Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Herkoms in ons eie mond

Quintin Goliath is ’n rapper, skrywer en musikant wat vir Afrikaans en Kaaps ’n nuwe jas aantrek. In die vermaaklikheidsbedryf staan hy bekend as Jitsvinger (uitgespreek Djitsvinger).

Woorde is sy kos. Hy rits woorde af teen ’n tempo wat jou kop laat swymel. Sy tong is los. Hy noem homself ’n argitekbek. Die beelde wat hy gebruik is vars en oorspronklik.

Hy praat AfriKaaps as hy verduidelik: “Woordspeling. Rangskikking van woorde. Dit is my kos daai. Die challenge om original te wees.”

Hy het vakansies by sy tannie en nefies op die Kaapse Vlakte gaan kuier waar Afrikaans ’n ­ander identiteit in die vorm van Kaaps het.

“Djy hoor interessante goed. Ek het bionic ore gehad. As ek ’n ­nuwe woord hoor, dan si’ dit vas aan my. Ek het dorings. Woorde is vi’ my soos kapok. Nou steek ek net my penne uit.”

Hy sprei sy vingers uit soos staalpenne.

“Dan steek hierie woorde vas, en dan kom ek by die huis.” Hy trek die denkbeeldige woorde van sy vingers af.

“Dan vat ek al hierie woorde saam. Dan kyk ek watter kan ek gebruik.”

Dis hier in die hart van die Kaapse Vlakte waar hy identiteit in taal begin raaksien het.

“Jy remind jouself waarvandaan jy kom met jou taal. Daai’s hoekom identiteit belangrik is. Baie van ons vergeet, dan soek ons op ­ander plekke ons herkoms. Maar dis ­eintlik in onse eie monde.

“Afrikaans is so ’n inklusiewe taal wat eintlik eksklusief gemaak is.

“Ek was verbaas gewees toe mense sê Afrikaans gaan dood. Eintlik gaan dit oor die mense self en nie oor die taal nie. Die taal word gepraat deur ’n sekere mens in ’n sekere way, in ’n sekere gemeenskap en kultuur.

“Restore die gemeenskap, dan gaan die taal weer leef.

“So daar is nou ’n gemeenskap wat langs die kantlyn staan wat deel was van die taal toe dit geskep is en nou staan daardie gemeenskap vir die afgelope 150 jaar teen die kantlyn. Nie as bydraers wat die taal vorentoe trek nie. Ek dink dis grotendeels die probleem.

“Ek weet nie of jy kykNET kyk nie. Ek kyk en ek soek die variante. Die mense wat die taal praat, daar is nie variasie nie. Daar is net een variant. Jy moet die res van die mense restore. Sodat almal kan proe. Dis ’n lewende taal. Dis ’n kreatiewe taal.

“Kaaps is ’n variant. Met ’n geskiedenis. Ek is gefascinate deur die ander (variante) – Eldorado Park, PE, Karoo.

“Dis dáár waar die ouens rap, poetry skryf. Dis daar waar die taal actually die main stage kry. Jy kan hoor hoe hulle hulself uplift. Dis ’n spiritual ding. Jô. As party mense dit praat – djy kan dit binne-in jou voel. Al jou chak­ras is aan die brand. In die way hoe daai een met een woord die hele kamer vol kan maak. Met net ’n woord. Jy wil amper sê: Amen!

“Taal is ook ’n instrument. Kom ons sê die instrument is ’n skepping. Of hy is geindustrialise, gestandardiseer in 1875. Deur die Genootskap van Regte Afrikaans.

“Kom ons beklemtoon régte Afrikaans, want hoekom is julle nou die régte Afrikaans. Wie is dan die verkeerde Afrikaans? So julle het dit nou gestandardiseer, julle gemeenskap.

“150 jaar later ken ons nou al hierdie instrument. Kom ons modify die instrument. Ons het nuwe tegnologie, maar julle hou so aan daai instrument vas. Ons kon nou al die ding so geredifine het.

“En dis wat AfriKaaps doen. Dit redefine die instrument en dit gee die ander innovaters van die taal ook ’n kans om gesien te word en te sê o, hulle gebruik die instrument só. Dis ook deel van die instrument.

“Maar hier is net een ingenieur sover. So die kreatiewe force in onse gemeenskappe bars al uit die nate al. Hulle speel dit hier rond, maar dit word nie gesien as amptelik nie, as deel van die taal nie.

“Baie sê suiwer. As ek die woord hoor ‘suiwer’ – as jy sê ’n taal is suiwer – gee my dan die rouste vorm van die taal. Suiwer. Dis rou. Daar is niks getweak nie. Dáái is suiwer. Maar nou word die woord ‘suiwer’ gebruik om eksklusiwiteit te behou. Nou voel die res al weer gesideline.

“Oukei, so ek praat nie suiwer Afrikaans nie. Ek sê ‘djy’ nie ‘jy’ nie. Ek se ‘hys’ nie ‘huis’ nie. Maar ék is mos nou nie jy nie,” beklemtoon hy die ‘j’ in ‘jy’ en lag. “Maar daai’s die kwaai ding. Dis die verskille wat saamloop.

“Jy moet ’n kind wees om te kan skep. Because ’n kind sal ’n klip vat en deur al jou sintuie gaan om te weet wat is dit. Ek gaan daai klip proe, ek gaan hom voel in my hand, djy gaan hom ruik, hier teen jou oor sit. Djy gaan explore deur als van hom.

“En deesdae lykit vir my word taal net gelees of geluister. Maar so one-dimensional. Ek wil hê die mense moet beginne proe. Hoe voel dit aan jou vel? Trek dit aan soos ’n djas! Hoe lyk taal as taal voor jou staan?”

Maar hoekom praat baie mense uit die bruin gemeenskap in sekere omstandighede eerder Engels as Kaaps?

“Om geaanvaar te word. Laat ons nie vergeet nie, toe die Genootskap van Regte Afrikaans gedoen het wat hulle gedoen het, het hulle die res van die Afrikaanse gemeenskap vervals.

“Daar was ’n innerlike selfhaat wat toe plaasgevind het. Met ander woorde, jou Afrikaans is nie intelligent nie, is nie suiwer nie, is nie . . . Al die negatiewe konnotasies word aan Kaaps geheg.

“Kyk dan nou wat doen die media. Ons is skollies. Al wat movie is, boek, bestseller wat uitkom gaan oor ’n tipe promiscous, violent gemeenskap. So die taal het soveel te doen met die taal as met die mense, want praat nou die taal van die mense wat van daai plek af kom, dan word dit onder daai lig geplaas.

“Die negatiewe lig van nee, jy is seker ’n gangster of ’n guardtjie. So dis hoekom mense ’n sekere tong aanpas om in te pas.

“Dit gebeur met my ook. Die verskillende tale is in kompetisie teen mekaar in my brein. Maar vir sekere geselskappe switch ek, as ek hoor o, jy gebruik daai tipe woordeskat. Dis seer, dis pynlik. Ja, maar hierdie gaan nie verander tot ons onsself definieer as Afrikaansés nie. Tot dán sal dit maar altyd so wees. Daai is ook hoekom AfriKaaps is wat dit is. Dit het te doen met die under-the-rug-swept swart geskiedenis van die taal. Waar het dit vandaan gekom? Wie is ons regtig?

“Ons is ’n multilayered cake. As jy die koek so kyk, dan sien jy – wow! Ons het maar altyd nog niet die icing geproe die heeltyd. Niemand het dieper gesny nie.

“Dan kry jy mos al die ander flavours. Al daai flavours wag om geproe te raak. En nou dat djy proe, nou inspire dit vir jou. Daar is ’n gemeenskap wat aan die een kant wag om inspire te word en daar is ’n gemeenskap wat wag om te inspire.

“Daai’s wat die taal terughou. Almal moet ’n kans kry om te express. As ek nie kans kry om te express nie, wat gaan gebeur? My ingewande, ek voel – dit gaan explode. Nou implode dit. Dit kan nie vir te lank ingehou word nie. Daar gaan puisies uitkom!

“Laat dit nie gebeur nie. Maak oop die ventricles. Mense moet hulle harte oopmaak. Hulle breins oopmaak. Oë, ore. Ál hulle sintuie oor taal.”

Hy kyk op. Amper pleitend. Hy praat sag en nadruklik. Die geesdrif dans in sy oë.

“Proe hom. Voel hom. Ruik hom. Hoor hom. Luister.”

 Jitsvinger tree môre en Saterdag op by die Tuin van Digters in Wellington. Vir die volledige program besoek www.breytenbachsentrum.co.za.

Marchelle van Zyl is ’n vryskutjoernalis.

Meer oor:  Taal  |  Afrikaans  |  Sanger  |  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.