Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met MotoGP-kampioen Brad Binder se ouers
Ontmoet die Binders. Agter die jong Krugersdorper wat verlede Sondag sy naam die rekordboeke ingejaag het, staan sy naelskouende ma, Sharon, en sy petrolkop-pa, Trevor.

"Shaz, ek voel dit in my binneste, hier kom ’n ding, ons boytjie gaan wen . . .”

Die spanning was poetoepapdik verlede Sondag in Trevor en Sharon Binder se sitkamer in Rant-en-Dal, Krugersdorp.

Die twee het tjoepstil en snaarstyf (“al wat ons gekou het, was ons naels”) gesit en kyk hoe hul haastige seun homself rondte vir rondte in die Tsjeggiese MotoGP-ren die rekordboeke injaag.

Met ’n wegholoorwinning.

Brad Binder – ook bekend as Bradical weens ’n ongeneeslike need for speed – is die eerste Suid-Afrikaner ooit wat ’n MotoGP-ren kon wen.

My senuwees! Jy kry maagpyn en weet nie wat om met jouself aan te vang nie, dit moet net verby kom!
Twee dae voor sy 25ste verjaardag het Brad Binder verlede Sondagmiddag in Brno, Tsjeggië die eerste Suid-Afrikaner ooit geword wat ’n MotoGP-ren wen. Foto: Getty Images

“Ons is mal van blydskap, maar die 45 minute van die ren was vreesaanjaend,” vertel Sharon.

“My senuwees! Jy kry maagpyn en weet nie wat om met jouself aan te vang nie, dit moet net verby kom!”

Die laaste rondte duur vir ’n ewigheid, koor Trevor saam, jy druk jou kind vorentoe, maar enigiets kan gebeur voor die wenstreep, ’n band kan afval, die baaik kan rol, ruveld toe, hy rem dalk ’n aks té hard, ag énigiets, daai vlag moet asseblief nou wáái . . . “En dan is alles oor en jy sit terug en probeer jou hart laat bedaar . . .”

Niks, niks, niks sal ooit weer kom by die gevoel verlede Sondag toe Brad oor die wenstreep gejaag het nie.

“Dit was die trotsste oomblik van my lewe en toe begin my foon lui en dit het nog nie weer opgehou nie.”

Sharon, daarenteen, prewel net: hierdie wen het sy nie so vinnig verwag nie, sy het haar man so geluister en gedink no ways, pappie, volgende jaar dálk ’n podium, borrel sy moederlik oor van ongeloof en plein lekkerte. Dit was maar Brad se derde ren in die topkategorie vir Grand Prix-motorfietse, MotoGP, waar die rubber die teer teen 350 km/h brand.

Om ’n draai in die Tsjeggiese Grand Prix verlede Sondag in Brno, toe Brad Binder ’n MotoGP-kampioen geword het. Foto: Reuters
Dit was die trotsste oomblik van my lewe en toe begin my foon lui en dit het nog nie weer opgehou nie.

“Brad kon selwers nie ophou sê hoe waansinnig sy wen is nie, Trev, hy’t vir my gesê hy’t eers hier aan die einde begin dink hy kan die voorloper verbysteek.”

Brad het die voortou geneem met tien rondtes oor, en toe was daar nie keer aan hom nie.

Weens Covid-19 is daar geen toeskouers by die wedrenne nie, en hulle kon die oorwinning nie eens behoorlik vier nie. Brad en sy jonger broer, Darryn, is reguit hotel toe, en toe bel hulle maar vir ma en pa, vertel Sharon laggend.

Dit was ook KTM se eerste keer op die boonste podiumtrappie in MotoGP.

Vir só ’n wen, sê Trevor, moet die hele span in die kuipe op wenstandaard wees. “Van die enjinbouer tot die ou wat kyk na die vering, elke liewe ding moet op presies dieselfde tyd op sy piek wees.”

En natuurlik, agter elke rockstar-renjaer is ’n naelskouende ma en ’n petrolkop-pa. Hierdie einste twee op die Krugersdorp-sitkamerbank.

Jare se voorbereiding, toe word sy droom waar: die Krugersdorper Brad Binder is ’n MotoGP-kampioen.

Op die mediakonferensie het Brad sy ouers amper heel eerste bedank. “Dit is hulle wat my van die begin af ondersteun het. Ek was net ’n tiener wat jaend my droom uitgeleef het, maar ons is deur moeilike tye, dit was swaar aan die begin,” het hy vertel.

Hy was nog ’n blonde haasbekkie in ’n knortjor, toe was die Brad-baaik-oefenregime al klaar omvattender as gewone ouers se ek-vat-boeta-rugby-toe.

“Ek en Shaz het die afgelope 20 jaar elke naweek oor die kuipemuur gehang terwyl die son ons looi. As jy kinders het, doen jy wat húlle wil doen,” sê Trevor met hoë-oktaan-gelatenheid.

Op ’n stadium het die Binders ’n vakansiehuis aan die Vaalrivier gekoop met ’n boot en als, maar die seuns wou net op teer jaag, nie water nie.

Vyf en klaar verlief op twee wiele. Sy eerste Suzuki 50cc.Foto: Verskaf
Ek en Shaz het die afgelope 20 jaar elke naweek oor die kuipemuur gehang terwyl die son ons looi.

Toe Brad op 12 aan wedrenne in Europa begin deelneem, moes Trevor sy ingenieursonderneming (hy herstel myntoerusting) elke keer vir weke los om saam te gaan. En self sy beursie oopmaak, want anders as Italië, Spanje en Frank­ryk, borg Suid-Afrika nie hul jaers nie. “En as jy nie gekeur word vir die Red Bull Rookie Cup nie, kom jy nêrens nie.”

Sharon het later volle wedrenseisoene saam met Brad in Spanje gaan bly.

“Ons het Spanje gekies, want dis lekker sentraal en ons het darem een mens daar geken. Maar dit was moeilik, hoor. ’n Kind en ’n pa diékant van die wêreld, en ’n ma en ’n kind anderkant. Maar die tyd vlieg gelukkig tydens wedrenseisoene.”

Nie vir hóm nie, grinnik Trevor. “Ek was altyd laat vir werk want ek moes Darryn eers by die skool gaan aflaai.”

En deesdae? Met die handige MotoGP-app kan Ma en Pa hulle elke wedren-naweek voor die TV vasplak en regstreeks kyk hoe jaag die boeties – van die oefenrondtes Vrydae tot die geruite vlag Sondae.

Eintlik het Trevor net homself die skuld te gee vir sy vinnige seuns.

in die kuipe by Midvaal waar Brad twee keer van dié Yamaha TZR geval en weer opgestaan het. Hy wou net nooit ophou nie.
Brad het ’n koel kop, en ek dink dis wat hom verlede week ’n wen besorg het.

Toe Sharon hom 25 jaar gelede meedeel: Trev, liefie, jy gaan ’n pappie word, het Trevor in die kar geklim en vir Baba Brad sy eerste fiets gaan koop: “ ’n Suzuki JR50, daai scramblertjies wat jy eerste vir kleintjies koop.”

Jy hoor nostalgie.

“Ek hou wel van motorfietse,” onderbeklemtoon hy, “maar het duidelik geen talent nie. Dit was vir ons almal ’n massiewe leerkurwe, ons het hom en sy jonger boetie, Darryn, nooit gedruk nie, hulle wou eenvoudig net.”

Hy was agt, toe foeter Brad op een van sy eerste wedrenne van die 50cc af. Trevor het hom teruggeplak op die saal en Brad is daar weg, net om in die volgende draai weer stof te vreet. Sy pa het hom weer teruggesit in die saal en daar gaat hy. Vasbyt, toe al.

Dis toe dat Sharon besef het die pakkie pleisters in haar handsak gaan nie deug vir dié jaagduiwel se valle nie. En dat sy maar moet leer om haar bang diep weg te bêre.

“Onthou jy hoe Brad sy fiets se voorwiel afgehaal het, dan jol hy hier voor in die pad rond terwyl sy boetie hom afneem?” herinner Sharon vir Trevor.

“Hy doen dit nou nog . . .”

Die Binders in Brad se slaapkamer, met ’n paar van sy trofeë. Langs Sharon is sy stewel waarin hy die eerste wedren in Italië gewen het, ná ’n jaar se harde werk om in te haal by die Europese wedrenstandaarde. Hy was 15. Foto: Deon Raath
Ons het Spanje gekies, want dis lekker sentraal en ons het darem een mens daar geken. Maar dit was moeilik, hoor. ’n Kind en ’n pa diékant van die wêreld, en ’n ma en ’n kind anderkant. Maar die tyd vlieg gelukkig tydens wedrenseisoene.

Met die Covid-19-inperking was die broers en hul meisies vir twee en ’n half maande skielik terug by hul ouerhuis.

Om hulle besig te hou, het Trevor naderhand toe maar ’n mini-renbaan in hul tuin gebou en Brad se ou 50cc gaan afstof.

Toe jaag die Binders al om die motorhuis en swembad, oor die heining en weer terug om die huis.

Party ouens doen die Comrades in hul agterjaart, die Binders doen die MotoGP.

Hulle was heeltyd in die garage met die karre en fietse besig gewees, onthou Sharon terwyl sy een bordvol hoender, groente en rys ná die ander vir haar honger manne en hul meisies kook.

In Junie, op die eerste vlugte uit die land, is die Binder-broers terug na die Europese renbane.

Brad was verroes, hy was boonop ’n nuweling in die MotoGP-kategorie. Hy’t vertel hy’t in die eerste oefenrondtes heeltyd twee treë agter sy fiets gevoel. Dit was amper vir hom ’n skok hoe vinnig dié GP-fietse is.

Dit maak verlede naweek se oorwinning soveel merkwaardiger.

Sharon en Trevor by Brad se Yamaha TZR waarop hy sy eerste kampioenskap in die 50cc seuns/hoërskoolkategorie gewen het. Foto: Deon Raath

Brad en Darryn deel ’n woonstel in Alicanto, Spanje, waar Darryn in ouboet se spore aan die Moto3-kategorie deelneem.

Dis ’n streng roetine, van Brad se dieet en gewigsprogram tot die eerste vlug Sondagaande terug huis toe ná ’n wedren om die Maandag weer op elke moontlike manier te begin oefen: hardloop, fietsry, swem, gim, en dan weer die Woensdag te vlieg na die volgende wedren.

“Die Vrydag en Saterdag fynkam hulle die baan en merk presies waar hulle moet begin rem of vetgee. Racecraft, word dit genoem.

“Brad het ’n koel kop, en ek dink dis wat hom verlede week ’n wen besorg het. Toe hy sy spanmaat verbysteek, het die spanmaat wisselvallig begin ry om te probeer inhaal. Sekondes tel. Skerpheid. Brad se fokus was daar,” sê Trevor.

So onversteurd en kalm soos Brad is, só wild is Darryn, vertel Trevor. Hulle is beste pelle, seker omdat hulle soos dag en nag verskil.

Darryn het in Suid-Afrika alles gewen wat Brad gewen het. En hy gaan dit oorsee ook doen, belowe sy ma.

Die R200 of so wat Trevor vir Brad se eerste fiets betaal het, was ’n massiewe belegging. As jy motorfiets-webtuistes kan glo, verdien Brad $1 miljoen per jaar, met sy ikone, Valentino Rossi en Marc Márquez, onderskeidelik $10,5 miljoen en $14,5 miljoen.

Sak Sarel, keer Trevor, dié syfers is bloot uitlaatgasse. En dan rits hy sy mond toe.

MotoGP het ewe veel glans en sexy groupies rondom die kuipe as Formule Een.

Dié kruisie herinner my kind daaraan dat ek heeltyd bid dat hy veilig oor die wenstreep kom.

Die wedrenseisoen is soos ’n sirkus van stad na stad met 20 jaers in 20 renne. Op TV is daar 400 miljoen kykers elke seisoen, die wedrenne is maande vooruit volbespreek, die renjaers is rocksterre.

Met sy podiumglimlag en mooi maniere is Brad ’n bemarkingsdroom. Hy’s amper outyds ordentlik, ’n outjie wat nie omgee om met ’n mond vol kos in ’n restaurant saam met groupies vir selfies te glimlag nie.

Brad dra nog steeds die hangertjie met die kruisie wat sy ma jare gelede spesiaal vir hom by ’n juwelier laat maak het.

“Dié kruisie herinner my kind daaraan dat ek heeltyd bid dat hy veilig oor die wenstreep kom.”

Ag Shaz, vee Trevor haar vrese weg, asof 350 km/h in die pylvak en die millimeters tussen jou knie en die teer in ’n draai waar jy 57 grade inleun op ’n fiets wat 160 kg weeg, sommer alledaags is.

“Of jy op ’n renbaan is, of oor ’n pad in jou woonbuurt stap, jou tyd is jou tyd.”

Dink net: Op die wenstreep was Brad vir daardie vervlietende oomblik die heel beste in die wêreld op twee wiele.

Op die program Carte Blanche het Macfarlane Moleli gesê daar was al meer mense in die ruimte as renjaers wat dit tot in die MotoGP gemaak het. Die bestes van die bestes.

Nie almal kan nie, beaam Trevor. “Hulle kry so maklik seer, hulle val, word teruggevat kuipe toe waar hulle op die spaarfiets moet verder jaag, vinniger, want hulle moet inhaal.”

As jy nie dié mengsel van vreesloosheid, talent en moed het nie, behoort jy nie tot dié eksklusiewe bende nie.

En dan sê die Binders blitsig totsiens, want dis 09:00 en Darryn is klaar uit die kuipe vir die eerste oefenrondte in Spielberg, Oostenryk, en dié onderhoud moenie nou kom inmeng nie.

En jy sien Pa en Ma daar op die sitkamerbank, tjoepstil, fynoog op hul twee Krugersdorp-kampioene.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.