesburgse gigolo vir wie ryk vroue rolle note betaal om hul engel van plesier te wees.

“Dis nie net ’n wham, bam, thank you ma’amvir Tristan (die katelknaap) nie. Elke vrou het ’n sekere behoefte, en al wat hy doen, is om haar gelukkig te maak. Nie noodwendig seksueel nie, maar gelukkig.”

Vir sekstonele skryf was Leon nog nooit ’n papbroek nie. “In Katelknaap het ek party van hulle later getem, net om deur Fourie Botha, my uitgewer, op die vingers geraps te word, dan moes ek weer, huiwerig, die oorspronklike teks behou.

“En toe’s die boek waaroor ek die bangste was, oor al die seks, verbysterend suksesvol!

“Die seksdaad is wonderlik en lekker en bla-bla-bla, maar vir my lê die eintlike sensualiteit in wat voor die tyd en verál na die tyd gebeur. In Katelknaap, twee, drie uur ná die klimaks kom Tristan uit by die werklike vrou, want dan is die spanning weg.”

Katelknaap is soort van op die waarheid gegrond, en van die vroue het werklik bestaan. “Ek het die man geken, en was soms by terwyl hy met hulle oor die telefoon praat. Hy het die grootste respek vir die vroue gehad.”

My ouma het só gelag. En toe sê sy vir Oupa: Leontjie kyk anders na die bioskoop as ons.

Vrouelesers kom sê dikwels vir hom hulle sal self nooit die ervarings kan hê van die vroue in die boek nie, want niemand behandel hulle so nie, niemand verstaan hulle nie. “Dis eintlik vir my baie hartseer.”

Skryf was nog altyd vir Leon soos die Oranjerivier wat deur oop sluise beur. Maar Katelknaap het hom baie geleer van sy eie liefdesverhoudings.

“Dit het my geleer dat liefde van twee kante af moet kom. In my lewe, in die begin, was dit soms net van een kant af. Ek is soms al misbruik, óf vir my naam óf vir geld.”

Die afgelope drie jaar, vir die eerste keer in sy lewe, het hy egter nou ? sielsmaat wat hy volkome vertrou.

“Ek het nooit gedink dat ek 62 sou word voordat ek iemand sou ontmoet wat my aanvaar en waardeer net oor ek Leon is nie. Nie Leon die celebrity nie, nie Leon wat deure kan oopmaak vir ’n rol of iets nie.

“Hy het my ontmoet toe sy vriendin hom opgesteek het om my te kontak om haar kopie van Ballade vir ’n enkeling te teken.

“Toe ek die boek teken, vra hy: Hoorie, wat doen jy vir ’n lewe? Ek het net gesê dankie liewe Here, hier is nie iemand wat my wil misbruik vir wat ook al nie.

“Werner Klopper . . . is die beste reis- en gespreksgenoot, die beste sielekenner. Hy verstaan die stempel wat ’n nuwe plek en kultuur op ’n mens afdruk, dat mens vir dae lank oor die skoonheid van Keukenhof of Positano kan gesels.

“Dis vir my die grootste ervaring van my lewe,” sê die man wat nog maar altyd randeier, alleenloper, enkeling was.

“Ek dink ’n mens moes deur ’n baie moeilike tyd in jou lewe gegaan het en baie misbruik gewees het om dit regtig te waardeer.

“Ek werk nou die lekkerste en is die gelukkigste wat ek nog ooit was.”

Sy ma is 17 jaar gelede oorlede en hy sou so graag wou gehad het dat sy van die Akademieprys moes weet.

Sy pa, “ ’n wonderlike man, maar nie dol oor flieks nie”, het dikwels, toe Leon klein was, vroeg in die bed gaan klim. Sodra hy slaap, het Leon en sy ma stilletjies uitgeglip vir ’n laataandvertoning by die Brakpan-inryteater.

“Sy het my skelm-skelm aan films bekend gestel wat ek nog ‘te jonk’ was om te sien. Soos Women in Love, waarvoor sy my by die toegangshek onder ’n kombers weggesteek het.”

Dan kwetter die twee soos spreeus heelpad terug oor die fliek.

“Tuisgekom was my pa nog diep in droomland en het nie eens besef ons was uit nie.”

Dis aan sy ma wat hy dié prys opdra.

Die vrou wat die lig van die towerlantern in die skaam seun met ’n predikantskuifie kom aansteek het.

Meer oor:  Leon Van Nierop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.