Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Ek het oorgeslaan na polisie-mode’
Hanlie Retief gesels met Pieter van der Westhuizen
'Op 26 Julie 2020 woon ons ’n kerkdiens by. Die kerk is amper verby en ons sing ons laaste lied: Ons sal vir julle bid, bid julle vir ons . . . Terwyl ons hande vashou, verskyn drie gewapende rowers in die kerk.'

‘Op 26 Julie 2020 woon ons ’n kerkdiens by. Die kerk is amper verby en ons sing ons laaste lied: Ons sal vir julle bid, bid julle vir ons . . . Terwyl ons hande vashou, verskyn drie gewapende rowers in die kerk. In die volgende paar sekondes verander almal se lewens. Die bloed van Jesus is in benoudheid uitgeroep, skote klap en twee mense is dood.

Derde keer gelukkig. Antoinette Watson en Pieter van der Westhuizen is verlede jaar in Oktober getroud. “My eerste vrou was drie jaar jonger as ek, my tweede 14 jaar, en Antoinette 20 jaar . . . hier hou dit op!” Foto: Deon Raath

“In ’n kerk. Hoekom het ek my wapen kerk toe gevat? Was die vraag daarna. Dis vir my duidelik: Selfs in die Bybelse tyd was die dissipels gewapen.

“Mag ons onsself verdedig? Mag ons as Christene opstaan vir reg en geregtigheid? Maar soos daai persone die oggend besluit het om gewapend ’n kerk te roof, het iemand anders besluit om die kerk te verdedig.

“En dit het hulle hul lewens gekos . . .”

Toe Pieter van der Westhuizen, die oud-Bok Joost se broer, Dinsdag die amptelike SMS van die polisie kry: Saak Afgehandel, Dossier Afgesluit, was hy ’n verligte man.

Die ondersoekbeampte het dit boonop mondelings bevestig: In die geregtelike ondersoek is bevind Pieter het uit selfverdediging opgetree.

Drie dae later was die swaard terug oor sy kop.

Die polisie krabbel nou terug en sê die boodskap is “foutiewelik” aan Pieter gestuur, die ondersoek gaan steeds voort. En boonop word dit nou oorgeplaas na provinsiale vlak.

Pieter van der Westhuizen was lank in die polisie, waar hy gespesialiseer het in rooftogte. Toe die rowers in die kerk begin skiet, het hy in “polisie-mode” gegaan, vertel hy.

“Ons sal maar sien wat gebeur,” sê Pieter gister rustig. “Ek het vrede. Ek sê net Vader dank my pistool was daai dag in my Bybel-sakkie want anders was ek en ander gemeentelede dalk nou dood.”

Hy grinnik. Gewoonlik dra hy die pistool aan hom, maar dié dag was sy kerkbroek te knap. “Toe’s die 9 mm-pistool Bybel-sakkie toe . . .”

Alles het binne sekondes gebeur.

Ek weet vandag waar Joost is. Eendag is ons weer saam in die hemel.

“In ’n stadium het twee van hulle op my geskiet. Ek het oorgeslaan na ‘polisie-mode’ en na hulle toe begin hardloop. Ek kon letterlik voel hoe die koeëls verby my fluit, mens kom eers ná die tyd agter jy is net-net gemis as jy die koeëlgate sien, soos hulle jou met hul skote agtervolg het.”

Pieter het voorheen nooit sy wapen kerk toe gevat nie. Drie maande vroeër het Antoinette (met wie hy intussen getroud is) ’n voorgevoel gekry en gevra hy moet liewer sy pistool aan hom dra.

“Toe sy my aan my mou pluk en vra: ‘Het jy jou wapen by jou?’ het ek nog gedog wat is fout met jou, liefie, ons loof en prys die Here, vir wat wil jy weet van my wapen?

Drie broers, altyd aan die lag. Pieter, Gustav en Joost. Foto: Verskaf

“Toe sien ek wat sy sien. Ek het my pistool gespan en agter my rug gehou. Die volgende oomblik klap die skote en toe skiet ek die rower by die pastoor, die tweede een en wond die derde een by die deur.”

Die gemeentelede sê Pieter is ’n held, dit kon in ’n bloedbad geëindig het.

Die drie rowers se mistykie om ’n kerk met Pieter van der Westhuizen daarin te roof, het hulle hul lewens gekos. Hy was immers jare lank in die onluste-eenheid, toe by blitspatrollies en voor sy uittrede het hy gespesialiseer in presies wat dié oggend in die kerk gebeur het: gewapende roof. Bingo.

Antoinette is rêrig ’n groot Christen, maar sy luister nie altyd nie, sê hy grappenderwys.

“Ek is maar ’n poliesman, ’n jagter van skelms. My partner is twee keer langs my deur ’n AK getref. My twee uitstekende partners, Jacques Lourens en Riaan Nel, het my lewe soveel keer gered.”

Antoinette is rêrig ’n groot Christen, maar sy luister nie altyd nie, sê hy grappenderwys.

“Ek sê altyd vir haar lê plat as daar ’n rooftog is. Sy’t boonop die verloofring wat ek skaars ’n week vroeër vir haar gegee het, gedra. En wat doen sy met daardie yslike diamant? Sy hou hom Godprysend in die lug en stap die kerkpaadjie af om vir die twee rowers te gaan bid in die bloed van Jesus!

Die Van der Westhuizen-mans maak ’n braai opwindend, maar hy is die stil een, sê Pieter. Van links is hul pa, Gustav, Pieter, Joost, Gustav jr. en Mariaan.

“Die twee ouens het nog gelewe toe sy by hulle kom. Do you know Jesus? Do you know Jésus? vra sy hulle. Hulle oë het so groot gerek.”

Hy’t hulle fisiek die ewigheid ingehelp, sy die geestelike ewigheid.

Ná die voorval het die gemeente só gegroei dat hulle ’n groter kerklokaal moet soek.

Skaars twee maande ná Joost se dood het sy vrou Marijke, die Getroud met rugby-aktrise, hom geskei.

Ironies het die skietery gebeur net toe Pieter se lewe ná baie kinkels weer koers gekry het. “ ’n Roller coaster vir baie lank, hoor.”

Skaars twee maande ná Joost se dood het sy vrou Marijke, die Getroud met rugby-aktrise, hom geskei.

“In Joost se laaste maande het ek geweet ons huwelik is op die rotse. Dit was vir my verskriklik swaar. Maar hoe sê ons in die polisie? File dit en gaan aan.”

Waar Joost was, was daar altyd grappe en lagge. Foto: Verskaf

En toe wag sy hof-eskapades met die Lotto-girl. Amor Vittone, Joost se eksvrou, het haar stryd oor Joost se finale testament in die hooggeregshof verloor. Sy het net ’n TV-stel geërf.

Hy gee ’n laggie. “Dalk was dit Joost se heel laaste grap. Maar die bloed het omtrent gekook daaroor, hoor.”

Sy huldeblyk aan Joost, In die skadu van ’n legende, is boonop deur CUM-boeke onttrek weens negatiwiteit op sosiale media, veral oor die aantygings dat Joost vergiftig is.

’n Week voor die skietery het hy sy plannetjies gereed gehad om haar die ja-woord te vra.

Klippe alliepad.

Maar uiteindelik, op 26 Julie 2020, was Joost se ouer, droër broer se lewe weer vol hartjies en liefde. ’n Beeldskone donkerkop, 20 jaar jonger as hy, was aan sy sy.

’n Week voor die skietery het hy sy plannetjies gereed gehad om haar die ja-woord te vra. Perde is gehuur, ’n romantiese nessie onder ’n boom voorberei waar die twee liefde gesweer het.

Gelukkiger tye. Van links is Gustav jnr, hul pa Gustav, Joost, Jonah Lomu en Pieter. “Mense onthou die dwelmsaak en smeerstories van Joost. Ek ken sy hart.” Foto: Verskaf

Op pad terug het die perd geskrik vir die geritsel van die papier om die bos blomme en met haar weggalop.

“Ek probeer toe hero speel en jaag agterna, want daar jaag sy met my groot ring weg . . . en toe gooi die perd my af en ek kraak ’n rib! Sy het wraggies verjaar die dag met die skietery én die oggend nog vir my gesê sy het so ’n nare voorgevoel. Ek het ná die tyd vir haar gesê ons moet maar vir almal bulletproofs kry vir die troue!”

Nes Joost het hy altyd rugby geniet, maar op hoërskool het Pieter eerder “met wapens gespeel en Joost met balletjies”.

“Hulle is mense soos ons, maar hulle kan maak wat hulle wil en kry alles verniet. Tog, dis nie ’n lekker lewe nie, jy gee jou menswees prys.”

Tydens Joost se gloriejare het Pieter hom min gesien. Dit was altyd vir hom moeilik om te verstaan hoekom mense so ’n ophef maak van ’n celebrity.

“Hulle is mense soos ons, maar hulle kan maak wat hulle wil en kry alles verniet. Tog, dis nie ’n lekker lewe nie, jy gee jou menswees prys.”

Toe Joost pas Springbok geword het, het hy gespot poliesmanne sit net onder bome.

Met Antoinette en Pieter se verlowing het die perd geskrik vir die geritsel van die papier om die bos blomme en met haar weggehardloop. “Ek het vir haar gesê ons moet bulletproofs op die troue dra!” Foto: Verskaf

“Orraait, sê ek vir hom, kom werk een aand saam met my. Ek reël toe dat my kollegas met blanks op ons skiet. Ek het hom nog nooit in my lewe so bang gesien nie. Hy het onder die polisiekar se sitplekke ingeduik terwyl ons oorlog-oorlog speel. Later skree hy verbouereerd ‘waar’s hulle?’, en ons staan en lag vir hom. Van toe af het hy die grootste respek vir ons gehad.”

Pieter is die stiller ouboet.

Altyd in die skadu van sy blouoogbroer, en toe Joost siek geword het, die getroue een agter sy rolstoel. “Ek en my broer Gustav en vriende het hom voluit versorg. Later moes oppassers help, jy kan dit nie 24/7 doen nie.

Hy onthou die bitter swaar van Joost se laaste naweek.

“Dit was stremmend, maar Joost het alles altyd fun gemaak. Soos die volleyball game, ek en hy teen die res van die familie. Toe hy aandring om te dien, hop ek die bal op sy kop tot oor die net. My ma het amper ballisties gegaan. Ons het baie keer trieks op háár getrek, hy sou haar bel en sê ons sit hom in ’n hoekie en spuit hom met koue water nat.”

Hy onthou die bitter swaar van Joost se laaste naweek.

“Hy was potblou toe ons hom halfvyf daai oggend by die ICU instoot. Die middag het hy bygekom, vol streke, weer homself. Die dokter sê toe hy moet ’n suurstofpyp kry, daarsonder sal hy dit nie maak nie. Hy moet besluit.

Cum-boeke het Pieter se huldeblyk-boek oor Joost onttrek weens negatiwiteit op sosiale media, veral oor die aantygings dat Joost vergiftig is. Foto: Verskaf

“Daai nag slaap ek op die teëls langs sy bed. Die volgende nag ook. Eers die Maandag het hy vir my gesê hy wil nie die suurstofpyp hê nie . . . Toe vat ons hom huis toe om rustig te sterf.”

Pieter sug.

“Die deel by die huis was ontsettend moeilik. Hy het later gevra ek moet ons ouers roep. Ek is lief vir julle, het hy dit uitgesukkel. Ek het op die grond gesit en sy hand vasgehou, Gustav by sy voete. Ek het vir hom gesê ek is lief vir hom, toe sien ek hoe die hartklop in sy keel wegraak en hy sy laaste asem uitblaas. En toe crack ek . . .”

“Ek dink nie sy kan dit verdra dat ek die kinders se trust hanteer nie."

Ná Joost se dood was daar ’n bloedige hofstryd met Amor.

“O jinne, laat ek fyntrap. Ek wou nie hof toe gaan nie, ons het net vir haar ’n brief gestuur om te sê Joost se wens was om die helfte van die huis aan sy kinders te bemaak. Toe weier sy. En die huis was op haar én sy naam . . .

“Ek dink nie sy kan dit verdra dat ek die kinders se trust hanteer nie. Ons kry gereeld voice notes waarin sy my ma slegsê. Ek is raadop, rêrigwaar. Maar ek wil nie klippe gooi nie. Môre, oormôre doen sy ’n Huisgenoot-artikel en gooi óns weer vir die soveelste keer met klippe.”

Pieter en Antoinette se verlowing was pas aangekondig tydens die kerkdiens, sy het boonop die dag verjaar, maar ’n nare voorgevoel gehad. En toe stap die rowers die kerkgangetjie af en slaan haar stiefpa, Kobus Erasmus, pastoor van die Querencia Bedieninge in Wierdapark, teen die kop. Foto: Deon Raath

Sy ouers het geen toegang tot Joost se kinders nie. “Ons laaste kontak met hulle was op Joost se begrafnis. Ons probeer maar op Facebook volg hoe dit met hulle gaan.

“Volgens Amor wil die kinders ons nie sien nie. My ma stuur vir hulle WhatsApps, prentjies en hartjies, maar dan word sy gestop. Dit breek haar. Sy rou nog oor Joost, en nou het sy sy kinders ook verloor. Hoe kan ’n ouma dit aanvaar? Sy kan enige dag doodgaan, en dan het sy hulle nooit geken nie.”

Soveel mense wil op Facebook by hom geld leen, want hulle dink hy het baie by Joost geërf, vertel hy.

“Ek en Gustav het niks geld by Joost geërf nie, net ’n bank hier en ’n stoel daar, en klere. Maar wat is geld en besittings as mens tyd saam met hom kon hê?”

Covid-19 het sy planne vir ’n veiligheidsonderneming laat sneuwel. Alles het opgedroog. Swaarkry, weer. Deesdae doen hy veiligheidswerk vir die man wat sy regskoste in die kerkaanval-saak betaal het.

Pieter het in 2008 geleer wat dit beteken om werklik ’n Christen te wees. “Ek en Joost het baie saam Bybel gelees. Ek kon sy groei sien. Dis hoekom, maak nie saak wat mense van hom sê nie, ek weet vandag waar Joost is. Eendag is ons weer saam in die hemel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.