Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Ek het ’n pakt met God gemaak’
Hanlie Retief gesels met Noleen Dirkse
Op teen ’n heuwel in Fraaisig, Hornlee, met Knysna en sy meer glinsterend daar onder, deur ’n houthekkie en prieel waaroor ’n wildedruif rank met die eerste lenteblare liggroen spatsels teen wit latte.

Op teen ’n heuwel in Fraaisig, Hornlee, met Knysna en sy meer glinsterend daar onder, deur ’n houthekkie en prieel waaroor ’n wildedruif rank met die eerste lenteblare liggroen spatsels teen wit latte . . .

Noleen Dirkse, soos Knysna se mense haar ken, met haar suurstoftenk en tas met die rooi kruis waarin haar noodmedisyne is. Sy het al tien keer tuberkulose gehad en het byna geen longfunksie oor nie. Foto: André Victor

Dáár ontmoet jy “die vrou sonder longe”.

Dis hoe die Tuinroete vir Noleen Dirkse ken.

As sy by Knysna se provinsiale hospitaal aankom, meestal diepnag in ’n ambulans, groet hulle haar “hallo, lewende wonderwerk!”

Want Dirkse moes lankal dood gewees het. Twintig jaar gelede het dokters haar ses maande gegee om te leef.

Tien keer het sy tuberkulose (TB) oorleef, maar nou is haar hart vergroot, haar niere moeg en net twee klein stukkies van een long werk nog.

Maar niks stuit dié klein vrou in haar spierwit broekpak en die suurstoftenk wat sy oral saamsleep nie.

Hornlee, die bruin woonbuurt langs die N2 net buite Knysna, het berugtheid verwerf toe die sjarmante DJHeinrich van Rooyen twee jong kelnerinne vermoor het. Jessica Wheeler is in 2005 met haar gesig in die grond van die Anglikaanse kerktuin in Knysna se hoofstraat gevind; Victoria Stadler ’n paar dae later in die bosse by Hornlee.

“Ons is ’n driemanskap wat stuit vir niks. Ek, my aanneem-ma Florence Hetjies (links) en Bonita Gesels. Saam versprei ons die allerbelangrike boodskap: tuberkulose is oorkombaar, maar dan moet jy vroeg gediagnoseer word.” Foto: André Victor

“Maar nou het suster Noleen ons buurt sterstatus gegee en op die wêreldkaart gesit met haar groot, internasionale prys wat sy gewen het, sy is formidabel,” sê Natasha Snell, bestuurder van die nooddienste en ’n lid van Dirkse se organisasie sonder winsbejag.

“Suster Noleen is Hornlee se rots. Suster Noleen is Hornlee se trots.”

Dirkse het einde verlede jaar die Karel Styblo Public Health-prys ontvang vir haar werk onder TB- en MIV/vigs­lyers in Knysna. Dis ’n prys van The Union, ’n internasionale organisasie wat TB sedert 1920 beveg.

Ek was ’n mess, nou is ek die message.

“Kom ek wys jou my prys,” roep Dirkse en haal die geraamde sertifikaat van haar ligpers kamermuur af.

“Kýk net!”

Weens haar swak gesondheid kon sy nie self die prys in Indië ontvang nie. Dit was ’n dubbele teleurstelling, want as daar een ding is wat Noleen Dirkse begeer, is dit om te vlieg. Verkieslik met ’n helikopter. “Bo-oor ons heuwel, oor die meer en dan tussen die Knysna-koppe deur . . . maar die dokters sê nee.”

Noleen Drirkse

So dié sertifikaatjie, wys sy trots, is al wat sy het van die verhoog en glorie van die Styblo-prys.

Vir Dirkse is dit ’n roeping om TB-lyers vinnig op te spoor sodat hulle betyds behandeling kan kry.

“Mense besef dikwels nie daar is meer as 20 soorte TB-medisyne beskikbaar nie, TB hoef nie ’n doodsvonnis te wees nie.

“Daar is soveel onkunde, ek leer mense om hul medisyne presies volgens voorskrif te gebruik.”

En alles doen Dirkse sonder vergoeding, sy raap en skraap met haar Sassa-toelaag.

Dirkse se organisasie sonder winsbejag, die Noleen Foundation of Hope, bied met ’n span van 50 vroue interaktiewe werkwinkels met rollespel in die gemeenskap aan.

Hulle fokus op oudgevangenes, vroue wat mishandel word en Hornlee se bejaardes wat dikwels alleen in agterplase ’n hongerlewe ly.

Oral waar daar nood is.

En alles doen Dirkse sonder vergoeding, sy raap en skraap met haar Sassa-toelaag.

“In dié kamertjie kyk ons saam Suidooster, en Ma Florence (links) en Bonita ‘plak’ snags ook hier om my by te staan.” Foto: André Victor

Veronique Klein, een van Dirkse se spanlede, vertel: “Mense sê altyd Noleen het die vermoë om jou te laat moed skep. En ek sien dit keer op keer met my eie oë.

“Soms gaan staan sy hierbo in Vigilance-rylaan en wag vir wie ook al daar verbykom wat bemoediging nodig het. Sy probeer minstens vyf mense per dag bereik.

“Sy sien als raak, sy sal sommer die mediese personeel deur teue suurstof begin uitvra, en as sy weer op haar voete is, help sy hulle deur persoonlike krisisse.

Ek maak toe ’n pakt met die Here: Gee my meer tyd op aarde, dan gebruik ek daardie tyd in U diens.

“Sy hou eenvoudig nooit op nie. By ’n kliniek is sy gewoonlik só besig om die mense te bemoedig, hulle besef nie sy is self daar vir behandeling nie, self eintlik soveel sieker as hulle.

“Sy is baie geliefd in ons gemeenskap, en almal ken haar met haar swart tassie met die groot rooi kruis.”

Vandat sy 31 is, slaap Dirkse sittende op ’n hospitaalbed in haar kamer. Vir asem. Langsaan is ’n noodknoppie met ’n silwer kruisie bo-op geplak.

“Met rollespel kry ons die boodskap oorgedra: geslagsgeweld moet gestuit word.” Foto: Verskaf

Én ’n spieëltjie. “Want ek hou daarvan om mooi te lyk.”

Langs die nommers van die ambulansdiens en hospitaal, staan in groot letters: Ek is ’n vrou met ’n verlede, ’n vrou met ’n toekoms en ’n vrou met ’n verwagting.

“Ek het min asem en min tyd. Ek mors nie ’n oomblik van my lewe nie. Ek het werk om te doen,” sê sy haastig, dringend. Twee kastaiingbruin oë bekyk jou stip.

Nooit het Dirkse as jong meisie van Mitchells Plain kon dink die wind sou haar tot in Knysna waai nie.

Hulle is ’n aangelapte gesin.
“Die ambulansdienste doen onbaatsugtige werk, hulle moet bemoedig word. Hier is Natasha Snell (agter middel) en haar span.” Foto: Verskaf

“Ek was my ma se enigste kind, gebore met TB in my voetjies en ’n gat in my hart. Ek kon die TB elke keer oorwin, op vyf, tien, 14, 17, 21 en 22.

“Op 31, toe my ma dood is, ontdek hulle hoëgraad-TB regdeur my liggaam. Die dokter het gesê ek moet my sake in orde kry, ek het ses maande oor.

“Ek maak toe ’n pakt met die Here: Gee my meer tyd op aarde, dan gebruik ek daardie tyd in U diens.

“Ek trek toe saam met onse kerk se mense Port Elizabeth toe, desperaat om my deal met die Here na te kom.

“Ek het 28 kg geweeg, niemand het gedink ek sou die reis oorleef nie.

“Sommer op ons balkon het ek, Bonita Gesels (links) en Florence Hetjies (regs) gemeenskapswerk op sosiale media tydens die inperking gedoen.” Foto: Verskaf

“Ons het op Knysna oorgeslaap, en daar kruis my pad dié van Florence Nightingale s’n,” wys sy na Florence Hetjies, ’n afgetrede TB-verpleegster en haar aanneem-ma.

Florence: “Noleen het op ’n matras agterop ’n bakkie hier aangekom, ons moes haar stut terwyl sy loop. Stelselmatig het ek haar sterker gekry. Sy’s een van daai mensies wat jy dadelik liefkry, niks blus haar gees nie.”

Noleen: “En toe ry die bakkie sonder my verder. En hier is ek 20 jaar later nog steeds.

“Ma Florence se man was sterwend aan kanker, en ons twee het mekaar bemoedig deur sy laaste maande.”

Ons jongste en laaste kleintjie, Ashley, het ons in ’n pondokkie raakgeloop, hy was maar twee maande oud.

Hulle is ’n aangelapte gesin. Hetjies se drie kinders is al groot, en ná Dirkse het die sesjarige Bonita Gesels daar kom bly. “Haar mammie het gesterf, toe bring die maatskaplike werker haar hierheen.

“Ons jongste en laaste kleintjie, Ashley, het ons in ’n pondokkie raakgeloop, hy was maar twee maande oud. Drie dae later kry ek ’n boodskap van die ma: Wanneer kom haal julle die kind?” Sy glimlag. “Hy word nou vyf jaar oud . . . Ons klompie deel nie DNS nie, maar ons is ’n familie.”

Tydens die inperking, toe uitreike en werksessies gestaak is, het Dirkse en haar span video’s op haar selfoon gemaak om die gemeenskap oor Covid-19 in te lig.

“Kinders moet vroeg leer: tuberkulose kan genees word, en met Covid-19 is sosiale afstand belangrik. Ons het nie watergetrap tydens die inperking nie, ons het gewoel. Hier is ek saam met Florence Hetjies (links) by Knysna High School.”

“Ek het 35 aanbiedings hier op die balkon gedoen, met plakkate, baniere, rollespel, als. My Covid-19-span doen die bemarking, sosiale media en fondsinsameling, want elke kleine bietjie help, al is dit net om plakkate te lamineer.

“Kyk, as jy vir my ’n mikrofoon gee, kom iets los in my, ek raak aan die sing en maak rympies om vir mense te sê: Jy is nie ’n slagoffer van jou omstandighede nie, jy’s in beheer van jou lewe. Ek was ’n mess, nou is ek die message . . .”

Sy loer vir my oor haar landsvlag-masker. “Mense kan nie glo ek kan met so min long nog sing nie! Ek kry my asem van God af. Wil jy hóór?”

“Niks stuit my om gemeenskapswerk te doen nie, nie siekte nie, nié ’n asemtekort nie, ek wil ten minste vyf mense ’n dag aanraak, moed inpraat, inspireer. Hier is ek en Florence Hetjies.” Foto: Verskaf

Sonder wag trek sy vrolik weg en sing van Hornlee se armoede en sukkellewe én lekkertes op hierdie heuwel met sy fraai uitsig.

Jacquelina, hul jackrussell, lig haar snoet en huil fyntjies saam, styf langs Gesels op die gehekelde deken. Gesels (nou 23) dra vandag die Chinese rok en baadjie waarin Hetjies in 1970 getroud is, spesiaal vir hierdie okkasie, en sy verluister haar aan Dirkse.

Op die medisynetrollie is ’n botteltjie Vicks Wet Cough, ’n ontstuwer, bloeddrukmeter, suurstofmeter.

Onse ambulansmense verdien medaljes.

’n Siekekamer, ja, maar ’n vriendelike nessie waar dié drie saans saam Suidooster sit en kyk en hulle vervies “vir die Moslemvrou wat so in arme Mymoena se huwelik gekom het”.

Dirkse kyk vir Hetjies: “Kan ek maar sê van die kamerstorie?” Hetjies knik.

“Bonita en Mammie slaap eintlik bo, maar hulle plak nou snags hier by my want hulle wil my nie alleen los nie, want sê nou my pype slaan toe in die nag.”

Noleen Dirkse se bemarkingspan. Van links: Valenta Miles, Sasley Puren, Veronique klein, Bonita Gesels, Florence Hetjies en Noleen in die middel. Foto: Verskaf

Florence: “Wat jy nou hier sien, is nie altyd onse prentjie nie. Dinge draai vinnig, hoor, dan raak sy verskriklik benoud, begin sweet, gooi sommer die medisynetrollie om, klou aan ons, aan’t baklei vir asem.”

Bonita: “En jy voel die ambulans kom té stadig.”

Noleen: “Maar onse ambulansmense verdien medaljes.”

Florence: “Een nag toe sê die paramedikus dit lyk maar sleg, maar kom ons wérk met daai flou pols . . . en ons sit daarbinne in angs . . . jô, jô, jô.”

“By Knysna se verkeersdienste het ons ook ’n koronavirus-bewusmakingsveldtog gehad.” Foto: Verskaf

En dan, ná alles verby is, spring Dirkse terug met haar humorsin: “Mensig, hoe pluk julle my darem nou uit die dode uit!”

Dirkse het vroeg al besluit sy gaan nie toelaat dat haar siekte haar regeer nie.

“As jy daai hospitaaljurk aanhou dra, in jou kop, gaan jy jouself doodvrees en dooddink.

“In die jurk van jou pasiëntwees tree jy op soos die siekte, praat soos die siekte, wórd die siekte. En dan kan genesing nie gebeur nie.

Hanlie Retief

“As mense my sien, moet hulle weet: Wonderwerke gebeur nog. Ek is een.”

Daar geld ’n reël in hierdie huis op die heuwel: “As ek die dag nie lus is om uit my kooi te klim nie, as die moedverloor my pak, het Ma Florence en Bonita my permissie om my daar uit te boender.

“En Mammie speel nie, sy sê sommer vinnig ‘kom sit in die oggendsonnetjie, dís mos nou die beste, eet jou brekfis hier.’ Só lok hulle my hier uit, want wie wil nou nie in die sonnetjie sit nie . . .”

Haar oë raak skielik mistig, soos ’n winteroggend op Noetzie se strand.

“Ek wil vir julle sê: Kyk na my, dis die moeite werd om te lewe. Moenie opgee nie. Daar is nog té veel om te sien, té veel om te doen, te veel liefde om te gee.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.