Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Die ‘jong leeu’ wat tande wys vir Ace
Hanlie Retief gesels met die ‘jong leeu’ Ronald Lamola
In dieselfde week in Mei 2016 wat Mcebisi Jonas die eerste keer die Gupta-miernes oopgekrap het, het ’n voormalige plaasseun van Mpumalanga met ’n plakkaat om sy nek by die St. George-hotel in Irene geëis Zuma moet gaan.

In dieselfde week in Mei 2016 wat Mcebisi Jonas die eerste keer die Gupta-miernes oopgekrap het, het ’n voormalige plaasseun van Mpumalanga met ’n plakkaat om sy nek by die St. George-hotel in Irene geëis Zuma moet gaan.

Ronald Lamola is die jongste minister van justisie en korrektiewe dienste in ons geskiedenis. Hy het grootgeword op ’n plaas in Mpumalanga. Foto: Willem de Lange

Kollega Jan de Lange onthou Ronald Lamola vingeralleen voor die hek terwyl die ANC-leiers se grênd karre verbygly vir die nasionale uitvoerende komitee (NUK) se vergadering.

“Hy was nog bloedjonk en voortvarend. Slim. Hy het vir my gesê dinge kan nie so aangaan nie. Hy is een van die min jong mense wat teen Zuma opgestaan het in ’n tyd toe dit nie mode was nie.”

Só het Ronald Lamola homself herposisioneer aan die regte kant van die geskiedenis, op die regte tyd.

Die bal kon netsowel vir hom verkeerd gespring het. Lamola kon nie toe geweet het die Zuma-kant gaan by Nasrec net-net teen Ramaphosa verloor nie.

Ná die Nasrec-konferensie is Lamola nadergehark uit die politieke wildernis tot in die ANC-binnekring as lid van die NUK se nasionale werkkomitee.

Die Jong Leeu, soos die Ramaphosa-faksie hom noem, het die visie gewys wat van hom die jongste minister van justisie en korrektiewe dienste in ons geskiedenis gemaak het.

Ronald Lamola is die jongste minister van justisie en korrektiewe dienste in ons geskiedenis. Hy het grootgeword op ’n plaas in Mpumalanga. As kind het hy saans saam met sy plaaswerkerpa na die nuus op die radio geluister. Dit het sy belangstelling in die politiek geprikkel, hom laat regte studeer en trou aan die grondwet laat besweer. Foto: Willem de Lange

Hy is in die brandpunt van die faksietwis in die ANC. Dalk moes hy eerder by die cappuccino’s en hofdokumente van sy groot regspraktyk in Brooklyn, Pretoria, gebly het, sy doktorsgraad ná twee meestersgrade aangepak het en naweke op sy bergfiets deurgebring het . . .

Of hoe?

Dit sóú makliker gewees het, lag hy. “Beslis. Maar iemand moet nasionale diensplig doen.”

Die Grondwet sal altyd heel bo uitkom as die oppergesag van die land.

Hy het ’n growwe, lui stem. Klink ouer as sy 37. Die afgelope langnaweek het hy kilometers op einste bergfiets geoefen vir ’n wedren hierdie naweek.

In die agtergrond hoor jy sy vierjarige seuntjie.

Skuus, sê die minister, hy moet net gou pa wees. Sê vir die kind: “Jy het mooi tromme gespeel. Wat moet jy nou vir my sê?”

“Thank you, Daddy,” piep die seuntjie.

2016: Ronald Lamola betoog vingeralleen teen Zuma. Foto: Lisa Hnatowicz

Hulle noem hom Buchari, die Sjangaanwoord vir wysheid, en dis vir sý toekoms dat sy pa ja gesê het toe Ramaphosa hom ’n kabinetspos aangebied het.

“Ek dink dis belangrik dat professionele jong mense soos ons betrokke raak by die politiek, want as ons dit nie doen nie, wie sal?”

Die EFF het al snedig na Lamola verwys as ’n “bekrompe loopbaanman”.

Hy het op die plaas Tenbosch by Komatipoort grootgeword, die seun van twee plaaswerkers.

Aand ná aand het hulle geluister hoe die Kodesa-onderhandelinge die boustene lê vir die Grondwet...

Elke aand om sewe-uur het ’n ritueel hom afgespeel in die nederige werkershuis. Nuustyd het sy pa die gesin se radiotjie aangesit en dan het die Lamolas in doodse stilte sit en luister.

“As kind luister jy naderhand maar na die nuus waarin jou pa so ernstig belangstel.”

Só het die gebeure by die Wêreldhandelsentrum in Kempton Park ook die Lamolas se diep-landelike huis binnegekom.

Aand ná aand het hulle geluister hoe die Kodesa-onderhandelinge die boustene lê vir die Grondwet waarvan hy nou, as minister van justisie, ’n vurige bewaker is.

In dieselfde week in 2016 wat Mcebisi Jonas die Gupta-bom laat bars het, het Ronald Lamola vingeralleen voor die St George’s Hotel in Irene, waar die Nasionale Uitvoerende Komitee se vergadering was, betoog teen Zuma. Hy wou hê die NUK-lede moet besef: “As ek teen Zuma kan opstaan, moet hulle ook die moed aan die dag lê.” Foto: Lisa Hnatowicz

“Dit was in die vroeë 1990’s, ek was so tien jaar oud, en dis waar my politieke bewustheid begin het.”

En sy kinderonskuld in die slag gebly het.

“Dit het my laat besef hoe ongelyk dinge op die plaas was, hoe rassisties. Ons kon nie op dieselfde plekke as die wit mense se kinders speel nie, nie na dieselfde skool gaan nie.”

Hy het toe besluit om regte te gaan studeer soos die ANC-strydrosse wie se stemme hy oor die radio gehoor het.

“Ons het saam grootgeword in die ANC-strukture. In daardie dae het ons mekaar goed verstaan.”

Skaars 13, op hoërskool in Bosbokrand, het hy by die ANC-jeugliga aangesluit. Dis waar sy pad met dié van Ju­lius Malema gekruis het. Sy latere nemesis.

“Ons het saam grootgeword in die ANC-strukture. In daardie dae het ons mekaar goed verstaan.”

Lamola was Malema se adjunk toe hy president van die ANC-jeugliga was. Ná Malema se skorsing het Lamola dit duidelik gemaak dat hy Malema en Floyd Shivambu se EFF nooit sou steun nie.

“Daar is vir my geen ander voertuig as die ANC om die uitdagings van Suid-Afrika te takel nie. Ons moet die ANC van binne af terugeis, terugkeer na die ANC van ons stigters.

Onweer in die lug.Toe Julius Malema president van die ANC Jeugliga was, was Ronald Lamola sy adjunk. Ná Malema se skorsing in 2012 het hul paaie geskei. Die twee jong leiers wat saam grootgeword het in die ANC-strukture, is nou vurige politieke opponente. Hier is Lamola in 2015 tydens die ANC Jeugliga se kongres in Gallagher Estate, Midrand. Foto: Felix Dlangamandla

“Ons moet opstaan en seker maak dat die party die regte ding doen.”

Deesdae pak Malema en Lamola mekaar gereeld in die parlement. In die 2020-debat oor die staatsrede het Lamola hom gesmeer as “ ’n pseudo-revolusionêr wat floreer op verdeeldheid”.

Ja, sê Lamola droog: “Sy styl staan my nie aan nie.”

Soos met die plakkaat om sy nek destyds, was hy een van enkeles wat verlede maand reguit vir Ace Magashule, sekretaris-generaal, gesê het hy moet die ANC se integriteitskomitee gehoorsaam en opsy staan.

“Ek dink ons doen goeie werk. Dis net, soms raak die besluite lost in translation wanneer dit aan die publiek gekommunikeer word.”

Frustreer dit hom nie dat die ANC se skisofreniese binnepolitiek die land verlam nie?

Hoe dan nou so, vra hy stomverbaas.

Hy lys “verskeie goeie, vernuwende organisatoriese besluite soos . . . om die Nasrec-resolusie te bevestig dat lede wat in die hof aangekla word, opsy moet staan”.

Dáái boksie kon ongelukkig nog nie getiek word nie. Besluite, nie uitvoering nie.

Die jongste minister van justisie en korrektiewe dienste in die geskiedenis van Suid-Afrika, Ronald Lamola, waar hy in 2019 die ampseed voor hoofregter Mogoeng Mogoeng afneem. Foto: Felix Dlangamandla

Hulle het ook nou ’n vernuwende ledestelsel, lys hy, ’n verkiesings- en ’n integriteitskomitee.

“Ek dink ons doen goeie werk. Dis net, soms raak die besluite lost in translation wanneer dit aan die publiek gekommunikeer word.”

Wat kan verlore raak in die woorde “staan opsy” behalwe om opsy te staan?

“Ja, soos ek sê, die besluite raak lost in translation. Maar die besluit is op die vergadering geneem dat wie ook al sulke uitdagings het, moet opsy staan. Geen onduidelikheid daaroor nie.”

En so raak alles lost in translation.

Hy is dalk ’n jeugdige 37 in ’n bruin Tiger of Sweden-pak en Louis Vuitton-skoene, maar die agbare minister gooi flink die ANC-speak.

Soos Humpty Dumpty vir Alice in Wonderland gesê het: “As ek ’n woord gebruik, beteken dit presies dit wat ek wil hê dit moet beteken.”

En so raak alles lost in translation.

In die debakel oor die ondersoek na die openbare beskermer het Magashule ’n direkte opdrag van die leierskorps van sy party geminag.

Ronald Lamola toe hy in 2018 sy tweede meestersgraad in ekstraktiewe reg aan die Universiteit van Pretoria verwerf het. Sy eerste meestersgraad, ’n LLM in korporatiewe reg, het hy in 2014 ook aan die Universiteit van Pretoria behaal. Foto: Verskaf

“Hy was heeltemal out of line. Die ANC-strukture sal in die toekoms besluit hoe om dié dinge te hanteer.”

As daar gepraat word oor toekomstige ANC-leiers, duik sy naam gereeld op. Ná Jackson Mthembu se dood is selfs bespiegel dat Lamola hom as minister in die presidensie gaan opvolg.

“Dis vir die president om dit te besluit,” systap hy. “Minister Mthembu het my soms gevra om vir hom in te staan. Ek probeer maar net ’n positiewe bydrae maak.”

Met die departement van justisie wat ná twee jaar onder Lamola dreig om ineen te stort, het die minister in elk geval oorgenoeg op hande.

“Ons stel nou senior amptenare aan om ons met probleemareas te help.”

Die agteruitgang in sy departement kom al tien jaar, benadruk hy. Hulle probeer dit nou “hanteer” en die departement “herposisioneer met verskeie strategiese planne”.

“Ons stel nou senior amptenare aan om ons met probleemareas te help.”

Die chaotiese agterstand by die meesterskantore?

“Ons het reeds begin met modernisering en wil die proses verder versnel. Dis onverklaarbaar dat van die stelsels steeds met die hand gedoen word. Dit lei tot lang toue wat tydens Covid-19 ernstige gesondheidsrisiko’s inhou.”

In die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste het Shamila Batohi onlangs hotagter gekry oor die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se slakkegang-vordering in groot korrupsieondersoeke. Lamola het haar verdedig.

“Ek verstaan die publiek se ongeduld, maar hulle kan darem nou vordering sien. Die heropbouproses is soos om ’n vliegtuig te herstel terwyl hy in die lug is.”

En die gerugte dat Hermione Cronje, hoof van die NVG se ondersoekdirektoraat, dreig om te bedank?

“Ek sal dit nie wil bevestig of ontken nie. Maar wat ek wel sê is dat ons alles prakties moontlik doen om die NVG te ondersteun.”

Die botsing van belange wat nou opgeduik het met Steinhoff wat R30 miljoen aan die ouditfirma PwC betaal om die bedrogondersoek teen hulself namens die Valke te doen, is volgens Lamola kommerwekkend. “Dis hoekom ek die NVG gevra het om te verduidelik presies wat dié reël­ing behels. Die nodige voorsorgmaat­reëls is ingestel om te keer dat die ondersoek gekompromitteer word. ’n Belangebotsing is nie noodwendig die geval nie, maar dis die indruk, en dis wat hierdie reëling vir my problematies maak.

“Ek dink die samestelling van die RDK is briljant. Die politici sorg vir balans. Dis ’n platform vir ’n kruisbestuiwing van idees.”

“Onder die omstandighede is dit egter nou die mees praktiese oplossing.”

Oor die ondersoek na die openbare beskermer weerhou hy kommentaar. Ook oor hoekom die president haar nie skors nie. “Dis nie my mandaat om daaroor te praat nie.”

En die krisis wat regter John Hlophe al jare veroorsaak in die Kaapse balie?

“As lid van die regterlike dienstekommissie (RDK) mag ek nie kommentaar lewer nie.”

Bekommer Malema se verpolitisering van die RDK hom? Hulle neem immers ’n ampseed om die Grondwet te dien, nie ’n politieke party nie?

Geen kommentaar. Behalwe: “Ek dink die samestelling van die RDK is briljant. Die politici sorg vir balans. Dis ’n platform vir ’n kruisbestuiwing van idees.”

Oor Hlophe en hoofregter Mogoeng Mogoeng wat daarvan beskuldig word dat hulle die regbank skaad deur hul openbare uitsprake? “Geen kommentaar.”

En so raak ons lost in translation.

Behalwe as hy begin praat oor die regbank. Dan raak hierdie regsman geïnspireerd woedend vir Malema en Zuma wat dit durf aanval.

“Hulle kom met samesweringsteorieë sonder bewyse, sonder om dié wat hulle beswadder kans te gee om daarop te reageer.

“Daar’s niks verkeerd met kritiek op die regbank nie, akademici en regters kritiseer gereeld hofuitsprake, maar dis nie persoonlike aanvalle op regters nie. ’n Aftakeling van die regbank kan die oppergesag van die reg in duie laat stort en die land tot anargie lei.”

En, druk ek ’n laaste vraag in, bekommer Ronald Ozzy Lamola hom nie oor die waarskuwings deur swaargewigte soos Joel Netshitenzhe van ’n “onvermydelike” skeuring in die ANC nie?

Eers ’n laggie oor ek sy middelnaam noem. “Ek het my pa al honderd keer gevra waar hy aan Ozzy gekom het, ek kry geen antwoord nie!”

Dan spring die lojale kader weer op aandag.

“Daar was al soveel voorspellings van ons ineenstorting. En dan kom ons altyd uit ’n NUK-vergadering en gee rigting aan die ANC-koukus. Die ANC staan altyd op en beur vorentoe.”

Die ANC waaraan hy trou gesweer het as tienjarige in ’n plaaswerkershuisie toe hy grootoog saans geluister het hoe ’n nuwe demokrasie gebore word.

Ja, peins hy, die lewe is seker makliker vir ’n gewone prokureur op ’n bergfiets.

“Net: ek het hierdie roeping in my voel stu. Ons Grondwet is vanjaar ’n kwarteeu oud. Dit het die toets van die tyd veerkragtig deurstaan. Geen individu kan dit ondermyn nie.”

Hy trek sy asem diep in. Met sy groetwoorde is sy stem sommer ligter:

“Die Grondwet sal altyd heel bo uitkom as die oppergesag van die land.”

Hopelik raak dit nooit in ’n swetterjoel wysigingswetsontwerpe lost in translation nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.