Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met prof. Nicoli Nattrass
Die tirannie van die swart broederbond

Prof. Nicoli Nattrass noem haarself ’n universiteits-brat, ’n kampuskind wat in Cambridge, Engeland, gebore is terwyl haar pa sy doktorsgraad gedoen het.

’n Storm het oor prof. Nicoli Nattrass van die Universiteit van Kaapstad se kop losgebreek ná haar omstrede kommentaarstuk oor hoekom so min swart studente biologiese wetenskap studeer. Hier is sy in haar huis in Houtbaai. Foto: Edrea du Toit

Ontvang en gebore in dié bakermat van intellek.

Toe sy ’n paar weke oud was, het die gesin teruggekeer Suid-Afrika toe, maar op sewe was Nicoli terug op Cambridge, saamgesleep deur ma Jill wat haar doktorsgraad in die ekonomie daar gaan doen het.

“Ek het grootgeword op kampusse oor die wêreld heen, en ons gesin het saans strawwe debatte om die etenstafel gehad.”

Haar pa, Henry, was dekaan van elektriese ingenieurswese aan die Universiteit van Natal, en haar ma, ’n ontwikkelingsekonoom, direkteur van die eenheid vir ontwikkelingstudies.

“Hulle het my grootgemaak om vreesloos te argumenteer, uit te daag, te bevraagteken.

“Dis wie ek is.”

Prof. Nattrass is een van die Universiteit van Kaapstad (UK) se top-akademici wat in ’n loopbaan van 40 jaar verskeie eerbewyse ontvang het.

Die akademie kan nie oorleef met dié soort logika nie.

Nou het hierdie kampuskind se eie universiteit haar onder die bus gegooi.

Haar kommentaarstuk van twee bladsye, “Why are black South African students less likely to consider studying biological sciences?” wat einde Mei in die Suid-Afrikaanse Joernaal vir Wetenskap (SAJW) verskyn het, het die UK se swart akademiese koukus (BAC) op haar laat toesak.

Sy “druk op die koloniale wond”, sê hulle van dié prof wat op haar dae ’n struggle-aktivis was.

Al wat sy en vyf studente (drie swart, twee wit) met dié verkennende klein stukkie navorsing wou ondersoek, was om te vra hoekom so min swart studente biologiese wetenskap studeer, vertel sy. Dit was eintlik deel van ’n veel breër vraelys vir alle UK-studente oor hul houding teenoor natuurbewaring. Die kommentaarstuk in die SAJW het gefokus op enkele afleidings uit dié groter opname. Sy het benadruk dat verdere navorsing nodig is.

“Ons het agtergekom dat byna alle studente natuurbewaring ondersteun, maar dat swart Suid-Afrikaanse studente minder geneig is om ’n loopbaan daarvan te maak. Ons het ’n verband gevind met materialistiese waardes wat ’n goeie inkomste as prioriteit stel. Die BAC sê toe ek stel swart mense in ’n slegte lig.”

En toe breek alle hel los.

In ’n ongekende verklaring het die UK se bestuur prof. Nattrass gestriem oor haar “onetiese, afskuwelike navorsingstuk wat grens aan rassisme”.

Prof. Nicoli Nattrass is destyds deur oudpres. Nelson Mandela in die Arbeidsmark-kommissie aangestel. Dit is die eerste kommissie wat hy aangestel het nadat hy in 1994 president geword het. Foto: Verskaf

En toe spel hulle boonop haar van verkeerd, merk sy droogweg op, presies soos die BAC gedoen het, en twiet dit aan 200 000 volgelinge.

“Die visekanselier (prof. Mamokgethi Phakeng) het my gebel en gesê sy wil nie met my daaroor in debat tree nie, ek moet dit onttrek.”

Van alles het dít prof. Nattrass die bangste gemaak: Onttrek jou stuk, geen debat nie, geen gesprek nie, haal uit, vat weg, bly stil.

“Ek dink die visekanselier se grootste prioriteit was die geweldige reaksie daarop. Ek was nie sensitief genoeg nie, is ek beskuldig. En: Hoe kon ek nie voorsien dit sou gebeur nie?

“Maar genugtig, as jy in die akademie so begin redeneer, sal jy nooit vernuwende vrae vra nie, jy sal heeltyd selfsensureer, bang wees jy word misverstaan.

“Van my kollegas kyk nou na my en dink: O aarde, dis beter om liewer maar veilige onderwerpe te kies.”

Gelukkig het die SAJW vasgeskop, sê sy. Hulle bied haar én haar kritici nou ’n ruimte vir debat, dit wat haar eie universiteit haar nié bied nie. “Ek is hoopvol dat ons wel ’n soort rasionele gesprek kan hê.

“As jou universiteit die ruimte vir debat toemaak, waar anders kan jy gaan? Dit het my genoop om in die media te reageer. Niemand, nóg die BAC nóg die universiteitsbestuur, het my gekontak sodat ek kon verduidelik wat ek wou doen.”

Dis vir haar skokkend dat soveel jong mense bloot inkoop op die idee “dat as iemand as bevooroordeeld ervaar word, hy/sy stilgemaak moet word en boete doen. Dis nogal fassinerend.

“Ek is genoeg van ’n sosioloog om te probeer verstaan waar die woede vandaan kom. Hulle is wantrouig teenoor ouer, wit akademici en dink ons is vol koloniale vooroordele. Skrikwekkend. Dit laat my ouderwets voel.

You shame people into silence . . . As die deure toeklap vir debat, kan ons net sowel die hele universiteit toemaak en mekaar op Twitter verskree. Die akademie kan nie oorleef met dié soort logika nie.”

Ook van haar junior kollegas is ontsteld oor die kommentaarstuk. “Ek sukkel om te verstaan hoekom hulle so voel. Dis vir my sleg dat ek hulle ontstel het, maar terselfdertyd maak dit my kriewelrig want hulle hóór my nie, aanvaar nie my bona fides nie, hulle veroordeel my net. Ek wil vir hulle sê komaan, ouens, probeer verstaan.

“En dit laat my twyfel aan myself, maar dan besef ek opnuut: My bedoeling met die navorsing was suiwer.”

In die verlede het die BAC ’n konstruktiewe rol gespeel, sê sy, maar dis nou bietjie soos die destydse Broederbond, uiteraard nie ideologies nie, maar ewe invloedryk, verdelend en gesigloos.

“Niemand weet wie is die BAC se lede of bestuur nie, verklarings word naamloos uitgereik.

“Gelukkig is ek nou weens die inperking tuis en nie op kampus waar ek verskree sou word in betogings nie. My man, Jeremy Seekings (ook ’n UK-professor), staan bankvas agter my.

“En,” gee sy ’n laggie, “hy kook aandetes as hierdie dinge my te veel uitmergel.”

As sy kon, sou sy dit nou anders benader het?

“Terugskouend was ’n tweebladsy-kommentaarstuk te kort. Ek het nie die ruimte gehad om te verduidelik hoe die data bekom en geanaliseer is nie.

“Maar ek sou steeds die vraelys gedoen het, en ek sou steeds studente gebruik het om die onderhoude mee te doen, en as hulle met aweregse idees teruggekom het, sou ek steeds nie teruggedeins het om hulle te toets nie.”

Soos met haar rooi trourok en rooi trouskoene doer in 1988, só daag Nicoli Nattrass nog altyd konvensies uit.

“Ek was nog maar altyd ’n probleemgedrewe sosiaal-wetenskaplike. Ek kyk na die groot vraagstukke in die samelewing, gefassineerd, en doen navorsing daaroor.

“Soms moet jy ’n pionier wees. Tydens die vigsontkenningsramp het die minister van gesondheid gesê dis té duur om te keer dat vigs van moeder tot kind oorgedra word. Ek het toe letterlik op my eie ’n nuwe metodologie ontwikkel, anders as dié van die gesondheidsekonome. Mense het gesê dis bisar en ek beledig die minister en wie is ek om sulke goed te probeer doen.”

Sy lag. “Weet jy wat? Ons het die wet verander gekry en kon daardeur honderdduisende lewens red.

“So, ek is nie bang vir aweregse, bisarre vrae oor maatskaplike kwessies wat niemand nog weet hoe om aan te pak nie. Soms werk aweregs nie, soms is dit uiters produktief. Oor vigs, byvoorbeeld, het maverick-denke uitstekend geslaag.”

Van haar akademiese helde is twee Matie-professore onder wie sy voorgraads gestudeer het: Johan Degenaar en André du Toit.

“Ek het hardekwas geweier om onder my ma ekonomie in KwaZulu-Natal te studeer, maar met my meestersgraad kon ek die idee darem al hanteer, en dit toe wel by haar gaan doen.”

Hanlie Retief

En toe is dit volsirkel terug Engeland toe vir haar doktorsgraad by Oxford.

Prof. Nattrass beweeg oor dissiplines heen, van vigsaktivisme tot die arbeidsmark tot ekologiese jakkals-en-boer-dilemmas.

Sy is mededirekteur van iCWild, die UK-instituut vir gemeenskappe en natuurlewe in Afrika. Sy doen tans navorsing oor die ekonomiese en sosiaal-ekologiese wisselwerking tussen veeboere en roofdiere in die Sentraal-Karoo.

“ ’n Klomp van hierdie Karooboere het my gebel nadat hulle gesien het Sunday Times het my hul mampara van die week gemaak. So, ek het selfs manne in kakie gehad wat my sterkte toewens!” lag sy.

Ook die veterane van die 1968-protes op die UK-kampus het haar in ’n ope brief aan die universiteitsbestuur ondersteun.

“Dit het my regtig diep geroer, die ou linkses wat nou uitgekom het om my te ondersteun. Mens sien ook die generasiegaping, want meeste van dié wat kwaad is oor wat met my gebeur het, is 50 jaar en ouer – die liberale teenstanders destyds teen apartheid, verligte denkers vir wie rede en bewyse seëvier.”

Sy skop gat – en nie net akademies nie. Vra maar vir Cosatu hoe sy hulle op hul plek sit met haar feitelike kritiek op die uitwerking wat loonskikkings op werkskepping het, en die onbuigsaamheid van kollektiewe bedingingsooreenkomste met vakbonde.

Sy het destyds saam met Tito Mboweni die ANC se arbeidsbeleid uitgebeitel. “Ek en Tito het sulke lang, heerlike debatte gehad oor makro-ekonomie en arbeid.”

Sy was ’n vooraanstaande lid van die Arbeidsmark-kommissie, die heel eerste kommissie wat Nelson Mandela aangestel het direk nadat hy president geword het.

“Die kommissie is daargestel om die arbeidswette te verander. Ek het myself ook dáár dikwels teen die stroom bevind, juis in ’n poging tot groter buigsaamheid vir die onderste loonvlakke. Op die ou end is dit tog die heel belangrikste dat mense ’n werk het.

“Regdeur my loopbaan het ek helde gehad wat my denkwyse help vorm het, soos Mboweni, Edwin Cameron en prof. William Makgoba, destydse hoof van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad wat opgestaan het teen Mbeki se vigsbeleid.”

En Jeremy, haar man en gedagtemaat, saam met wie sy die baanbrekersboek Class, Race, and Inequality in South Africa geskryf het.

Hulle bly in ’n Houtbaai-huis vol boeke, skilderye en ’n bende optelhonde waarmee hulle elke dag in die berg gaan stap.

Vakansies is veld toe, na die natuurparke in Botswana en Namibië. Ook daar is sy navorser van die wisselwerking tussen landelike samelewings en die natuur.

“Ek en my man bring ons tyd deur om te skryf en met mekaar te gesels. Ons intellektuele lewe wentel om ons werk. Wat nou gebeur het, bedreig tot ’n mate my identiteit.

“Die universiteitsgrond bewe onder my voete.

“Ek baklei terug met alles in my, peper hulle met elke stukkie rasionaliteit, maar dis nie noodwendig meer die maatstaf waarmee gemeet word nie. Dalk is dit nou die einde van die akademie waarin ek ’n loopbaan gehad het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.