Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hoe om Harry in Afrikaans te lees en jou selfrespek te behou

Wyle Harry Kalmer het met sy werk gewys dat Afrikaans ’n bepaalde, unieke manier van kyk na menswees en die wêreld moontlik maak, skryf Willie Burger.

Die voorblad van die program vir die huldigingsgeleentheid wat verlede Vrydag vir Harry Kalmer gehou is.

Vroeër vanjaar het Harry by Unisa se Breyten Breytenbach-seminaar gepraat. Die titel van sy praatjie was: “How to write in Afrikaans en still respect yourself in the morning”. (Dit is ’n tipiese Harry Kalmer-trefsin! Dink net hoe dikwels hoe die titels van sy werke die soos advertensie-deuntjies die aandag getrek het: Die waarheid en ander stories; En die lekkerste deel van dood wees; The secret of my excess.) Dit sal gepas wees om sy titel aan te pas as ’n mens kyk na die akademiese studie en ontvangs van sy werk: “How to study Afrikaans Literature and still respect yourself in the morning”.

Die bestudering van Afrikaanse literatuur vind dikwels in isolasie plaas, steeds in ’n laer van apartheid. A case of exceptionalism.

Dis miskien ook omdat hy juis nie betrokke geraak het by bakleiery oor en om Afrikaans nie.

Vir my as gekompromitteerde dosent van Afrikaanse literatuur – ’n literatuur en ’n vakgebied dikwels afgesonder binne die Suid-Afrikaanse huis van letterkunde, ’n literatuur met ’n aparte ruimtetjie waarbinne baie mense hul slegs toespits op Afrikaans, ’n Afrikaanse wêreldjie, is Harry Kalmer een van die skrywers wat dit onmoontlik maak om uitsluitlik te kan besig wees met Afrikaanse literatuur, wat altyd verder dwing, ander denke en moontlikhede en verbande oopmaak.

En daarom stel hy sy lesers in staat om Afrikaans te lees en steeds hulself die volgende oggend te respekteer.

Al het Hennie van Coller dit nie goedgedink om ’n profiel oor Kalmer in die driedelige Perspektief en profiel se kanonisering in te sluit nie, is Kalmer een van die groepie skrywers in Afrikaans wat ’n leefwêreld in Afrikaans buite die Afrikaanse leefwêreld moontlik maak.

Dis miskien ook omdat hy juis nie betrokke geraak het by bakleiery oor en om Afrikaans nie – wanneer Spek Harmse motiveer waarom hy Afrikaanse advertensies skryf, bied hy geen van die holruggeryde argumente nie, is daar geen angsvalligheid nie, bloot ’n gevoelige oor op die grond en vir die klank van die raak woorde.

Stories in ’n tyd van geweld

Harry Kalmer het gedebuteer in ’n tyd van noodtoestande, en toe dit – soos nou – moeilik was om te onderskei wat regtig in die land aan die gang is en wat propaganda is. Foto: Facebook

Die Suid-Afrikaanse literatuur van die paar dekades vóór 1994 word gekenmerk deur anti-apartheidsentimente: “betrokke literatuur”. Kalmer het in hierdie stadium gedebuteer, in ’n tyd van noodtoestande, en toe dit – soos nou – moeilik was om te onderskei wat regtig in die land aan die gang is en wat propaganda is. Toe verskyn Die waarheid en ander stories. Die verhale sluit aan by die grensverhale van die tyd – die geweld, diensplig, struggle, maar veral ook blootlegging van leuens wat die geweld regverdig.

Die interessante is egter hoedat Kalmer, anders as die meeste ander skrywers van grensliteratuur (byvoorbeeld Strachan, Van Heerden, Kellerman, Kruger) met sy ironiese sin vir humor, ook selfrefleksief met die “genre” van die grensverhaal omgegaan het – soos die veelseggende titel van die een verhaal aandui: “Die nag steek op soos ’n seer tand; ’n grensverhaal in die jongste styl”.

Hierdie titel (en verskeie aanhalings en verwysings in die verhaal self) is ’n aanduiding van hoedat Kalmer, reeds in 1989 – midde in die opbloei van “grensliteratuur” ook sy bydrae gelewer het tot grensliteratuur – maar anders as by die ander was daar by hom nie bloot die rapportering van die “waarheid” van die situasie nie, maar ook ’n selfbewuste wete van waarmee hy besig is en ’n ironiese blik daarop.

Sy selfbewuste in voeling wees met die literêre stromings van die tyd sowel as met die sosiopolitieke situasie waarin hy skryf, is ’n kenmerk van Harry Kalmer se oeuvre. Foto: Hannelie Coetzee

Dié selfbewuste in voeling wees met die literêre stromings van die tyd sowel as met die sosiopolitieke situasie waarin hy skryf, is ’n kenmerk van Kalmer se oeuvre. Die selfbewuste deelname aan die literêre stromings stel hom egter ook in staat om so half buite daardie strominge en tendense en temas te staan. Juis hierdie buitestaan stel hom in staat om ook op subtiele wyse oor die tendense en stromings te reflekteer.

Dit doen hy tot in sy laaste roman. In ’n Land sonder voëls sluit hy aan by die tendens om distopiese verhale te skryf – maar dan doen hy dit vol selfspot en ironie – veral met die verwysing na die distopiese literatuur van Orwell en Huxley.

Speurder Barries Barnard moet probeer sin maak van die chaos – tevergeefs in 'X-Ray', en later in 'Kniediep'.

Geweld is sentraal in byna al die literatuur sedert 1994 – Leon de Kock het na die “wondkultuur” in ’n “patologiese openbare Suid-Afrikaanse ruimte” verwys waarin misdaadfiksie ’n sentrale plek ingeneem het.

Kalmer is in voeling hiermee. Hy sluit ook aan by die misdaadgenre wat sedert die 1990’s in ons land bloeitydperk beleef. Misdaadfiksie as die uitdrukking van misnoeë met postapartheid Suid-Afrika, die teleurstelling met die gewaande reënboognasie. Misdaadfiksie bied by uitstek die geleentheid om alles wat verkeerd loop in die land van geweld en korrupsie bloot te lê, bied geleentheid om na die wonde te staar.

Speurder Barries Barnard moet probeer sin maak van die chaos – tevergeefs in X-Ray, en later in Kniediep.

’n Skrywer van die stad

Kalmer is by uitstek die skrywer van die stad – in teenstelling met die plaasromantradisie skep hy ’n wêreld waarin daar nie eens meer nagedink word oor plaasstof nie. Kalmer bied die soort prosa waarmee gewone, stedelike, middelklas-Afrikaanssprekendes kan identifiseer. Die eksplisiete “stadsroman”, 1000 stories oor Johannesburg, ondersoek ook selfbewus die tema van die stad. Johannesburg kom hier op ’n ander manier aan die bod: as megastad is dit die plek wat al die vlugtelinge opvang – nie soos Le Corbusier ’n stad sentraal wou beplan nie, maar juis in duisende versplinterde gebeurtenisse – sonder ’n enkele samebindende faktor – terwyl alles nogtans deur ’n netwerk verbind is.

Kalmer het ’n ander blik op die stad oopgemaak, maar ook ’n ander blik op die romankuns in ’n tyd van “netwerkdenke”.

Ondanks sy aansluiting by temas en tendense van die stad, grens, postmodernisme, geweld en wonde, is sy werk in die eerste plek menslik. Hy weet ons is “kniediep” in die moeilikheid, dat ons so eensaam is dat ons “briewe aan ’n rooi dak” skryf, dat behoort en tuisvoel altyd bietjie buite bereik is. Die onbereikbare afstand tussen mense is ’n onvermydelike kondisie van ons bestaan. En selfs as dit lyk asof daar versoening is, momente van nabyheid, word dit dikwels in die kiem gesmoor – soos weer in ’n Land sonder voëls.

En juis daarom is die momente wat een mens wel ’n ander deernisvol ervaar, so oorrompelend in sy werk. In hierdie momente munt Kalmer uit – dit is waarom En die lekkerste deel van doodwees so treffend is.

Wat hom so ’n uitsonderlike skrywer gemaak het is dat hy jou aweregs met ’n enkel sin kan tref, soos die beskrywing van die terugkerende Boer van die krygsgevangeneskamp wat weer sy vrou vind wat die trauma van die konsentrasiekamp oorleef het: “Wanneer Abraham uiteindelik van Ceylon af kom, het hulle so baie vir mekaar te sê dat hulle nooit daaroor praat nie.”

Karakters was nooit stereotipes nie

Harry Kalmer is by uitstek die skrywer van die stad. Foto: Felix Dlangamandla

Kalmer was nie slegs ’n goeie storieverteller nie, hy het ook die vermoë gehad om onvergeetlike karakters (met gepaste name) te skep. Meneer de Beer, X-Ray Visagie, Barries Barnard, Vlieger, Spek Human, Bosman Hiemstra, Magdalena Otto.

Die enkele kenmerk wat al die uiteenlopende karakters deel, is dat hulle nooit inpas nie en nooit stereotipes raak nie.

Sy fiksiekarakters is soos die historiese karakters waaroor hy skryf (Bram Fisher/hy was besig met Marius Schoon) nie stereotipes nie. Al is hulle dikwels oënskynlik gewoon, vaal, soos iemand aan ons almal bekend is.

Hy maak dit moontlik vir iemand soos ek, wat letterkunde moet doseer, om te wys dat Afrikaans ’n bepaalde, unieke manier van kyk na menswees en die wêreld moontlik maak. (En sodoende maak hy dit moontlik om Afrikaanse letterkunde te bestudeer met behoud van jou selfrespek.)

* Prof. Burger is hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Hy het dié toespraak gelewer by ’n huldigingsgeleentheid vir Kalmer op Vrydag 16 Augustus by die Killarney-buiteklub. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Willie Burger  |  Bram Fischer  |  Harry Kalmer  |  Letterkunde  |  Afrikaans  |  Fiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.