Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Kaalvoetkind is vry
Hanlie Retief gesels met Zola Budd
“As ek aan myself dink, nou-nog, is ek die kaalvoetkind wat op die Bainsvlei-plot rondhardloop. Nie Zola Budd die atleet of Zola wat Mary Decker getrip het nie.” Sy lag effens. “En ek het nie…” Zola Budd, onverdun...

‘Spook!”

Zola Budd plak haar teekoppie neer en naelloop na hul jong hond, wat besig is om haar pronkertjie-saailinge te vermorsel.

“Dis die dérde keer,” hoor jy haar onoortuigend met Spook raas. “Klein grondvreter!”

Erken dan floutjies: “Ek moes hulle seker al uitgeplant het . . .”

Zola en Boelie, die ou Engelse bulhond wat saam teruggekom het van Amerika. Sy oefen nou hard vir die Kaapstad-marathon. Foto: Marzahn Botha

Dertien jaar in Amerika het nie ’n duik in Zola en haar man, Mike, se Vrystaatse vriendelikheid gemaak nie.

Dis tee en nóg tee hier om die eetkamertafel op hul kleinhoewe in Bonniemile, tussen Stellenbosch se berge.

Daar’s vyf honde en drie skrophoenders op die stoep. Én ’n opportunistiese rot wat soms die hondekos kom gaps.

Hardloop help jou om weg te kom van alles.

By die trap hang ’n skildery van Jan Blohm, in die sonkamer is Zola se halfklaar eie kunswerke waarby sy, Zola-beskeie, “asseblief glad nie” afgeneem wil word nie.

Stellenbosch voel weer na “huis” ná die jare in Suid-Carolina, sê Mike, sy blou oë die kleur van sy Nike-hemp.

Hulle het in Myrtle Beach gebly, die Diééép Suide, Trump-wêreld. In Walmart het Mike heeltyd gevoel hy’s in die blog People of Walmart, glimlag hy.

Hulle’s al Meimaand terug, sonder ’n bohaai, want sy’s Zola, bekendheid en media is nie haar ding nie.

Sy vertel hoe mense destyds daar in Bloemfontein in haar Hyperama-trollie gekyk het met opmerkings soos “Jy kannie hierie koekies eet nie, jy gaan dik raak” of hulle vat aan haar en sê: “O, maar jy hét dik geraak.”

Nog altyd het Zola geweet: Sê niks terug nie, want anders dink hulle hulle het jou gekry . . .

Toe hul tweeling in Julie kom kuier, moes Azelle dokter toe. Die dokter vra haar: “Wee’ jy wie jou ma is?” Azelle: “Ek weet die mense ken my ma, maar ek weet nie rêrig nie . . .”

Zola en Mike sou aanvanklik net vir twee jaar Amerika toe gaan, sodat sy aan meesterswedlope kon deelneem.

Nè, lag Zola. “Toe kyk die dokter my so snaaks aan, en ek verduidelik: Toe Lisa (hul oudste) gebore is, het ek my hardloopgoed weggepak. Die kinders weet ek het gehardloop, maar ek wil net hul ma wees, hulle kon mý leer ken.”

Zola en Mike sou aanvanklik net vir twee jaar Amerika toe gaan, sodat sy aan meesterswedlope kon deelneem, “maar toe pas die kinders lekker aan, en toe bly ons”. “Dit was ’n goeie ding vir ons huwelik en gesin, want ons het baie meer dinge saam begin doen.

“Mike het nou afgetree en die kinders het ons nie meer nodig nie.”

Lisa is besig met haar doktorsgraad in virologie en immunologie, Azelle het ’n graad in biologie en haar tweelingboet, Mike, gee skool.

Op hul kleinhoewe by Bonniemile, Stellenbosch. Zola het klaar ’n groentetuin aangelê. Foto: Marzahn Botha

“Dis baie erg om so ver van hulle te wees. Ons praat darem elke dag. Net bel, want ek wil hulle nie sien nie, og, dit gaan my te hartseer maak.”

Sy gaan wys my twee kwarteltjies wat Mike vir haar gekoop het om te help met die verlang. “Kyk, hulle broei op agt eiertjies.”

In Suid-Carolina het Zola by die plaaslike universiteit landloop afgerig.

Plaaskinders probeer mos altyd afshow, maar toe hol ek vir die klompie weg. Dis waar ek besef het ek kan hardloop.

Nes hul ma hou Lisa en Mike van hardloop; Lisa het destyds die staatskampioenskap gewen. “Maar Azelle kan glad nie verstaan hoekom mense kompeteer nie. Ek ook nie, behalwe in atletiek.”

Die eerste keer toe Zola vir mense weggehardloop het, was op haar tannie se plaas by Dealesville.

“Ek was so vyf. Plaaskinders probeer mos altyd afshow, maar toe hol ek vir die klompie weg. Dis waar ek besef het ek kan hardloop.

“Ek was as kind verskriklik hardkoppig, seker maar nou nog. As my ma vir my sê trek die blou rok aan, dan trek ek die pienke aan. Toe’t sy slim geraak en as sy wou hê ek moet die blou rok dra dan sê sy trek die pienke aan.

Dit word beskryf as een van die epiese oomblikke in die geskiedenis van die Olimpiese Spele. Augustus 1984, 3 000 m-wedloop, Los Angeles: Die oomblik toe Amerika se liefling, Mary Decker, geval het. Zola is later gediskwalifiseer. Foto: AP/LASERPHOTO

“Sy’t altyd gesê ek is die ongeskikste mens wat sy ken. Ek kon nie so lekker kommunikeer nie, veral op die telefoon.

“Sy het ook gesê ek gaan eendag ’n kind kry wat nes ek is, en wragtig, toe kry ek vir Azelle.”

Op hoërskool, op haar tweede Suid-Afrikaanse landloopkampioenskap, het ’n riller van ’n bult haar die grootste atletiekles geleer: Hou net langer aan as die ander.

Sy begin vir haarself lag, moet eers asem skep voordat sy kan verder vertel.

Sy was in daardie stadium tweede, net agter ’n atleet van Namibië (“en hulle kan hól”). Haar afrigter, Lappies Labuschagne, het haar teen die bult gestaan en aanmoedig. Maar Zola was moerig. “Ek skreeu: ‘Ek kan nie meer nie, ek is kláár!’ ”

Sy begin vir haarself lag, moet eers asem skep voordat sy kan verder vertel. “Maar toe ek so opkyk, sien ek die Namibiër het begin loop. Dis asof mens nuwe moed kry; ek het net daar begin sprint en toe wen ek die kampioenskap.”

In 1984, pas klaar met matriek, het sy die nie-amptelike wêreldrekord in die 5 000 m gehardloop. Skielik was die wêreld se oë op haar en háár wêreld omgekeer.

Foto: AP/LASERPHOT

Saam met haar ouers en afrigter is sy Engeland toe waar sy op grond van haar oupa se Britse burgerskap ingesluit is in die Britse atletiekspan vir die Olimpiese Spele. Dit was al manier om internasionaal te kon deelneem, want apartheid-Suid-Afrika was uit wêreldsport verban.

“Dit was verskriklik stresvol met die politiek en media. Hulle het voor ons huis kom uitkamp en my oral agtervolg. By wedlope het betogers op my gespoeg, my gevloek en voor my op die baan ingehardloop.” Plakkate is rondgeswaai: “Racist Bitch.”

’n Joernalis het beskryf hoe Zola soos ’n bang bokkie gelyk het.

“Klein meisie wat vir die hele wêreld weghardloop.”

Ek vertel vir Zola sy was my heel eerste onderhoud, as student vir ’n artikel in die Kovsie-tydskrif Die Bult. My laaste sin was: “Klein meisie wat vir die hele wêreld weghardloop.”

Sy knik. “Dis letterlik wat ek doen.

“Nou nog. Hardloop help jou om weg te kom van alles. Jenny, my sussie, is dood toe ek 14 was . . . en toe het ek net begin hardloop. Dit was amper asof ’n mens toemaak binne-in jou.

“Jenny het ’n gewas op haar arm gehad. Hulle het gedink dis kanker, en toe gee hulle vir haar chemo. Dalk het sy te veel chemo gekry, dalk was sy allergies daarvoor, maar binne ’n week is sy dood. Die gewas was toe nooit kwaadaardig nie.

Zola se ouers is saam met haar Engeland toe. Hier is sy saam met haar pa, Frank, en ma, Tossie.

“Ek het vir Jenny ‘ma’ gesê voor ek my ma so genoem het, want Jenny het my eintlik maar grootgemaak. Ek was die jongste van ses, sy was 11 jaar ouer.

“Toe begin ek wegkruip. Hardloop was my verskoning. Nee, ek kan nie gaan kuier nie, nee, ek wil nie soontoe gaan nie, ek moet oefen.”

Vir ’n oomblik raak dit stil om die tafel. Spook het langs haar in die son kom sit en Zola vryf saggies sy ore.

Baie keer dink sy terug aan haar lewe en dan voel dit of dit iemand anders s’n is.

Drafklere, kaalvoet, krulhare, skoongesig, bruingebrand, blou oë. Ikoon.

Fieterjasieloos soos die Vrystaat, reguit, sag, vol aweregse humor.

Zola, soos altyd.

Baie keer dink sy terug aan haar lewe en dan voel dit of dit iemand anders s’n is.

Op 45 jaar, in 2011, het sy haar teenstanders by die Suid-Afrikaanse landloopkampioenskap by die Universiteit van die Vrystaat (UV) ore aangesit. Foto: Theo Jeptha

“Die Olimpiese Spele, Augustus 1984 . . . die Mary Decker-episode . . . en almal haat my. Jy’s so vasgewoel in daardie situasie, dis nie eens traumaties nie, jy probeer net om daardeur kom.”

En toe het sy?

“Amper nié . . .

“Ek dink wat my deurgedra het, is dat ek deur alles bly weet het waarvandaan ek kom, dat daar ’n stukkie ‘ek’ is wat niemand van my kon wegneem nie.

Etikettering, labelism, is die verskriklikste ding in die wêreld.

“As ek aan myself dink, nou nog, is ek die kaalvoetkind wat op die Bainsvlei-plot rondhardloop. Nie Zola die atleet of Zola wat Mary Decker getrip het nie.” Sy lag effens. “En ek hét nie . . .

“Dis asof mense jou nie wil toelaat om daarvan weg te kom nie. Etikettering, labelism, is die verskriklikste ding in die wêreld. As mense jou eers in ’n boksie het, bly jy vir altyd daar, hulle aanvaar nie jy het ’n ander lewe ook of dat jy kon aanbeweeg uit daardie oomblik nie.”

Ná die Olimpiese Spele wou sy ophou met atletiek, maar sy kon dit nie bekostig nie. “Ek was nie finansieel onafhanklik nie. Dit het ook swaar gegaan met my ma, emosioneel en geldelik, sy en my pa was besig om te skei.”

Zola is terug Engeland toe waar sy tot 1988 aan internasionale kampioenskappe deelgeneem het. Eensame, harde jare.

“Baie keer moet jy wedlope hardloop waarvoor jy nie reg is nie, of jy is siek.

“As pro-atleet is dit ál wat jy doen – hardloop. As jy nie presteer nie, tel jy nie meer nie, word jy nie uitgenooi na die volgende wedloop nie. So, jy is net so goed as jou laaste wedloop.

“Jy kan jouself naderhand nie uit jou depressie dink nie, jou angs: ‘As ek nie presteer nie, gaan my afrigter dalk nie met my praat nie.’

“Mense dink die Olimpiese Spele is wonderlik. Hulle besef nie hoeveel emosionele en fisieke mishandeling daar is nie. Dis ’n rowwe wêreld. Gelukkig is ál meer sportmense deesdae bereid om daaroor te praat, soos Simone Biles en Naomi Osaka.

“Elke huwelik het sy oppe en affe, maar ons het deur alles beste pelle gebly.”

“Die moed wat Biles gehad het om haar sielkundige probleme openlik te erken, het vir my meer beteken as die Olimpiese medaljes wat sy gewen het.”

Zola is in 1988 uit internasionale atletiek verban bloot omdat sy na ’n wedloop in Johannesburg gaan kyk het.

“Hul verskoning was as jy ’n wedloop gaan kyk, is dit net so goed jy neem deel, want jy ondersteun apartheid.”

Uiteindelik het Mike en die kinders haar uit hierdie maalkolke gehelp. “Ek en Mike is al 32 jaar saam, kan jy glo?

Hanlie Retief

Vyf dae ’n week hardloop sy 10 km, 12 km in die Bonniemile-omgewing. Sy is saam met Elana Meyer in die nie-regeringsorganisasie Endurocad se uitvoerende span. “Ek is mal oor afrig, en opgewonde om hoofafrigter te word van die hoëprestasie-beursprogram by die Hoërskool Stellenbosch. Een van die dae hardloop ek die Kaapstad-marathon. Om vir my te vra of ek hardloop, is om te vra: ‘Eet jy?’

“Ek sal altyd my eerste Comrades onthou, ek was maar 40 en dan kom tannies van 60, 70 verby en hulle hol jou móég. Dit het my nederigheid geleer: Respekteer die afstand, respekteer die sport, respekteer die mense.”

Met haar volgende Comrades, nét toe sy op 70 km wou ophou, sê iemand: “Zola, hol bietjie vinniger, dan wen jy die meisie voor jou . . .” Nee, kreun Zola, sy wil net klaarmaak, maar haar bene begin vinniger pomp, haar elmboë vlerk ’n bietjie wyer en sy doen wat sy altyd doen: Sy steek die meisie verby.

“Fisiek teen die planke, maar toe draai iets in my kop . . . en ek hól.”

Sy bars uit van die lag. Vry, uiteindelik, Bainsvlei se kaalvoetkind.

“Dis maar ekke, daai . . .”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.