Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Niks kosbaarder as tyd nie, ‘boys’
Hanlie Retief gesels met Rikus de Beer
Hoorie tjom, lang storie kort, laat ek jou só sê: Jonathan is een aand in die kar op pad terug van die gim gebore. Oukeiii?

Hoorie tjom, lang storie kort, laat ek jou só sê: Jonathan is een aand in die kar op pad terug van die gim gebore. Oukeiii?

Rikus de Beer, skepper van Radio Raps se Oos-Randse karakter Jonathan, in ’n teer, natterige oomblik met Frik, sy een boelterriër. “Dié foto vertel eintlik ’n duisend stories. Ek het drie boelterriërs en my sportkroeg-franchise is vernoem na my eerste een, Hennie, want Hennie is die verpersoonliking van ’n goeie tyd.” Foto: Verskaf

Rikus de Beer het twee ouens in die gim dopgehou wat gepomp het, pappie, die een ou het homself nog so op die bors geklap en gesê: Maak hom joune! Maak hom joune!

“Ek was dik van die lag. En ek kry hierdie prentjie in my kop van ’n Oos-Randse grootseun – die Boksburg-boys is mos lief vir gim – en gooi ’n voice­notein die kar vir my groepie pêlle: Hier’s vandag ’n man van die Oos-Rand wat kom praat oor gim-etiket. Kom ons verwelkom vir . . . en om een of ander rede sê ek . . . Jonathan . . . want in die Oos-Rand het die Afrikaanse boerseuns almal Engelse name soos Clayton du Preez of Vernon Koekemoer.”

Op die oorspronklike voicenote hoor jy nog hoe sy kar se flikkerlig aangaan.

Rikus se pêlle het aanhou vra vir Jonathan se nuutste, en Rikus “mmm . . . gee my ’n minuut” en stuur nog ’n voicenote en Jonathan is “lekker boys”, en “oukei” alles gaan “olraait” wees en “da vat hy” en almal lag hulle besimpeld en stuur dit rond.

“Naderhand het mense dit vir mý begin stuur, dan sê hulle hoor hoe funny is hiérdie ou.

“Eendag in ’n sportkroeg speel ’n ou vir my ’n Jonathan-voicenote. Ek sê vir hom, hoorie, tjom, dis ek daai. Hy kyk my so en sê ‘k*k man, jy is funny en als maar dis nie jy nie, ek het rumours gehoor hierdie ou was in Waterkloof en my pêl ken hom’. ”

Dié foto is in 2017 geneem twee maande ná Rikus de Beer amper dood is aan hart-, lewer- en nierversaking. Hy was nege weke in die hospitaal. Foto: Verskaf

Dis hoe hierdie Radio Raps-wegholsukses met sy rekord-internetkyke en uitverkoopte mega-vertonings begin het. “En van daar af is dit nog heeltyd vyfde rat en braaitjies.”

Per ongeluk, nee, partykeer drie-uur snags word Rikus wakker met sy “insane” idees en dan gooi hy vinnig ’n nota op sy selfoon.

Hy het die eerste Jonathan-video’s op daai foon gemaak. “My pel John-Henry Opperman het gehelp.”

Sy eerste stand up-vertoning in Februarie 2014 was ’n nagmerrie.

Ewe per ongeluk het Jonathan se skewe groen pet gebeur. Rikus dra altyd ’n pet “omdat die haartjies maar gaan”. Vir Jonathan se nou-al-legend visvang-etiketvideo het hy sy hoed vergeet, toe’s daar een van “daai Hawaii-pokerhoedjies” in die kar en hy plak hom op sy kop, “swing hom om” en toe raak dit nou ’n ding.

“Deesdae, as ek by ’n China-winkel een gaan soek, het hulle altyd perses en geles, maar groenes? Om een of ander rede as daar ’n groene inkom, verkoop hy dadelik!”

Sy eerste stand up-vertoning in Februarie 2014 was ’n nagmerrie. “Ek het nie drama geswot nie, was nog nooit op stage nie, het nie geweet wát ek doen nie. Maar sewe maande later het ek my eerste DVD in Emperor’s Palace voor 1 000 mense opgeneem.”

Rikus het op ’n plaas tussen Klerksdorp, Potchefstroom en Krugersdorp grootgeword. Foto: Verskaf

Dit was dadelik die topverkoper van Afrikaanse DVD’s.

Komedie lyk moeiteloos vir hom, maar hoe meer voorbereid jy is, sê hy, hoe natuurliker lyk dit. “Jonathan mag mos nooit lag nie. Hy het ’n lekker dubbelkennetjie en kyk almal net so en oral moet ek altyd vir almal sê: Lékker boys . . . en oukei . . . Dis mál, van alles soek hulle dít!”

Op 9 April begin sy agtste stand up-toer. “Bietjie surreal, nè.”

“Ek is ’n entertainer, kunstenaar is vir my ’n te snobistiese woord."

Hoe kon hy dit pull? “Ek weet nie, om eerlik te wees. Ek lewer kommentaar op die waarheid, eintlik op ernstige goed, want iets is net snaaks as dit ernstig is. Dis soos ’n tannie wat in die kerk val of iemand loop in die skuifdeur vas – jy mag nie lag nie, maar jy breek jou. Ek raak nie sommer aan politiek nie, hou nie van geloof-jokes nie, ek joke oor alledaagse goetertjies.

“Ek is ’n entertainer, kunstenaar is vir my ’n te snobistiese woord. Die belangrikste is dat jy vir jouself lag, dan relax jy. Ons het hierdie prentjie in ons kop van ons moet op ’n sekere manier leef, trek vir jou aan, sit die radio sagter, wat gaan die mense sê!

“Die dag toe ek besef as ek die joke crack en die dokter én die ambagsman se vrouens pomp hulle met die elmboog en sê: dis jý daai . . . ons dra verskillende maskers, maar ons is almal dieselfde.

In die Facebook-gesprek Op ’n Ernstige Noot gesels Rikus met bekendes oor diep dinge. Foto: Verskaf

“Hoe vinniger ’n ou agterkom ons almal is foutief, hoe gouer relax jy en ervaar dinge eerder as om mense te probeer impress.”

So wie’s Rikus de Beer? Hy het op ’n plaas tussen Potch, Klerksdorp en Ventersdorp grootgeword. Sy dae omgedroom en met die honde diep gesels. En as sy pa om ’n hoek kom, skrikskaam gevoel, vasgewoel in sy verbeelding.

“My ma, Petrolize, werk al 20 jaar vir die Hervormde Kerk in Doringkruin, Klerksdorp. Pa Thinus was menslike hulpbronnebestuurder by die koöperasie, en my sussie Zanelle is ’n onnie by ons ou hoërskool, Wesvalia.”

Sy mission was om ’n Springbok te word.

Hy was hoofdirigent op skool, die “social ou” met ’n peloton pêlle wat sy grappe wil hoor.

Sy mission was om ’n Springbok te word. Op laer- én hoërskool Cravenweek gespeel, deur UJ (toe RAU) gewerf. In sy eerstejaar, op haker, voel hy ’n “klienk” in sy rug maar speel aan (“die kompetisie was kwaai, baie van my spanmaats is nou Bokke”). Hy donner daar neer, g’n gevoel in sy bene nie – sy rug was gebreek.

En sy rugbyloopbaan.

In matriek by Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp het Rikus net een missie gehad: om vir die Bokke te speel. In sy eerstejaar het hy sy rug gebreek en sy rugbyloopbaan was verby. Foto: Verskaf

“Toe move ek van rugbykant af en word die universiteit se hofnar. Met eerstejaar-sêrre het ek agtergekom ek kan dalk iets op ’n verhoog doen.”

Ná ’n BCom-graad was Rikus ’n suksesvolle finansiële adviseur “met ’n hoë strike rate” want sy kliënte het pêlle geword en hulle slap gelag vir sy stories, grinnik hy.

“Maar ek het nie uitgesien om soggens op te staan nie, ek was so verlore. Al wanneer ek gevoel het ek is myself is wanneer ek mense kan entertain.”

Hy het met griep aangehou gewigte oefen en die gevolg was ’n vergrote hart.

En toe gaan hy amper dood.

“Dit was in 2007, ses jaar voor Radio Raps. En dis waar my lewe verander het.”

Hy het met griep aangehou gewigte oefen en die gevolg was ’n vergrote hart.

Ná sy egskeiding het Rikus vir Estelle Botha, ’n prokureur, ontmoet. “Sy is my beste pêl. En ons hou altwee van buite-dinge, soos op dié foto toe ons in Mosambiek was.” Foto: Verskaf

“Ek was vier weke in hoë sorg. Dinge was grim, die kardioloog het my ouers laat kom om te groet. Mense sê daar is ’n oomblik van grootse insig en ligte, maar ek het pleinweg net my moer gestrip, die dominee en almal weggejaag en gesê: wátch my. Vier weke later is ek ontslaan.

“In 2017, toe Radio Raps al lekker geloop het, was ek nóg amperder dood. Dit het begin met ’n galblaasinfeksie.

“Twee dae voor hulle my galblaas sou uithaal, het ek vreksleg gevoel en is hospitaal toe. Maar ek het daai aand ’n show vir 2 500 mense in Krugersdorp gehad. Toe boek ek myself uit en gaan show.

“Ek joke nie, tannie, hier’s my aar en wys haar die aar met nog so ’n strepie bloed wat afloop."

“Ek het backstage op ’n draagbaar met ’n drip gelê. Toe hulle sê ek moet opgaan, het ek so twee keer gehoes om my stem terug te kry, en papnat gesweet aan die mic gaan hang. En ek sê: jammer ek’s laat ek was in die ICU, en die mense lag. ’n Fris tannietjie in die voorste ry kýk my so en sê: Jammer om van jóú stront te hoor.

“Ek joke nie, tannie, hier’s my aar en wys haar die aar met nog so ’n strepie bloed wat afloop. En hoe langer die show aangaan, hoe sagter raak my stem, asof my battery pap raak!”

Skaars af van die verhoog, toe stort hy ineen. Hy was nege weke in hoë sorg. Sy organe het ingegee. Weer het hulle vir hom gesê hy’s op sy laaste, weer was hy: Wátch my.

Rikus en sy beste vriend Cliffie, oftewel Donovan Michael Clifford. Foto: Verskaf

“Ek het 46 kg verloor en moes leer om weer op te staan. Ek het altesame vier embolismes gehad, so my baanrekord lyk nie baie goed nie.”

Maar deesdae gaan dit tonne beter met hom.

“Ons het laasjaar agtergekom ek is die een uit ’n miljard mense met twéé gene wat bloedklonte laat ontwikkel. Ek spot altyd as ek my pille in die oggend sluk is ek so versadig ek moet eers wag met ontbyt.”

Is hy bang vir doodgaan?

"Ek weet mos nie wat’s die vibe ná ek dood is nie, so tyd is vir my die kosbaarste ding."

Hy huiwer, hierdie doodgewone ou met die underarmour-pet en die nie-opgeterte Pretoriase huisvertrek agter hom. Sy oë gly deur die venster waar Hennie die boelterriër op die gras lê en ballas bak.

“Ek is eerder bang op wat ek gaan uitmis. Ek weet mos nie wat’s die vibe ná ek dood is nie, so tyd is vir my die kosbaarste ding. Die kuns is om minder tyd te mors op dinge wat jou nie laat groei of vir jou lekker is nie.”

Hy haat “ja, maar”-mense. “My oupa het altyd gesê: Kry bietjie pluk! En ’n pêl se skoonpa: Lyk bietjie lús!”

Dié foto is geneem twintig minute voor Rikus de Beer se vertoning in 2019 by die Time Square Arena in Pretoria begin het. Dit was die grootste eenmanvertoning deur ’n Afrikaanse komediant ooit, met 7200 toeskouers. Foto: Verskaf

Tydens die inperking het hy vir ses dae in sy kroeg gesit en sommer weer begin rook, so jammer het hy homself gekry. Toe kry hy maar bietjie pluk en skryf ’n koronavirus-liedjie en kry meer as ’n miljoen kykers.

Alles waaraan hy deesdae raak, is ’n sukses, iéts moes in daai hoësorgsaal se aarvoeding gewees het. Hy hoop om Desember hul tiende Hennie’s, sy sportkroeg-franchise, oop te maak.

“Hennie’s, want my boelterriër is die verpersoonliking van ’n goeie tyd. Ek het ’n liefde vir sportkroeë, oral in die wêreld Google ek: ‘best sports bar’ en gaan check dit uit. Toe my pêl sê ons het nie in Suid-Afrika ’n sportkroeg waar jy kan gaan vir ’n grappie, ’n kappie, ’n steaky en ’n chat nie, het die idee my geslaan.”

“Moenie tyd mors op kwessies of worries of mense wat op jou teer nie."

Tussendeur als is hy geskei want “partykeer pas die puzzle net nie”. Sy boelterriërs het hom by sy nuwe groot liefde en beste pêl, Estelle Botha, gebring.

Soos Jonathan/Rikus nie die sin van toonringe, vlieë, dorings, muskiete en padhobbels insien nie, só maak hy sin van één ding op hierdie Paassondag:

“Moenie tyd mors op kwessies of worries of mense wat op jou teer nie. Daar is nooit net een bosluis op ’n bees nie, boys, hy’s vrot van die goed. Bly weg van die bosluise, want jy’t net soveel tyd.

“Nét soveel tyd . . .”

Jonathan van Radio Raps is nie geseën met baie gesiguitdrukkings nie. Foto: Verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.