Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Een bittere seer dag op ’n slag’
Hanlie Retief gesels met Sharief Jaffer
‘Issie maklik nie,” breek Sharief Jaffer stukkend toe ek hom vra hoe hy dit uithou. Yasmin, sy eggenoot van 47 huweliksjare, en hul oudste dogter is minder as twee weke uit mekaar oorlede.


“Issie maklik nie,” breek Sharief Jaffer stukkend toe ek hom vra hoe hy dit uithou.

Yasmin, sy eggenoot van 47 huweliksjare, en hul oudste dogter is minder as twee weke uit mekaar oorlede.

Op 3 Januarie het Covid-19 vir Yasmin kom haal. Net 12 dae later was dit Sharmilah se beurt. “I’m taking it a day at a time. Dis baie, baie seer,” stroom die vertel soos sy trane.

“Nog nooit het ek in my lewe gehuil nie, my ma het doodgegaan, my pa, my broer, ek was hard, maar nou, man, ek wetie hoekom nie, ek kan nie ophou huil nie. Dis nou al droë trane.

“My dogter moes getrou het die 10de Jannewarie, verlede Sondag. Ons het dit toe agteruit gesit, want die dogter het gesê sy kan nie trou sonner haar ma nie,” ruk sy lyf.

“Op 3 Januarie het ek my vrou, Yasmin, verloor aan Covid-19, en op 15 Januarie my oudste dogter, Sharmilah. Vir 25 jaar het ek as Rapport se fotograaf mense se hartseer en blydskap afgeneem. Nou het die hartseer mý.” Foto: Edrea du Toit

Elke keer as die huil kom, trek sy skouers na mekaar toe en sy kop sak tussen die skouerblaaie in. In die vrieskas is daar nog samoesas wat sy vrou gemaak het, “wat net afgebak moet word”.

Yasmin se heel laastes. As besoekers kom, gee Sharief vir hulle die koekies wat Sharmilah gebak het, ronde klapperkoekies en sulke Kersfeeskoekies in ’n blaarvorm.

“Háár laastes.

”Die besoekers sit liewerster buitekant.

“Ons is geworrie, ons wil nie siek raak nie. Dis ’n vreeslike siekte. Ek is al 68, onthou.

“In 35 jaar as fotograaf by die koerante het ek die wêreld gesien, Indië, Australië, Egipte en Europa. In my werk het ek beroemde mense soos prinses Diana, Mandela, Michael Jackson en Boris Becker ontmoet. Ek het sport, modelle, helde en skurke afgeneem, met my kamera het ek mense se blydskap en hartseer afgeneem.

“Maar niks?.?.?. ” sy stem breek, “níks kon my voorberei vir die hartseer om my vrou en dogter te verloor nie. Vir amper 50 jaar was Yasmin aan my sy. Ons was saam Mekka toe, en sy was my beste vriend. Ek moet nou van voor af leer om my lewe aan te pas sonder Yasmin. Gelukkig het ek ses kleinkinders om my besig te hou, waarvan drie Sharmilah s’n is. Hulle het hul ma en ouma verloor.

“My dogter was maar 45. Forty five! Sy’s ’n lecturer by UCT in dietetics, ’n  dietician. Jy moet sien die mooi goed wat die studente van haar op Facebook gesê het.

“My seun Zaheer is 44. En die laatlam, nie heeltemal nie, maar sy’s 39, se naam is Radiyah. Hulle het almal goeie jobs, Zaheer het in ’n stadium gewerk vir Media24 en MWeb, Radiyah werk vir Lufthansa, met ’n hele team girls onder haar.

“Sy sou nou Sondag getrou het, toe sê sy, hoe kan ek sónner mý má?.?.?.” kom die rou snikke weer.

“Hulle twee het saam geshop vir die troue. My vrou het ’n spesiale rok laat maak, ek en sy het nog saam die material gaan koop. Toe wil sy hê moet kies watter kleur, so ’n creamerige colour, ’n biscuit colour, verstaan jy?

“Die celebration is nou ’n sad occasion. ’n Troue het twee begrafnisse geword.

“Sharmilah het drie kinders, een seun van agt, nog een van 16 en die oudste dogter, Ameerah, doen haar doktorsgraad.

“Toe Ameerah die stukkie hoor van haar ma wat nou dood is, toe hardloop sy hier by my huis in, hulle bly langs ons, en skree ‘my mother just passed away how can I go and study further I don’t have a mother’

.“En die kleintjie! Ek het hom gevra, ‘Sondag, are you orraait’, toe sê hy ‘I know my mommy is dead, I am very sad, but I don’t know how to cry’.

“In die ou dae het hulle altyd gesê dis nooit ’n ouer wat sy kind begrawe nie?.?.?.

“En my dogter gaan mos nou moet trek na die skoonmense se plekkie wat hulle vir haar gaan opdoen, dan gaan daar niks vroumense in die twee huise wees nie.“Ek gaan alleen agterbly.

“Tussen 1978 en 1983 was ek vir Rapport-Ekstra in drie liefdesdrama-storybooks. Ek het ook modelwerk gedoen vir Rex Trueform en Woolworths.” Foto: Verskaf
“Toe Yasmin hoor ek doen modelwerk het sy lekker gebrag by haar vriendinne oor haar model-boyfriend.” Foto: Verskaf
“In een van Rapport-Ekstra se storybooks was ek in ’n love triangle, nogals, twee meisies het my gesmaak. Maggie Meyer staan links, sy het my gister gebel om te sê sy dink aan ons. Regs is Isherene Ahmed. Check my figure!” Foto: Verskaf

“Maar onse Allah has written that. And it is not easy.”

Vir ’n paar oomblikke bly hy stil, halt die hartseerstroom. Al wat jy hoor is diep slukke asem.Sharief is deel van die Rapport-familie. Hy en ek het al menige storie saam gedoen, van PW Botha se heel laaste onderhoud, tien dae voor sy dood, tot Taliep Petersen se laaste onderhoud kort voor sý dood.

Hy het in 2003 ’n Mondi-prys gekry, een van talle erkennings in sy loopbaan. Hy is ’n meester, ’n Kaapse legende. Met die sjef Margot Janse in Franschhoek, toe die kombuis vir hom te vervelig was, het hy haar net daar met sy Sharief-smaail brandewyn in ’n pan laat gooi, ’n vuurhoutjie getrek en toe kry hy vlamme, glimlagte en ’n trefferfoto.

“Onthóú jy?.?.?.” En dan breek die grou wolke en die ou Sharief kom deur, dan lag hy die lag wat ons ken.

“Die slegste storie wat ek ooit gedoen het, was die Station Strangler, ek en Lynette Francis het saam met die polisie die bodies van die kinders gekry. Enne ek was destyds een van net agt fotograwe wat Mandela op Robbeneiland kon gaan afneem. Net een kon sy sel ingaan, toe stem die fotograwe vir my. Vir mý! Mandela vra my naam en sê: Is jy seker jy’s nie Omar Sharif nie? Hy’t gehoor ek is van Rapport, toe praat hy Afrikaans met my. Van daai tyd af, altyd as hy in die Kaap kom: Hoe gaan dit met jou, Sharief? Kan jy dít glo van ’n ou man.

“Ek en Trevor Manuel kom ook lang pad, ons was in st. 6 en 7 in dieselfde klas by Wesley Training College in Soutrivier. Hy was toe al heavy in die politics.

”Ná Ramadaan het Sharief altyd bokse vol koekies wat Yasmin vir die redaksie gebak het, kantoor toe gebring. Ná sy aftrede het hy nog steeds gereeld Saterdae Yasmin se “soet-en-sout”, samoesas of ’n pietjie en koesisters kom aflaai.

“Rapport was soos my huis. Ek het werk toe gegaan sesuur soggens, smirrae ná ses huis toe gegaan. Ná 25 jaar, toe die koerante saamsmelt, was ek picture editor van Media24 in die Kaap. Op 61, toe retire ek, ek het gedog I’ve had enough, als gedoen wat ek wou.

”Dan kombers die hartseer hom weer toe.

“Saam met Christiaan Kotze en oom Wessel Oosthuizen by ’n rugbywedstryd.” Christiaan: “Elke keer as ek Kaap toe gekom het, het Sharief en Yasmin aangedring dat ek by hulle oorbly. Altyd was daar ’n kamer reg vir my. En as ek land, was Sharief se eerste woorde: Yasmin het vir jou ’n snoek gekoop.”

“Ek en my vrou was die 25ste Desember by ’n troue, ek het die foto’s geneem, maar ná ’n uur is sy huis toe om in die kooi te gaan klim want haar bors het toegetrek, sy het asma. Die nebuliser wou nie help nie, toe kry ons ’n spesiale Covid-19-dokter, dr. Abass, wat vir haar twee injections en pille kom gee het. Sy’t die nag nie goed geslaap nie, en die dokter het die volgende dag gesê sy moet hospitaal toe. Die ambulans was ná ’n halfuur hier, maar ons het nege hospitale gebel voordat Melomed in Mitchells Plain haar kon vat. En daar het sy doodgegaan.

“Toe die ambulans haar hier wegvat, was onse hele familie in die straat. Ek het nog vir haar gesê wing (waai) vir die mense, en sy het en dis die laaste wat almal vir haar gesien het.

“Ek het net een keer in die sewe dae met haar gepraat. Toe sê sy sorry sy kan nie praat nie, haar bors trek toe. Moenie worry nie, stuur net vir ons ’n boodskap, sê ek. Toe sê sy sy is nie lus nie, sy voel nie lekker nie. So, sy het glad nie ’n boodskap of niks gestuur nie.

“Wee’ jy, voor haar was ek kwaai siek gewees met sware flu. Ek kry nooit sulke sware flu nie. Hulle’t my drie keer vir Covid-19 getoets, maar elke keer negatief.

“Elke dag as ons hospitaal toe bel, hoor ons sy’s stable of ’n kleine bietjie beter en dan weer bietjie slegter en so het dit aangegaan. Op die laaste dag: stable, maar dit lyk bietjie beter.

“Ten to eleven daai aand bel hulle en sê my vrou is afgesterwe. Ná twaalf bel hulle om te sê ek kan maar nou na die body gaan kyk,” sê hy en die droë snikke skiet los uit sy bors.

“Sy het ’n glimlag op haar gesig gehad. Ek is so bly vir daai glimlag.

“Ek en Yasmin saam met Marc Lottering by die Baxter-teater. Sy het van shows gehou en sy was mal oor Marc Lottering, en dis die enigste keer wat sy my gevra het om saam met iemand afgeneem te word. Sy was skamerig.” Foto: Verskaf

“Sharmilah is op 1 Januarie hospitaal toe, ook met double pneumonia en ’n asmabors, sy is ook diabetic. Lyk of sy dit by my vrou gekry het, want sy het in die kooi geklim by my vrou, net om langsaan haar te lê, verstaan jy. Maar ons het gedink sy staan ’n kans, sy was nog jonk, en sy’t nog orraait gelyk, want sy kon nog praat op pad hospitaal toe. Sy het ook hier in die straat vir die kinders mooi gewing en die kleintjie het terug gewing, maar die grotes het net gestaan en huil.

“Drie, vier dae later was sy ook op ’n ventilator soos haar ma.“Wat kan ek sê?.?.?.” kom sy stem wanhopig.

“Yasmin was maar 20 en ek 21 toe ons getrou het. Wil jy ons love story hoor?”

“Ek was ’n laaitie van 18, ek’t gewerk vir Cape Union Mart in Barrackstraat, en sy vir ABC Stores in Pleinstraat. Oorkant was Sugar & Spice wat lekkers en goete verkoop het. As ek teatime kry, hardloop ek net vinnig oor om vir my iets te koop, en dan sien sy vir my van haar winkel af en kom oorkant toe saam met ’n vriendin. Sy wou nie alleen gekom het nie,” begin hy lag en die geluk spring terug in hom.

“Dan sê die vriendin nou práát met hom, maar in die meantime is sy te skaam. Later begin ek toe na hul huis in Heideveld gaan, en eendag vra die pa: Weet jou pa en ma jy is hier? Nee. En hy sê baie strict: Maar nou gaan jy huis toe en sê vir jou pa jy sien ’n girl, en dan bring jy hulle saam.

“Sy het Saterdae Moslemskool gegaan, myne was in die week, en dan lieg sy vir haar daddy en ons twee gaan bioscope toe. Kyk hier, ek het nie geweet daai tyd wat is mooi en wat is lelik nie, maar sy was sort of sexy.

“Sy het agterna uitgevinne ek was ’n model vir Rex Trueform en Woolworths. Toe brag sy lekker oor haar model boyfriend.”Sharief was daai tyd al lief gewees vir foto’s.

“Rapport was vir my soos huis. Ek was elke oggend sesuur op kantoor en het ná ses smiddae eers huistoe gegaan.” Foto: Verskaf

“Ek het ’n ou kamera gehet, ’n Pentax Spotmatic by my pa gekry, en myself leer foto’s neem. Toe los ek die modelling daarvoor. Rapport het my gevra om deel te neem aan drie storybooks, en toe’s ek in ’n love triangle met twee meisies wat my smaak!”

Dan klim die hartseer weer terug, trek sy skouers ineen.

“Ek wil nie ’n ander vrou vat nie, nooit, sy sal nie Yasmin wees nie. Wee’ jy, as ons twee ons differences gehad het, het ons gesorg, soos my ouma my geleer het, om nooit kwaad te gaan slaap nie.

“Issie lekker nie?.?.?. twee grafte in twee weke.

“Onse Allah het dit so uitgesit vir ons en dis hoe dit gaan, een bittere seer dag op ’n slag.”

“Yasmin by Sharmillah en haar kinders, Ameerah (nou 20), Zaeem (nou 8) en Aneeq (nou 16). Foto: Verskaf
“Hier word ek 66. Min het ek geweet twee jaar later sou die hartseer ons kom slaan. Ek en die vroue in my lewe: Van links is Sharmilah, Ameerah, ekke, Radiyah en Yasmin langs my.”



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.