Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die denker van Randfontein
Hanlie Retief gesels met Neil Sandilands
Dis ’n bos van ’n baard. Sy vingers krap onrustig daarin rond. Hy lyk soos ’n perdedief of ’n whisky-stoker. Of Hans die Skipper.
“Dis oom John Reinders se pub, Johnny’s Pub op Pelgrimsrus, my gunstelingplek in die wêreld, tydens die inperking.”

Dis ’n bos van ’n baard. Sy vingers krap onrustig daarin rond. Hy lyk soos ’n perdedief of ’n whisky-stoker. Of Hans die Skipper.

Totdat hy begin praat oor Nietzsche.

Maar jy katrol hom vinnig in, vooraf gewaarsku: Vir Friedrich Nietzsche sal Neil Sandilands in ’n drom diesel kan opspoor en drie uur daaroor aankap.

“Net één aanhaling, darem? An inexhaustible well to which no pail descends that does not come back filled with gold and goodness.”

Dis laataand. Toegewikkel in ’n dik, rooi serp op stel in Bedford in die Oos-Kaap. Sy gesig flikker op FaceTime, oë geskreef agter brillense.

Hierdie man.

Daar is ’n verskil tussen nie drink nie en jou soberheid omhels.

Beskimmelde Bart van 7de Laanmet sy duifies Breëbors en Bekkie wat onrusbarend gemorph het tot Titus in The 100 – en The Thinker, die donker booswig in die Amerikaanse superheld-TV-reeks The Flash wat dreig in ’n aksent tussen Wes-Rand en Amerikaanse Weskus: “Life 101 . . . there are no happy endings”.

Die denker van Randfontein.

As daardie gr. 2-juffrou nie ’n TV-skerm uit ’n boks gesny het vir haar klas se voordragles nie, as klein Neil nie David Kramer se Bakgat-plaat uit sy kop geken het nie, sou hy in Hollywood geland het?

“Op Mariepskop. Die laeveld was beeldskoon. Ek het als gesien behalwe ’n luiperd, hy ontwyk my. Maar eendag...” Foto: Verskaf

“As juffrou Esté Pienaar by Monnas (Hoërskool Monument, Krugersdorp) die dag siek was toe hulle gebel het om te sê daar’s oudisies vir Meester, hulle soek ’n jong speler, as sy nie vyf van ons in die kombi gelaai het nie . . . dis hoe ek Meester gekry het.

“En dis waar alles begin het . . .”

En as toneel nie oor sy pad gekom het nie?

“Tipe wese wat ek is, sou ek avontuur gekies het. Elke keer. Dalk Antarktika toe. Ek floreer in sulke omgewings.”

Sy kop is ’n duikboot vol stories.
“Die klein tjokkertjie in die middel, onderkaptein van Hoërskool Monument se o.14-rugbyspan wat in 1989 die Direkteurstrofee gewen het.” Foto: Verskaf

Soos om op ’n Sondagmiddag in ’n vliegtuig met Sandilands in ’n rol wat hom destyds soos ’n handskoen gepas het – beskonke sepiester – vir die lugwaardin ’n reël uit ’n Eddie Murphy-fliek te gooi wat hom daai aand in die tronk laat slaap: “Someone ought to put you on a plate and suck you up with a biscuit.”

“Ek was natuurlik onder die prop gewees, toegesluit vir crimen injuria, maar daar is niks kwaadwilligs in Neil Sandilands nie, niks. Selfs die regter wat toevallig langs my op die vliegtuig was, het gesê dis ’n pot snot . . .

“En nou is dit net lekker staaltjies om te vertel.”

Ek was natuurlik onder die prop gewees, toegesluit vir crimen injuria, maar daar is niks kwaadwilligs in Neil Sandilands nie, niks.
“Op Mariepskop, allakragtig korporaal, dis Riku Lätti se ma se Crocs wat al die wêreld vol was, ook in die TV-reeks wat ons pas klaar geskiet het.”

In 1996, toe hy die soveelste keer die beker vir die beste toneelteks by die destydse RAU (UJ) wen, vat hy al die cats uit. “Ons het deurnag gevier by die Question Mark in Melville. Natuurlik. Hoekom nie?” Vraagteken.

“Teen dagbreek was net ek en ou Andy die pill popper oor, en dis reënerig buite en by Question Mark se kaggeltjie sê ek gooi vir ons ’n grappa en ’n espresso, ek is nou terug. Die son kom op, niemand is op straat nie, en ek voel goed oor die lewe en ek is uit al my klere en hardloop tot onder by Hard Times se sirkeltjie, lekker punt in die wind. Mal gewees daaroor. Ek was net maar ’n student, toe, wat die lewe gevier het, wat pret gehad het.”

Sy kop is ’n duikboot vol stories.

“Bheki Cele, wat jy dra is nié ’n hoed nie, dié is ’n regte hoed!” Foto: Verskaf

In Tahiti was hy in die Gauguin-museum, in New Orleans deur die konyngat tot in die bedompige betowering van moeras en jazz en Second Line.

In Vancouver se bleek midwinterdae, “ek is gemaak daarvoor, jy moet met die grootste gemak tussen rolle en wêrelde kan gly. Hoe? Dis kung fu,” skater hy en vat ’n sluk van sy Stoney. “Hulle maak dit nou in ekstra kwetsaaaaa!”

En dis baardhare en kreukels en ’n rakleeftyd van 45, maar nog hot, nè, sê ’n vriendin wat mister Sandilands vanmelewe op ’n partytjie warm gevry het. Donkerkoppe, stringe van hulle. “Eers gaan hy vir die boobs en dan vir die nekslagaar, maar altyd liefies, nè. Intens verby. Maar ’n darling.”

“Ek is ’n mensvraat. Kulturele kruisbestuiwing. Ek vat Randfontein saam Hollywood-oudisies toe.”
“Saam met Jacqueline Bisset, sommer ’n terloopse ontmoeting in Los Angeles. Foto: Verskaf

“Wie sê dít,” stiklag hy verbouereerd en steek die volgende sigaret aan.

“Vir beter dink.”

En dieper duik in die onthou tot by die vermaarde oom Jannie Gildenhuys se woorde, verbatim: ‘You were always imperilled, my boy . . . jou kraak was nog altyd geboek, van die dag dat jy jou slim ogies oopgemaak het.”

Hy is mal oor die Amerikaners, hulle het hom die mag van moontlikhede geleer.
“Saam met my oupa Chommie van der Merwe. Hy is tydens die inperking oorlede, en die rede hoekom ek inperking hier kom deurbring het.”Foto: Verskaf

Hy, die tiener in Meester, in ’n kombi vol legendes op pad Clarens toe, Elize Cawood, Danny Keogh, oom Johan en tannie Lida. En waaragtig ’n paar weke gelede is hy wéér op daai pad in ’n kombi, maar dié keer is hy die oudste. “Met die selfopgelegde verantwoordelikheid om vir die jonges die sleuteltjies wat ek gekry het, aan te gee,” kom dit vol drama, altyd ’n konsert.

“Ek is ’n mensvraat. Kulturele kruisbestuiwing. Ek vat Randfontein saam Hollywood-oudisies toe.”

Hy is mal oor die Amerikaners, hulle het hom die mag van moontlikhede geleer. “Ja, mense tot die uiterste.”

Ek wil so graag hoop kry as ek hier kom, maar Suid-Afrika voel soos ’n ongeluk waarop jy afkom.

Vir hom is Trump die perfekte simbool van ’n president in hierdie postmoderne wêreld. “Met sy groteske gesig en ongeartikuleerdheid spieëlbeeld hy presies ons gedeelde psige.”

’n Maand voor die inperking het sy oupa Chonnie se dood hom Suid-Afrika toe laat kom. Hy was pas klaar geskiet aan Tom Hanks se nuwe fliek, News of the World. (“My rol is klein, as jy jou oog knip, mis jy my.”)

“Die aand voor sy dood het Oupa nog baklei met die owerhede, want hy wou noddedêm in die siekeboeg wees, hy het tot ’n prokureur gekry, letterlik howling at the moon in Huis Sering in Rustenburg.”

In Hap and Leonard, The Flash en as Titus in The 100.

En toe kom Covid-19 en Sandilands bly, maar hy laat hom nie inperk nie. Rusteloos rondgeswerf, skielik ontperk van Hollywood-oudisies, call sheets, fake tans en gebleikte tande.

“Ek is al van 2014 permanent in Los Angeles. Al my vorige besoeke hier was tref en trap. Ek wil so graag hoop kry as ek hier kom, maar Suid-Afrika voel soos ’n ongeluk waarop jy afkom.”

Hy het die land beleef soos nog nooit in sy lewe nie. “Ek het al die hele Amerikaanse Weskus gery, dis majestueus, maar daar is ’n verveling in die wydheid wat jy nie hier kry nie. In ons klein geografiese ruimte verander dit van die Kaap na Karoo, Weskus, Namakwaland. Maar dan ry jy deur Krugersdorp en sien die verval van die Jan Lotz-stadion waar ek o.14-rugby gespeel het.”

Nikotien ja, kafeïen, maar vir ’n anderhalfjaar al nie ’n druppel drank oor daardie akteurslippe nie.
“Saam met James Purefoy in Hap & Leonard, ’n ware jintelman, ek het so baie by hom geleer.”Foto: Verskaf

Én as kleinste skrumskakeltjie die Direkteurstrofee help wen het, herinner hy.

Soos ’n Boeregeneraal het hy tydens vlak 4 sy ma en sussie opgekommandeer om te help om sy sewe minute lange epiese lied in Bainskloof te skiet, Die Ballade van Frik & Dot, oftewel “Goue Graal”.

Die Skots in sy bloed, die graal alkohol wat hom al in soveel kroeggevegte laat beland het, het Sandilands nou verruil vir sober. Nikotien ja, kafeïen, maar vir ’n anderhalfjaar al nie ’n druppel drank oor daardie akteurslippe nie. “Daar is ’n verskil tussen nie drink nie en jou soberheid omhels.”

Raak hy alleen, daar ver?

Dapper stapper die wêreld oor, en partykeer kom hy sy eie dam se ganse teë, Afrikaners.

“Dit is ’n atomiese bestaan tussen LA se 18 miljoen mense. Maar so was my bestaan nog altyd, altyd ’n volgende skool, dan koshuis, daardie Lord of the Flies-seunswêreld waarin ek floreer het.”

Dapper stapper die wêreld oor, en partykeer kom hy sy eie dam se ganse teë, Afrikaners. “En hulle pas aan, maak opgang. Dis ’n ouskool-ding, ’n besliste werketiek. En ek is baie trots daarop.”

Sy eie onsekerheid en boere-ordentlikheid het hom al in die voet geskiet.

“Dit was in die film Blackhat, klein rolletjie, maar hulle vlieg my eersteklas Kuala Lumpur toe. Vir die repetisie by vervaardiger Michael Mann stap ek en so ’n lang Hollander, Max, ’n vlieënier wat moet raadgee vir my rol, Mann se penthouse in die Hyatt binne.

Vir elke rol wat hy kry is daar 20, 30 onsuksesvolle oudisies.
“As Paco in Hap & Leonard.”Foto: Verskaf

“Mann, wat al Pacino, De Niro, Day-Lewis geregisseer het . . . en ek hoor my ma: goeie maniere, ken jou plek.

“En daar bly ek tjoepstil en Max oordonder die geselskap en negeuur daai aand bel Mann: sorry, hy gaan eerder Max gebruik vir die rol, maar kom môre, ons krap vir jou ietsie uit. Die volgende dag tou ek maar saam op die bootjie agter die tenkskip. Net ’n body. Ure later roep hulle my skip toe. By Mann in die beheerkamer kon jy die atmosfeer met ’n mes sny. Die vlieënier het nie gewerk op kamera nie . . . ‘We’re gonna give you a chance’, sê Mann en ek word gemike en dis action! en ek voel seesiek en sê vir myself: kom net by cut uit. En so was ek terug in die film. En dit kon alles vermy gewees het as ek van die begin af my ruimte opgeëis het.”

Dit raak laatnag.

Is jy ’n goeie akteur?

Die lag blaf.

Soos koning Lear leef ek in die aangesig van my eie ergste verleenthede.
“Ek was baie lief vir Bart in 7de Laan. Hier is ek en Marco, Francois Lensley, met regisseur Henry Mylne wat ons probeer uithou. Die bokstoneel het groot opslae gemaak. Ek het onlangs vir die 7de Laan-ouens gaan kuier. Dit was heerlik. Foto: Verskaf

“Ek weet wat ek kan en nie kan nie, wat in my arsenaal is en hoe ek dit moet gebruik.”

Vir elke rol wat hy kry is daar 20, 30 onsuksesvolle oudisies. “Maar net die kans om jou hand aan sulke materiaal te waag, is al genoeg. Ek was in die mix vir Stephen King se It, en die psige van die nar was dalk my mees komplekse toneelspel.”

Kamikaze, kamikaze los dit op die vloer, herinner hy en sy Amerikaanse agent, Jay, mekaar. Hulle noem mekaar Tjoppie.

“Jy bestaan tussen ‘aksie!’ en cut! As hulle sê cut, moes jy dit klaar gehad het. Toe ek dít leer, was ek vryer, minder angstig voor oudisies.”

“Die boer en die boerbok, burgemeester van Bedford.” Foto: Verskaf

Daar was ’n hele jaar waarin hy niks gedoen het nie. Vir homself moes hy sê: al skiet jy nooit weer een raampie nie, moet jy steeds oukei wees met wie jy is.

Co-star in House. Guest star in The Americans. Recurring guest in The 100. Series regular in Hap and Leonard en The Flash. Die Hollywood-trappe wat hy geklim het.

In News of the World was Tom Hanks se heilsaamheid soos kouewater-Omo. Hy doen moeite.

“In my trailer was sakdoeke van sy reeks Hanks Kerchiefs, ’n Mexikaanse kombers en ’n leersak. Ek het dankie gesê met presente uit Suid-Afrika en toe sê hy wéér dankie. Hý verstaan die goeie maniere-ding.”

En so flenter Sandilands oor die aardbol agter sy sirkus aan, maar droom van eendag ’n pen inslaan by Baardskeerdersbos, ’n stukkie vaste grond, dalk ’n kind, maar hei, op ­25 September is dit Nieu-Seeland toe vir Sweet Tooth, Robert Downey Jr. se apokaliptiese reeks en “ek is kinderlik opgewonde daaroor. My karakter, ’n generaal, is so half ’n samevoeging van soveel rolle wat ek al gedoen het. Argetipes.”

As Neil Sandilands van Randfontein weer kon oor begin, kies hy dieselfde paadjie.

“Soos koning Lear leef ek in die aangesig van my eie ergste verleenthede. Ek is tevrede met elke klein roering van my bestaan, die vistas en die valleie. Ek eis my naam op, daar is net een van my . . . ek is Neil Joseph William Sandilands!” roep hy bulderend uit en dit eggo deur die valleie van Face­Time.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.