Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Maande sonder inkomste het my man gebreek’
Hanlie Retief gesels met Renette Vosloo
Renette Vosloo, die geliefde Rooitamatie-televisiesjef, het haar man aan Covid-19 verloor sonder dat hy ooit die virus gehad het.

Renette Vosloo, die geliefde Rooitamatie-televisiesjef, het haar man aan Covid-19 verloor sonder dat hy ooit die virus gehad het.

Saam met Gucci, Mielie se yorkie, op die hawemuur by Gordonsbaai. “Ek en Emilé was soos ’n Siamese tweeling, ons het alles saam gedoen. Maar sy laaste, eensaamste pad het hy alleen gestap.” Foto: Edrea du Toit

“My man het geknak onder die streng inperkingsregulasies. Maande sonder ’n inkomste het hom finaal gebreek.”

Op Vrydagoggend 11 September het Emilé Vosloo hamburger-frikkadelle gestaan en voorberei vir die Hangklip­hotel se kroegspyskaart.

“Hy het vir my gesê hy wil kyk of ons nie daarmee bietjie kontant kan inkry nie.

“Daar was nie ’n enkele bestelling nie.

“Laatmiddag het hy sy haelgeweer uit die hotel se kluis gaan haal, by die kombuis uitgestap en ’n paar tree verder homself geskiet.

“Die tjipsolie was nog warm, die oond aangeskakel. Hy het net uitgestap. Hy kon nie verder nie.”

Hy was nie die eerste slagoffer van hierdie inperking nie, en hy gaan ook nie die laaste wees nie.

Maar soos die tyd aangedraal het, het Mielie elke oggend as hy sy oë oopmaak, begin sê: F*k kan ons net begin werk, dit moet nou end kry, dis ’n klug om ’n restaurant te bedryf waar mense so ver van mekaar sit, gemonitor met ’n ou simpele termometertjie.
“11 Oktober is dit ’n maand sedert Mielie se dood. Vir die uitsig oor Gordonsbaai se hawe, was hy baie lief.” Foto: Edrea du Toit

“Die afgelope maand sedert sy dood het ’n paar mense vir my van hul selfdoodpogings vertel.

“Die swaarkry begin nou eers. Die inperking was half maklik, nou kom die verskrikking. Mense is finansieel gebreek, hulle probeer opstaan, maar daar is niks meer oor om mee óp te staan nie.”

Dit was vir Emilé die ergste.

Maar by die Hangklip-hotel het alles net so reg gevoel. Dié plek met sy live bands is ons soort kuierplek.

“Ons het rêrig niks geld oorgehad nie. Toe ons weer kon begin werk, moes ons raap en skraap om voorraad te koop, ons kon nie oopmaak en oorbegin nie, en hy wou so graag goed afskop met ’n spyskaart wat síng.”

Renette en Emilé het in Februarie die Rooitamatie-restaurant by die Hangklip-hotel naby Pringlebaai begin. Ná ses jaar as kok op die kykNET-program Ontbytsake, het die weeklikse vlugte Gauteng toe haar begin onderkry en sy het met ’n swaar hart bedank, want Ontbytsake, met impromptu-etes en planmakery, het die aweregse Renette soos ’n handskoen gepas.

“Maar by die Hangklip-hotel het alles net so reg gevoel. Dié plek met sy live bands is ons soort kuierplek. Jan Blohm het begin sing in ons eerste restaurant in Pretoria, Zinta (sy eks) was ons kelnerin, ons en die kinders, Gerhard, Maia en Emily, was op 13 Oppikoppi-musiekfeeste.”

“Saam met Gucci, Mielie se Yorkie, op die hawemuur by Gordonsbaai.” Foto: Edrea du Toit

Met die verkoop van hul gastehuis in Pretoria het hulle net-net gelyk gebreek. “Ons het met ons laaste sente Kaap toe getrek, maar dit was oukei, ons het oorleef. Ons kon nog altyd oorleef.”

In die week voor die inperking, minder as ’n maand nadat Rooitamatie sy deure oopgemaak het, het Emilé vir Renette ’n papiertjie in die hand gestop om te wys hoe belowend hul inkomste lyk. “Hy was so opgewonde, hy’t gesê as ons dit elke naweek kan bereik, is ons koppe deur. Dit kon so ’n beautiful ding gewees het.

“En toe kom hierdie ding uit die bloute, hierdie inperking, en dis nie ons skuld nie, maar hy klap ons só plat.”

Dat Mielie dit enigsins sou oorweeg om dit alleen te doen, het nooit by my opgekom nie.

Die eerste inperkingsweke was half spesiaal, soos vakansie, onthou sy. “Ons was ekstra na aan mekaar, ons het weer mooi musiek geluister, dit was happiness.

“Maar soos die tyd aangedraal het, het Mielie elke oggend as hy sy oë oopmaak, begin sê: F*k kan ons net begin werk, dit moet nou end kry, dis ’n klug om ’n restaurant te bedryf waar mense so ver van mekaar sit, gemonitor met ’n ou simpele termometertjie. En wie wil nou sit en tee drink saam met duck l’orange, verstaan jy?”

In dié dae het Renette en Emilé begin praat oor die dood. En die dood sáám ingaan.

“Pas ná Kokkedoor was ons op ’n kooktoer, hier’s ons saam met Emily.” Foto: Verskaf

“Ek het in dié tyd The Leisure Seeker gekyk, waarin ’n ouer man en vrou op ’n laaste road trip gaan, want my sus het gesê ons herinner haar aan daardie couple wat als so saam aanpak.

“Ná die fliek, in een van daai geselse as jy diepnag lê en musiek luister, het ons vir mekaar gesê as dit met ons só sleg gaan dat ons op ons kinders se nekke moet lê, wil ons nie meer hier wees nie. Ons het so half besluit ons sal saam uitgaan, amper as ’n laaste uitweg. Soos in Gert Vlok Nel se liedjie: “Gert se laaste stance”.

“Dat Mielie dit enigsins sou oorweeg om dit alleen te doen, het nooit by my opgekom nie.”

In sy laaste oomblik sekerlik op sy heel eensaamste.

Maar hier is sy nou ’n maand ná sy selfdood, en bitterbaie ’n halwe mens, en die wêreld hou aan en aan dit is dag dit is nag dit is more . . . kinders speel, voëls roep, karre ry, honde blaf, mense praat en praat. En ek sweef soos ’n poppie sonder aardse voete aan toutjies van tyd waarop ek geen greep het nie, skryf sy op Facebook.

Veertig jaar saam.

Waar Renette was, was Emilé. By Ontbytsake saam op stel om te help met die voorbereidings. Dawie Roodt, die aanbieder, vertel: “In die agtergrond, hierdie intelligente ou met die poniestert, en Renette, borrelende busybody wat met almal klets.”

Dit breek haar dat sy hoegenaamd niks vermoed het van die donkerste kloof waardeur hy op die einde gestap het nie.

“Altyd oral saam.”

“In sy laaste oomblik sekerlik op sy heel eensaamste.”

Bisar, voel dit, as sy terugdink aan die laaste middag, met haar wat ’n berg garnale by die kombuiswasbak staan en uitdop vir ’n geleentheid die volgende dag, twee sjokoladeterte uitdraai, met haar rug wat haar opkeil van al die staan . . . hoe kón sy nie voel iets is verkeerd nie?

“Iewers het hy vadoeke na my toe gebring, die hotel is ’n hele ent weg van ons kothuis, en ek het vir hom gesê ‘man, daar gaan nie mense kom nie, kom help eerder hier.’

Heelmiddag het daar so ’n warm wind die kombuis ingewarrel, ’n vreemde wind.

“Hy het net geantwoord: ‘Moenie my nou baie vrae vra nie, ek weet nie of ek kom of gaan nie, al wat ek weet is dat ek nou gaan werk, dalk maak ons ’n paar rand.’

“Heelmiddag het daar so ’n warm wind die kombuis ingewarrel, ’n vreemde wind.”

Sy het die aand naderhand gaan slaap, gedink hy drink seker ’n glas wyn saam met iemand, tjildarem ’n bietjie, hy kom nou-nou. Totdat Gucci, Emilé se yorkie, haar 22:00 onrustig kom wakker lek het.

En Renette stap in die maanlig die paadjie hotel toe en gaan soek hom.

“In 1996 was ons na ’n fancy dress-partyjtie in ons trouklere saam met Gerhard en Maia.” Foto: Verskaf

Hy het daar gelê, plat op sy rug tussen die gras en rommel, met vrede op sy lippe.

“Skuus,” kyk sy op, vasgewoel en stukkend. “Vandag is vir my ekstra moeilik.”

Haar boek Die Rooitamatie storie is ’n ode aan haar man en hul lewe saam. Ek skryf vir Mielie . . . lees jy in die inleiding.

Sy was ’n 16-jarige bakvissie van Hendrina toe sy dié “Middelburgse boerklong” ontmoet het.

Hy het kos gemaak vir die liefde daarvan, vir my is dit meer ’n skeppingsdrang. En elke dag het hy vir die honde ook gekook.

In die deur daai aand, staan Magnum Tom Selleck homself. Welige sagte krulhare netjies ge-‘blow wave’. Geil snor op die lip. Sexy kombersbaadjie en Levi-jeans. Staan hy daar. En steel my asem, beskryf sy die oomblik.

En van toe af was sy en haar “enigste foreverste liefste” saam. Wederhelf in elke sin van elke woord. Emilé, eintlik ’n slotmaker en gholfkampioen, wenner van die Nedbank Amateur Golf Challenge-toernooi in 1996, het in haar koslewe ingegly.

“Hier is ons op ’n grasperk by ’n Fokofpolisiekar-show.” Foto: Verskaf

“Hy het kos gemaak vir die liefde daarvan, vir my is dit meer ’n skeppingsdrang. En elke dag het hy vir die honde ook gekook.”

Renette weet reeds van 11 sy wil kook vir ’n lewe. Oorrompel deur ’n eend­resep in haar ma se Bak en kook met vertroue-resepteboek, het sy met haar Volkskas-spaarboekie die Saterdag-bus na Middelburg geneem, ’n eend by die OK Bazaars gaan koop en duck l’orange vir haar ma se verjaardag gemaak.

“Ons het laasjaar in Hermanus ’n pop up-ete gehou vir die kunstenaar Lidi de Waal. Foto: Alet de Waal

Daai aand het haar ouers gedans op Neil Diamond se “Cracklin’ Rosie”, “Canta Libre” en “Sweet Caroline”, vertel sy in haar boek.

In die inperkingsdae toe Renette en Emilé skaars hul neuse bo die water kon hou, het hy vir hulle die “lekkerste sop moontlik” van hoendernekkies gekook.

“Ons was nooit suksesvolle sakemense nie, maar in die res van ons lewe het ons iets moois saam gebou. Ons kinders het dit almal goed gemaak, regdeur. En dis ons testament, het ons altyd gevoel.”

“Hy het soos Magnum PI gelyk en my asem weggeslaan.”

Hierdie holderstebolder rit van kinders, honde, restaurante oopmaak, toemaak, weer oopmaak, verbandpaaiemente wat byt, rooilip-lagge en geselse om vure met pelle en wyn en Leonard Cohen, Zeppelin, Zoid, Spoegwolf en Polisiekar.

Kokkedoor 1, platgeval soos ’n koek, Kokkedoor 2 met koeklollies en al, vierde geëindig.

En nou bly Renette agter “met ’n stuk lewe wat ek nog moet lewe”.

En die winterdag in 1991 toe die son gebreek het met klein Emilé’tjie se stilgeboorte.

Deur die koue is hulle al menigmaal soontoe en weer terug, skryf sy, maar die wêreld draai altyd weer haar vriendelike kant.

Tot die moedeloosheid dié keer te diep in Mielie se gebeente gaan vasskop het.

Sy het heelnag by hom gesit. Hangklip swart in die halfmaan, mense wat om hulle kring, sy wat oor en oor skree asseblief sê dis ’n nagmerrie, hierdie is nie die waarheid nie.

“Universiteitsjare by Tukkies, Mielie met sy rum en Coke . . .”

“Maar hy was al yskoud, daar was niks meer nie.”

En nou bly Renette agter “met ’n stuk lewe wat ek nog moet lewe”.

“Ek wens ek kan hom vra: daai laaste oomblik, het jy gedink aan my? Gedink sorry Renette, hoop jy kom agterna? Dis waardeur ek elke dag werk, elke nag lê ek daar langs hom in die gras.”

“My boek het in 2017 verskyn, my dogter Emily het die boek uitgegee en dis by ons beskikbaar.” Foto: Verskaf

Die Sondag, twee dae ná sy dood, was almal saam by haar dogter Maia se huis in Somerset-Wes.

Hulle het die hamburger-frikkadellewat Emilé staan en voorberei het, gaargemaak en geëet.

“En toe ons weer sien, het ’n wit tortelduif, ’n wilde albino-duifie, daar opgedaag en op almal se skouers kom sit. Heeldag was hy daar, ons het hom vasgehou, gekoester. Hy is eers elfuur die aand weg, nadat hy lank saam met ons by die kaggelvuur was.

“Mielie, getrou aan sy aard, het vir ons vrede gebring.”

“Jong mamma in 1996. Emily in haar blou windjekker met Maia en Gerhard teenaan my.” Foto: Verskaf


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.