Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Daar is goedheid in almal’
Hanlie Retief gesels met Marlene le Roux
In ’n blikboksie met ’n verweerde ballerinaprentjie op die deksel, lê mank Marlientjie van Poloniedorp se geboorte- en doopsertifikate en Ma Tietie se jopkaart by die Jordan-fabriek waar sy haar afgesloof het.

In ’n blikboksie met ’n verweerde ballerinaprentjie op die deksel, lê mank Marlientjie van Poloniedorp se geboorte- en doopsertifikate en Ma Tietie se jopkaart by die Jordan-fabriek waar sy haar afgesloof het.

Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap en voorsitter van die ATKV-raad. Foto: Marzahn Botha

Versigtig-gevoude papiere, geel van ouderdom.

Toe haar ma sterf, het Marlene le Roux dié boksie in haar kas gekry. “Vandat ek kan onthou was dit deel van my lewe,” vou sy die geboortesertifikaat vir my oop, haar bloedrooi lippe uitbundig onder ’n muurprent van Madiba wat hom soos ’n jazz-speler laat lyk.

“Marlene Francis le Roux” staan dit daar, “17 September 1967, Wellington, Kleurling”.

“Ja, netso. Kleurling.”

In die voorportaal van haar huis in Boston, Bellville, brand kerse langs blomme.

Dis die bakens van Marlene se lewe. Naderhand was die akkolades van dié uitvoerende hoof van Kunstekaap, voorsitter van die ATKV-raad en selfs twee Franse ridderskappe – hopeloos te veel vir ’n blikboksie met ’n ballerina.

In 2018 kry sy die Commonwealth Points of Light-toekenning, persoonlik deur koningin Liesbet geteken, vir uitsonderlike diens ter bevordering van gestremdes se regte.

* Luister hier na die podsending.

Laas week, die Charlotte Maxeke-toekenning: “Charlotte Maxeke was die eerste swart vrou in Suid-Afrika met ’n universiteitsgraad. Ons moet haar legende voortvat . . . hoe maak ons onse kinders groot?”

In die voorportaal van haar huis in Boston, Bellville, brand kerse langs blomme. Dis ’n bittersoet dag – presies vier jaar terug “moes ek my geliefde seun ter aarde lê”.

’n Bittersoet dag. Marlene se seun Adam is op 31 Augustus 2017 begrawe. Haar ma, Tietie, is op Kersdag aan Covid-19 dood. Foto: Marzahn Botha

Sy sal nooit die dokter se koue stem vergeet toe hy sê Adam moet inrigting toe, hy sal nooit kan loop of praat nie. “Ek het my bruin jas aangehad. Daar gesit. En gekyk vir die pragtige kind op my skoot, met sy rooi haartjies en bloue oë, soos sy oupagroot Davey, ’n proper Englishman. En ek sink in ’n gat af.”

Maar Tietie le Roux se kind ken nie van sink nie. Sy het Adam by die huis versorg, tot sy dood.

“Adam was my vreugde, hy kon so lekker lag. Ek het probeer om ’n normale lewe te hê, ek het besluit ek gaan ’n vrolike lewe hê.”

Soos die dubbelstring pêrels om haar nek, snoer Marlene le Roux die stories van haar lewe een vir een saam.

Laas Kersdag is Tietie in haar arms dood. “Nie op Boxing Day of Oukersaand nie, maar presies wanneer almal aan tafel sit vir die Kersmaal, sterf sy. Almal los hul kos net so, en kom van Saron en Wellington en all over. Haar laaste woorde: Is ekkie moeite nie? Nee, Tietie, jy sal nooit moeite wees nie . . .”

Soos die dubbelstring pêrels om haar nek, snoer Marlene le Roux die stories van haar lewe een vir een saam.

In Wellington se bruin woonbuurt – “Poloniedorp, die Kloof, oorkant die can-fabriek!” – is haar deernisnaam Marlientjie. Op die UWK-kampus in die aktivisjare, die 80’s, was sy Marla, wat sterk vrou beteken.

Aartsbiskop Desmond Tutu het haar Girlie genoem . . . baie mens ingedruk in ’n tenger lyf.

Marlene en haar ma, Tietie.

“Kyk my doopkaartjie,” diep sy uit die boksie op. “Omdat my ma geskei was, wou die VGK (Verenigende Gereformeerde Kerk) my nie doop nie, al was ek binne die huwelik gebore. Maar sy het aanhou baklei om my gedoop te kry. Stroomop, altyd.”

Op drie maande het Marlene polio gekry. Die entstof by Wellington se bruin kliniek het opgeraak en toe kry ’n string September-babas polio.

“Dis maar hoe die dice­ geval het. Maar wat doen jy met die dice, gaan jy in ’n hoek sit?”

Die dokter en gemeenskap het haar ma en ouma, voorsitter van die kerk se sustersbond, die skuld gegee. “Ons, die hotnotsmense . . . My ma-hulle het met skuldgevoelens rondgeloop.

By Ouma en Tietie het Marlene geleer van trots en waardigheid: Dress jou op, al is jou rok gelay-by.

“Ek het in ’n fyn huis grootgeraak, een van besnaarheid en opvoeding en fyn instellings. En belangrik, ons het baie gelag, in die swaarheid het ons gelag.”

Smôrens het die wasgoed al gehang as die kinders opstaan. Tien van hulle, met Marlene die 11de ná haar vars-geskeide ma teruggekeer het huis toe. Ouma maak ’n smoortjie, pak die kinders se broodblikkies en sorg dat mank Marlientjie by die hek staan vir skool toe gaan. “Dan begin sy by die nooi se werk, en ná sy hul aandetetafel gedek het, kom sy terug, gee vir ons aandete en maak reg vir kerk.”

By Ouma en Tietie het Marlene geleer van trots en waardigheid: Dress jou op, al is jou rok gelay-by. Die predikante van Wellington het lang oë vir mooi Tietie gehad. Vrydagaande het sy haar hare in ’n rol gedraai en in ’n balrok gaan dans. Sy was een van die eerste vroue wat kar bestuur het.

“Tietie het my geleer: Staan op uit die as, kyk die lewe in die oë.

Sy is al baie gevra, maar het besluit die politiek is nie vir haar nie, sê Marlene. “Ek is eerder ’n voetsoldaat.” Foto: Verskaf

“Ek het gesien hoe formidabele vroue met integriteit hul oë moet laat sak om nederig te wees vir ’n werk. Dis hoekom ek ’n menseregte-aktivis is.”

Marlene was ’n kind van die gemeenskap, mense het beurte gemaak om haar te abba treinstasie toe.

“So, ek kan nie hier sit en sê ek het gearriveer nie, so baie mense het in hul armoede soveel vir my gegee.”

In die Princess Alice Home vir gestremdes het die nonne elke oggend Marlene se been langer kom trek, sonder pynstillers. “Dan het ek soos ’n vark geskree.

Haar linkerbeen is verlam – sy loop met ’n elegante rol van haar heup.

“As kind navigeer jy die lewe, beweeg rondom jou gestremdheid. Maar in puberteit kom jy tot wording en jy wil ook mos maar volmaak wees. Nou eye die outjies in die restaurant vir my en my boesemvriendin, ook ’n September-poliobaba. Maar as ons twee opstaan, val hul oë.”

Haar linkerbeen is verlam – sy loop met ’n elegante rol van haar heup.

“My gestremdheid is deel van my. As ek môre moet opstaan sonder die beenstut, gaan dit nie ek wees nie. Partykeer, as mense te veel vrae vra, sê ek maar ek was ’n ballerina en toe die manlike danser my moes vang, kyk hy anderpad en laat my val.”

Hulle’t haar die bruin Laurika Rauch genoem. Toe Tietie haar wou inskryf by die Universiteit van Kaapstad se operaskool, moes hulle hoor ’n “cripple” sal nooit deug op ’n operaverhoog nie.

Ouma, ma en dogter. Marlene, Tietie en Aimee. Foto: Verskaf

“My ma het die prof so gekyk en gedink: Vlieg in jou moer. Ons is daarvandaan reguit UWK toe. Ek is daar aanvaar en my lewe het verander.”

Sy skaterlag oor hoe sy en haar kamermaat “van ’n shack in die Oos-Kaap” lank ’n bed gedeel het, want vir altwee was alleen slaap vreemd. En drie keer ’n dag gaan stort, want hulle ken net was in ’n kommetjie water.

Hulle, die twee aktiviste, het geweier om aan ’n eetstaking deel te neem, want wie kan nee sê vir drié etes ’n dag, plus poeding?

“Maar met my mank been het ek voor gehardloop teen apartheid, ’n Amandla-poppetjie. Tutu het een keer vir my gesê ‘Girlie, jy moet liewer nie march nie’, maar ek sê vir Tutu ‘Ek kan vinniger as jy hardloop, want jy dra ’n toga’. Girlie was oral.

“As jy dit ontken, is dit ’n vrekke leuen, own jou rassisme en dan beweeg ons saam vorentoe.”

“Een aand,” snoer sy die volgende storie in, “bars die sekuriteitspolisie die koshuis binne. Die meisies hardloop, maar my beenstut staan doer. My deur bars oop, ’n jong man met potblou oë, my ouderdom, staan daar, sy oë wild. Ek sê hom: ‘Dáár staan my been, moer my nou maar, nè, ek kan niks doen nie.’ Ons kyk mekaar in doodse stilte aan voor hy omdraai en uitstap. Ek wonder só waar hy vandag is, ek wil hom ’n drukkie gee, die sys­tem het ons albei seergemaak.”

Apartheid het ons almal getref, sê sy vurig. Ons almal uit daardie era is rassisties. “As jy dit ontken, is dit ’n vrekke leuen, own jou rassisme en dan beweeg ons saam vorentoe.”

As sy haar sin kry, word diensplig weer ingestel sodat swart en wit en bruin mekaar kan leer ken.

Om ’n land te bou, sê sy, gaan nie net oor materiële dinge nie, dit gaan oor wedersydse respek en ken van mekaar, sodat ons ’n nuwe Suid-Afrikaanse identiteit kan bou.

Die Universiteit van Kaapstad wou Marlene destyds nie aanvaar as operastudent nie. Maar nou is die verhoog hare. Sy is uitvoerende hoof van Kunstekaap. Foto: Verskaf

“En as ons daar kom, kan ons die lewe in die oë kyk.”

Dan onderrig Marlene ons ewe warm oor die “psige van bruinwees”: In 1996 se plaaslike verkiesing stem die bruines vir die NP, en hulle skel Marlene uit van bo af tot onder. “My ouma campaign teen my, toe hulle wen hou my ouma ’n teepartytjie. Met mý geld!”

Sy druk haar hand op haar ballerinablikkie, ja, dié kan sy nie opmaak nie, dis haar storie, dis rêrig.

Toe sy haar eerste salaristjek gekry het, het Marlene haar lippe rooi geverf en na haar ma se werkplek marsjeer.

Sy’s al baie gevra, maar vir die politiek het Marlene nog altyd nee gesê.

In die 90’s, toe al haar aktivis-pêlle parlement toe is, het sy crèches gebou en jeugontwikkeling met Franse geld gedoen. “Ek sou nooit blootgestel gewees het aan die ACVV en ATKV nie, nooit ménswees – en veral my eie – leer ken het nie. Ek kan vandag sê daar is goedheid in almal.”

Toe sy haar eerste salaristjek gekry het, het Marlene haar lippe rooi geverf en na haar ma se werkplek marsjeer. Die baas het gedink sy is ’n verkoopsdame.

“ ‘Ek het vir jou kom sê ek is Marlene le Roux, Christine se dogter, en dis haar laaste dag hier, want julle betaal haar ’n slaweloon.’ En ek stap na Tietie en sê: ‘Pak jou goed, jy is nou klaar.’ Dieselfde met my ouma. My divas kon toe ophou werk.”

Adam was haar lig, haar vreugde. Hy was serebraal gestrem. Foto: Verskaf

Op daardie oomblik kom Aimee, haar dogter, die huis binne. Sy loop in haar ma se musiekspore met ’n meestersgraad, deel dieselfde uitbundige glimlag. “Kom sit vir ’n foto, Aimee! Sy is my joy en pride, hierdie kind.”

Kort ná Adam se dood drie jaar gelede, is Marlene geskei. Skielik was die huis dolleeg. En toe kom die stilte. “Almal wou by my kom bly, maar ek wou stoksielalleen wees. Dis ’n harde pad wat ek alleen moes stap.”

’n Paar maande later, tydens Theresa May, eertydse Britse eerste minister, se besoek aan Suid-Afrika, het die Britse Hoë Kommissie vir Marlene gevra om te help met die reëlings.

Later, in ’n swierige restaurant, breek die damwal binne Marlene.

Terwyl sy by die onthaal rondskarrel, kom gee ’n universiteitsprofessor haar ’n drukkie. Hy het ook ’n kind verloor. “Ons twee het ’n moment, en op daai oomblik arriveer Theresa May. Daar was nie eens kans vir kalmeer nie.”

En toe kry die storie ’n nare draai.

Later, in ’n swierige restaurant, breek die damwal binne Marlene. Daar, aan tafel met die intieme groep BBP-gaste, begin sy huil, oorweldig deur maande se hartseer. “Miskien was die professor se drukkie die laaste strooi. Alles in my het saamgetrek en ek het begin opgooi . . . voor almal.

Jeugontwikkeling lê Marlene na aan die hart. Foto: Verskaf

“Hulle het my toegedraai in die spierwit tafeldoeke en huis toe geneem. Mense van die hoë kommissie het gebly om te sorg dat ek oukei is, en blomme gestuur om te sê ek moet my nooit hieroor skaam nie.”

Vir ’n maand het twee vriende haar soggens uit die bed gekry met ’n ontbytskinkbord en ’n bad vol water met roosblare. Stadigaan kon Marlene weer haar kop lig.

By die voordeur gee sy my ’n sonneblom. Met die vasdruk ruk haar skouers. Hier op Adam se bittersoet dag.

“Ek lewe vir die Adams, die Tieties van die lewe. Hulle abba my. Hulle is my platform.”

  * Marlene is tans op Die dag van môre, ’n internetprogram in samewerking met RSG, op www.foxwood.tv.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.