Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met Obie Oberholzer
‘Die lewe is ’n prentjie’

‘Hemel op aarde is ’n lang grondpad. My kontinent se stof is in my sweetgaatjies, iewers oor die horison wag vanaand se vuur onder die sterrehemel, iets wat ’n duisend foto’s nie kan verbeeld nie.”

“ ’n Kamera is soos ’n tandeborsel, en ’n foto is ’n oomblik, vasgevang.” Die wêreldbekende fotograaf Obie Oberholzer. Foto: Verskaf

Kaalvoet, bruingebrand, 73 en rusteloos sit Obie Oberholzer in die stoel.

Ons is in die sitkamer van hul lewenslange vriend GT se huis op die wynplaas Tokara. Vensters so groot soos mure bring die somertuin binnetoe. Iewers ghong ’n muurklok die stilte weg.

Terwyl Obie se vrou, Lynn (70), gesels, draai hy sy kop skuins en bekyk die Irma Stern teen die muur. Obie praat nie baie nie. Hy lyk verlig dat Lynn meeste van die praatwerk doen. Hy kyk liewer vir die skildery. Dan staan hy op en stap strammerig na ’n kussing op die bank.

“Sien jy hierdie strepe? Kleure?”

Dan loop hy na die Stern, wys die onderste hoek. “Kyk hoe praat die kussing met dié deel van die skildery.” En skielik sien ons dít wat ons nie vroeër kon raaksien nie.

Langs die Kamannasieberg op pad na De Rust.

Vir Obie is dit byna obsessief, hierdie soeke na fotografiese oomblikke, na komposisie.

In Oman se dorpies het hy ’n sandaal in die modder raakgesien wat al so platgetrap was, dit was deel van die modder. Van daar af het Obie koponderstebo begin loop en gevange moddersandale word toe sy nuwe fotoreeks.

Terwyl ander post-70’ers die week se spyskaart in die aftreeoord oorweeg, lanterfanter hy en Lynn, swerf die wêreld vol op soek na beelde, na foto’s, na nuwe horisonne.

“Vroeër vanjaar ook vinnig Italië toe, want ons seun Nikki was nog nooit daar nie. Toe vlieg hy van Abu Dhabi en terwyl húlle twee (wys hy in Lynn se rigting) nonsens praat en inkopies doen, gaan loop ek die oggend in die reën langs die Tiber.

“En hierdie ‘ouk’ (hy wys na ’n dakhoogte muurskildery van William Kentridge) het ’n lang, monumentale stuk kuns (550 m) al langs die oewermure gemaak (Triumphs and Laments). En toe doen ek ’n fotostorie onder die brûe van die Tiber.”

Ek hoef niks te hê nie, ek slaap enige plek, leef enige plek, jy kan as jy die lewe beskou as ’n reis.

Niemand kon nog die veranderende Suid-Afrikaanse platteland só vasvang soos Obie Oberholzer in boeke soos Ariesfontein to Zuurfontein, Diesel & Dust, To Hell n Gone nie.

Hy is ’n swerwer, van stories en beelde aanmekaargesweis. Jy sien hom in sy heldergeel Morris Minor tussen 1974 en 1980 Suid-Afrika deurkruis in The Hotazel Years. Hoe hy (skryf hy in ’n koerant destyds) ander swerwers saamgesleep het, veral een genaamd Jack Kerouac, wie se On the Road op die sitplek langs hom gelê het saam met die Nikkormat 35 mm-kamera, twee lense en ’n Metz-kameraflits.

Ikoniese beelde is vasgevang, stories bymekaargehark, soos dié van ouma Rosie Cloete van Eksteenfontein (1911-1994), die beplooide tannie met die pienk kappie op die voorblad van sy eerste boek. Sy bly die ikoon wat immer saam met hom reis in sy soeke na beeldkuns, mymer hy jare later op Facebook. Nadat hy haar in 1989 afgeneem het, is hy twee jaar later terug om haar af te neem waar sy die boek met haar op die voorblad vashou. ’n Jaar of wat later het hy haar weer besoek, maar haar stoep was leeg. Sy was in die begraafplaas.

“Ek het haar graf gevind, en met trane vir haar ’n boek op haar eenvoudige graf agtergelaat.”

Hy gebruik woorde soos hy foto’s neem, hy doen dit “Obie’s way”.

Ouma Rosie Cloete van Eksteenfontein. Foto: Obie Oberholzer

Op die oggend van 9 Desember 1980 het hy, ’n jong fotografiedosent in Durban, met sy nuwe 6x7 Asahi Pentax rondgery op soek na beelde wat sy dag kleur kon gee. By die Foreshore het ’n jong koerantverkoper teen die muur gestaan met ’n koerantplakkaat: “Beatle shot dead.” John Lennon se dood het ook Obie se wêreld laat stilstaan. “Ek het die plakkaat by hom gekoop. Ná 35 jaar het ek steeds die plakkaat en elke jaar, op 8 Desember, haal ek dit uit en imagine ’n wêreld van vrede en harmonie en liefde en broederskap. Imagine.”

Hy het al verskeie internasionale solotentoonstellings gehou en is wêreldwyd hoog aangeskryf, nie net vir sy fotografie nie, maar ook vir sy skryfwerk.

Dekades en duisende beelde op film vasgelê, eers in sy ateljee gegoël op filmpapier, toe digitaal nadat sy vriende geld bymekaargemaak en vir hom op sy 60ste verjaardag (op ’n rumoerige partytjie in die ou Transkei) nuwe tegnologie en ’n nuwe hoofstuk in sy lewe present gegee het.

’n Kamera is soos ’n tandeborsel, het Obie se held en mentor, die beroemde Britse oorlogsfotograaf Don McCullin, eenkeer vir hom gesê. Moenie te veel bodder nie. “In my sak, nou op pad Oman toe, is twee Canon-bodies en ’n wyehoek- en langer lens.”

Obie en sy vrou, Lynn, op Nature’s Valley.

Lynn: “Eintlik altyd net dié twee lense. Obie word gereeld na fotokongresse genooi en dikwels is die toerusting van die amateurfotograwe veel beter as syne.”

Obie: “Tandeborsels. Dit gaan oor die essensie van die toneel.”

Vir jare het hy vir sy fotografiestudente by die Rhodes-Universiteit bruusk en bulderend geleer sonder passie vaar jy nie uit die hawe nie.

Dié rusteloosheid wat hom die bakkie laat pak en by sy huis laat wegry, Grootrivierpas uit, na die heelal van Diesel & Dust.

Deesdae bly hy en Lynn permanent in Nature’s Valley naby Plettenbergbaai. Gaan soek hulle ná dagbreek in die baaitjie tussen die rotse.

Hy is vandag meer produktief as ooit. En rusteloser.

Castel di Tora op Lago Turano in die middel van Italië.

Nou-nou vlieg hulle vir tien dae Oman toe, dié keer na Salalah in die diep suide om die wierookroete te volg, maar veral ook die Empty Quarter.

Hoekom Salalah? Vier kortaf sinne: “Want ek weet nie. Dis onbekend. Dis fantasties. En ons gaan liewer nou, voor dit té veel ontdek word.”

Hulle gaan met die teerpad ry tot waar dit eindig en die Empty Quarter begin.

“Dis verreweg die grootste sand-oseaan op aarde, dis Saoedi-Arabië, ’n bietjie van Jemen en ’n bietjie van Oman. Wilfred Thesiger, die laaste van die groot ontdekkers, het die Empty Quarter in die begin van die 20ste eeu ‘ontdek’. Hy was ’n pompous ou Engelsman wat ek in 1994 in Marsabit in Noord-Kenia raakgereis het, toe hy al omtrent 95 was.”

Laasjaar, of was dit die een tevore, probeer Lynn die reise en datums uit haar geheue vis, was hulle Roemenië toe.

Hoekom? Wetie. O ja, hul Shengen­visum was op die punt om te verval, bars sy uit van die lag.

Burning Man in die Tankwa-Karoo. Foto’s: Obie Oberholzer

Obie: “Dit was te ’n groot beslommernis om ’n nuwe een te kry. Toe gaan ons. Goeie plan, Roemenië. Ek was altyd nog gefassineerd deur Transsilvanië, Frankenstein en al daai sh*t.”

Volgende jaar is hul 50ste huweliksherdenking. ’n Groot partytjie wag. Vir jare het Lynn in Grahamstad agtergebly as Obie pad vat, die twee seuns grootgekry. Nou, ná haar aftrede uit die onderwys, ry sy saam.

Sy onthou hoe sy op die kombuistoonbank gesit het in hul huis in Grahamstad terwyl die vervoermense ’n leeftyd in bokse pak. “Ek het geweet die huis is net ’n dop. Alles wat belangrik was in daai huis het ek in elk geval in my binnekant saamgedra.

“Ek is ook baie aanpasbaar. Ek hoef niks te hê nie, ek slaap enige plek, leef enige plek, jy kan as jy die lewe beskou as ’n reis.”

En hoe kan hul twee seuns nié die willewragtigheid in hul DNS hê nie. Nikki is ’n kreatiewe direkteur by die Abu Dhabi Motorsport Corporation op Yas-eiland by die Formula Een-renbaan.

“Sy glitzy lewe is totaal anders as Jesse s’n, ’n natuurkind wat nooit skoene dra nie en op die Barrier Reef in Australië as duiker en onderwater-videograaf werk.”

Ná al die reise, wat haal die Oberholzers uit die lewe?

Lynn: “Die plesier van elke dag.”

Obie: “Om te sien wat wag agter die volgende horison . . .en die volgende een. Dis net die stuk tussenin wat die probleem is. Ek en GT praat anderdag, ons is nou op ons beste, hoekom moet ons nou so gou gaan staan en doodgaan? Daar’s ’n Rod Stewart-song waaraan ek altyd dink, ‘I wish that I knew what I know now when I was younger’.

“Op ’n manier is ek spyt ek was nie meer produktief in my jonger jare nie, ek het tyd gemors met nonsens, dikwels. ’n Mens dink jy het die wêreld se tyd.

“Een van my gunstelingplekke is Lüderitz. By die plek Aus op die Keetmanshoop-hoofpad kom jy uit by die gevoel van die Namib, die gevoel van vryheid – om alleen te reis deur daardie uitgestrektheid waar dit so stil is, dis eintlik luid.

“Jy vra my nou waaroor gaan die lewe? Die lewe is ’n prentjie.”

Meer oor:  Fotografie  |  Fotograaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.