Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met Martin Kortje

‘Wil jy die SMS’e sien?”

Martin Kortje se hande bewe terwyl hy op sy selfoon rondsoek na die laaste boodskappe tussen sy dogter en haar vermeende moordenaar, die pa van twee van haar kinders.

“Die laaste wat ek Altecia gesien het, was toe die I&J-bussie haar die Dinsdagoggend kom oplaai het,” vertel Martin Kortje, pa en oupa van Altecia en Raynecia. Foto: Michael Hammond

“Sy was lankal in die lykshuis, toe kry ek dié goete op my foon wat sy geleen het. Dis asof sy uit die dood uit praat.”

X wil regtig ni meer in ’n verhouding in is ni . . . j treat my sleg n ht 1 maal ni meer respect vimy of ju ma of my ma nie vi niemand hie ni . . . vir niemand ni . . .j mk my seer dan verwag j os moet net anan asof niks gebeur iti . . . asof als ok is. Jt my orite stukkend gemk . . . my diep seer gmk . . . weereens my drome opgemors ’n x sal ju nooit vergewe ni . . . miskien 1dag . . . xwiti

Drie dae later is Altecia Kortje vermoor.

Ses dae later is Ryan Smith in boeie selle toe vir die moord op haar en Raynecia, hul sewejarige dogter.

Martin se growwe nutsmanvingers soek tussen die hartseer SMS’e deur. Dis boodskappe wat jou ’n hou in die maag slaan. En wat onbeskryflik duidelik wys wat gebeur as liefde afspiraal tot moord.

Tecie was lelik geslaat. Haar oogbanke was potblou, haar ogies stukkend.

Tussendeur please call me’s skryf Ryan: Tecia jy voel kwai always the attention seeker never the giver ma as jy reg jou peanut gebruik sal jy sien jy kan ni op jou eie staan ni ek is lief vir jou ja en dit gee jou i grootkop maak my swak maar jy is swak and wil show it to you.

Sy antwoord hom: as j mooi kyk is j d1 een wat swak is.

Vyf minute later vra hy: Soe jy is heeltemal kla met my?

Martin neem ons op die spore van sy dogter en kleindogter se laaste dae, die spore van ’n dubbele moord.

“Ek wil nie eens daar gaan nie . . . elke middag as die taxi my aflaai, het klein Necie na my toe aangehol gekom en in my sakke kom krap vir Oupa se eenrandpakkie Taxi Biscuits.”

Sy oë is ingesonke. Sy pienk hemp hang los aan sy skraal lyf.

Ma en kind. Altecia (27) en Raynecia (7) Kortje.

“Die gemors het begin toe Ryan die Vrydagaand (5 Junie) past eleven met ’n Uber by ons opdaag. Tecia was al drie weke terug by die huis, sy’t van hom af weggevlug, want hy was terug op die drugs en tik en hy het haar weer begin slaan.

“Ryan bars daar in en gryp vir Necie en Tyrese, die nege-maande baby. Toe hy kom vir die middel-enetjie, Givaun, skree Dorina, my vrou, ‘nei, daai’s nie jou kind nie, los onse kind uit!’ ”

Givaun is Altecia se tweede kind, so ’n wakker klein klong, glimlag Martin, gebore uit ’n kort verhouding toe Altecia dit vir ’n ruk kon regkry om Ryan, haar jeugliefde en haar ondergang, te los.

“Ek weet nie wat in Ryan se maaind aangaan nie, maar soos ek die saak kyk was hy jaloers omdat die middelste kind ’n ander man s’n is. Hy kon dit nie handle nie.

“Altecia was só ’n vrinnelike kind. Altyd, dan vra sy sommer net oor sy omgee: ‘Is Daddy orraait?’ En ek weet nou nie mooi hoe om dit te sê nie, maar sy was nie ’n drinker en ’n roker nie, sy het soos ’n ordentlike kind grootgeword.”

Altecia en Raynecia Kortje se begrafnisdiens was Saterdag in die Nuwe Apostoliese Kerk in Delft. Foto: Michael Hammond

Sy en Ryan ken mekaar al van laerskool af. Doerietyd mal dronkverlief op mekaar, onthou ’n vriendin.

“Ryan het different persoonlikhede. Hy’s ’n liefdevolle mens tot jy sy annerkant sien.”

Altecia is straightforward maar sy’t haar gat gesien met Ryan, sê sy.

Almal het geweet hy slaan haar. Knik Martin. “Maar wat doen mens? Wanneer word dit inmeng? Die laws is anders nou.

“ ’n Ouer kan ver sien wat gaan kom. Tecia, breek weg van daai klong, het haar ma gesê, voor jy spyt gaan wees.”

En nou is dit so.

Ná Ryan die Vrydagnag met die kinders daar weg is, is Martin en Altecia die volgende oggend Delft-polisiestasie toe vir ’n interdik.

“Daddy, sonder ’n interdik gaan ons nie die kinders kry nie,” het Tecia gesê, “Ryan gaat baklei.”

Pa en dogter het lank in die reën buite die polisiestasie in die tou gestaan en wag.

Toe moes sy hoor sy kan eers die Maandag ’n interdik in Bellville kry.

“Tecia het ge-explain hy slaat haar, hy het die kinders gegryp, hy’s violent, maar al wat sy by hulle kon kry, is ’n leë interdikvorm. Nie ’n docket oopgemaak nie, niks.”

Soos die naweek aangaan, lees jy SMS vir SMS hoe die spanning tussen die twee opbou.

Ryan dreig: Groei op man asb is plein stupid die is my kinders niemand gaan hulle weg hou van my af nie.

Pleit: Hoe het dinge tot by die pin gekom ek haat elke oomblik van dit ek mis my gesin ek kan aan niks anders dink ni.

Sy antwoord: Vra juself vir hukm . . . deur ju maniere n ju houdings . . . as ’n mens prt mt ju dan wil j altyd mister muscle man mt a grot stem word ’n niemand kan ’n mag viju se ni . . . dai is mos j.

Dit bou op en op.

Hy: Ek ho vi jou ma jy kani vir my hori.

Sy: X heti mee krag vi lewe ni . . . x sieni mee uit vi die lewe ni n is als te danke aan ju.

Raynecia was die Saterdagaand “in pyne” skryf Ryan. Sy mis haar mammie, haar hart is seer.

Jy maak my kinnes se nerves kla, jý, antwoord Altecia. Kyk mooi na my engeltjies.

Die Maandagoggend is Altecia met die half-ingevulde interdikvorm na die landdroshof in Bellville. “Die hof het glo vir haar gesê hulle kan haar nie help met ’n interdik nie, sy sal eers Septembermaand voorkom. Toe los sy dit maar. Sy was daai aand baie stil en ge-worried.”

Die departement van justisie en korrektiewe dienste het die openbare beskermer (OB) nou gevra om ’n ondersoek te doen oor hoekom Altecia nie gehelp is nie.

Die laaste dat Martin vir Altecia gesien het, was halfses die Dinsdagoggend toe I&J se taxi haar voor hul huis opgelaai het. Sy het stukwerk gedoen as ’n vispakker.

“Dit was nog piknagdonker. Ek het vir haar gewaai, sy’t haar nuwe vaal top en tekkies aangehad. Nuwe tekkies, want Ryan het haar voriges vir druggeld verkoop. “Die cheek, Daddy,” het sy nog gesê.

“Sy is dood in daai klere.”

By I&J het hulle haar huis toe gestuur oor haar toe neus. “Sy was ’n asmalyer. Ek het vir haar swaar grootgemaak. As haar bors toetrek snags, dan loop ek met haar hospitaal toe, verby die gangsters, maar hulle maak my niks, want hulle sien my kindjie, hulle stap saam hospitaal toe, en hulle stap saam terug.”

Halfvier Dinsdagmiddag is Altecia daar weg. Interdik of nie, nou gaan sy haar kinders haal.

“En ek kom van die werk af, en dit raak laat en die kind kom nie uit nie. En ek weet nie wat om te doen nie.”

Ná middernag kom Ryan daar aan met Tyrese. “Hy het gepraat soos iemand wat deurmekaar is. Sy oë was nie lekker nie. Die kleintjie was net in ’n Kimby (“doek”), toegedraai in sy ma se top.

Ryan het iets vaags gesê van Tecia sal môre terugkom.

“Later sê my vrou iets is nie reg nie, Tecia sal nooit haar baba los nie.”

Ryan was opsigter van sy oom, die vermeende Sexy Boys-bendeleier Donkie Booysen, se studentehuis in Belhar.

Die volgende oggend is Martin ná ’n vreeslike gesukkel saam met die polisie soontoe.

Weens Covid-19 was daar geen speurder beskikbaar nie, toe kon hulle nie die huis deursoek nie. Die polisie was saam met die huurders deur die huis, maar twee vertrekke was gesluit.

Martin het in die kar bly sit en bid.

Die Vrydag is Altecia en Raynecia se lyke gekry agter daardie twee geslote deure. Alreeds drie dae dood.

“Hulle is seker die Dinsdag vermoor.”

Martin het hulle by die lykshuis gaan uitken. “Ek wil nie eintlik gegaan het nie, maar iemand moes. Is my kinders.”

Hy onthou hoe hulle die blinder voor die kis opgetrek het, hoe die polisieman vir hom sê: “Jy moet maar sterk wees, Martin.”

“Ai, Tecie was lelik geslaat, ek het nie vir haar eers herken nie. Haar oogbanke was potblou, haar ogies stukkend. Die dokters het haar hare kaal afgesny. Soos ’n bles. Daar was oop wonde op die kop, sy was gesteek op haar lyf ook, herhaaldelik.”

En toe wag die volgende venster in die lykhuis. “Ek moes die kleintjie ook uitken. Tecia dié kant in ’n kis, Necia dáái kant in ’n kissie. Daar lê my kinders.

“Necie is in ’n drom water in die badkamer verdrink.”

Seker maar het die kind gesien hoe word die ma vermoor, en toe moes sy ook dood, probeer Martin vergeefs sin maak.

“Haai jinne, ek het in die koerante gelees van mense se kinders wat so doodgemaak is, altyd gesê ‘haai shame’, maar nooit geweet dit gaan my oorkom nie . . .” oorval die huil hom.

“Nou weet ek hoe dit is.”

Die slaap kom nie snags nie.

“Ek rook meer as wat ek moet,” kom ’n verleë laggie. “Met Covid-19 kos ’n 50c-entjie sommer R9.”

“Oupa, wanneer kom Mammie?” wil Givaun heeltyd weet. “Hy sien die nuus op TV en sê ‘daar’s Mammie, daar’s Necie’. ”

Daar’s hulle ja. Lewend, vol smaails, héél. Vir ’n oomblik bly Martin tevergeefs, hopeloos aan daardie beelde vasklou, soos water wat deur jou vingers vloei.

Hy kyk stadig op. Die pyn lê sy oë gelykvol. “En dan sê ek maar vir die klong sy mammie kom later.”

Hy worry hom dood, want die mense praat sommer só voor Givaun oor sy ma en sussie se moorde, en Givauntjie is slim, hy verstaan al.

Ryan.

“Ek sal nie weet wat om nou vir hom te sê nie.” Hy bly ’n lang ruk stil.

“Ons Nuwe Apostoliese mense sê ons moet maar alles los in die Here se hande. Maar dit bly hierso,” druk hy op sy hart.

Voor hom op die tafel lê twee hopies papiere. Kind. Kleinkind. ID. Geboortesertifikaat. Doodsertifikaat. “Department of Home Affairs Burial Order”. Die amptelike begin en einde van ’n mens.

Op haar ID-foto lyk Altecia asof sy aan iets lekkers dink. Mooi meisiekind.

Gister om 08:00 terwyl ’n reënstorm oor die vlakte trek, was Altecia en Raynecia Kortje vir oulaas by hul ouerhuis in Delft.

In kiste.

En toe is hulle veras.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.