Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hannon tooi selfs inperking

Haarkleursel wat uitgroei en woeste wenkbroue is maar van die gevolge van die inperking, maar die impak daarvan lê dieper as wat die oog kan sien, sê Hannon Bothma. Hanri Wondergem het met hom gesels.

Die voorkomskenner en televisieaanbieder Hannon Bothma.

Baie Suid-Afrikaners se voorkoms het drasties agteruitgegaan weens die inperking. Dit het aanvanklik gespruit uit die noodgedwonge sluiting van salonne tydens die strenger vlakke van inperking, maar daar is ook ander redes, sê Hannon Bothma, aanbieder van die mooimaakprogram Glam Guru.

“As iemand in die oggend wakker word en daar is nie ’n rede om mooi aan te trek om ’n kliënt te gaan sien of te gaan werk nie, dan raak dit die volgende normaliteit.”

En deel van die nuwe normaal, klink dit, is vaal ... Volgens Bothma het ’n voorkoms wat nie kreatief of helderkleurig is nie, tydens die inperking die norm geword.

Maar ’n mens kan altyd iets aan jou voorkoms doen en dit is daarom sy missie om mense deurlopend daaraan te herinner hoe belangrik dit is om trots te wees op hoe jy lyk.

Kyk jy in die spieël en dit is goed, is dit volgens Bothma niks minder nie as ’n “energie-inspuiting” – en iets wat juis nou belangrik is terwyl almal vuisvoos is oor die virus.

Tuisgeknipte hare

Ook Bothma se TV-reeks is nie die impak van die virus gespaar nie. Met die aanvanklike reisbeperkings kon slegs kandidate uit Gauteng oorweeg word vir deelname aan Glam Guru en moes onderhoude vooraf via video geskied. In plaas van 13 kandidate vir 13 episodes moes hy noodgedwonge ’n paar ekstra kies, vir ingeval van die deelnemers dalk siek word weens Covid-19, wat toe ook gebeur het.

Bothma en deelnemers moes heeltyd ’n gesonde afstand handhaaf. Vir alleen-skote was hy sonder ’n masker, maar wanneer hy nader aan die deelnemers gekom het, is net sy hande op kamera gewys omdat hy dan ’n masker en gesigskerm moes dra.

’n Bloedjong Hannon aan die begin van sy loopbaan.

Al die veranderinge en verstellings aan kameras en beligting het veroorsaak dat die verfilming van episodes heelwat langer geneem het.

Boonop het baie van die deelnemers self met skêre en kitskleursel in hul kapsels ingeklim, wat sy taak verder bemoeilik het.

Maar ondanks al die struikelblokke, glo Bothma dat ’n nuwe voorkoms mense uit ’n korona-groef kan lig.

“Skoonheid is moontlik net veldiep, maar dit strek diep genoeg om saak te maak. As jy ’n mooier mens in die spieël sien, sien jy moontlik ’n mooier, nuwe toekomspotensiaal en kry jy weer lus om jou persoonlike uitdagings vierkantig in die oë te kyk,” sê hy.

Die Bothma-gesin: Bottie, Iza, Hannon en Kitta.

Pandemie-projekte en pekinese

Hy het tydens die inperking baie tyd met sy vierpoot-kinders, Bella en Bessie, deurgebring. Die twee pekinese het ook as inspirasie vir sy eie inperkingsprojek gedien: Bothma het ’n spesiale honde-sjampoe ontwikkel!

Sy laboratorium, waar hy sy skoonheidsprodukte ontwikkel, het nie tydens die inperking gesluit nie en ’n nuwe vogroom, lyfroom en nagserum is in dié tyd ook by sy reeks gevoeg.

Hannon in sy skooljare op Vryburg in Noordwes.
’n Baba Glam Guru ... Hannon as peuter.
Hannon Bothma as baba in sy ma, Kitta, se arms.

Maar selfs al was daar vernuwing, het hy die inperking ook aan sy beursie gevoel. “Vir amper twee maande was daar geen verkope van my produkte nie, want salonne was nie oop nie.”

Hy erken dit het hom aanvanklik paniekbevange gelaat oor die lot van sy veertig werknemers. Hy is egter verlig dat dinge nou weer op dreef is en dat hy niemand in die onsekere tye moes aflê nie.

Bothma het ook die internet tydens inperking aan die gons gehad met oefenvideos, wat hy saam met sy eggenoot, Julius Swart, opgeneem het.

In die videos, wat op sosiale media versprei is, sweet die paartjie behoorlik en spog hulle met blokkies-mae en gespierde arms.

Dié videos, sê Bothma, was ’n manier om van die grendelgramme ontslae te raak.

“Ek het verskriklik sjokolade geëet,” bieg die selferkende soettand. Maar danksy sy oefen-roetine lyk hy steeds veel jonger as die 52 jaar wat hy op die aardbol is.

Bella, een van Hannon Bothma se pekinese, hou haar lyf model om Hannon se nuwe honde-sjampoe te bemark.

Guru uit die platteland

“Johannes die Doper, jou kop is van koper,” skerts Bothma oor sy volle naam. Johannes Bothma is op 27 Julie 1968 op Vryburg in Noordwes gebore.

“My pa het die storie vertel: toe my ma in kraam gegaan het, moes hy met sy fiets elke nou en dan gholfbaan toe ry om vir die dokter te sê hoe ver my ma ontsluit het!”

Bothma het sy kinderjare op dié dorp deurgebring saam met sy sussie, Iza (van Dien).

Sy ma, Kitta, was haar lewe lank ’n sekretaresse op Vryburg en sy pa, Bottie, was in die polisie. Sy ma is intussen oorlede.

Hannon was op skool (en is steeds) ’n kranige sportman. “Ek was baie goed in hekkies. Ek het atletiek gehardloop en ek was ’n baie goeie rugbyspeler,” sê Bothma, wat Cravenweek-rugby gespeel het.

Hy was van kleinsaf lief daarvoor om “konsert-konsert” te speel. In die buitekamer van sy ouerhuis was ’n kas met groot laaie, met báie klere. Maatjies wat kom kuier het, het verwag om cowboys en crooks te speel, maar is deur die kleine Johannes met ’n nuwe voorkoms verras.

“Dit was vir my so interessant om te sien – as jy iemand aantrek soos ’n cowboy, hoe hy of sy sommer voel soos ’n cowboy!”

Min het hy toe geweet dat “konsert-konsert” die voorloper sou wees van ’n loopbaan.

Hannon tydens sy militêre diensplig.

Militêr tot mooimaak

Bothma is ná skool weermag toe vir sy militêre diensplig, eers by Diskobelos in Kimberley en toe Voortrekkerhoogte waar hy die rang van tweede luitenant verwerf het. Hy eindig sy diensplig by die gevegskool op Lohatla.

Dis ’n wêreld ligjare ver van die skoonheidsbedryf, ’n loopbaanrigting wat tóé al in Bothma se visier was.

Hy het ingeskryf vir ’n kursus in haarkappery en skoonheidstegnologie by ’n tegniese kollege in Kaapstad, maar kapsels en gesigsbehandelings was nie vir hom genoeg nie. Hy wou méér doen.

“Ek wou werk aan die totale transformasie en ek wou graag in die media-industrie werk.”

En so het dit gebeur dat hy sy dienste gratis aangebied het vir die vroueblad van die Cape Argus ter wille van die blootstelling en ervaring wat hy by dié koerant kon kry.

Daarna het Rooi Rose hom opgeraap. Praatjies en werksgroepe het gevolg en Bothma se loopbaan het soos ’n wegholbrand vlamgevat.

Hy het twee salonne in Kaapstad oopgemaak, in 1998 betrokke geraak by ’n TV-program op M-Net en besef die kamera hou van hom en hy hou van die kamera.

Vroeg in die 2000’s verhuis hy na die Goudstad en raak dadelik betrokke by Star Maker Story, ’n televisiereeks oor totale voorkomstransformasies.

In 2008 word ’n nuwe voorkomstransformasie-program vir M-Net voorgestel. Bothma rek die woorde uit. “Glaaaaaam Guuuuuru . . . Die naam het net in my kop in gespring!”

En sedertdien het Glam Guru ’n huishoudelike naam en ’n suksesvolle handelsmerk geword.

Die vele fasette van sukses beleef hy deur sy skoonheidsprodukte, praatjies en die televisiereeks. En niks word as vanselfsprekend ervaar nie.

“Ek weet dit is genade,” sê Bothma.

  • Wondergem is ’n senior redaksielid van Beeld.
Wenke

Bothma verklap ’n paar geheime om jou in ’n kits beter te laat voel:

  • Dra altyd helder kleure naby aan jou gesig om jou gelaatskleur op te helder.
  • Ignoreer die modes, kies eerder klere en grimering wat jou bates beklemtoon en foute verbloem
  • “ ’n Glimlag is belangriker as die helderste lipstiffie, maar as jy jou glimlag wil versier, doen dit met ’n vrolike lipkleur.”
  • Hoe jy lyk, dra baie by tot hoe jy voel en hoe ander jou ervaar. Onthou dit.
'n Kleintjie dood

Bothma sê die vyf foute wat vroue maak, is:

  • Klere wat nie nommerpas is nie en jou vormloos laat lyk.
  • Modeslawe wat style kies wat nie by hulle pas nie. “Vroue in voorstede raak sulke bloudrukke van mekaar.”
  • Onvanpaste kleredrag. “Ek het ’n kleintjie dood aan mense wat enige tyd van die dag of nag in gym-klere is, al het hulle die gym in jare nie gesien nie. Jy flous niemand. Dis onvanpas. Jy dra gymklere by die gym.” Dit geld ook vir mense wat nie weet wat die verskil tussen formeel, semi-formeel of gemaklik is nie.
  • Onversorgde voete.
  • Vroue wat dink natuurlike grimering beteken dit moet so sag wees dat niemand dit sien nie. “Why bother? Bruin lippe laat dit lyk of jy nierprobleme het.”
As die kameras af is

Bothma het sy eggenoot, Julius Swart, op 31 Januarie 1992 ontmoet. Hy het daardie oggend Swart se hare gesny by sy salon in Kaapstad en Swart het hom genooi vir ’n piekniek. “Ek het daardie selfde aand nog by hom ingetrek en sedertdien is ons onafskeidbaar.”

Die paartjie is op 24 Oktober 2018 getroud en woon in Sandhurst in Johannesburg.

Hulle is mal oor buitelandse vakansies en om te ski. “My twee gunstelingplekke in die hele wêreld is Parys en Venisië,” sê hy.

Hoogte- en laagtepunte

Vir Bothma is hoogtepunte ’n mengelmoes van eerstes: sy eerste oorsese vakansie; die eerste huis wat gekoop is; die eerste (en enigste) troudag.

As gesinsman was die afsterwe van sy twee oumas en ma vir hom laagtepunte.


    Meer oor:  Hannon Bothma  |  Inperkings  |  Voorkoms
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.