Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Deur diep waters . . . en reg vir Rio!
Hanlie Retief gesels met Zirk Botha
Voor hom was 7 000 km. Twee roeispane en twee arms al manier om daar uit te kom. Agter hom op die kaai het sy familie en vriende tranerig afskeid geneem.
“Ons was ’n klomp jong ouens vol avontuur en adrenalien. Hier is ek heel regs.” Foto: Verskaf

Voor hom was 7 000 km. Twee roeispane en twee arms al manier om daar uit te kom. Agter hom op die kaai het sy familie en vriende tranerig afskeid geneem.

Dertig uur later was hy terug by hulle.

Vraag: Hoe gebeur dit dat ’n vloot­offisier met 40 jaar se ondervinding van die oopsee binne sig van die land besluit hy sien nie kans vir die wye Atlantiese Oseaan nie?

Kommandeur (uitgetree) Zirk Botha brul van die lag.

Die lewe is óf ’n waaghalsige avontuur óf niks.

“Sodra die weer verander klim ek weer op my boot!

“Op die verste punt was ek so 18 seemyl weg, dis amper 40 km van die Kaapse hawe. ’n Simpel suidwestewind het my aanhou terugdruk kuslyn toe. Dit het naderhand gevoel asof Tafelberg my nie wil laat gaan nie!

“Die grapgatte op sosiale media het gespot: ‘O, enige manier om van jou vrou af weg te kom.’ En ná my terugdraai: ‘Jy het haar báie vinnig gemis, nè!’ ”

Zirk wag nou vir gunstiger winde om sy epiese roeitog na Rio de Janeiro aan te pak. Hy sal die eerste mens wees wat dié tog alleen aanpak.

Terwyl die weerpatrone tot volgende week deurmekaar is, trap hy spreekwoordelik water in ’n voorstedelike sitkamer in Constantia.

“Vir Kersfees op die boot het ek ’n vrugtekoek, ordentlik met brandewyn gelawe, ingepak. Nou, met die vertraging, het ek en my vriende besluit ons sal maar die vrugtekoek moet toets om te kyk of die brandewyn-plan gewerk het. Dit was heerlik! Sal nou maar ’n nuwe een moet dokter vir inpak . . .”

Zirk en sy beste pel, Louis du Plessis (links), duik kreef op 23.

“En ja,” lag hy vir my vraag, “ek het drié onderbroeke ingepak. Want onthou, ek kan dit binnekant buitekant dra, so eintlik het ek ses!”

Mense se reaksie op sy roeitog is meestal baie snaaks. “Party sê ag nee, jy is plein mal, maar voorspoed. My ou vlootkollegas en dié wat my ken uit my avontuursportdae sê: Zirk, dis reg in jou kraal, dit gaan fantasties wees.

“Ek is maar net ’n gewone ou, maar wat uitdagings betref was my lewenstyl nog altyd alternatief. In die vloot was ek ’n gevegsduiker, ek het al in die Himalaja gestap, met ’n motorfiets tot by die Epupa-waterval (aan die noordgrens van Namibië) getoer, maar nog niks só ‘mal’ nie.”

Massiewe golwe het ’n paar keer Wayne en Braam se roeiboot omgedop.

Almal wil weet of hy nie bang is vir groot vinne met lang tande nie, grinnik hy. “Haaie stel nie belang in ’n boot nie. En die Suid-Atlantiese Oseaan is, hartseer om te sê, sonder seelewe. Leeggevis, ’n waterwoestyn.

“Wayne Robertson en Braam Malherbe, wat dié roeitog in 2017 aangepak het, het net af en toe ’n albatros en dolfyne gesien, geen haaie of walvisse nie.”

Dié tweemanskap se grootste gevaar was reuse-olietenkskepe.

“Stel jou voor jy probeer wegroei vir ’n wolkekrabber-gebou op pad na jou piepklein bootjie toe.”

“Praktiese leierskapsopleiding tydens ons Adelbors-kursus in 1980. Ek sit voor in die middel. Foto: Verskaf

Massiewe golwe het ’n paar keer Wayne en Braam se roeiboot omgedop. Hulle was een keer vir vyf minute ondergedompel. Emosioneel was dit ook uitdagend, want vir 92 dae was dit net see, see, see, en lug, lug, lug. Wayne en Braam het mekaar afgewissel, terwyl Zirk elke dag 14 uur lank moet roei, 100 dae ter see.

Zirk sê droogweg hy beplan nie om nou dood te gaan nie, hy wil 110 jaar oud word.

“Om te leef is klaar ’n risiko. My boot is ontwerp met 11 waterdigte kompartemente om veilig te wees in stormweer. As die boot omrol, kom hy self weer regop.

“Ek het ’n opblaas-reddingsboot wat homself aktiveer en dadelik ’n noodsein uitstuur. Die naaste skip aan my kry dus dadelik die boodskap.

"Hulle sê die tweede week is die moeilikste, teen die derde week raak jy gewoond daaraan, en ná ’n maand is dit jou nuwe normaal."

“Ek is met ’n tou aan die boot vasgebind en dra heeltyd ’n reddingsbaadjie. Daar is ’n grab bag met ’n tweede radio, satellietfoon, fakkels en rookmerkers op die dek wat ek maklik kan gryp.

“Ek het ’n plan B, C en D vir noodsituasies. Twee ontsouters, een op sonpanele, die ander ’n handpompie sou dit bewolk wees en die batterye laai nie, en 35 liter-noodwater vir Plan D.”

Wayne is een van Zirk se tegniese adviseurs. As Zirk nie GPS-lesings kry nie, sal Wayne hom kan waarsku as ’n skip naby is.

“Al wat my eintlik bekommer, is dat ek my vier kinders gaan mis. Hulle sê die tweede week is die moeilikste, teen die derde week raak jy gewoond daaraan, en ná ’n maand is dit jou nuwe normaal. Gelukkig kan ek my kinders met my satellietfoon bel, teksboodskappe en e-posse stuur.

“Ons Adelbors-klasfoto van die kandidaat-offisiere in 1981. Ek is in die agterste ry, derde van regs. Foto: Verskaf

“So . . . die uitdaging is meer in die kop as in die spiere, ons is baie sterker as wat ons dink.”

Die idee om alleen Rio toe te vaar, het by hom posgevat toe hy vier jaar gelede die Okavango-delta op ’n staanroeiplank aangedurf het.

Vir hom gaan dit oor die avontuur, verduidelik hy, sy blougrys oë onpeilbaar. ’n Tatoe steek net-net onder die mou van sy T-hemp uit. Aan sy regterpols, vier koper- en silwerarmbande. Om sy nek, ’n gevlegte leertoutjie met ’n seepsteen-ring met die simboliek: Alles hou verband met mekaar. Nege-en-vyftig jaar oud, silwer teen sy slape, ’n man wat maklik lag, homself nie ernstig opneem nie.

“As ek ’n doelwit stel, werk ek om dit te haal. Dis my sterkpunt."

“Ja, 59 is nie oud nie. Dis nog bloedjonk. Twintig jaar gelede was dit oud. Ons lewenstyl is nou soveel anders. Maar dit hang af van jouself: As jy dink jy is oud, ís jy. So, moenie dit dink nie. Ek is nou fikser as ooit.

“ ’n Avontuur plaas jou buite jou gemaksone. Vir verskillende mense beteken dit verskillende dinge. Dalk is jou avontuur om ’n nuwe onderneming te begin. Vir my is avontuur die buitelug. Natuur, berge, see. Elke keer as ek myself uit my gemaksone druk, leer ek myself beter ken. My sterk- én swakpunte.”

En hulle is?

Jislaaik, huiwer hy ’n oomblik.

“In 1986 op ’n duikkursus, ek staan agter, in die middel. Foto: Verskaf

“As ek ’n doelwit stel, werk ek om dit te haal. Dis my sterkpunt. As ek nie in iets belang stel nie, kan ek dit nie fake nie. En ek is hardkoppig. Dis my swakpunte.”

Hy noem sy boot Ratel. “Ek het eers ’n Xhosa- of Zoeloenaam gesoek. Toe besluit ek, Zirk, jy is ’n boerseun, ’n Botha. En jy het ’n boot nodig soos ’n ratel, ’n hardegat diertjie wat nie opgee nie. So, wanneer ek daar op die see is en dinge raak moeilik, dan is Ratel my inspirasie om vas te byt.”

Hy het grootgeword op ’n Bosveldplaas naby Mokopane. Klein avonturier. “Ek, my boetie en sussie was nog sulke klein tjokkertjies toe ons ouers na ’n kerkkamp toe is. Verveeld, besluit ons drie ons gaan sommer self ’n brandpad maak, soos ons Pa sien doen het. Toe my tannie uit die huis kom, sien sy net vlamme. Sy het dit verloor, ons huis toe gejaag, goed ‘afgestof’ en in die bad geprop.”

Die 59-jarige avonturier Zirk Botha het op 5 Desember uit Grangerbaai vertrek op ’n epiese solo-roeitog na Rio de Janeiro. Op dié trans-Atlantiese vaart sal hy 7 000 km se see moet dek. Ná 30 uur moes hy egter vir eers terugdraai.

Sy dienspligjaar was vir hom so lekker, hy het permanent by die vloot aangesluit. “As jong vlootoffisier is jy maar ’n stoutgat, solank jy nie te veel droogmaak nie. Ek was darem op 23 kaptein van ’n oorlogskip. Sonder my vlootloopbaan sou ek nooit dié roei kon doen nie. Ek het al ’n paar kere in verskillende vaartuie oor die Atlantiese Oseaan gevaar.”

In sy vlootjare het Zirk begin driekamp doen, en hy was later op die WP se driekamp-komitee.

“Eendag lees ek ’n artikel in ’n Britse tydskrif oor avontuursport-uitdagings. Adventure racing, driekamp met hindernisse en uitdagings. Ek besef toe dadelik Suid-Afrikaners sal mal daaroor wees, verlaat die vloot en begin ’n avontuursport-onderneming. Dit was in 1996.”

"Sy was oortuig ek is dood, maar al wat ek kon uitkry was: Get your act together! "

Zirk het die sport in Suid-Afrika begin, en hy was ook ’n stigterslid van die Avontuursport-wêrelduitdaging. Ses jaar lank het hy die wêreld vol gereis na eksotiese plekke om internasionale kompetisies te reël.

Toe tref die ongeluk hom.

In Desember 2002, terwyl hy een aand diep in die Grabouwberge besig was om ’n laaste hindernis vir ’n kompetisie die volgende dag op te stel, het sy 4x4-voertuig vasgeval.

“Ek pak hierdie solo-roeitog aan want ek lewe vir die Groot Avontuur. Vir my beteken die woord avontuur om buite my gemaksone, in die natuur, te wees.”
Zirk Botha is die eerste mens wat alleen, sonder enige bystand, van die Kaap na Rio roei. Dit gaan hom 100 dae neem. Foto: Verskaf

“In die proses om die trok met ’n wenas uit die moddergat te trek, het ’n metaalstaaf, ’n roetemerker, losgeruk en my aan die kant van my kop getref. Dit het die linkerkant van my skedel vergruis, my oogkas op ses plekke gebreek, ek moes my oog terugdruk in die oogkas. My sinusse was heeltemal vergruis en ek het heeltyd bloed gesluk om nie daarin te verstik nie.

“My verloofde, Lindsay, het gesien hoe die metaalstaaf my drie meter die lug in gooi. Sy was oortuig ek is dood, maar al wat ek kon uitkry was: Get your act together! Ek kon my broer bel, en hy het die polisie en ’n ambulans gereël.

“Maar toe moes ons vir amper ’n uur deur die berge stap tot by die pad waar die ambulans my kon kry. Ek het ordentlike skoene aangehad, maar Lindsay het in strandplakkies oor stompe en rotse in die pikdonkerte gesukkel terwyl ek aan haar vashou, want ek kon nie ordentlik sien nie. En toe ons uiteindelik by die pad uitkom, het die polisiewa wat in die pad opgejaag gekom het, ons amper omgery!”

Ná sewe uur op die operasietafel was sy skedel weer opgebou.

Hy gee ’n laggie.

Ná sewe uur op die operasietafel was sy skedel weer opgebou. “Benewens die frakture het ek ’n traumatiese breinbesering gehad. Die selle in jou brein kneus, kalsium bou op en weke later begin die breinselle doodgaan. Jy voel aanvanklik piekfyn totdat jy ses weke later nie kan verstaan wat met jou aangaan nie. Jou emosies ry wipplank, die een dag huil jy jou dood, die volgende dag voel jy vere. Dit kan ook gebeur met harsingskudding, dis soos posttraumatiese stres.”

Ná al die jare is dit nou vir hom makliker om daaroor te praat. Hy hoop sy verhaal help ander mense wat deur dieselfde ding gaan. Mense dink hulle is besig om mal te raak, sê hy, maar eintlik is hulle neurologies beseer.

Ek, in my streeptrui saam met Vera, my eerste vrou, by Abrie Kampher en Louis du Plessis op Abrie se plaas naby Springbok. Foto: Verskaf

“Ek is deur ’n moeilike tyd. Ek het my onderneming verloor, want ek kon nie fokus op enigiets nie. Die bank het my gehelp om my huis te verkoop,” lag hy, “en die bank het my gehelp om my kar te verkoop. Ná twee jaar was ek plat op die grond, en dit het my vier jaar geneem om myself weer op te tel. Ek moes van vooraf begin.

“Ek en Lindsay is in dié tyd getroud, en ons is saam daardeur. Sonder ondersteuning sou ek op straat beland het. Ons is intussen geskei, maar nog goeie vriende.”

So Zirk Botha is nie bekommerd dat sy kop gaan begin ratel in Ratel nie.

“Ek gaan natuur toe, dis my kerk.”

“Het klaar daardie T-hemp, kan nie weer nie!”

Hy is sedert 2012 die ontwikkelingsbestuurder van Juwi, ’n herwinbare energie-onderneming, en betrokke by projekte vir die departement van energie.

Hy is al ’n klimaat-aktivis genoem, maar dit is Zirk allesbehalwe. “Jy hoef nie ’n Greta Thunberg te wees nie, maar dínk oor wat jy doen, hierdie planeet behoort aan jou kinders en kleinkinders.”

“Van alles en almal gaan ek my kinders die meeste mis. Van links is Miek (31), Bert (33), Elle (15) en Ruby (10). Foto: Verskaf

En dis hoekom hy hom nou inperk, ontperk, in 7 000 km see: Om mense bewus te maak van ’n volhoubare toekoms, en om te leef soos Helen Keller in ’n aanhaling op sy webblad sê: Die lewe is óf ’n waaghalsige avontuur óf niks.

Sommige mense gaan na ’n gebou om kerk te hou, sê Zirk, sy stem stil.

“Ek gaan natuur toe, dis my kerk.”

“Darem het ek soetgoed en ’n hele paar buisies kondensmelk ingepak, en ’n heupfles met schnaps vir Kersfees en Nuwejaar.” Foto: Verskaf

Met dagbreek vanoggend het hy saam in ’n vriend se kus-dubbelroeiboot Miller’s Point toe geroei. Want hy jeuk daarvoor. Die see was kalm en toe kom die noordwestewind op en dit raak stamperig en deurmekaar. Perfek. Gulsig waaghalsig.

Hy kan nie meer wag nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.