Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met Reyno de Beer
‘Dawid’ saal wilde perd op vir sy land

Reyno de Beer is twee maande agterstallig met sy huurgeld vir die skuur waarin hy en sy gesin op ’n hoewe in Derdepoort, Pretoria, bly.

Reyno de Beer het die regering hof toe geneem oor die Covid-19-inperkingsmaatreëls “en toe wén ek”. Hy en sy gesin huur ’n skuur op ’n hoewe in Derdepoort, Pretoria. By hom is Mariska, sy vrou, en hul dogters Bennene (5) en Carmen (11). Foto’s: Elizabeth Sejake

Die kleuterskool het laat weet sy dogtertjie mag nie weer terugkom ná die inperking nie, want die De Beers skuld hulle te veel geld.

Twee weke ná die inperking was die laaste R600 in sy bankrekening die laaste strooi vir dié Pretorianer.

“Nou vat ek die regering hof toe oor hul mal regulasies,” het Reyno moerig besluit.

Die meeste van ons mor oor die minister van onsinnighede, maar dan koel ons af en gaan weer aan met ons lewe. Dié wat regtig sterk voel bel vir AfriForum of Sakeliga of Lawyers for Human Rights.

Nie Reyno nie. Nee. Hy het hofstukke gaan skryf, krom en skeef want hy het nie ’n regsgraad nie. En toe begin hy ’n WhatsApp-groepie met die medemoeriges Zehir Omar-prokureurs en die Hola Bon Renaissance-stigting en dié onwaarskynlike bende vat toe die regering hof toe.

“Ek sê vir almal dis oor my van De Beer is, dis in my gene om nie te los as ek byt nie en my middelnaam is Dawid, so toe klits ek maar vir ‘Goliat’ Dlamini-Zuma!”

Hy voel ’n bietjie soos die hond wat die bus gevang het, sê Reyno ure nadat hulle die hofsaak gewen en die hele land regop laat sit het.

Dit het gelyk of die verhuurders ’n absolute oorlog voer teen huurders.

“Soveel aandag het ek in my lewe nog nooit gekry nie. Ek het nou ’n perd vir my opgesaal wat ek moet ry en nie afval soos ou Eugène Terre’Blanche nie. Ná die uitspraak wou hulle vir my sjampanje gee, maar ek drink nie, toe sê ek gee my asseblief liewer ’n lekker vet steak.

“Ek was gister op pad om my vroutjie by haar werkplek, ’n alkohol-en- dwelmrehabilitasieplek hier in Derdepoort, te gaan haal, toe kry ek die e-pos. Om tien voor vier, presies.

“Ek het hoendervel gekry, vinnig tot heel onder by die bevel gelees: ‘Ongrondwetlik.’ Toe spring ek op, gaan aan die skreeu en ja, ek het ook begin huil.”

Reyno “die beer” is gereed vir die regering se appel. “Hulle het geen argumente teen ons nie.”

Hy het “notisie geneem” van die slim regsgeleerdes wat sê regter Norman Davis se uitspraak het meer gate in as ’n stuk emmental. Maar Erin Brockovich se brotha from anotha motha sê vir die regsprofessore: “Hierdie was ’n oorwinning vir gewone Suid-Afrikaners. Ek daag die regering uit: Hou ’n referendum en die meerderheid sal teen die regulasies stem. Die aanvanklike maatreëls soos om ons grense te sluit, was goed, maar nie die erge inperking nie. Hulle maak of ons kinders is. Vat vir jou, Flaffie.”

Die Liberty Fighters Network (LFN) is nou wel nie so groot soos FW de Klerk of Helen Suzman se stigtings nie, sê Reyno, “maar ons kleintjies gooi ook ons gewig rond”.

Hy het die organisasie reeds in 2015 gestig om huurders by te staan wat onregmatig uitgebuit en/of uitgesmyt word deur hul verhuurders.

“Mense wat dink ek is ryk en ons kry iewers finansiering laat my lag. Ek ry in dié Citi Golfie rond.”

“Saam met my help so 15 vrywilligers om dinge te bestuur en ons 2 000 ondersteuners het tydens inperking met duisende gegroei. Selfs internasionaal, ’n vroutjie van Kanada het my gekontak, sy wil nou ook hul regering aanvat.”

Hulle oorleef op skenkings. Dit het opgedroog tydens die inperking.

“Gist’raand wys my vrou my op YouTube iemand wat die Liberty Fighters Network wil ondersoek, met ’n groot opskrif: ‘Where’s the money?’ Hulle probeer agterkom wie agter ons sit.

“Ek het uitgebars van die lag. Ek sal vir hom my bankstate wys, dan sal hy ook lag. Al wat inkom is my vroutjie se salaris. Niemand finansier ons nie.

“Nee, ek is nie regs, pro-Trump of ’n samesweringsmalletjie nie.”

Mense dink dit kos derduisende rande om iemand hof toe te vat, maar in Suid-Afrika hoef jy nie geld te hê om geregtigheid te kry nie, sê hy. “Ons regstelsel is só dat jy letterlik met geen geld hof toe kan gaan.”

Toe die hooggeregshof Zehir Omar-prokureurs se saak oor die reg tot godsdiensbeoefening tydens inperking uitgegooi het, het Reyno hulle genader.

“Vir my het dit nie sin gemaak dat mense die regering oor net enkele regulasies in die hof pak nie.”

Toe reken Reyno: Hoekom nie vir eens en altyd ál die regulasies gelyk aanpak nie?

“Zehir-hulle het die saak pro bono gedoen. Al koste was ons tyd en die fotostate.”

Die LFN se ondersteuners is mense van agtergeblewe gemeenskappe. “ ’n Baie klein persentasie daarvan is wit mense. Dis nie dat ons spesifiek kies wie ons help nie, almal is tog mense, dit lyk net of daar minder wit mense is wat sukkel met die probleme waarmee ons help.

“Ons ondersteuners bly meestal in die suide van Johannesburg en hulle is geweldig blootgestel aan uitbuiters. Teen week drie van die inperking was die meeste van hulle verbouereerd, desperaat en honger.”

By Reyno wou hulle weet: “Moet ons ons huurgeld betaal, of eerder met dié geld kos koop?”

“Dit het gelyk of die verhuurders ’n absolute oorlog voer teen huurders. Veral buitelanders is geteiken. Hul krag is links en regs afgesny en van hulle is uit hul blyplek gesmyt – en dit alles sonder hofbevele, in wese krimineel. Ons het naderhand WhatsApp-groepe begin, want ons kon die mense nie meer individueel hanteer nie.

“Die polisie wat wetgewing moet afdwing, stel nie belang om huurders te help nie. As die huurders klagte van intimidasie of onwettige uitsetting wou indien, is hulle verwys na die huurtribunaal, wat in elk geval tydens inperking toe was.”

Die keerpunt het gekom toe die inperking met ’n verdere twee weke verleng is.

Hanlie Retief

“Die problematiek van huurders se regte is nêrens in die regering se regulasies nie. Ons het met die minister probeer praat, die stadsraadslede het ook probeer help, daar was petisies . . .”

Reyno het saam met die Hola Bon Renaissance-stigting, wat ook vroeër bloedneus in die hof oor die regulasies gekry het, ’n dringende aansoek teen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma ingedien.

“Hulle het gedink hulle kan ons wegvee soos ’n lastige vlieg.”

In die groep se WhatsApp-gesprekke het die besef ontwikkel: Dit gaan nie meer oor Covid-19 nie, menseregte word nou geskend.

“Dis of die land gekaap is. Die parlement het immers reeds toesigregte, hoekom moet die DA hof toe gaan om dit te bekragtig? Almal bly net tjoepstil.

“Hoekom?”

Reyno se aktivisme het oorspronklik met twee spierwit maltesertjies genaamd Wendy en Wengy begin.

In 1994, sy matriekjaar aan die Hoërskool Hendrik Verwoerd in die Moot (“Uli Schmidt en Naas Botha was ook daar”) het die bestuur van hul woonstelgebou in Sunnyside die De Beers gebied om van hul “twee pragtige hondjies” ontslae te raak.

“Hulle was soos sussies vir my en my twee broers. Dit was net ons en my ma, my ouers was geskei. Terloops, my ma was vir 30 jaar ’n staatsamptenaar by die departement van landbou.

“Sy het ons drie seuns mooi grootgemaak, ons is almal baie lief vir haar.”

Toe Wendy en Wengy verbode verklaar is, het Reyno in opstand gekom.

“Ek was maar net ’n skoolseun, maar toe besluit ek: Júlle loop nie só oor my ma nie. Hulle het ons later hooggeregshof toe geneem.

“Ek het die saak gewen en dís waar my belangstelling in die regte begin het.”

Aangevuur, het Reyno en sy een broer ’n organisasie, die Pretoria Deeltitelforum, begin en eienaars van deeltitelskemas se probleme bestuur.

“Meestal katjie- en hondjieprobleme,” sê hy.

Ná matriek het hy BCom aan Unisa gestudeer. “Ek het ekstra regsvakke geneem en dit was vir my so lekker my BCom duik toe in die hek. Toe raak my geld op.”

Hy en sy broer het dispute gewen teen groot bestuursagente soos EG Chapman, vertel hy in ’n geesdriftige stroom woorde.

Einde 1990 het die De Beer-broers by die ANC aangesluit.

“Dit was nogal ’n omstrede keuse vir jong Afrikanermans van ‘Scummyside’.”

Hulle het die ANC se deeltitelkomitee begin, wat gelei het tot die Gemeenskapskemas-ombudsdienstewet, asook die nasionale vereniging vir bestuursagente.

“Ek was maar ’n laaitie van 22 toe die destydse hoofregistrateur van aktes my laat nomineer het vir die deeltitelregulasieraad. Tot my verbasing is die ANC-takvoorsitter sonder ’n nominasie in my plek aangestel.”

Ontnugter, het die De Beer-broers die ANC net daar gelos.

Wat hulle maar net nooit kan los nie, is enige onreg enige plek, grinnik Reyno.

Toe die maatskappy by wie sy broer in Centurion gewerk het deure sluit nadat die eienaar hom laat sekwestreer het sodat hy nie sy werkers hoef uit te betaal nie, het die De Beers begin rondsnuffel. Vinnig was daar ’n korrupsieklankie, soos ’n rot wat ’n week gelede in ’n warm plafon beswyk het.

“Dis die reukie vir my, daai. Twee regters of hul klerke was moontlik betrokke by die geheimsinnige sekwestrasie.”

’n Strafregtelike klag teen die regters en die maatskappy het later by die nasionale vervolgingsgesag gedraai, toe by die hoofregter, die Menseregtekommissie, die konstitusionele hof . . . en dis nou by die Afrika-Unie se kommissie vir menseregte.

“Hulle het formeel besluit om die saak te verhoor,” sê hy sonder om eens te probeer om die trots te verdoesel.

In ’n stadium het Reyno de Beer se lewe net om geldmaak gedraai. Die Audi RS3 wat die bult voor die Atterbury-afdraai uitwroem, die vyfslaapkamerhuis, die tennisbaan. En toe, ewe skielik, verdrink Reyno in die skuld.

“Voordat ek my oë kon uitvee, was ek brandarm en plat op die grond.”

Nou ry hy ’n 1987-model Citi Golf sonder ’n paneelbord en ’n nommerplaat wat heeltyd afval.

“Net voor die inperking het ons in hierdie skuur ingetrek. Oom Phillip, ’n liewe man, is ons landlord. Hy wou dit nog mooi vir ons afskort, maar toe kom lockdown.”

Die ding is, sê Reyno, hy is nou ’n Christen.

“Ek het geleer alles gaan nie oor geld nie, en ek het besluit ek gaan my lewe daaraan wy om mense te help, sover ek kan.”

Die beloning lê in die oorwinning, sien?

En het Reyno nou al sy oorwinning-steak geëet?

“Nog steeds nie,” lag hy. “Teen R150 ’n kilogram deesdae kan ek dit nie bekostig nie!”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.