Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Elke dag wag nóg pynlike besluite
Hendrik Hancke gesels met Jacques Koning

Met sy ongeskeerde baard en tatoeëermerke lyk Jacques Koning soos ’n konstruksiewerker, ’n rocker of ’n lid van ’n motorfietsbende, maar dié Pretoriase internis is een van ons land se dapper vegters in die voorste linie in die stryd teen die koronavirus.

Met sy ongeskeerde gelaat en tatoeëermerke lyk Jacques Koning maklik soos ’n konstruksiewerker, ’n rocker of ’n lid van ’n motorfietsbende, maar dié Pretoriase internis is een van ons land se dapper vegters in die voorste linie in die stryd teen die koronavirus. Foto: Deon Raath

Die afgelope week, in sy huurhuis teen die berghang in Montana in die noorde van Pretoria, brand ’n gesellige braaivuur. Op die balkon sit Koning (46) met ’n glasie landgoedrooi die wêreld onder hom en beskou.

“Daardie dag toe jy jou handboeke oopmaak en jy begin lees oor die Spaanse griep, pokke en masels, het hier in jou agterkop ’n alarm afgegaan. Jy het geweet jy moet reg wees vir hom. En nou is hy hier.”

Hy lag wrang. “Die koronavirus het eintlik my lewe gered.”

Hy was in Januarie verlede jaar in ’n motorfietsongeluk.

“Ek het op ’n reënerige dag in Zambezirylaan gery en toe word ek twee weke later wakker in die hospitaal. Ek was twee weke in ’n koma.”

Terwyl hy herstel het, het hy gelees van Covid-19 en geweet hier kom ’n groot ding. Hy het ook geweet hy sal dié ding sonder vrees moet pak. Dit het die veggees in hom wakker gemaak.

Ek kan ’n siekte kies wat duisende doodmaak of ’n entstof wat drie doodmaak.

“Ons kan vir hierdie virus nie vrees wys nie. Eerbiedig hom. Toon hom die respek wat hy verdien. Maar vir die dokters wat betrokke raak, is dit nie nou die tyd vir histerie nie. Of vir wetenskapsfiksie-idees soos veeartsenykundige wondermiddels nie.”

Hy sien dit soos ’n oorlog, met die soldate in die loopgrawe.

“Ek is die offisier met die fluitjie. As ek die fluitjie blaas, moet my mense oor die rand klim, maar ek gaan ook. Ek bly nie in die loopgraaf terwyl hulle die oorlog veg nie. As ek nie saam uitklim nie, klim niemand uit nie en dis hoe ons die ding aanpak,” sê Koning.

Hy sê die tweede vlaag is ongetwyfeld aansteekliker. “ ’n Mens kan dit sien aan die hoeveelheid vroue wat opgeneem word vergeleke met mans. Eers was dit twee derdes mans en een derde vroue. Nou is dit 50/50.”

Met die vorige vlaag was daar bitter min pasiënte onder 45. Nou is dit 35. “En ons neem hele gesinne op.”

’n Belangrike deel van die fokus in die geveg teen Covid-19 is die personeel.

“Sonder om koud te klink, siek pasiënte is siek pasiënte. Hulle gaan altyd daar wees, maar die opgeleide personeel is beperk. Sonder hulle gaan die trane net meer word.

Jacques Koning Foto: Deon Raath

“Wat dié siekte anders maak, is ons weet ons mediese ouens is potensieel die ouens wat die eerste pak slae gaan vat. Ons is in die spervuur.”

Die personeel kyk dood en wreedheid in die oë en hulle bly kyk, want dis hul plig, sê hy.

“As hierdie ding verby is, gaan ek self politici se name van straatbordjies afruk. Ons moet dit vervang deur elke verpleër en nooddienswerker wat met hulle lewe betaal het.”

Vir die ambulanspersoneel het hy baie respek.

“Ons sit nou met ambulanse wat snags terugkom hospitale toe sodat siek mense wat nie suurstof kan kry nie, in die ambulanse gehelp kan word.”

Vrees is oral.

“Die hele beweging teen inentings en die wetenskap is gebore uit vrees, maar ons is net so bang.

Vrees is oral. “Die hele beweging teen inentings en die wetenskap is gebore uit vrees, maar ons is net so bang."

“Wat van die suster wat ná haar skof te bang is om huis toe te gaan, want sy kan die virus gesin toe vat? Wat in die boonste slaapkamer alleen bly, eers haar klere in die wasmasjien sit en stort voordat sy haar honde kan groet.

“Ons beheer nie die pandemie nie, die pandemie beheer ons,” sê Koning.

Moeilike besluite is ’n daaglikse ding.

“Die eerste golf het gegaan oor hoe ons almal kon red en die beste diens aan almal kan bied. Nou is dít nie meer die gesprek nie.

“Ons kyk nou na watter groepe die beste kans het om te oorleef met minimale ingryping en daar word op hulle gefokus. Die ekstremes val nou uit.

“Die kans word gegee vir die ou wat ’n kans het, die ou wat drie of vier dae se suurstof nodig het en hy is reg.”

Hy glo entstof is die enigste uitweg.

“Dis nie ’n maklike keuse nie, maar uit ’n mediese oogpunt is die samelewing se gesondheid belangriker as die individu s’n.

“Nes ek nou moet besluit wie het ’n kans en wie nie, weet ek ook jy kan miskien seerkry met entstof en ek is jammer en ek sal my beste gee dat dit nie gebeur nie en aanpassings maak, maar ek moet na die groter prentjie kyk,” sê Koning.

Jacques Koning: een van ons land se dapper vegters in die voorste linie in die stryd teen Covid-19. Foto: Deon Raath

Hy sug.

“Uit ’n etiese oogpunt het medisyne selde net mooi opsies. Jy het kanker. Ek kan jou opereer of bestraal, maar jy moet kies. Ek kan ’n siekte kies wat duisende doodmaak of ’n entstof wat drie doodmaak. Ons het voor entstowwe vir 2 500 jaar met masels saamgeleef. Pokke was iets soos 8 000 jaar.”

Die meeste oggende lui sy foon al van 05:30 af. Teen 08:00 is hy op sy pos by die Montana-hospitaal.

Vir baie mense is Covid-19 dalk net ’n krapperige keel vir ’n paar dae, maar dis nie wat hy in die hospitaal sien nie. “Ek het drie of vier keer soveel pasiënte in die hospitaal as voor die pandemie. So 80% tot 90% van my dag bestaan uit Covid.

“Die virus bepaal hoe my dag verloop. Ek kan in die middel van iets wees, dan is daar ’n resussitasie of ’n afsterwe. Jy los maar en hardloop.

“Ons jok nie hieroor nie. Ons wil julle nie bang maak nie. Ons sê hierdie dinge omdat ons omgee. Ons worry, daarom waarsku ons. Want as jy vanaand hier aankom, het ek dalk nie vir jou ’n bed nie en ek wil nie daardie besluit neem nie.”

Hendrik Hancke

Hy reken Suid-Afrika het met die eerste vlaag nie te sleg gevaar nie. Ons was nie Italië nie.

“Daardie beelde van weermag-vragmotors vol lyke. Ons het dit vermy, want ons het ’n vier maande waarskuwing gehad.

“Toe raak ons almal blasé. Nou raak-raak ons aan die Italië van destyds.

“Ons kan groter massas hanteer as met die eerste vlaag, want pasiënte spieëlbeeld mekaar, so ook jou behandeling. Dié keer is genoeg beddens die uitdaging, nie behandeling nie.”

Ná elke dag in die loopgrawe wag sy geliefde stoep en ’n spul katte en honde.

“Ek skakel af deur te braai. Ek sit hier op my stoep by my Weber met ’n glas wyn en kyk hoe Pretoria afskakel, al bly ek meestal aangeskakel. Ek kla nie. ’n Mens is moeg, maar dis nie moeite nie. Dis jou passie.”

En wanneer die vuur brand, hardloop Jacques Koning van Montana weer na die vlamme toe, sonder om te dink.

Meer oor:  Koronavirus  |  Medici  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.