Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Om te ploeg met osse wat jy het
Hanlie Retief gesels met Piet Potgieter
In die ploegland van Piet Potgieter se lewe lê omtrent alles wat met ’n boer in Suid-Afrika kan gebeur.

In die ploegland van Piet Potgieter se lewe lê omtrent alles wat met ’n boer in Suid-Afrika kan gebeur.

Piet Potgieter, boer, grondhervormer, planmaker, bied saam met Ivor Price die Via-program Vir die liefde van die land aan. Dit gaan oor nuwe boere wat die afgelope vyf jaar suksesvolle boerderye kon vestig. Foto: Edrea du Toit

Sy beste vriend is grusaam in ’n plaasaanval vermoor. Hy en sy pa het plaasaanvalle oorleef. Hul spogplaas in KwaZulu-Natal was een van Suid-Afrika se eerste suksesvolle grondeise, met die gevolg dat hy nie meer heeltyds daar kon boer nie. Sy Vrystaatse plaas is 5 km van die berugte Estina-melkplaas naby Vrede. Hy moes magteloos toekyk hoe al die geld vir sy grondhervormingsprojekte in die Vrystaat na Estina geleivoor is.

Tog het hierdie beesboer nie vasgeval in bitterheid en moedeloosheid nie.

Hy het hoop.

En hy bedoel dit.

“Ek is verbete om ’n oplossing vir die drukkoker van grondhervorming te vind.”

Die saadjie hiervoor lê ook op daardie Potgieter-ploegland.

Sy pa en oom was in 1986 betrokke by ’n historiese grondhervormingsooreenkoms – die Ngotshe-verdrag – tussen wit boere en die Zoeloes in Louwsburg.

Die navorsers Gerhard Maré en Georgina Hamilton beskryf dié ooreenkoms, wat internasionaal opslae gemaak het, as ’n “pact between rugged Afrikaner farmers, conservative to the bone, and skinclad Zulu men”.

Boere is maar so aanmekaargesit, hulle spit tot hulle iets positiefs raakspit.

Dis waar die saadjie vir Piet Potgieter as 20-jarige landbou-ekonomiestudent geplant is. As bestuurder: ontwikkelende landbou by die VKB-groep is Potgieter nou gemoeid met die opheffing van nuwe boere.

Deesdae hou hy sy lyf aanbieder saam met Ivor Price in die Via-program Vir die liefde van die land waarin nuwe boere hul stories vertel.

Ivor noem Piet sy “boerementor”.

“Ek en my vrou Esté op ons Vrystaatse plaas. Sy is ’n rekeningkunde-onderwyseres op Kestell.” Foto: Verskaf

“Maar,” sê Ivor, “dis nie ’n maklike lewensbesluit om swart boere op te hef nie. Elke nou en dan is daar vreemdes wat Piet as ’n k-boetie uitkryt. Piet het ’n fassinerende insig in die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou.”

Piet sê boere is maar so aanmekaargesit, hulle spit tot hulle iets positiefs raakspit. Spit maar net aan. Ondanks en danksy.

“Ondanks die brande op die lande, die veediefstalle, plaasaanvalle, fop­nuus wat vragmotors met voer laat omdraai. Ondanks rasse-polarisering op sosiale media in die landbougemeenskap. Ondanks die mespunt waarop ons boer.”

Piet sê boere is maar so aanmekaargesit, hulle spit tot hulle iets positiefs raakspit.

Danksy die boere wat eerder planmaak as finaal hektoetrek.

“Miskien is dit omdat ek as vyfjarige kan onthou hoe my pa-hulle, toe ons van die Kalahari af op ons nuwe plaas tussen Vryheid en Pongola aangekom het, die dag met osse daar uitgesleep is, só afgeleë en bergagtig was dit. Mense praat van ‘diep landelik’, nou dís dieper landelik. Mooi wêreld. Maar jy het geweet: as jy ’n probleem opgelos wil hê, los dit self op.”

Langs die Potgieters was die arbeidsplase, kleinboere wat met osse geploeg en in tradisionele statte gebly het. Hy het met hul kinders gespeel. “Die boere het verblyfreg gehad, maar verniet gewerk vir die eienaars in Transvaal, wat elke ses maande kom ‘arbeid’ haal het.”

Tussen kommersiële en arbeidsplase en tradisionele Zoeloeland-gebied het Piet grootgeword en “dié goed aan my lyf ervaar”.

Een herinnering het in hom vasgeslaan: “As kind het ek langs ’n kommersiële boer gestaan toe hy sy sakboekie uithaal en vir ’n werker wat reeds geslagte lank daar bly, ’n trekpas skryf: oor drie maande moet jy weg wees van hierdie plaas, anders kom laai ons jou goed met lorries op . . .”

Maar as hy en sy ouers saans oor die berg afry, het die jong Piet óók gesien hoe hul grond op vyf, ses plekke aan die brand gesteek word.

“Dis die proses wat nodig is om ons land skoon te maak.”

Dis ’n wêreld dié waarin jy moes leer om wrywing te hanteer en verhoudinge te herstel. “Die polisie of ’n Thoko Didiza het dit nie vir jou kom oplos nie.”

Die Ngotshe-verdrag is gesluit tien jaar voor die nuwe demokrasie. “Toe al het die ouens besef: hier moet ons saamleef. Die Zoeloekoning was daar, 11 beeste is geslag, en van toe af het hulle as komitee die konflik op plase ontlont. Dáái jare al, kan jy dit glo.

“Ek het al self geboer toe ons ’n veediefstal-ooreenkoms gesluit het. Die veediefstalle was so erg soos nou, en die gemeenskap het saam besluit almal word besteel, wit én swart, so kom ons werk saam. Dís my agtergrond.”

“By die plaasdam op Paardenkop, ons plaas naby Vrede in die Vrystaat. Dié plaas is naby die Estina-melkboerdery waar ons eerstehands kon beleef hoe korrupsie ’n plaas binne jare totaal kelder.” Foto: Verskaf

Hy vat ’n slukkie koffie, sy gesig bruingebrand van jare in die son.

“Daardie mense wat ek as jong seun so sien trekpas kry het? Hulle het jare later ’n grondeis teen ons eie grond ingestel.”

Piet Potgieter het vrede daarmee. “Dis die proses wat nodig is om ons land skoon te maak.”

"Plaasmoorde is nie uniek nie, eerder deel van die walglike vlaag kriminaliteit in ons land."

Piet-hulle het ’n sterk, suksesvolle boerdery in Kwazulu-Natal gehad. Sonder dié plaas was die Potgieters se ekonomiese eenheid te klein, hulle het Vrystaat toe geskuif, en hy het as landbou-ekonoom by VKB begin werk. “So ja, die grondeis hét ’n groot invloed gehad, ’n mens het jou lewe nie so beplan nie.”

In 1992 is sy pa op sy plaas aangeval. In 1997 kon Piet ’n aanval fnuik ná sy eie werkers hom beskerm het. ’n Jaar later is sy vriend, die bekende boer Julius Schmidt trompop doodgeskiet.

“Langs sy agtjarige seun, in sy bakkie. Julius het die vorige Saterdag nog vir my gesê ék is die grootste teiken op Louwsburg. Ek vra hom: ‘Maar hoekom nie jy nie, Julius?’ Hy’s te afgeleë, hulle sal hom nooit kry nie, antwoord hy. En toe hy sy werkers gaan aflaai, kry hulle hom. Drie skote deur die kop.”

Dié klompie planmakers is die komitee van die Maluti Farming Pals, die grondhervormingsinisiatief in die Oos-Vrystaat. Kommersiële boere en opkomende boere vat hier saam hande. Foto: Verskaf

Maar Piet Potgieter is eerste om te sê plaasmoorde is nie uniek nie, eerder deel van die walglike vlaag kriminaliteit in ons land. “Daar word 50 moorde ’n dag in Suid-Afrika gepleeg, twee plaasmoorde ’n week. Rassekonflik speel ’n rol, maar nêrens sit ’n ‘mafia’ wat dit beplan nie.”

Dit ís nodig om teen plaasmoorde op te staan, sê hy. Senekal moes gebeur het, hoewel hy gekant was teen die geweld en die brandsteek van ’n polisievoertuig. “Maar . . .” voeg hy by, “op Hartswater was daar ’n vreedsame optog nadat drie mense vermoor is. Sonder ou landsvlae of politieke spreuke, maar sonder die impak van Senekal. Senekal hét die aandag gevestig op plaasmoorde, maar daar was in elk geval reeds momentum, die geweld was nie nodig nie.”

Hy glo nie daar is ’n direkte verband tussen die EFF-leier Mbuyiseni Ndlozi se brandsteek-lied en die plaasbrande in die Vrystaat nie.

“Gelukkig is daar baie positiewe boere wat wil saamwerk. Daar is ’n groot behoefte by swart, nuwe boere om ook in harmonie te leef."
“Die volgende geslag Potgieters, Evert (26), Anneke (20) en Dawid (24). Plaaskinders, almal van hulle.” Foto: Verskaf

“Daar is bewys van net een geval van brandstigting. Maar ek het na Ndlozi geluister, ek verstaan Zoeloe, en dié soort aanhitsing skep ’n klimaat. Die vraag is, hoe reageer jy daarop? Vuur met vuur beveg, geweld met geweld? Om negatiewe goed op sosiale media te versprei, fopnuus, absurde gebedsversoeke – dis só polariserend. Waar gaan ons eindig? Hoe verbeter jy dinge só?”

Dis nie maklik nie. In die Oos-Vrystaat sê party boere nou reguit hulle wil nie meer deelneem aan Piet en die VKB se versoeningsinisiatief nie, want die wit boere is onder beleg.

“Gelukkig is daar baie positiewe boere wat wil saamwerk. Daar is ’n groot behoefte by swart, nuwe boere om ook in harmonie te leef. Hulle wil hul plase laat werk, ’n middelgrond vind.”

“Ons dogter Anneke by ons Bovelderbeeste. Ek behoort aan die Bovelder-beesstudiegroep, die breinkind van dr At Viljoen, ’n legende in die bedryf. Dié studiegroep betrek 48 000 koeie.Foto: Verskaf

Boere het van 1994 af meestal gesit en toekyk hoe die regering grondhervorming deurvoer. “En toe is 90% daarvan mislukkings.”

In die TV-reeks word suksesverhale gewys, maar vir elkeen van hulle is daar dosyne mislukkings, sê Piet.

“Dis ’n ongelooflike uitdagende proses om ’n nuwe boer te vestig.”

Piet sê georganiseerde landbou maak ’n goeie bydrae, maar hulle moet hul belangegroepe tevrede hou.

Eers ná drie geslagte, dikwels, het jy ’n sterk boerdery. Deur die swaarkry en droogtes van oupa se tyd, kry die kinders kennis in hul bloed, hulle leer vasbyt. Die volgende geslag bou op die vorige – oupa se stoor word groter, sy beeste word meer. “Die nuwe boere het nie hierdie generasie-dividend nie, hulle begin met ’n agterstand. Boonop was baie van hulle plaaswerkers, sonder blootstelling aan die sakegedeelte van boerdery. Hulle sien die vragte mielies en maak sommetjies, hulle sien omset, maar vergeet van wins.

“Uitdagings. Uitdagings.”

Piet sê georganiseerde landbou maak ’n goeie bydrae, maar hulle moet hul belangegroepe tevrede hou. Nuwe organisasies soos die landbou-ontwikkelingsagentskap Agda betrek die private sektor en dít maak uiteindelik die verskil.

“Ek en Ivor Price, mede-aanbieder op die Via-program Vir die liefde van die Land. Ons het groot vriende geword. Hy is gemoedelik én hoogs professioneel, en ja, met ’n liefde vir die land.” Foto: Verskaf

“Om bloot grond oor te dra na swart hande gaan nie die probleem oplos nie. In KwaZulu-Natal is minstens 73% van die grond in swart besit, maar kyk hoe het dinge in Normandien oorgekook. Nasionale pogings is goed, maar grondhervorming sal net slaag as kommersiële boere plaaslik, daar waar hulle bly, betrokke raak. Elke streek het immers sy eie uitdagings.

“As ’n boer my bel en sê sy buurman, ’n opkomende boer, se bul is heeltyd tussen sy koeie, hoe los jy dit op? Mediasie gaan nie van die nasionale departement af kom nie. Die minister wás op Normandien, daar was gesprekke maar nie oplossings nie.”

Honderd kilometer van Normandien af lê ’n klein, blink oplossing. Roland Henderson, ’n praktiese boer met ’n wetenskaplike benadering, het ’n nuwe grondhervormingsmodel ontwikkel. “ ’n Plat-op-die-aarde-handleiding ontwikkel saam met die plaaslike boere. Dit het die aandag getrek van Hans Binswanger, destydse hoof van die Wêreldbank se grondhervormingsprogram.

“Om bloot grond oor te dra na swart hande gaan nie die probleem oplos nie."
“Petrus Tsotsetsi, ’n opkomende boer naby Kestell gesels hier met sy VKB-mentor Bertus Cordier met my en Ivor Price in die agtergrond. Petrus is ’n goeie strateeg, hy was vroeër jare ’n werktuigkundige, en boer die afgelope vyf jaar voltyds.”Foto: Verskaf

“Binswanger was gaande daaroor en het betrokke geraak. Nou, dié soort sosiale kapitaal neem ons verder, nié polariseringspraatjies nie.”

Ewe opwindend is die Wes-Kaapse inisiatief Witzenberg-Pals (Partners in Agri Land Solutions). “By die VKB fasiliteer ons nou dieselfde proses in die Oos-Vrystaat. Die Maluti Farming Pals word vroeg volgende jaar begin. Die swart landbou-organisasie Afasa was dadelik vuur en vlam daarvoor.”

“Ek, Ivor en die boer Wessel Bibbey op sy plaas tussen Tweeling en Heilbron. Wessel is ’n pionier in bemagtiging, hy het ’n stuk grond in vennootskap met sy plaaswerkers gekoop en lei ook studente daar op. Hulle kom bly ’n jaar op die plaas en kry praktiese ondervinding.” Foto: Verskaf

Die woord inklusief hoor jy heeltyd by die Oos-Vrystaatse planmakers. Dit help nie ’n klomp leierboere bied ’n pragtige plan aan die nuwe boere nie – hulle moes van die begin af deel van die proses gewees het.

“Dís die sleutel tot sukses. Saam uitgedink. Mede-eienaars. Dis hoe ons ons land gaan heelmaak.”

* Vir die liefde van die land wys Donderdae 18:00 op via, DStv-kanaal 147.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.