Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hoekom vermoor ’n kind ’n ouer?

Dr. Melanie Moen, opvoedkundige sielkundige en akademikus, praat met Murray La Vita oor ’n baanbrekerstudie waarin sy probeer vasstel waarom kinders hul ouers en ander familielede vermoor.

Dr. Melanie Moen by haar skildery wat op die voorplat van haar boek verskyn. Foto: Verskaf

Dit het begin as navorsing vir haar doktorsgraad en gelei tot die boek Portraits of Pain: Children Who Kill Family Members, wat pas uitgereik is.

“Ek het besluit om dié studie te doen, want dit is iets waaroor ek altyd gewonder het: Hoekom vermoor ’n kind ’n ouer?”

Moen, wat aan die Universiteit van Pretoria verbonde is, praat op Zoom uit haar huis in Brooklyn.

Maar die kinders wat hul ouers vermoor, is ’n bietjie anders.

“Ek weet nie of jy die meisie en haar kêrel onthou wat haar ma vermoor het nie. Hulle het haar agter die bank gelos en aangegaan met hul lewens asof niks gebeur het nie. Dít het my aan die dink gesit – hoekom sal ’n kind so iets doen?

“Dit is heeltemal anders as ander moorde – soos wanneer jy ’n vreemde persoon vermoor. Dié kinders is nie jou gewone jeugmisdadigers nie. Laasgenoemde kon jy so half oor ’n tydperk in die stelsel opgemerk het; hulle is dikwels by die skool ook ’n probleem.

“Maar die kinders wat hul ouers vermoor, is ’n bietjie anders. Die meeste van die gevalle wat ek bestudeer het, het nie op skool moeilikheid gemaak nie, so hulle het op die oog af ingepas en hul ding gedoen.

'Portraits of Pain' het pas by Imbali Academic Publishers verskyn.

“Hulle is gewoonlik in omstandighede wat so ondraaglik is dat hulle uiteindelik amper nie ’n ander keuse het as om die moord of moorde te pleeg nie.

“As ’n volwassene is dit vir jou baie makliker om uit ’n situasie te kom; jy kan byvoorbeeld skei en só uit ’n huwelik kom. Maar as ’n kind het jy maar min opsies om uit ’n huislike omstandigheid te kom wat nie vir jou werk nie. En omdat jy minder opsies het en die druk mettertyd so erg raak, spoel dit later oor in ’n moord of moorde by die huis, soos ’n ouer of ’n broer of ’n suster.

“Ek sê nie alle kinders wat aan hierdie omstandighede blootgestel word, gaan moor nie; dis ’n baie klein persentasie wat dit doen.”

‘Geweldige mishandeling’

Dis anders om ’n ouer of ’n broer of ’n suster te vermoor as om iemand anders te vermoor.

“’n Mens veronderstel daar moet ’n band tussen hierdie persone wees. As jy bereid is om hierdie persoon te vermoor wat eintlik veronderstel is om na jou te kyk en vir jou om te gee, verskil dit beslis van ’n ander moord.

“Baie min van hierdie kinders, oor wie ons inligting het, oortree weer nadat hulle vrygelaat word. Hulle gaan aan met hul lewens. Die stres, sê nou maar die ouer, is nou uit hul lewens. Hulle is nogal geneig om dan in te pas – hulle trou en hulle het kinders, soos gewone mense.”

Sy meen die meeste van dié kinders behoort nie die lang tronkstrawwe te kry wat hulle wel opgelê word nie. Hul agtergrond en die omstandighede van die familie moet swaar weeg.

Daar was eintlik nooit iemand wat vir hom opgekom en hom gehelp het nie.

“Reg en geregtigheid moet natuurlik geskied; ek sê nie hulle moenie gestraf word nie, maar vir baie van die kinders was die omstandighede só onuithoudbaar.

“Die eerste geval in die boek, die Nico-geval [sy gebruik skuilname], is ’n goeie voorbeeld. Hy is aan geweldige mishandeling blootgestel – dit was seksueel, dit was verbaal, dit was fisiek. Daar was eintlik nooit iemand wat vir hom opgekom en hom gehelp het nie.”

Nico het op 19-jarige ouderdom sy ma en sy grootouers doodgeskiet.

'n Kunswerk in 'Portraits of Pain'.

“Hy is byvoorbeeld nooit tronk toe gestuur nie. Maar ná sy geval is daar nie iemand van wie ek weet wat nie tronkstraf gekry het nie.”

‘Vroeg al verwerp’

Iets wat sy in haar studie in oënskou neem, is die bindingsteorie (attachment theory).

“Ek het dit in die studie gebruik, want ek het besef iets moes al vroeg in die kind se lewe, in die bindingsfase met die ouer, gebeur het.

“Daardie eerste paar maande van ’n kind se lewe is kritiék om met die ouer te bind. Ons praat van die venster van vyf tot agt maande, waarin jy wil hê dat absolute binding moet plaasvind. En as dit nié gebeur nie, is dit problematies vir die res van jou lewe.

“Dus begin van die kinders se lewens reeds met ’n gewaarwording dat ‘hierdie ouer wil my nie eintlik hê nie’. So, verwerping word van baie jongs af ervaar en dan sê van die ouers dikwels ook vir die kinders dinge soos: ‘Ek moes jou nooit gehad het nie’, ‘Ek wil jou nie in my lewe hê nie’ of ‘Ek wens ek het jou nie aangeneem nie’.

“Dít vererger die kind se angs en die gevoelens van onderdrukte aggressie. So, dit is absoluut die beginpunt van waar af dinge skeefloop.”

‘’n Gevaarlike ouerskapstyl’

Een van die moorde wat vir haar besonder moeilik was om mee te werk was dié van Karel (20), wat sy ouers met die hulp van sy suster, Nina, en haar kêrel, Riaan, vermoor het. Volgens Karel het sy ma hom gedurende die aanval herhaaldelik verseker dat sy hom liefhet.

“Ek moes die besonderhede van hierdie gevalle geweldig baie lees, maar dít was een van die gevalle wat ek nogal gesukkel het om weer te lees, want die moord was baie wrééd.”

Die ma is met ’n Tazer geskok, pogings is aangewend om lug by haar are in te spuit en om haar te versmoor deur ’n sak oor haar kop te trek, en uiteindelik is sy talle kere met ’n mes gesteek. Die pa is met ’n elektriese koord verwurg.

“Dit was kinders wat nie deur hul ouers mishandel is nie. As jy kyk na ouerskapstyle, het hulle die meer laissez-faire-ouerskapstyl gehad – dinge moet maar hul gang gaan.

“Dit word as een van die gevaarlikste ouerskapstyle beskou as jy na misdadige gedrag kyk. Ek dink die ouer dink: ‘Ek is ’n oulike ouer en ek is mos nou nie te streng nie en die kinders kan doen wat hulle wil.’ Maar dit is eintlik vir die kind die ergste omstandighede om nie daardie geborgenheid te voel of te weet waar die perke is nie.

“In daardie het die kinders nogal gekry wat hulle nodig gehad het – finansieel en so, maar daar was duidelik ánder dinge wat ook uitgekom het wat baie ongesond was."

‘Daardie moedeloosheid’

Moen het met Portraits of Pain baanbrekerswerk in Suid-Afrika gedoen. Sy skryf kundiges wat in hofsake getuig, moes tot dusver na internasionale studies verwys in sake waar kinders moorde gepleeg het.

“Hopelik sal kundiges in die toekoms die inligting in dié studie kan gebruik aangesien dit uit ’n Suid-Afrikaanse perspektief spruit. Die skrywer hoop ander sal op die bevindings in hierdie studie voortbou.”

Die kunswerk op die voorplat van haar boek, wat sy self geskep het, is vir haar ’n uitbeelding van die “tipiese kind wat jy in hierdie studie het”.

“Daardie moedeloosheid wat hulle ervaar oor hul omstandighede . . . In van hierdie hofsake praat jy van 2 000 bladsye wat jy lees. Ek het bóéke oor hulle gelees, so ek dink ek verstaan hierdie kinders op ’n manier.”

‘Soekend na liefde’

Moen het al met talle jeugdige moordenaars in die tronk onderhoude gevoer.

“Ek het self drie kinders wat tieners is en terwyl ek dié studie gedoen het, was hulle reeds tieners, so dit was vir my partykeer nogal erg. As ouer wonder jy byvoorbeeld: Is ek nie vandag ’n bietjie te kwaai nie?

“In sulke gevalle het ek gedink: O, jinne, wat dink hulle van my? Maar ek dink jy moet jouself elke keer ’n bietjie stop – en sê waarmee jy besig is, is nie dieselfde as waaraan hierdie ander kinders [wat moorde gepleeg het] onderwerp is nie.

“Maar dit raak jou beslis as ’n mens, veral as jy ook met hulle [die oortreders] praat, kan jy beslis sien dis eintlik kinders wat ook maar soekend na struktuur en liefde en ondersteuning is.

“Dit help baie as jy met iemand kan praat of gevoelens met mense kan deel. Dit het my byvoorbeeld gehelp dat my studieleier ook ’n sielkundige is. En ek het iemand in kriminologie ook gehad.”

'Hopelik sal kundiges in die toekoms die inligting van dié studie kan gebruik aangesien dit uit ’n Suid-Afrikaanse perspektief spruit.' Foto: Verskaf

Psigopate?

Een van haar studente het vir haar gesê sy het nogal empatie met die kinders.

“Dit is nie veronderstel om só te wees as jy ’n studie doen nie, maar vir my was dit . . . Die algemene publiek het hierdie opvatting van: ‘Dié kinders is psigopate en, dankie tog, my kind is nie ’n psigopaat nie, so ék is oukei.’

“Dis mos maklik om dít te sê – dan hoef ek mos nou niks van my kant af te doen wat my kinders en my betref nie. Maar as jy dié boek lees, dan besef jy hierdie kinders is aan geweldige ernstige omstandighede onderwerp. Ek dink ouers en families moet besef hierdie is die gevolge daarvan as ’n mens nie eintlik aan hierdie verhoudinge werk of as die kinders nie eintlik beskerm word nie.

“In die meeste van hierdie gevalle is die kinders nie eintlik beskerm nie. Die opvatting dat ‘ek die ideale kind moet wees wat my óúer wil hê ek moet wees’, was vir my nogal ’n aha-oomblik in daardie studie. Ek moet iets wees wat ek nie noodwendig kán wees nie.

'Iemand moet my storie vertel sodat dinge kan verander.'

“Baie ouers maak die fout om te wil hê dat die kind ’n spieëlbeeld van hulle moet wees, ‘want ek as ouer is mos perfek’. Ek hoop die boek laat mense besef dat daar ’n dieper onderliggende dinamika is waarvan ’n mens bewus moet wees wanneer dié kinders hierdie moorde pleeg.

“En dit is nie so eenvoudig soos om te sê dat ek jou aan die hand van die DSM-5 [die vyfde uitgawe van die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging se The Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders] kan diagnoseer nie.”

Sy noem twee jong mense met wie sy onderhoude gevoer het en wat by haar die indruk gelaat het dat hulle waarskynlik psigopate is.

“Ek is seker daar is nog gevalle, maar dit is beslis nie by kinders die norm nie.”

‘Groot bekommernis’

Dit is nie maklik om kinders groot te maak nie. Om ’n ouer te wees is een van die moeilikste dinge in die mens se bestaan.

“Ouers is dikwels baie krities teenoor hulself. Maar as ek byvoorbeeld terapie doen, sê ek: ‘Jy het nou vandag ’n fout gemaak, maar probeer nou om môre nie dieselfde fout te maak nie.’

“Jy gáán foute maak; dit is onafwendbaar. Ek dink ook ouers het deesdae baie meer waarvan hulle bewus moet wees as toe ons jonger was. Dinge soos sosiale media en die druk wat kinders ervaar, is ’n gróót, gróót bekommernis vir die meeste ouers.”

Veelvuldige kindermoorde deur kinders is redelik uniek aan Suid-Afrika. Dit is nie heeltemal duidelik waarom dit so is nie, sê Moen.

“Dit kan dalk wees omdat ons net in die algemeen ’n baie gewelddadige nasie is. As jy na ons statistieke kyk, is dit skrikwekkend.

“Dan is daar die kwessie dat mense vroeër jare gevoel het dat daar ’n werklike rede is om teen die apartheidsregering op te staan. Omstandighede het egter verander en daar is nie meer ’n rede om [politieke] geweld te gebruik nie, maar dit het amper deel van ons wese geword; dis ál manier wat ons geleer het om probleme op te los.

“Dit is dus amper ’n kultuur van geweld wat ons as gemeenskap aangeneem het . . . Dít is vir my een van die hartseer dinge van Suid-Afrika.

“Wanneer ek oorsee praat, is Amerika die enigste land waar mense nie na hul asems snak as ek oor ons geweld praat nie. Maar die ander lande . . . Dis asof hulle net nie ons geweld kan begryp nie.”

’n Legkaart

Ons almal het ’n bietjie boosheid of donkerte in ons.

“Ja, ons almal het donker en ligte kante. Party se donker kante is groter en party s’n kleiner. Maar ek dink dis naïef om vir jouself te sê: ‘O, ek het glad nie iets slegs in my nie.’ ”

Die dieperliggende redes vir mense se optrede, veral gewelddadige optrede, was nog altyd vir haar fassinerend.

'Ek het besluit om dié studie te doen, want dit is iets waaroor ek altyd gewonder het.' Foto: Verskaf

“Dit is vir my amper soos ’n legkaart en ek probeer uitvind waar die stukkies inpas. En ek het ’n deernis vir kinders, want ek voel volwassenes kan dikwels na hulself omsien, maar ’n kind het nie altyd iemand wat vir hom kan praat nie; veral die kleiner kinders oor wie ons navorsing doen.

“Ons vra die kleiner kinders dikwels om tekeninge te maak, want hulle kan nie eintlik in woorde uitdruk wat hulle pla nie.

“Dít is vir my die fassinerende deel – wát is eintlik daar aan die gang? Hulle praat deesdae van die kinderstem; om vir die kind ’n stem te gee sodat hy kan sê: ‘Dit is my storie. Niemand hoor my storie nie. Iemand moet my storie vertel sodat dinge kan verander.’

“Ek doen natuurlik al hierdie dinge in die hoop dat sekere dinge sal verander, maar ek fokus tans baie meer op die oorsake. Ek begin nou ’n bietjie meer belangstel in wat as “compassion education” of “compassion therapy” bekend staan.

“Ek hoop as ’n mens vir mense empatie kan leer – om te verstaan waardeur iemand anders gaan – sal hulle dalk hul gedrag verander. Ek dink dít kan ’n groot verskil maak.”


Meer oor:  Don Steenkamp  |  Henri Van Breda  |  Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.