Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hemel en see en Ingrid Jonker

Petrovna Metelerkamp deel met Murray La Vita ’n nuwe teorie oor die dood van Ingrid Jonker, oor wie sy pas ’n onthullende biografie geskryf het.

Petrovna Metelerkamp, stigter van die uitgewer Hemel & See Boeke, het die uitgewersbedryf vaarwel toegeroep en skryf nou heeltyds. Foto: Tania van Niekerk

Hierdie is die verhaal van ’n kind wat so lief was vir woorde en lees dat sy nie net ’n joernalis en skrywer geword het nie, maar ook haar eie uitgewery begin het.

Die lewe van Petrovna is omgeef van magiese gebeurtenisse; sy kon netsowel ’n karakter in ’n Marquez-roman gewees het.

Neem byvoorbeeld die storie van haar naam. Haar oupa, Willie Steyn, was een van 600 Boerekrygers wat per skip na die eiland Ceylon gestuur is om daar geïnterneer te word. Terwyl die skip “op ’n donker maanlose nag in die hawe van Colombo vasgeanker was” het Steyn en vier van sy medegevangenes met ’n tou in die see afgesak waarna hulle deur Vladimir Petroff Kissimof, die kaptein van ’n Russiese skip opgepik is.

Steyn het sy jongste seun Vladimir Petroff genoem en hy het sy dogter Petrovna genoem, die Petrovna wat nou hier aan die woord is op ’n bewolkte Vrydagoggend in haar lieflike huis in Vermont by Onrus.

En jy hoor die ys so in die whiskyglase rinkel en dan hoor jy hoe sê hulle gedigte op en ek ruik die sigare.

“Ek het grootgeword met boeke. Ek het ’n geesgenoot gehad wat my pa se suster was, en haar naam was Aletta Steyn en sy was getroud met Bresler Bergh, die tandarts van die Kaap se gesiene mense soos Audrey Blignault en die eerste minister. En hulle het ’n huis gehad in Kloofweg in Bantrybaai, ’n óú huis met ’n groot stoep. En ek het saam met my ouers in Oranjezicht gewoon en die vriende was oom Piet Cillié en Hubert Coetzee en Alba Bouwer.

“Nou’s ek so vier. En ek kan nie wag om by tannie Aletta te kom nie want sy skrywe – sy en Fred le Roux het Sarie Marais begin. En dan gaan ek soontoe en ek gaan vanaand daar slaap.

“Nou slaap ek daar. En die grootmense is op die stoep. Uys Krige is altyd daar, want hy kon vrék oor tannie Aletta. Nou lê ek met my kopkussing op so ’n breë houtvensterbank. En op die stoep is die grootmense besig om sigare te rook en hulle het ’n opwengrammofoon met Richard Tauber en dis aand en daar onder is die see. En jy hoor die ys so in die whiskyglase rinkel en dan hoor jy hoe sê hulle gedigte op en ek ruik die sigare.

En so het ek begin skryf toe ek verstand gekry het; storietjies en gediggies veral.

“My slaapkamer het so ’n boekrakkie ingehad en daarin was Die purper iris, gedigte van A.G. Visser. Ek was ses toe ek dit begin lees het. Dit was ook die eerste digbundel wat Ingrid Jonker ooit gelees het.

“So ek en my tannie Aletta . . . sy het ’n paar romans geskryf en sy het ’n pragtige boek geskryf met die naam Katinka. En so het ek begin skryf toe ek verstand gekry het; storietjies en gediggies veral. En toe het ek my eerste drama, ’n eenakter, geskryf toe ek in standerd agt was op Meisies Hoër. En dit het een of ander prys gewen. Dit het afgespeel in ’n mens se maag en die karakters was ensieme . . .”

Gesprekke met God

Ons praat oor die ontstaan van haar uitgewery Hemel & See Boeke. Terwyl sy vir Insig geskryf het, het ’n vriend, die operasanger Willem Vermaas, een aand in Kaapstad die boek Conversations with God deur Neale Donald Walsch aan haar gegee om te lees.

“En toe ek so by bladsy elf kom, toe besef ek hierdie is die boek wat ek so gou as moontlik in Afrikaans moet vertaal en hy moet by álmal uitkom.

“Nou van daai boek, wat ek op die ou end self gepubliseer het uit haastigheid want uitgewers neem te lank, het ek omtrent 10 000 verkoop. Ek het in September begin vertaal en in Januarie het ek van Leserskring ’n bestelling van 3 000 gekry. Dit was die jaar 2000.”

Petrovna by die talle boeke wat sy by Hemel & See Boeke uitgegee het. Foto: Tania van Niekerk

Sy het haar kar volgelaai met eksemplare van Gesprekke met God.

“En ek begin by die eerste winkel in die Tygervallei-sentrum wat aan Leoni van Rensburg behoort. En ek stap in met ’n Pick n Pay-karrietjie vol met ’n 100 of 150 boeke. En ek vra: ‘Met wie kan ek praat? Ek wil hierdie boeke aan die winkel verkoop.’

“Hulle vat my na Leoni toe en ek ontmoet haar. Sy vat toe ’n lot boeke en sy vra: ‘Maar waar is jou bestelboekie?’ Ek sê: ‘Wat’s dit?’ Sy lag en sê toe: ‘Hier is ’n CNA; gaan kry gou vir jou een.’ Toe kry ek ’n faktuurboekie. Sy het net ’n paar gekoop en die res het sy geneem op ’n verkoop-of-terugstuur-grondslag.

“Ek het hoegenáámd nie bedoel om ’n uitgewer te word nie, want ek skryf.

“Toe ry ek van daar af reg deur die land met my Honda, White Beauty is haar naam, ’n Honda Prelude, en by elke plek wat ek kom, laai ek net boeke af.

“Dit het fantasties verkoop en dit het so ’n wonderlike effek gehad; ek het oproepe gekry, ek het briewe gekry; dit het mense se lewens verander.”

Sy vertel waar haar uitgewery se naam Hemel & See Boeke vandaan kom.

“Toe ek die grond hier by Vermont begin ontwikkel vir my en vriende en ons bou, het ek eendag hier gestaan op die duin en toe sien ek ek kan die hemel sien en ek kan die see sien. Toe word dit Hemel & See Boeke.

Tot vandag toe rol die manuskripte nog in. Ons volk is aan die skryf dat jy dit nie kan glo nie.

“Ek het hoegenáámd nie bedoel om ’n uitgewer te word nie, want ek skryf. Maar toe daai boek bekend raak toe begin manuskripte na my toe kom. Ek dink dis Hettie Scholtz wat vir Martie Momberg gesê het sy moet haar manuskrip vir my bring. Toe publiseer ek hom – Kleure van liefde, die storie van haar man se kanker en hoe hy dood is.

“Tot vandag toe rol die manuskripte nog in. Ons volk is aan die skryf dat jy dit nie kan glo nie. So ek het een boek ná die ander gedoen en toe raak ek verlief op brieweboeke, maar verliéf!

“ ’n Wonderlike ding het gebeur. Leon Rousseau se gewese vrou Wini bel my een oggend; sy is in die universiteitsbiblioteek op Stellenbosch en Audrey Blignault se briewe is daar. Human & Rousseau het dit weggewys, hulle wou dit nie publiseer nie, en sy sê dit móét. En sy ry na my van daar af en kom pleit by my, en toe publiseer ek Audrey se briewe.

Ek is so bly ek kon vir Audrey leer ken; ek was versót op haar.

“Dit was die wónderlikste ervaring. Ek is so bly ek kon vir Audrey leer ken; ek was versót op haar. Ek gaan sien haar toe kort voor publikasie oor die vloekwoorde in die briewe. Sy sê ek moet kom eet. En ons sit aan tafel en ek sê: ‘Ek wil net weet hoe gaan ons maak met die woorde wat boontoe praat en ondertoe praat, die woorde wat rêrig problematies kan wees?’

“Sy kyk my so en sy sê: ‘Hoe kan dit problematies wees? Nou luister, daar is báie lekker beetslaai en báie lekker aartappelslaai hierso, en jy móét van die ertjies eet.’”

Sy lag.

“Ek sê nog: ‘So ons los alles net so in?’ Sy sê: ‘Natúúrlik!’ Kláár! Dis nie ’n bespreking nie.”

Brieweboeke

By al haar talente kan Petrovna ook skilder. Foto: Tania van Niekerk

Daarna het haar vriend John Kannemeyer haar genader met die briewe van Peter Blum en later die korrespondensie tussen die broers N.P. en WEG Louw. Sy het ook Uys Krige se briewe gepubliseer.

Naas briewe het sy dit baie geniet om biografieë uit te gee. Sy het onder meer twee biografiese boeke oor die lewe van Ingrid Jonker die lig laat sien en het pas ’n derde, omvangryke biografie oor die digter geskryf wat binnekort by Penguin verskyn – Ingrid Jonker – ’n biografie.

“Kyk, ek het baie goed van haar geweet. Ek het haar gedigte geken. My pa het haar pa geken en hom verafsku. Ek het stories by hom gehoor en gedink: Die arme Ingrid.”

En toe lees pres. Nelson Mandela in 1994 haar gedig “Die Kind” in die parlement. Sy het in daardie stadium vir Insig gewerk en besluit daar moet oor Ingrid geskryf word.

“En daar trek ek los en ek begin navorsing doen. Koos Human, wat toe redakteur was, gee toe vir my die suster, Anna, se nommer en ek begin met haar praat.

Hoekom vertel niemand die waarheid oor Ingrid nie? Wat ís die waarheid?

“Ek gaan praat toe ook met Jan [Rabie] en Marjorie [Wallace] hierso [in Onrus].

“Toe gee Jan vir my daardie dag ál die foto’s wat hy het, net so. En ek neem op band wat hulle vertel en ek skryf die storie vir Insig.”

Sy het ook jare voor dit in Kaapstad met van Ingrid se vriendinne bevriend geraak kort nadat sy by Drieankerbaai in die see geloop het. By hulle, wat na Ingrid verwys het as “die sustertjie”, het sy ook veel oor die gefolterde digter se lewe wys geword.

“Dit lei toe daartoe dat ek besef Ingrid het ’n baie onregverdige lot gehad . . . En toe, ná die Insig-artikel, wonder ek: Hoekom vertel niemand die waarheid oor Ingrid nie? Wat ís die waarheid? En so kom dit dat ek toe die eerste boek oor Ingrid doen [Ingrid Jonker – Beeld van ’n digterslewe].”

Haar dogter sterf

’n Tragedie in Petrovna se eie lewe kom ter sprake wanneer sy sê haar dogter Ezanne Newton Johnson (46), wat haar gehelp met die ontwerp van die boek, is pas aan kanker oorlede.

Sy raak bewoë wanneer sy vertel: “Ons het saam hier gesit en werk, rug-aan-rug . . .”

En toe dog ek op ’n dag, so twee-en-’n-half jaar gelede, ek is die mens in die wêreld wat wragtig die meeste van die vrou weet.

Petrovna het daarna die sielkundige L.M. van der Merwe se gesprekke wat hy met talle mense (insluitend André P. Brink, Rabie, Wallace en Krige) oor Jonker gehad het, gepubliseer onder die titel Gesprekke oor Ingrid Jonker.

“En toe dog ek op ’n dag, so twee-en-’n-half jaar gelede, ek is die mens in die wêreld wat wragtig die meeste van die vrou weet. Sy word al hoe gewilder om die aardbol.”

En nou verskyn haar Ingrid-biografie. Ek vra haar waaraan sy die belangstelling in Ingrid toeskryf?

Die omslag van Petrovna se biografie oor Ingrid Jonker. Foto: Verskaf

“Sy is vol argetipiese temas. Daar is die tema van die ma wat haar verlaat deur jonk dood te gaan; die pa se verwerping van voor geboorte af: ‘Wie sê dis my kind?’ . . . En die stiefma was verskríklik.

“Dit is die kunstenaarsiel wat ’n roeping het van so klein af. Sy’t begin deur AG Visser se gediggies te lees, toe die Hallelujaboek, en die Hallelujaboek leer haar gediggies skryf. Haar ouma het vir die bruin mense op die strand kerk gehou en dan moet sy haar gediggies kom lees. En sy weet haar vervulling en haar roeping in die wêreld is dít.

“Dan is dit die romantikus wat die liefde soek en dit nie kan kry nie en ás sy dit kry nie kan hanteer nie. Dis die verskríklike effek van ’n aborsie wat ’n mens kan verniétig as jy so sensitief is. Toe sy sê sy is swanger en Jack Cope sê vir haar: ‘What are you going to do about it?’ op ’n datum wat ek het in 1961 in die Café Royal . . . Daai oomblik het haar lewe begin afgaan. Haar hele vertroue in die mensdom is nét daar vernietig.”

Maar hoe Ingrid verdrink het, weet ek nie, want jy kán nie inloop en verdrink nie.

Oor waarom haar dood mense so aangryp:

“Dit is water; dis verdrinking; dis terug in die baarmoeder; dis terug in die see wat die moeder van alles is. Maar hoe Ingrid verdrink het, weet ek nie, want jy kán nie inloop en verdrink nie; jy kom die heeltyd op. Die teorie wat vir my die meeste sin maak, is dat sy op die rotse gegly het en dis ook hoekom haar gesig so vergruis was aan die kant. Sy moes bewusteloos gewees het. En daar was geen storm nie; dit was ’n doodstil see. Ek dink sy het op daardie manier verdrink.”

Dit kon dus ’n ongeluk gewees het?

“Ja, maar sy wou [haar eie lewe neem]; sy’t aanhou sê sy wil.”

’n Ruk ná ons onderhoud deel Petrovna die reaksie van Ingrid se dogter, Simone, met my:

“Ek kon nog nooit my gevoelens oor my ma deel buiten om te sê dat ek heeltemal versot is op haar pragtige poësie nie. Nadat ek Petrovna se nuwe biografie gelees het waarin sy skryf oor wat werklik by Clifton aangegaan het, kan ek net sê my hart is gebreek. Ek kan dit nou uiteindelik sê.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Ingrid Jonker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.