Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Ek het geweet my man en my kinders is dood.’
Hanlie Retief gesels met Madelein Bauer en Wilmien Davin
Lewe sonder verwyte. Ons het almal een kans, jy kan besluit of jy dit wil gebruik. Só sê Madelein Bauer en Wilmien Davin, die twee ma’s wie se gesinne in ‘n brand in die Kalahari dood is, in hierdie aangrypende onderhoud met Hanlie Retief.
Hulle het nou mekaar, en dis suiwer genade, sê Wilmien Davin en Madelein Bauer. Foto: Edrea du Toit

Madelein Bauer en Wilmien Davin.

Hulle sit en hou mekaar se hande vas.

Twee vroue wat in ’n oogwink alles waarvoor hulle lief is, verloor het. Net Wilmien se seuntjie Ben het oorleef.

Madelein: “My man Stefan het my die nag wakker gemaak en gesê hy dink daar is fout, die huis brand. Ek weet nie hoe hy wakker geword het nie. As hy nié het nie, was ek en jy en Ben nie vandag hier nie, nè, Wilmien?

“Hy het die gordyn weggetrek en ek kon die gloed buite sien. Ons het in die onderste kamer, regs, geslaap. Toe ek die deur oopstoot, was daar rook in die leefvertrek.

“Hy het die ander wakker gemaak, en daar was ’n rustigheid, nie chaos nie, nie angsgille nie. Ek het gedink ons gaan almal hier uitstap. En sjoe, ons gaan koud kry as ons op die duin sit en kyk hoe die huis afbrand.”

Wilmien: ‘Toe ons die agterdeur oopmaak, was daar net vlamme.’
Madelein Bauer. “Daar was ’n ongelooflike rustigheid binne ons, daardie nag.” Foto: Edrea du Toit

Wilmien: “Frans het my wakker gemaak en gesê ons moet die kinders kry en uitgaan. Madelein en Stefan se kinders (Inge, 6, Elré, 3) en my oudste (Frans, 5) het op matrassies in die leefvertrek geslaap. Ons dogtertjie Iza (3) en klein Ben (1) was by ons. Dané en Hennas se kinders het daai aand almal in die boonste kamer by hulle geslaap, so al die Carstense was saam.

“Ons het nie vir Dané en haar kinders gesien nie. Ek onthou net stilte. Niemand het eens gehoes nie.”

Madelein: “Dis half asof jy nie dink nie, jy doen net.”

Wilmien: “Ek het vir Ben opgetel en Madelein in die leefvertrek gekry. Toe ons die agterdeur oopmaak, was daar net vlamme.”

Madelein: “Toe moes ons deur die vlamme. Die dak se gras het in sulke fakkeltjies op die dek om die huis geval, dan brand dit van onder af.”

Madelein: Die kamer waarin ons geslaap het se mure was al weg, ek kon net die raamwerk sien.
Wilmien Davin. “Ek weet ek sal hierdeur kom.” Foto: Edrea du Toit

Wilmien: “Ek het geskrik, o sherbet, hier is nou net vlamme, en ek hoor Madelein sê, ‘Wilmien, waar’s jy, kom!’ Ons is daardeur, maar ons hare het nie eens geskroei nie, ons het nie eens na rook geruik nie.”

Madelein: “Die hitte het ons amper fisiek van die huis weggedruk. Net die vuur se wind, ek was in ’n kortmounagrok, daar was nie ander wind nie.

“Toe ek terugkyk, het ek besef hoe ver die huis al aan die brand is. Die kamer waarin ons geslaap het se mure was al weg, ek kon net die raamwerk sien. Op daai oomblik het ek geweet dit gaan ’n wonderwerk neem vir hulle om uit te kom.

“Ek dink die huis was reeds ver aan die brand toe Stefan ons wakker gemaak het.”

Madelein: ‘Ek het geweet my man en my kinders is dood.’

Wilmien: “Buite ja, binne onthou ek nie eens rook nie. Ds. Jan (Grobbelaar) het vir my gesê élke mens neem ’n besluit in ’n oomblik in ’n sekere konteks, en dis op daai oomblik die beste besluit. Dit gee my soveel rustigheid, daar is nie verwyte van hoekom het ek nie dit of dat gedoen nie.

“Ek is nie vir die Here kwaad nie, want ons almal het Hom geken en Hy was heeltyd by ons. Hy was so teenwoordig in daardie Kalahari-duine.”

Madelein: “Wilmien het gebid. En ons staan en kyk vir die brandende huis en vir ’n oomblik wou ek terughardloop, die kosbaarste vir jou is daarbinne . . . maar daar’s net ’n oorweldigende rustigheid hier in jou. Ek sou ook nie kon nie, die hitte het ons teruggedruk. Die vuur het al goed gebrand toe die gasbottels ontplof.

“Iewers het Hennas (Carstens) en Frans uitgekruip gekom, maar dit was so warm, ons kon hulle nie gaan help nie, ons kon hulle maar net aanmoedig.”

Maatjies. By Shingwedzi, 2016, in die Krugerwildtuin: Pierre-Johan Carstens, Inge Bauer en Frans Davin.

Haar stem bewe. “As Stefan maar net die kinders gevat het, het hulle saam met my uitgestap. Maar hy was nie so ’n mens nie, hy sou wou seker maak almal kom uit.”

Wilmien: “Jacobus, die plaasbestuurder, was by sy huis aan die onderkant van die duin, nie ver van ons af nie. Hy was eintlik nie veronderstel om die aand op die plaas te wees nie. Ek glo dis hoe die Here dit laat uitwerk het.

“Hy het ons geroepery gehoor en vir oom Piet, die eienaar van die plaas, gebel.”

Madelein: “Ons was nooit hopeloos nie.”

Madelein: “Dit was halfeen die oggend. Twintig voor 12 nog het Stefan ’n WhatsApp vir ’n vriend gestuur en toe sê hy vir my nag, ek is lief vir jou, en ek het omgedraai en ek dink hy was nog voor my aan die slaap.”

Wilmien: “Ek dink anderdag ons was 13 mense, daar’s altyd iewers een wakker, maar ons was almal vas aan die slaap.”

Madelein: “Die mans kon nog met ons praat en Frans het gesê sy Fortuner se sleutel is op die wiel, en ek en Wilmien hol soontoe, maar kry dit nie. Ek onthou toe Stefan se bakkie se spaarsleutel was in die Fortuner se paneelkissie. Gelukkig was die Fortuner nie gesluit nie. Ons bêre altyd mekaar se spaarsleutels so.

Madelein: “Die Here het vir ons die pad gewys.”

“Twee dae vroeër het Stefan my gewys hoe werk die vierwiel-verstellings sodat ek in die duine kon ry as ek moes.

“Ek het vir hom gesê ‘maar waar gaan ek in my lewe duine ry sonder jou?’ Ek sien die Here se genade daarin.

“Ons het die bakkie nadergetrek en vir Frans en Hennas, hulle was erg gebrand, een vir een baie versigtig die dubbelkajuit ingelaai.”

Augustus 2018 by Rooiputs in die Kgalagadi. Madelein hou vir Inge vas, Stefan vir Elré.

Wilmien: “Toe ons daar wegry, het jy vir my gesê jy het nou niemand meer nie.”

Madelein: “Ek het daar op die duin al geweet Stefan en my kinders is dood. En heel waarskynlik die ander ook. Dat ek ál een van ons gesin is wat oorgebly het.”

Hulle vat mekaar se hande styf vas.

Willemien: Uit 13 het net ons drie oorleef, daar moet ’n doel met ons lewens wees. Maar ons moet eers hierdeur. Treetjie vir treetjie.

Wilmien: “Ons het daardie nag antwoorde gekry nog voordat ons vrae gehad het. Voor ons gedink het ons moet bel, het Jacobus met die selfoon daar aangekom. Voor ons gewonder het oor ’n sleutel, het Frans my van die sleutel op die wiel herinner. En gelukkig het ons nie die Fortuner gevat nie, hy het niks diesel in gehad nie.”

Madelein: “Die Here het vir ons die pad gewys.”

Wilmien: “Ons het nooit ontredderd gevoel nie, dis asof ons heeltyd ’n doel gehad het, dit het ons staande gehou.”

Frans en Wilmien Davin in 2016 by ’n piekniekplek
Frans en Wilmien Davin in 2016 by ’n piekniekplek in die Krugerwildtuin.

Madelein: “Ons was nooit hopeloos nie.”

Wilmien: “Jacobus kon vir ons ’n kortpad wys, ’n sagte pad wat die mans met hul gebrande lywe nie seergemaak het nie.”

Madelein: “Hulle was baie dors, ons almal was. Ek dink hulle het geweet die ander . . . ons het nie eens daaraan gedink om hulle te vra hoekom die ander nie uitgekom het nie, ons het net geweet ons moet hulle bemoedig – ‘byt vas, Henkies, ons is nou daar, julle is oukei, Frans . . .’

“Ons wou Upington toe, maar toe gaan die bakkie se dieselliggie aan, gelukkig, want die bande was afgeblaas vir sandry, ons sou Upington nooit so gehaal het nie.”

Wilmien: “By die Kgalagadi Lodge (23 km verder oor ’n duinepad naby Askham) het hulle ons ingewag, oom Piet het laat weet. Vriende van Ceres was op vakansie daar, en die man het toe vir Frans en Hennas Upington toe gevat.

“Van die lodge-mense het gery om te gaan kyk of daar dalk oorlewendes is. Maar ons het eintlik geweet daar was nie.

Wilmien Davin en Madelein Bauer. Foto: Edrea du Toit

“Ons Ceres-vriendin was ’n engel wat vir ons op daardie oomblik ’n ‘huis’ kon gee, vir ons tee kon maak. Ons het nie selfone gehad nie en nommers probeer onthou om familie te bel.”

Madelein: “Ons kon klere kry uit die wasgoedsak agterin ons bakkie, vuil klere uit die eerste deel van die vakansie. En pienk tights vir Ben.”

Hulle lag.

Wilmien: “En dummies en doeke by die lodge-eienaar wie se tweelingseuntjies so oud is soos Ben. En Ben . . . hy kan nogal stoei, maar hy was heeltyd rustig.

Wilmien: “Toe ons daar wegry, het jy vir my gesê jy het nou niemand meer nie.”

“Jis, daai mense van die Kalahari is crazy, hulle het ons op die hande gedra. Hulle sê nadat jy een keer in die Kalahari was, is jy familie, en nou het die Kalahari familie verloor. Ek het dit so ervaar. Familie.

“By die lodge kon ek nog vir Frans water gee en ons kon vir mekaar sê ons is lief vir mekaar. Ek het nie toe gedink ek groet hom finaal nie.”

Sy raak hartseer: “Hy het my eintlik staande gehou, die twee dae terwyl hy nog geleef het. Ek het vir Madelein gesê dit wat my nou regop hou, het sy nie meer nie. Ek kon treur oor die kinders, klein Frans en Iza, maar ek het nog my man en Ben.

“Ek het nie geglo of gehoop nie, ek het gewéét ek gaan Frans weer sien. Maar ek het ook vir die Here gesê ek wil hom baie graag heel terughê. Ek sou hom nie heel teruggekry het nie. So, eintlik het die Here my gebed verhoor. Ek is oukei daarmee. Frans was my anker, by hom het ek veilig gevoel, maar dit maak my rustig om te weet hy is by my kinders.”

Wilmien Davin en Madelein Bauer. Foto: Edrea du Toit

’n Paar oomblikke raak sy stil.

“Uit 13 het net ons drie oorleef, daar moet ’n doel met ons lewens wees. Maar ons moet eers hierdeur. Treetjie vir treetjie.

“Toe ek anderdag besef dis nou al ’n week gelede, was ek so trots op myself, en met ’n skrik het ek besef: Iewers gaan hierdie ding agter jou lê. Deur die dal van doodskaduwee. Deur, nie om nie, nie daar vashaak nie.

“Dis nie asof ek heeltyd net in ’n bondeltjie wil lê nie, die een oomblik sien jy kans vir die lewe, ander oomblikke raak jy benoud oor die toekoms. Daar gaan nog moeilike tye wees, en ek is eintlik orraait daarmee, die Here gaan my help.

“En ek is dankbaar vir Madelein, ons maak mekaar sterk.”

Hulle vat hande.

Madelein: “Ek kan nie sê wat is haar rou en wat is my rou nie, dis persoonlik, maar ons is net so op dieselfde bladsy met hoe ons die dinge ervaar het daai aand en hoe ons nou voel. Dis die Here se genade vir ons.

“Ek was gister in Stefan se boorde. Die bome word wakker. Bloeiseltjies kom uit. Nuwe lewe.”

Sy begin huil.

“Ek het gister my kinders verskriklik gemis en gevra hoekom die Here my nie net een gespaar het nie.

“Maar hulle het klaar ’n vol lewe gehad. Ek wil vir mense sê: Lewe net die lewe. Gaan kamp, al is jou kind nog in doeke, gaan stap, laai hom in die rugsak. Moenie uitstel tot môre nie. Ek kan met ’n dankbare hart sê, Elré was vyf maande en Inge twee-en-’n-bietjie toe ons op Duin 45 die son sien opkom het.”

Wilmien: “Iza was drie en sy was al die derde keer in die Kalahari. Sy het van die Kalieshaddie gepraat,” sê sy laggend deur die trane.

Madelein Bauer (voor) met Dané Carstens, Elré, Ing
Madelein Bauer (voor) met Dané Carstens, Elré, Inge en Stefan Bauer, Pierre-Johan en sy pa Hendri Carstens in ’n rotspoel verlede Desember by Kromfontein in die Koue Bokkeveld. Foto: Verskaf

“Ek sal altyd dankbaar wees, dit was die lekkerste week. Die vryheid en rustigheid, ons was net so bymekaar. Smiddae het die kinders weggeraak oor die duine en dan kom hulle terug met tsammas, en speel met hul trekkers en grawe in die rooi sand.

“Die laaste twee dae het ons net gesit en kuier, die laaste oggend het almal in die sonnetjie gesit buite op die dek en die kleintjies het ons naels vir ons geverf.”

Madelein: “Ons was heeldag so rustig. Dané het Aspoestertjie vir haar kinders gelees. Ek het in die kamer langsaan die besigheid gelê en luister, en haar seuntjie, Magiel (3), sê vir sy ma ‘nee, maak toe, dis nie ’n mooi storie nie, die stiefsusters skeur haar rok.’ Toe wil hy sommer begin huil. En Dané sê, ‘nee boetie, luister klaar, daar kom ’n mooi einde’.”

Wilmien: “Sulke oomblikke. Ek het later op die kinders se hoop matrassies gaan lê en vir my twee oudstes ’n boekie gelees. Om my het die kinders ál meer geraak en ek moes die boek ál verder hou want hulle druk hul koppies hier in, en dit was so sag met al die lyfies om my.”

Madelein: Ek het gister my kinders verskriklik gemis en gevra hoekom die Here my nie net een gespaar het nie

Madelein: “Die aand met die braai het ons baie gelag en probeer planne maak om die lodge te koop. En gesê Dané, met haar CA, moenie betrokke wees by die koop nie want sy sou ons briek, sy moes net later met die syfers help. Die braaibroodjies het reggestaan, ons wou die volgende oggend vroeg park toe te gaan.

“Geleende tyd is nou vir my ’n ander konsep. Hulle lewe, ons is net nie nou so saam nie, dit troos en dra my.”

Hulle kyk vir mekaar.

Madelein: “Ons weet nou nog nie wat gebeur het nie. Maar of dit ’n gaslek was, of ’n kooltjie wat gewaai het, dit gaan geen verskil maak nie.”

Wilmien: “Ek wonder ook nie daaroor nie. Ek dank die Here dat dit vir my orraait is, wat daar gebeur het.”

Madelein: “As iemand my voor die tyd vertel het wat gaan gebeur, sou ek gedink het ek sal in sak en as lê. En hier is ek nou in die werklikheid en dis net die genade wat my dra.”

Wilmien: “Dis bevrydend om te weet ek het nie verwyte in die lewe nie. Ek raak amper angstig as almal so om my kloek, ek wil sê: lewe sonder verwyte. Ons het almal een kans, jy kan besluit of jy dit wil gebruik.”

Madelein: “Dit was nie ’n nag van verskrikking nie.”

Wilmien: “Nie ’n nagmerrienag nie.”

Madelein: “Ons het ongelooflike kalmte en rustigheid ervaar. Dit klink weird, maar dit was besonders en spesiaal. Die Here het hulle kom haal op ’n mooi plek waarvoor ons almal baie lief was.”

Wilmien: “Ons almal se hartsplek.”

Madelein: “Ek het die laaste aand vir die kinders die ‘Magaliesburgse Aandlied’ gesing.

“Ná die tyd het ek teruggedink aan die vers: Neem my ouers en my vriende in bewaring hierdie nag, môre dank ons u vir goedheid, gawe vir ’n nuwe dag.

“Hoe ironies dit nou mag klink, die Here het ons in bewaring geneem daardie nag en ek kon Hom die volgende dag bedank vir sy goedheid.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.