Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Wat die ‘mal prof’ mens maak
Hanlie Retief gesels met prof. ­Sampie Terreblanche

Ongebrrrrrreidelde kapitalisme. Hoor jy dié woorde, dan hoor jy vir prof. ­Sampie Terreblanche.

Hy is al baie dinge genoem. Apartheidsapologeet.

Korrelkopprofeet. Konfronterende intellektualis. Legendariese dosent.

Dwarstrekker. Boerekommunis.

Notaris van armoede.

En wraggies, hy is dit alles.

As die oudfilosofieprof Willie Esterhuyse aan Sampie dink, dink hy aan Voltaire.

Vra Sampie self waarvoor sy naam staan, kom dit luidrugtig met ’n paar armswaaie: “Hulle reken mos dit staan vir Suid-Afrika se Mal Professor In Ekonomie. Maar daar is darem ’n paar mense wat glo van my hou en volgens hulle is dit eerder SA Meester-Professor In Ekonomie.”

Sampie Terreblanche as jong man. Hy was altyd in sy eie gedagtewêreld, met stories vir sy kinders en kleinkinders, wat hom Oupa Grootbeer noem.

Maar nou is die gordyn besig om te sak oor dié kleurryke oudprofessor van Stellenbosch.

“Jy weet seker van my stand van ­sake,” val hy met die deur in die huis.

“Daar is een gewas wat hulle nie kan uitsny nie, hierso,” tik-tik sy vinger teen sy kop waar die silwer hare eens ’n aansienlike bos was.

Terminale breinkanker, twee maande gelede gediagnoseer.

“Hulle sê dit kan drie maande vat, of twee jaar.

“Die nuus was ’n groot skok, maar ek voel nog steeds baie goed. Ek weet net nie wat op my wag nie. Dis al.”

Dié diagnose kompliseer sake nou, want hy het pas ’n nuwe liefde, over­share die prof met oorgawe.

“My vrou, Ina, is laasjaar oorlede, ná ’n huwelik van 58 jaar. Ek het van Juniemaand af ’n nuwe girlfriend. Ja, só gou! Dit kan jy nóg ’n maal sê!

“Ek en sy was in 1950 in dieselfde skool in ’n klein Vrystaatse dorpie, Edenville. Ons het mekaar intussen net een keer weer gesien.”

Hy is nou 84, sy is 81 en sy is vir hom mooi. “My vrou was ook mooi, maar hierdie ene is mooier gebou.”

Die wildevyeboom agter prof. Sampie Terreblanche het hy jare gelede geplant. “Die boompie kon in my kar pas, en kyk nou hoe ’n reus het hy geword.” Foto: Edrea du toit

Dit was vir sy vier dogters en seun effens van ’n skok, maar “hulle is nou heeltemal tevrede”.

Voet op die petrolpedaal tot die einde.

“Sjoe, ek raak nog gewoond daaraan om te weet ek gaan dood. Die eerste drie dae was erg, maar daarna het ek my aangepas.”

Sy vriend Anton van Niekerk se boek Die dood en die sin van die lewe beteken vir hom baie. “Anton glo daar is nie ­lewe ná die dood nie. Ek glo ook so. Ons almal het die taak om die wêreld ’n beter plek te maak. As ons dood is, is die kans verby. Ek is nie ’n gelowige nie.”

Dis vir hom belangrik om vir oulaas sy sê te sê. Dié doen hy vandag in die onderhoud, en laasweek in die menings­kolom van Die Burger, sy speelveld en slagveld tydens die hubris van apartheid.

“Die vraag is: het hierdie land ’n kans? Ek weet nie aldag nie. Party dae dink ek ons gaan dit nie maak nie.

“Zuma is ’n ramp wat ons getref het. Hy is net ’n slegte mens.”

Byna op dag en datum, 20 jaar terug, het Sampie ’n pleidooi by die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) gelewer vir die instel van ’n welvaartbelasting.

“Toe is ek daai witkop mal professor op Stellenbosch genoem.”

Oorlog op Die Burger se brieweblaaie tussen die verligtes en oorbeligtes. Fred Mouton se spotprent in 1982: Aan die verligte kant was Sampie Terreblanche, ­Julius Jeppe en Willie Esterhuyse en aan die oorbeligte kant was André du Toit, Hermann Giliomee en Johan Degenaar.

Vandag vra hy weer vir welvaartbelasting.

Dié keer nog dringender.

“Maar die ryk swartes moet nou ook betaal – alle ryk mense.”

Dis ongelooflik hoeveel ryker die wit mense geword het sedert ’94, druk sy vinger op ’n grafiek.

“Deels omdat meer as ’n miljoen wittes die land verlaat het. Dié wat agtergebly het, baat geweldig by dié uittog, hul markwaarde het gestyg.

“Die swart elite het ook baie ryker geword, maar net die boonste 10%.

“So, 20% van ons bevolking is ryk – 10% wit en 10% swart – en 40% is brandarm. Dís die gevaarlike driehoek in ons ekonomie.”

In 1987 het hy geskryf hervorming is net moontlik as die NP in brokstukke verbrokkel (“Oe, die Nattes was kwaad vir my!”).

“Dis nou wat met die ANC moet gebeur, hulle moet in brokstukke verbrrrrókkel!”

Voor hy in 1987 dramaties weë geskei het met die NP, was dié ou stormvoël ingebed in Afrikaner-nasionalisme.

Hy is die NP-binnekring toegelaat ná ’n gunsie vir oudpres. John Vorster en oudmin. Chris Heunis.

“Eendag, ek was toe 40, lui die foon. Dis John Vorster en hy vra ’n guns: sy seun en Chris Heunis s’n staan albei vir die SR. En: ‘Ons sal dit baie waardeer as jy hulle kan help om in te kom . . . ’

“En toe kry ek dit reg.”

“En toe is ons nou goeie vriende, sien.”

Die beloning het nie uitgebly nie.

Hanlie Retief

“Ek is in die SAUK-raad aangestel, Heunis en PW het daarmee te make gehad, en die Erika Theron-kommissie (1973-’76) – ook seker hul toedoen. Ek het seker 70, 80 van Heunis se toesprake geskryf, want hy was baie slim, maar hy kon nie skryf nie.”

Van sy vriend Heunis se oor na Botha s’n. Só, is gesê, kon Sampie Terreblanche vir PW Botha beïnvloed.

“Ek praat van my ignoble periode. Dis ’n lelike ding om ignoble te wees. Dit was die grootste fout van my lewe.

“Maar as ek moet eerlik wees, moet ek erken dit het vir my geleenthede geskep.”

Die Erika Theron-kommissie was, ironies, ’n keerpunt in Sampie se lewe.

Sy veldwerk as kommissaris het hom vir die eerste keer in direkte kontak met bruin armoede gebring.

“Dit het van my ’n mens gemaak. Ek het heeltemal verander, ek het medelye gekry, ek het méns geword.”

’n Ou kollega, prof. Colin McCarthy, vertel in Sampie se 80-jarige gedenkboekie dit was vir Sampie ’n intellektuele en politieke waterskeiding – sy eerste stap om van die ou bedeling in Suid-Afrika afskeid te neem.

Maar hy was nog jare daarna die akademiese handperd van PW Bpk, vurige voorstander van die Driekamerparlement.

“Aan die verligte kant, wel. Ek, Willie Esterhuyse en Julius Jeppe. Die oorbeligtes was die Progge, en wat my betref het hulle nie getel nie.

“André du Toit, Hermann Giliomee en Johan Degenaar.”

Onsmaaklike debatte het op brieweblaaie gewoed. Helen Zille, as jong joernalis, het in ’n Frontline-artikel geskryf onderbeklemtoning is nie een van Sampie – ’n “veteraan-oorlogsperd” – se styl-kenmerke nie.*

Toe Giliomee boonop in ’n berig sê Sampie se sogenaamde swaai na verligtheid kan nie vertrou word nie, was die gort gaar, sê hy.

“Ek was wóédend daaroor dat hy kon beweer ek is nie betroubaar nie. Ons verhouding het nooit weer reggekom nie, en dit sál ook nie regkom nie.”

Toe PW se hervorming tot stilstand knars, het Sampie se volgehoue kritiek op die NP hom in onguns laat verval.

Sy finale wegbreek van die NP in 1987 was skouspelagtig.

PW het Sampie en 27 ander akademici opgekommandeer vir ’n gesprek.

Hy was voorsitter van die groep. Soos alles – hy het ’n verstommende geheue – onthou hy dié uitval in detail.

“20 Februarie 1987, halfdrie die middag. Elkeen praat so tien minute en toe antwoord PW vir ’n uur en raak die grootste nonsens onder die son kwyt.

“Toe sê hy die vergadering is verby. Maar dit kán nie wees nie, sê ek as voorsitter, wat van die bespreking?

“Hy vra: ‘Watse bespreking?’

“Ek sê: ‘Ek wil u vrae vra oor u antwoorde.’

“Hy: ‘Maar as ek jou laat praat, moet ék ook weer praat.’

“Ek: ‘Ja, dis ’n bespréking.’

“Hy: ‘Nou wat wil jy weet?’

“Ek: ‘U het gesê daar is goeie en slegte vorme van apartheid. Wat is ’n goeie vorm van apartheid?’

“Hy: ‘Ag, D.F. Malan se apartheid.’

“En op daai oomblik crack ons altwee en hy skree kliphard vir my en ek skree net so kliphard terug!

“Willie Esterhuyse staan op en sê ‘Kalmeer, kalmeer, ek stel myself aan as voorsitter.’ En PW draai so om en sê: ‘Sit! Ek is die voorsitter!’

“O, die mense lag so as ek dit vertel. ’n Merkwaardige dag . . . ”

Vier-en-tagtig jaar het dalk getemper aan Sampie, maar hy is nog ewe wars.

Deesdae het hy dit in vir die “kapitalistiese” Stellenbossers wat die Meulsloot langs die Eersterivier “gesteel” het. “Van die mense langs die sloot het dit by hul erwe begin insluit, met ander woorde, hulle het dit gesteel. Een van hulle is my broer. Ek het die diefstal al die jare gadegeslaan. Toe bel ek hom anderdag en sê: ‘Hieroor staan ek aan die anderkant. Dis openbare eiendom. Maak reg.’ ”

Nog ’n Sampie-grief is die sypaadjies wat die Mostertsdriffers so vol plant niemand kan meer daar loop nie.

“Volgens regulasie moet daar ’n meter loopruimte wees.”

Toe is dit weer briewekolomme toe vir Sampie. En nou is die hele buurt die josie in, lag hy.

“Hulle praat nie meer met my nie.”

Maar oor een ding van Sampie stem almal saam: as ekonomiedosent was hy ’n legende.

65 jaar lank het hy 10 000 keer klas gegee vir meer as 30 000 studente. Hy hét die somme gemaak. Een van sy oudstudente, die politieke ontleder dr. Piet Croucamp, vertel Sampie was “altyd ’n brainteaser, het altyd anderster gedink, altyd ’n linkse ding waarmee hy studente gekonfronteer het”.

Klasgee was die grootste genot van sy lewe, sê Sampie en die ou leunstoel skwiek weer soos hy voortstu. Ons sit in die skemer, die staanlamp lankal afgeskakel vir sy sensitiewe oë.

Af en toe druk sy vingers teen die kant van sy kop, asof hy alles net vinnig weer in orde wil kry vir hierdie bestekopname van ’n lewe.

“Ek sou sê dat ek nie al die kanse wat ek gehad het om dié plek beter te maak na wense benut het nie. Ek wil nie brag nie,” raak hy beskroomd, “maar jy vrá my, ek dink ek het die gemeenskap gedien in die klasse wat ek gegee het, die boeke wat ek geskryf het en die toesprake wat ek gehou het.’ ”

En sy kop loop terug en terug en hy vertel van die verskriklike alleenkind wat nie met sy broers “gestryk” het nie, wat armswaaiend en pratend op die plaas rondgedwaal het in sy eie wêreld vol stories.

Sy seun, Sampie, vertel hoe sy pa as laerskoolkind een oggend op die plaas die voordeur oopgestoot het, en toe lê die Vrystaatse vlaktes en velde in helder glorie voor hom. Die vorige dag is sy eerste bril op die plaas afgelewer.

“Van toe af soveel brille, soveel perspektiewe, soveel nuwe insigte . . .”

Ek stap straat toe ná ons groet by die voordeur. Die huis het sweerlik in ses dekades niks verander nie.

Onder in Rowanstraat kom twee huiswerkers rustig aangesuiker. In die middel van die pad, die sypaadjies is lowervol plante.

Sy hand lig in ’n laaste groet.

  • * Historikus Hermann Giliomee: ’n Outobiografie (Tafelberg)
  • Vanaand 20:00: David Kramer in ’n warm onderhoud vol stories en liedjies en dinge in ’n Halfuur met Hanlie (via, DStv 147)
Meer oor:  Hanlie Retief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.