Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met Schalk Bezuidenhout
Doepa teen die kwarantyn-pyn

En daar vang Schalkie ’n dip op Dag 12.

“Lockdown 2020, in ’n woonstel iewers in Linden. Ek, Otis, ons babahondjie, en my verloofde, Mica (McKechnie), wat wegduik as ek die kamera in haar rigting draai.”

In sy lockdown-video’s op Facebook en Instagram gee die komediant Schalk Bezuidenhout tydens die inperking soggens met oggendkoffie die amper 90 000 mense wat hom volg ’n humordoepa teen die kwarantyn-pyn.

Op Dag 12 tref ons hom aan in sy kar. Hare wilder as die Wildtuin. Die kar gaan nêrens, net Schalk is in ’n dip.

Wat kan hy sê, mense, dis normaal. Hy was Mr Positive, maar die inperking is soos die sewe fases van rou – eers opwinding, dan verveling, dan cabin fever, dan . . .

Slaat die president ons met Seisoen 2.

“Kyk, die lewe gooi jou curve balls. Dis soos om iemand op skool te ontmoet en jy begin beplan aan jou troue, jy sny foto’s uit die Huisgenoot en twee weke later los sy jou op BBM. Dan adjust jy net en die volgende dag hou jy iemand anders se hand vas agter die snoepie. F*kken vát só, Christine!”

Dis nou die fase van cabin fever.

Sy flat in Linden het kleiner begin voel “as daardie f*kken sjokolademoussies van Woolies. Met ’n teelepel is dit drie happe, dis soos ’n magic trick in ’n plastiekhouertjie. Ek het drie van hulle gekoop op my shop run Saterdag en die eerste een in drie sekondes geëet, toe savour ek die ander twee en eet dit met ’n tandestokkie, lek dit af soos ’n babakatjie.”

En toe gaan sit Schalk maar in sy kar.

Wie sou kon dink alkohol en sigarette is die nuwe renosterhoring?

“Sjoeg, ek weet nie of ander dit al gedoen het nie – in die kar gaan sit – maar mense, dit het gevoel asof ek van bo af na myself kyk en dink: dis seker die sadste, depressiefste ding wat ek nog ooit gedoen het. Daar was ’n briesie en ek het die venster afgerol en bietjie die wind in my hare gevoel. Toe sit ek die radio aan, net vir ’n gevoel van normaliteit, en ek ry die oprit af en weer terug en parkeer maar. En besluit: Kom ek doen dit weer en reverse hom dié keer in . . .”

Wie sou kon dink alkohol en sigarette is die nuwe renosterhoring? Mense smokkel dit soos perlemoen. “Anderdag het ek op Google uitgehang met ’n klomp komediante, en die een sê oh man, ek weet nie wat ek gaan doen nie, ek is uit ghwaaiz, en die ander ou sê: ek ken ’n ou, hy lewer af met sy Vespa, bel hom op ’n private nommer, noem hom Smoking Falcon. Dis hierdie 007 mission. Mense sal altyd ’n manier kry, soos om Engen-garage toe te ry en ’n Stuyvesant-pannekoek te bestel, as jy die pannekoek ooprol, lê daar ’n pakkie 20’s.”

Schalk het een van daai waterhouers wat jy in hamsterhokkies kry, die hamsters vat mos sulke sjoep-sjoep-suigies daaraan, sjoep-sjoep-sjoep. “Ek het een permanent vasgesellotape aan my gesig, vol rooiwyn, sjoep-sjoep heeltyd.”

En hoe vreemd is dit nie nou om in die winkels rond te loop nie.

“Wees positief mense, en as jy nie is nie, is dit ook 100% oukei.”

“Dit voel asof jy ’n action star is in ’n zombiefliek. Ek was nog altyd ’n fan van The Walking Dead, dit voel of 90% van Linden deur die zombies geëet is en die paar wat oor is, shop in Woolies en almal groet mekaar met sulke oog movements en dis baie nice om te sien jý lewe nog.”

Toe die wêreld nog normaal was, lank gelede, drie weke terug, was Schalk omtrent elke aand op ’n ander verhoog. En toe die inperking kom, het hy besluit, stand up is sy ding, kom ek doen wat ek doen, uit my woonstel, en laat mense lag, of ten minste glimlag.

“Ek kyk soggens die nuuskanale saam met my oggendkoffie en dis regtig net doom en gloom. My video’tjies is elke oggend ’n mini five-minute stand up-sessie. Ek is seker maar een van vier, vyf ander video’s waarna mense soggens kyk, mense het nou ’n groot behoefte aan humor en komedie.’’

So, daar’s nou ’n roetine. Schalk vat soggens 06:00 vir Otis, hul babahondjie, uit vir ’n piepie, en terwyl Otis sy ding doen, staan Schalk op die natgedoude gras en dink sy volgende kwarantynvideo uit.

“En dan gooi ek net. Die snaaksste dele kom eintlik maar as ek die kamera aansit en rol. Die kans is 90% dat die dinge wat ek tydens inperking deurgaan, jý ook deurgaan.

“Soos hoekom bak almal tydens lockdown piesangbrood? Ek ken jou Stefan, ek het saam met jou gebly op ’n stadium, jy kon nie eens ’n broodjie toast nie, nou loop jy in die kombuis rond soos Gordon Ramsay en skree op jou ma . . .

“Vanoggend het ek gepraat oor hoe ’n mens ná twee weke skielik dinge begin ontdek in jou huis. Wáár is daai ou foto, waar wás hierdie T-shirt al die jare! Ek het nou die dag my arme ma uitgek*k oor sy my flippen favourite T-shirt weggegooi het, en hier kry ek hom onder ’n klomp ander T-shirts.”

Dag 6, toe hy besluit het hy dra sy internasionale hemp, in solidariteit met al die mense in die wye wêreld.

Tussendeur post hy video’s wat sy ma vir hom aanstuur. Jy sien so ’n panoramaskoot van sy ouers se tuin in Kempton Park met sy pa wat sit en ontbyt eet op die stoep.

“Dis goed waarmee mense kan re­late. Dis anyway vir my baie snaakser as enige van my eie video’s. Dis so lekker om te sien hoe mense daarop reageer en posts van húl ma’s stuur wat video’s van húl tuine aanstuur of foto’s van hul pa’s wat ontbyt eet.”

Schalk was nog maar altyd die drama-outjie.

Sy ma het hom aan die Laerskool Kruinsig ingeskryf vir elke item op kunswedstryde. “Sy het seker gedink ek gaan in die annale opgeneem word as die enigste persoon wat elke liewe ding gedoen het. Ek was tien teen een! Selfs Zoeloe-gedigte. En dan gaan staan ek daar en sê my Zoeloe-gedig op en spreek natuurlik alles verkeerd uit en die Zoeloekinders wil hulself doodlag. I went to my grandfather het seker geword I went to my elephant.”

As iemand drie weke gelede vir hom sou gesê het hy gaan regstreekse aanlyn vertonings hou, sou hy gesê het nee dankie, dit klink aaklig. Hoekom kies om voor my laptop op te tree met ’n gehoor wat jy nie kan sien of hoor nie.

“Maar hei, dis lekker, ná lockdown wil ek aanhou daarmee, want ek sal nooit anders uitkom by die tien mense wat in Viëtnam na my aanlyn show kyk nie.

“Jy koop net een R50-kaartjie per huishouding, dis eintlik rêrig cheap. Aanlyn shows kom met ’n ander stel uitdagings, die vrou wat dit vir my doen sê die sites moet praat met mekaar, hulle moet f*kken gesels, pappie. Dis maar ’n duur storie, maar ons breek darem gelyk.”

Die lekkerte van als, die shows laat mense ’n bietjie bymekaar voel.

“Hulle laat weet my: Ek kyk in Spanje, en my ouers kyk in Bloemfontein, en dan sit ons ons fone op FaceTime en kuier met mekaar terwyl ons kyk, dit voel asof ons by dieselfde show is. Dis nogal special om mense so te kan connect. Of hulle reël met hul vriende dates, op die een laptop is my show en op die ander een is hul vriende op Zoom.

“Al gaan korona môre maan toe, ons wêreld is nou net altyd anders.’’

Mense dink dikwels komediante is daarop uit om mense kwaad te maak, sê Schalk. “Dis glad nie my bedoeling nie, ek haat dit as dit gebeur.” Uit die sowat 700 kommentare elke dag op sy video’s, is daar so dan en wan ’n belediging, iemand “wat sê ek’s ’n poephol, maar hei, dis deel van die game”.

Schalk was jare lank deel van Trevor Noah se voorprogram. Hy is ’n groot aanhanger van Noah. “Min komediante skryf so baie soos hy. Hy gee baie om vir die bevordering van jong talent. Hy het nie nodig om ’n voorprogram te hê nie, die mense is klaar opgewarm vir hom. By die Teatro in Montecasino, destyds, cheer hulle hom, hulle wag vir hom, en dan stap ek daar op, en só het hy my die geleentheid gegee om voor 800 mense te kan optree. Dit het wondere vir my loopbaan gedoen.”

Maar Casper de Vries sal altyd Schalk se Godfather van alternatiewe Afrikaanse komedie wees.

“Ons was baie gelukkig, ons showSchalk en Cassie hou konsert het die legendary Spier-amfiteater op die Woordfees heeltemal volgemaak. Casper was daai aand só in sy element. Hy verras my altyd met nuwe goed, en ek het só vir hom gelag, ek moes myself knyp en sê oh my word, ek tree actually op saam met hierdie ou.

“Toe ek agt, nege jaar oud was, het ek altyd Die Casper Rasper Show by my vriend Christoff gaan kyk. En dan loop sy ma verby met so ’n stoute glimlag, want sy weet ons is nie eintlik veronderstel om dit te kyk nie, met al die vloekwoorde, maar sy laat ons toe, want sy kan sien ons geniet dit so.

“Ek was so 11, toe begin my ma my na sy shows by Emperor’s Palace vat. Ek was by verre die jongste kind daar, en ek sou jou nie geglo het as jy toe vir my sê ek sal eendag saam met hom werk nie.

“Tolla-hulle is die vaders van Afrikaanse komedie, maar in alternatiewe Afrikaanse komedie was Casper die baanbreker. Wie weet of dit moontlik vir my en iemand soos Radio Raps sou gewees het as dit nie vir Casper was nie.’’

Stay sane, mense,” sê Schalk op Dag 15. “Ek sien op Facebook en Instagram julle begin k*k aanvang, julle gee julself hierdie makeovers. Stop! Los jou kop! Lockdown gaan eindig en dan daag jy daar by die braai op met ’n mohawk, bliksem Chrizelda, wat gaan daar aan, jy lyk soos ’n palissade.

“En party dye hul hare blou, pienk, lekker Avril Lavigne, maar jy ry ’n Fortuner en jy het drie yorkies by die huis, nou ry jy shops toe en head bang op RSG . . .”

Elke oggend begin hy sy lockdown­video met ’n glimlag en ’n hei everyone, feeling good, feeling positive, en almal kry hul sjoep-sjoep-Schalkie-fix. Die tannies laat weet: Oe, boetie, jy’s ’n tonic!

En Schalk se lockdown-raad vir homself? Om hom uit daai dips en die karsittery te hou?

“Ek kan maar net ’n ander komediant se woorde herhaal: Hei mense, as ons nie lag nie, huil ons.”

Meer oor:  Schalk Bezuidenhout  |  Koronavirus  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.