Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Leeftyd van applous
Hanlie Retief gesels met Rouel Beukes
Vele gesigte van ’n opera-maestro: Van ‘Phantom’-ster tot trotse oupa.

Dis tyd om te groet, begin Suid-Afrika se beroemdste bas iewers op ’n lughawe in Taipei sy boodskap op Facebook:

“Alles moet tot ’n einde kom. Ek groet Asië en Phantom of the Opera. Julle was deel van my lewe vir die afgelope 16 jaar en byna 3 000 opvoerings. Daarvoor is ek so dankbaar . . .”

Rouel Beukes en sy vrou, Eureke, by die Negester-leefstyloord naby Bela-Bela. “Dis so na aan die hemel as kan kom,” sê hy. Foto: Elizabeth Sejake.

Van ’n Randfonteinse mynwerkerseuntjie wat verdomp net wou sport doen, maar deur die sangjuffrou gedwing is om koor te sing... tot ’n sangloopbaan wat vier dekades oor kontinente gestrek het.

Hy het die Phantom-wêreldtoergroep ná twee ononderbroke toerjare aan die einde van hul konsertreeks in Taiwan verlaat.

Die groep is Sjanghai toe, Rouel se vliegkaartjie het gesê: Johannesburg.

Vir ’n opspraakwekkender laaste encore vroeg in Desember kon Rouel nie vra nie.

Ek het daar afgestap met so ’n vol gemoed...

“Met Phantom se afskeidsaand in Taipei het hulle ons gevra om vir ’n foto op die verhoog te bly, met ons rug na die gehoor gedraai. Wat hulle nie vir ons gesê het nie, is dat hulle die ouditorium met sy 6 000 mense se ligte verdoof het, en vooraf met die gehoor gereël het om hul selfoonliggies aan te sit. Toe ons terugdraai na die gehoor vir ons finale buiging, sien ons in hierdie pikdonkerte 6 000 liggies. Dit was tjoepstil. Niemand het hande geklap nie, niks, hulle het net daar met die liggies gestaan. Ek het in trane uitgebars. My laaste Phantom-oomblik. Hoe kan jy jou loopbaan beter afsluit as met so ’n gesig!

“Ek het daar afgestap met so ’n vol gemoed, soveel emosie in my, ek kan dit amper nie vir mense beskryf nie.”

Jy hoor nostalgie in daardie basstem as hy skielik van ’n ander finale gordynsak onthou, die laaste opera wat in die Staatsteater uitgevoer is. Dit was in 2000 en die einde van ’n goue era vir opera en ballet in Suid-Afrika.

“Ek was in die heel eerste opera in die Staatsteater en 23 jaar later in dié heel, heel laaste een. Ek mis opera met ’n passie en ons het daarna weer uitvoerings gehad, maar dit was net nooit weer dieselfde as in die gloriedae met die streeksrade, Truk, Sukovs, Kruik en Naruk nie.

“Ek kon met die beste dirigente en oorsese sangers werk, want hulle het die geld gehad om die sterre Suid-Afrika toe te lok.”

Rouel Beukes en sy dogter Nadia poseer vir Leef-tydskrif. Foto: Verskaf

Rouel het verskeie oorsese aanbiedings gehad. “Maar ek is maar ’n boerseun. Ek kom uit ’n hegte familie en ek het nie kans gesien vir ’n alleenlewe nie. ’n Groot persentasie van my kollegas wat daai jare beter lewens in Europa gaan soek het, het wonderlike loopbane, maar hulle is geskei en alleenlopers. Dit word ’n ongelooflike eensame lewe.”

En nou is Rouel se tasse weggepak. Die lae F wat hy so moeiteloos uit sy stemkas kan haal, lê laag. “Maar ek hoop om nog baie in Suid-Afrika op te tree.”

Hy en sy vrou, Eureke, het drie jaar gelede ’n huis by Negester, ’n bosveld-leefstyloord naby Bela-Bela, gekoop. Nou sien Rouel aand ná aand die rooi sonsondergange.

“Covid-19 was die finale strooi vir my. Ek kon nie langer hierdie reislewe doen nie."

“Letterlik 20 treë van ons grensdraad loop die kameelperde en sebras. Gister was dit weer so kostelik, ’n njala het ’n kleintjie gekry en die kleintjie só vertroetel en versorg. Jy sit ure en kyk na die dingetjie! Dis ongelooflik idillies.”

En ligjare van 2020 se hotelkamers in Asië waarin hy vir weke aaneen moes afsonder. ’n Mens kan ook net soveel reekse kyk, legkaarte pak en boeke lees.

“Covid-19 was die finale strooi vir my. Ek kon nie langer hierdie reislewe doen nie. In elk geval wil my lyf ook nie meer nie. Mense sê altyd: Rouel, jy werk mos nou nie eintlik nie, jy staan net en sing. Ha! Die kostuums wat jy dra weeg ’n ton, jy skuif swaar teaterstukke op die verhoog rond en ’n gewigtige sopraan sit op jou skoot.

“Tydens ’n opvoering van Die Huwelik van Figaro in die Staatsteater. Ek sing die rol van dr. Bartolo.” Foto: Verskaf
“If I were a rich man . . .” Rouel as Tevye die arm melkman in die musiekspel Fiddler on the Roof.

“In Rigoletto, byvoorbeeld, moet jy ’n sopraan wat 200 kg weeg optel en haar gaan neersit, dit breek jou liggaam. Ek het al ligamente geskeur, ’n knieoperasie en drie operasies vir diafragmabreuke gehad as gevolg van die verhoog.”

In sy 16 Phantom-jare het Rouel verskeie rolle gespeel, soos Monsieur Buquet, “ ’n ou tatty karakter – jy moet jou verbeel jy is een van die ouens wat deur ’n gat in die muur loer hoe die balletmeisies hul tutu’s uittrek. In die eerste bedryf word hy opgehang en dan is my ou rolletjie daarmee heen. Maar ons is net twee basse in die ensemble, so dis baie sing met sewe kostuumveranderings in ’n aand.”

Phantom het op die regte tyd in sy lewe gekom, net nadat Truk sy deure toegemaak het. “Dit was nogal ’n gatslag vir almal om net een aand, nadat die gordyn gesak het – jy het nog die adrenalien en applous in jou ore – by die direkteur te hoor dis laaste opvoering wat die Staatsteater aangebied het.”

“En toe, op ’n dag, bel Pieter Toerien met die nuus hulle gaan Phantom doen en hulle soek ’n bas wat die lae F kan sing én hou."

Rouel was 48. Hy het ’n kursus in ekotoerisme gedoen en ’n professionele jagter, toer- en veldgids geword. Tussendeur het hy CD’s uitgereik en toneel gespeel.

“En toe, op ’n dag, bel Pieter Toerien met die nuus hulle gaan Phantom doen en hulle soek ’n bas wat die lae F kan sing én hou. Die lae F is omtrent . . .” Hy begin lag. “ ’n Wildvreemde man het eendag na my kleedkamer toe gekom en gesê, jissie jy sing so laag, jou asem stink seker permanent. Tot vandag toe weet ek nie of hy ernstig was of ’n grappie gemaak het nie!”

Toe ’n internasionale Phantom-geselskap uit ’n klomp lande se sangers gekies is, was Rouel een van die uitverkorenes.

Suid-Afrika se operasangers is groot sterre in Europa, vertel hy, terwyl hulle in Suid-Afrika bykans onbekend is. “Ons het soveel talent.”

“My gesin. Elizma (skoondogter) en De Villiers (my seun) met hul dogtertjie Amelia, my vrou Eureke, ek, my dogter Nadia en Dave, my skoonseun met Davey. Nadia se tweede seuntjie was toe nog nie gebore nie. Foto: Verskaf

Hy kon elke keer vir ’n paar maande huis toe kom wanneer die produksie na ’n volgende stad skuif. “Dis ’n massiewe produksie, meer as 35 skeepsvraghouers moet verskuif word. Met die laaste toer het ons nuwe vervaardigers die stelle ligter en makliker vervoerbaar gemaak. Hulle het ons New York toe gevlieg net vir twee uur se kostuumpassings. Die ligter stelle het tot gevolg dat ons vir twee jaar ononderbroke kon toer. My vrou het toe vir ’n ruk by my aangesluit, maar voor die inperking teruggekeer.”

Tydens sy kwarantyne in Asië het sy dogter Nadia, die aktrise van Getroud met rugby-faam, voorgestel dat hy kinderrympies skryf. “Ek het in my jonger dae gedig, en toe ek eers wegspring, het ek dit geweldig geniet. My kleinkinders en hul maatjies is mal daaroor en die ding het nou so ontplof, Nadia het al ’n illustreerder én ’n uitgewer gereël. Daar’s planne dat ek dit in ’n oudioboek voorlees, kan jy glo.”

Rouel sê altyd hy het skreeuende in die wêreld gekom. Hy het in sy eerste operette, Repelsteeltjie, in gr. 1 gesing. “Ek kon maar net nog altyd sing, sonder ’n dag se sangles. Maar toe word die seunsopraan ewe skielik ’n bas en almal spot jou, die klein mannetjie met die diep stem. En dan raak jy stil, vreeslik selfbewus.

Op die aand van sy operadebuut in Nabucco, 12 April 1978, is sy pa oorlede.

“Ek was in st. 9 toe die skool met ’n koor begin. Ons moes in ’n ry staan en die skoollied sing, dan loop die sangjuffrou en luister van kind tot kind. Ek is aan die bors uitgepluk en gesê: Jy sal sing!

“Kort daarna het sy my ingeskryf vir ’n groot kunswedstryd. Dit het heeltemal teen my ingedruis, want ek was ’n sportman.

“PJ Lemmer was die beoordelaar. Hy sê: ‘Gaan jy dié ding sing? ‘Helderus’ is nie maklik nie, maar kom ons kyk nou maar wat jy met die ding kan doen.’ Half ongeskik, jy weet. En toe ek klaar is, staan hy op en gee my ’n staande ovasie. Dit was die begin van my loopbaan.”

“’n Blaaskans tussen ’n produksieskuif van een land na ’n ander. Hier is ek op Lombok-eiland in Indonesië.” Foto: Verskaf
“Ek bond bietjie met Davey, my kleinseun.” Dis vir hom goed om verhoudings “heel te kon hou”. Foto’s: Verskaf

Op die aand van sy operadebuut in Nabucco, 12 April 1978, is sy pa oorlede. “Hy was nog in die gehoor en ek het sy program vir hom geteken. En toe is hy huis toe, waar hy gesterf het.

“Hy was maar 47, en lank siek gewees. Ons het geweet die einde is naby, maar dit was asof hy gewag het . . . skuus, ek raak emosioneel as ek daaroor praat . . . om my op daardie verhoog te sien. My ouers was baie lief vir opera, en ek dink hulle het altyd gehoop ek sal dit maak op die operaverhoog. En toe sien hy my daardie aand en besef: Nou kan ek maar sterwe.

“1978 was ’n dramatiese, emosionele jaar vir my. Drie dae vroeër, op 9 April, het ek en Eureke verloof geraak, ons is in Oktober getroud en dis nou al 44 jaar later.”

Hy brul van die lag. ’n Leeubrul.

En hoe klink hy vir homself?

Hy brul van die lag. ’n Leeubrul.

Nooit ooit luister hierdie beleë bas na homself nie, elke aand stap hy van die verhoog af en dink: nee kyk, vanaand was nie my beste nie. Hy het tien ander ore nodig om vir hom te sê: Ja, mooi.

“En dan sê ek steeds: Jy lieg, julle is almal te bang om vir my te sê ek kan daai en daai beter doen!”

“Ek en my vrou Eureke by Universal Studios in Singapoer.”

Maar jy probeer altyd, altyd beter, selfs op ’n Sondagmiddagkonsert ná sewe opvoerings daardie selfde naweek. Dís die dissipline wat hom ingeboesem is in sy opleiding in Duitsland en Italië waar hy maande lank onder operameesters repertoriums ingestudeer het.

“ ’n Tannie by ’n ouetehuis het vir my kom sê sy draai haar sente om, maar elke maand sit sy ’n geldjie weg om een keer ’n jaar opera toe te gaan. Dis vir haar wat jy jou beste gee. En jy weet nooit wanneer sy in die gehoor is nie.

“Baie keer repeteer ons en dinge wil net nie in plek val nie. Jy raak mismoedig en voel jy kan dit nie doen nie. En met die eerste kleedrepetisie klim jy in daai kostuum en sit jou grimering aan en stap op die verhoog en die dekor is om jou en hier is die orkes en ewe skielik is die legkaart voltooi en dis asof daar ’n totale omskakeling in jouself, jou wése, gebeur. Jy is dáár. Dit is eintlik die lekker van op die verhoog wees. En aan die einde van die aand, die applous.”

Jy hoor die wonder in sy stem, jy ruik dit amper, poeierige harpuisgeheime, agter-die-verhoog-wêreld van grimering en pruike en drome.

Jy hoor die wonder in sy stem, jy ruik dit amper, poeierige harpuisgeheime, agter-die-verhoog-wêreld van grimering en pruike en drome.

Om 42 jaar later terug te keer huis toe na ’n gesin, om verhoudings so héél te kon hou, terug te keer na kleinkinders vir wie jy rympies tydens inperking in Seoul geskryf het . . .

Applous vir Rouel Beukes.

“Met Davey se doop. My seun De Villiers, Davey in my arms en Dave. Hulle lyk baie na mekaar. Kon broers gewees het.” Foto: Verskaf
“’n Bietjie Duitsland in Taipei.” Foto: Verskaf
Rouel se double. “Dis ’n pop wat soos ek lyk en wat opgehang word deur die Phantom aan die einde van die eerste bedryf.”
Rouel se twee aantrekkers in Singapoer. Hy is in die mondering van Tweedle Dum in Phantom se maskerbaltoneel.
“Sestien jaar van my lewe.” Foto: Verskaf
Tydens ’n opvoering van Die huwelik van Figaro in die Staatsteater. Hier sing Rouel die rol van dr. Bartolo.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.