Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Hi, ek is Jeremy . . . ’

Sy tyd as verslaggewer in Suid-Afrika met die oorgang na demokrasie, was die hoogtepunt van sy loopbaan van 50 jaar, het die bekende Britse televisie-joernalis Jeremy Thompson oor ’n koppie koffie aan Sarel van der Walt vertel.

Jeremy Thompson het ’n loopbaan van 50 jaar as joernalis gehad. Foto: Sarel van der Walt

Suid-Afrikaners wat Sky News op televisie kyk, het Thompson oor baie jare geleer ken as ’n puik ankerman en joernalis.

Hy was veral bekend as die mede-aanbieder van die program Live at Five.

“Good day, you are watching Live at Five from London. In breaking news this afternoon . . . ”

Hy verskyn skielik van agter af op die stoep van die restaurant.

Thompson het vanoor die hele wêreld uitgesaai en het ’n baanbrekersrol in televisie-joernalistiek gespeel.

“Hi, I’m Jeremy,” sê hy met daardie bekende uitsaaistem. Daar is ’n groot glimlag op sy gesig. Thompson skud vriendelik blad en hang sy baadjie oor ’n stoel.

Hy lyk baie jonger as sy 70 jaar.

Die veteraan nuusman is dieselfde goed ingeligte, innemende en deernisvolle mens wat ons oor soveel jare op televisie geleer ken het.

Thompson het vanoor die hele wêreld uitgesaai en het ’n baanbrekersrol in televisie-joernalistiek gespeel.

Hy het onder meer verslag gedoen oor die moordverhoor van Oscar Pistorius in Pretoria.

Van die Withuis in Washington tot die slagvelde van Irak en Joego-Slawië het hy verslag gedoen.

Van Tiananmenplein in Beijing met die studente-onluste in 1989 tot natuurrampe in Asië en die moordverhoor van Oscar Pistorius in Pretoria.

Ook oor die Yorkshire Ripper en die verdwyning van Holly Wells en Jessica Chapman wat die wêreld se verbeelding aangegryp het.

Hy het ook verslag gedoen oor Engelse kriekettoere in Indië en Australië, die Olimpiese Spele, die Wimbledonse tennistoernooi en die Britse Ope-gholftoernooi.

Tyd in SA ’n hoogtepunt in sy loopbaan

Wat baie Suid-Afrikaners dalk nie weet nie, was dat hy in die vroeë 1990’s Sky News se eerste verteenwoordiger in Suid-Afrika was nadat ’n ander Britse TV-kanaal, ITN, hom aanvanklik hierheen gestuur het.

Hy het verslag gedoen oor die vrylating van Nelson Mandela, die moord op die SAKP-leier Chris Hani, die eerste demokratiese verkiesing, Madiba se inhuldiging en die 1995 Wêreldbeker-rugbytoernooi.

In 2013 het Sky News hom teruggestuur hierheen om verslag te doen oor Mandela se afsterwe en begrafnis.

Suid-Afrika het op ’n manier ons tweede tuiste geword.

Oor Mandela, vertel hy baie staaltjies — soos onder meer dat Mandela by hom (Thompson) die eerste keer sy boek Long Walk to Freedom gesien het.

Dié boek, met Madiba se handtekening daarin, het ’n spesiale plek op sy boekrak.

Die paar jaar wat hy korrespondent was met die politieke oorgang in Suid-Afrika, beskryf hy as dié groot hoogtepunt van sy loopbaan.

“Suid-Afrika het op ’n manier ons tweede tuiste geword. Ek en my vrou (Lynn) kom al die laaste 20 jaar elke jaar in Februarie hierheen.

“Dié keer is ons vir drie weke hier om te kuier en om my boek bekend te stel. Ons het gister teruggekom uit die Laeveld ná ’n paar dae in die bos. Nou gaan ons Kaap toe. Ek gaan selfs by die Woordfees in Stellenbosch optree saam met onder andere Max du Preez. Dit sal ’n paneelbespreking wees oor Suid-Afrika onder Cyril Ramaphosa,” vertel Thompson.

Ramaphosa ’n inspuiting van opportunisme

Hy het Suid-Afrika die eerste keer in 1982 besoek en is steeds op hoogte met wat hier gebeur.

Met verwysing na die huidige politieke situasie in Suid-Afrika, sê hy die oorname van Ramaphosa as president “was minstens ’n inspuiting van optimisme in die land ná nege baie moeilike jare.

“Cyril is nie perfek nie,” sê hy en voeg amper dadelik by “maar demokrasie is ook nie perfek nie . . . ”

Ek kan aanvoel die gemoed in die land is beter noudat Cyril president is. Hopelik sal die wêreld Suid-Afrika nou weer ernstig begin opneem en weer hier begin belê.

Thompson sê as ’n buitestander het dit hom seergemaak dat die demokrasie waarvoor so baie Suid-Afrikaners bloed gestort het, ondermyn is in die nege jaar wat Zuma president was.

“Ek kan aanvoel die gemoed in die land is beter noudat Cyril president is. Hopelik sal die wêreld Suid-Afrika nou weer ernstig begin opneem en weer hier begin belê.

“Onthou net, die demokrasie in dié land is nét 24 jaar oud. Ons (in Brittanje) het al vir 800 jaar of wat demokrasie en ons maak steeds foute.”

Thompson was destyds ’n ooggetuie van onder meer die Bisho-slagting in die Oos-Kaap en geweldpleging op verskeie ander plekke in die land waar hy gereeld vir die koeëls moes koes.

Van bloed stort gepraat. Thompson was destyds ’n ooggetuie van onder meer die Bisho-slagting in die Oos-Kaap en geweldpleging op verskeie ander plekke in die land waar hy gereeld vir die koeëls moes koes.

“Dit was ’n wipwaentjie-rit vir vyf jaar,” onthou hy daardie jare.

Thompson, wat sy loopbaan afgesluit het met die Amerikaanse verkiesing in November 2016, sê sy rol as aanbieder “was om aan die kyker ’n leidende hand te gee, ’n objektiewe stem van rede te wees en konteks en geloofwaardigheid te verskaf.”

In sy lekkerlees boek neem hy jou op ’n reis deur sy lang en uitgerekte loopbaan.

Hy wou nie self drieë druk nie

Hy het sy loopbaan begin as ’n jong en onervare joernalis op die Engelse platteland en dit 50 jaar later afgesluit as een van die mees gesaghebbende TV-joernaliste in die wêreld.

Jy lees dat dit sy droom was om ’n Fleet Street-joernalis (die groot Britse koerante was destyds almal in Fleet Street, Londen, gehuisves) te word, maar dat sy pad van sy begindae by die Cambridge Evening News via die BBC se radiodiens uiteindelik na televisie gelei het.

Een van die mooi staaltjies wat Thompson in die boek vertel was van sy begindae by die Cambridge Evening News.

Terwyl sy spanmaats met rustyd gerus het, het hy hom na die naaste telefoon gehaas om ’n paar woorde oor die wedstryd na die koerant deur te bel.

Hy het sonder dat redakteurs by die koerant daarvan geweet het, vir die dorpspan van Ely in die graafskap Cambridgeshire rugby gespeel en terselfdertyd oor die wedstryd verslag gedoen.

Terwyl sy spanmaats met rustyd gerus het, het hy hom na die naaste telefoon gehaas om ’n paar woorde oor die wedstryd na die koerant deur te bel.

Omdat hy nie wou hê sy base moet weet hy speel rugby nie, het hy nooit self drieë gedruk nie, maar eerder die bal vir sy spanmaats gegooi sodat hy nie nodig gehad het om sy naam onder die puntemakers aan te teken nie!

Hy lag lekker daaroor.

“Ek is nou nog ’n groot rugbyman. My huis in Teddington, Londen, is nie ver van Twickenham (die beroemde rugbystadion) af nie. Ek kan soontoe loop.

Thompson het met die 1995 Wêreldbeker-rugbytoernooi bevriend geraak met Francois Pienaar, die seëvierende Springbokkaptein.

“Ek is ook ’n seisoenkaartjiehouer by die klub Harlequins en gaan kyk gereeld wanneer Quinns speel,” vertel hy.

The Stoop, die tuiste van Quinns is net agter die Twickenham-stadion.

Thompson het met die 1995 Wêreldbeker-rugbytoernooi bevriend geraak met Francois Pienaar, die seëvierende Springbokkaptein.

Hulle is nou nog groot vriende. Pienaar het selfs ’n aanbeveling op die flapteks van Breaking News geskryf.

“As ek in Kaapstad is, sal ek beslis saam met Francois kuier,” sê Thompson terwyl hy ’n sluk koffie neem.

Spyt hy het val van Mugabe gemis

Hy vertel toe hy die satirikus en joernalis PJ O’Rourke se boek Holidays in Hell gelees het oor dié se ervaringe in oorlogsgebiede, het hy gedink hy sou nie self ’n boek skryf nie omdat dit nooit so goed sou wees soos O’Rourke s’n nie.

“Toe ek besig was om my boek te skryf, het ek besef ek het nogal baie deurgemaak in 50 jaar.

“Ek het so baie deurgemaak dat dit moeilik sal wees om nog ’n druppel uit my loopbaan te tap.

Jeremy Thompson is bekommerd dat moderne joernalistiek aan gehalte inboet. Foto: Sarel van der Walt

“Dinge is besig om te verander. Die joernalistiek is oor die algemeen besig om te verander en is nie meer wat dit was nie.

“Dit voel soms vir my of gehalte ingeboet word.

“My gevoel is dat ek die goue jare van televisienuus beleef het. Die tegnologie in die media begin nou beweeg in ’n rigting waarin ek sou sukkel om by te bly.”

Thompson sê hy is baie dankbaar hy kon sy loopbaan afsluit met ’n groot nuusstorie soos die verkiesing van pres. Donald Trump in Amerika.

Hy sê die skryf van die boek het hom baie gehelp om ná sy aftrede aan te pas.

Thompson sê hy is baie dankbaar hy kon sy loopbaan afsluit met ’n groot nuusstorie soos die verkiesing van pres. Donald Trump in Amerika.

Met sy aftrede het hy nou meer tyd om saam met Lynn, sy kinders en kleinkinders deur te bring.

Hy praat met groot deernis en dankbaarheid oor sy vrou.

“Ek het ’n wonderlike vrou wat baie keer die spit moes afbyt terwyl ek die wêreld vol gereis het.

“Weet jy, hoe meer die televisie-tegnologie ontwikkel het, hoe moeiliker moes dit vir haar gewees het.

Die enigste keer wat ek half spyt was dat my loopbaan verby was, was met die val van (Zimbabwe se) pres. Robert Mugabe einde verlede jaar.

“In die ou dae was ek op ’n storie en het kom vertel wat gebeur het. Dan het sy gesê ‘sjoe!’.

“Toe verander dinge en sy kon sien hoe ons byvoorbeeld tydens die oorlog uit Irak regstreeks uitsaai en wat gebeur. Dit was vir haar moeilik, maar sy het aangepas.

“In ’n beroep soos myne het jy ’n sterk vrou nodig om jou te ondersteun en te glo in dit wat jy doen.”

Was hy nie al spyt hy het afgetree nie?

“Die enigste keer wat ek half spyt was dat my loopbaan verby was, was met die val van (Zimbabwe se) pres. Robert Mugabe einde verlede jaar. En dalk die einde van (oudpres. Jacob) Zuma hier,” sê Thompson.

Dan voeg hy laggend by: “Ek weet darem nie of ek nog lus sou wees vir Brexit en Donald Trump nie!”

*Sarel van der Walt is ’n politieke joernalis van Netwerk24 en ’n voormalige Londense korrespondent vir Media24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.