Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hoogste berg in sonnestelsel wink vir Silvia

Silvia Vasquez-Lavado (46) vertel aan Murray La Vita hoe sy alkoholisme en hoogtevrees oorkom het en die wêreld se sewe hoogste bergspitse uitgeklim het. Nou mik sy na Mars en die hoogste berg in ons sonnestelsel.

Die Amerikaanse tegnologie-webwerf CNET het Silvia Vasquez-Lavado as een van die 20 mees invloedryke Latyns-Amerikaanse mense in Silicon Valley aangewys. Foto: Verskaf

Wat met Silvia gebeur het, is ’n bron van groot inspirasie vir baie mense. ’n Rolprent oor haar lewe, met Selena Gomez in die hoofrol, word volgende jaar gemaak en haar memoir, In the Shadow of the Mountain, sal in Februarie wêreldwyd uitgereik word.

“Ek is, soos een uit elke drie vroue oor die wêreld heen, as kind seksueel mishandel. So, dit was ’n baie pynlike tydperk in my lewe. Daarby was terroristebewegings in die 1980’s ook in Peru bedrywig. Daar was dus baie onstabiliteit in my lewe.”

Ek het van my probleme weggehardloop, maar dit het my ingehaal.

Toe sy die geleentheid kry om “’n nuwe lewe te begin” deur met ’n IIE/Fulbright-beurs in die VSA te gaan studeer, het sy dit aangegryp. Sy het mettertyd groot opgang in Silicon Valley gemaak en topposte by korporasies soos eBay en PayPal beklee. Die tydskrif Fortune het haar in 2015 as een van sy “korporatiewe helde” aangewys. En die Amerikaanse tegnologie-webwerf CNET het haar as een van die 20 mees invloedryke Latyns-Amerikaanse mense in Silicon Valley aangewys.

“Ek het aanvanklik in Pennsilvanië studeer en my later in San Francisco gevestig. Ek het van my probleme weggehardloop, maar dit het my ingehaal. Ek was nie gereed om die pyn en trauma wat ek as kind beleef het te verwerk nie.

“Ek het ’n alkoholis geword en baie selfvernietigend begin optree. Toe ek in 2005 ’n laagtepunt bereik, het ek my ma gebel en sy het gesê ek moet huis toe kom. In Peru het ek saam met haar ’n kragtige meditasie met ayahuasca gedoen.”

Ayahuasca is ’n plantaftreksel wat hallusinogenies is.

Silvia Vasquez-Lavado in Desember 2015 In Antarktika. Foto: Verskaf

“In daardie meditasie het ek ’n visie gehad van myself as ’n jong meisie rondom die tyd toe ek mishandel is, en nóg ’n visie van my as volwassene wat in aanraking kom met daardie deel van my lewe waarvan ek my afgesluit het.

“Skielik het hierdie meisietjie my op ’n staptog in die berge geneem. En dít is hoe dit alles begin het,” sê ’n laggende Silvia uit haar huis in San Francisco.

Bang vir hoogtes

Ná dié visie het sy gedink: “Berge? Dis vreemd. Peru? Ek is bang vir Peru.

In Junie 2018 op berg Denali in Alaska. Foto: Verskaf

“Maar ek het hierdie verskriklike pyn so lank met my saamgedra en dit is so groot dat ek gedink het: Hei, as ek dit na ’n berg toe moet neem, gaan ek dit na die hoogste berg in die wêreld neem.”

Sy het aanvanklik beplan om net na die voet van die berg Everest te stap.

“Ek het nie gedink . . . Ek het nog nooit voorheen berg geklim of staptogte onderneem nie en ek was bang vir hoogtes. Maar ek het besluit om hierdie skynbaar bestemde pad te volg. Ek het myself afgevra: Waarom is dit vir my nodig om in die natuur te wees?

“Toe ek in 2005 die eerste keer in die Himalaja kom . . . Dít is wat werklik my lewe verander het. Daar is net hierdie ontsaglike groot gawes van die natuur . . . hierdie rotse . . . prágtige, krágtige, almágtige rotsformasies wat al miljoene jare daar is.”

Sy het ’n gevoel van krag beleef. En van stilte.

“Iets wat nie ’n enkele mens aan my kon gee nie. Ek het gevoel of ek ál vinniger wil loop en net ál meer wou sien.

“Indien jy afgesluit voel van mense en die wêreld, help dit jou om in die natuur te wees, deur berge omring te wees; dit gee jou weer ’n gevoel van verwondering.

“So, ek het dit gemaak tot by die voet van Everest en ek het die son sien opkom. Daar was trane in my oë toe ek aan die berg sê: Jy lyk almagtig en jy is besig om my lewe aan my terug te gee. Ek gaan eendag terugkeer en probeer om jou uit te klim.”

‘Dinge het gebeur’

Silvia beskryf haarself as ’n “linkerbrein-mens”.

Ek het toe besluit: Laat ek hierdie sewe spitse stap vir stap aanpak.

“Ek is baie logies en analities. So, ek het vir myself gesê: Groot berg. Baie moeilik. Hoe doen ek dit? Ek het toe besluit: Laat ek hierdie sewe spitse stap vir stap aanpak.”

In 2006 het sy Kilimandjaro aangepak.

“Dit is een van die makliker berge om te klim. Ek het toe gedink: Reg, kom ons probeer dit en kyk hoe dit gaan. Ek was jonk en aktief, en dit het goed gegaan.

“Vir die berg Elbroes in Rusland het ek ’n bietjie meer moeite gedoen en geoefen. Dít het ook goed gegaan.”

Silvia het die spits van Kilimandjaro in Tanzanië in September 2006 bereik. Foto: Verskaf

Toe het sy ’n ruk lank nie geklim nie.

“Ander dinge het gebeur. My ma het kanker gekry en ek moes heelwat tyd by haar in Peru deurbring. My huwelik was ook besig om in duie te stort.

“Ja . . . dinge het in my lewe gebeur en ek het half en half van die berge vergeet. Nadat my ma gesterf het, is ek geskei en my wêreld het verbrokkel.

“Ek het weer so hopeloos gevoel en het mettertyd in my patrone van verslawing teruggeval. Iemand sê toe vir my: ‘Jy moet jou innerlike berge klim.’

“Dít het my laat wakker skrik, en ek het besluit om my weer toe te spits op daardie belofte wat ek jare gelede aan myself gemaak het.”

‘Toe byt die gogga’

Sy het toe ’n paar berge in Amerika aangedurf en in Januarie 2014 het sy Aconcagua in Argentinië uitgeklim.

Luister, jy het aan die voet van Everest ’n belofte gemaak, so hou net aan.

“Toe het die gogga my behoorlik gebyt en ek het besef dit is ’n reis dié wat ek móét aflê. Die dag voordat ons Aconcagua se piek bereik het, het ek weens die hoogte ’n massiewe ineenstorting gehad.

“Dit is die hoogste bergpiek na die Himalaja-bergreeks – sowat 7 000 meter hoog. Ek het bang geword en die waarde bevraagteken van wat ek besig was om te doen. Ek het myself begin jammer kry en gedink: Wat is ek besig om aan te vang? Wat de hel?

“Gelukkig het die man met wie ek ’n tent gedeel het, gesnork, so my gehuil het hom nie gepla nie,” sê sy skertsend.

“Die volgende dag, nadat ons die piek bereik het en weer afgekom het, het ek ’n sterk stem in my slaap gehoor: ‘Luister, jy het aan die voet van Everest ’n belofte gemaak, so hou net aan.’

“Ek het aan die voet van Everest ook ’n ander belofte gemaak dat ek sal terugkom met ’n saak waarvoor ek my sal beywer. En daar op Aconcagua het ek die inspirasie gekry om met mense te werk wat seksuele geweld oorleef het en aan hulle die geleentheid te bied om hul kragte te herwin.

“So, Aconcagua was vir my ’n baie belangrike ervaring; ek het ernstig geraak oor my missie en naweke geoefen om my gereed vir Everest te kry.”

Silvia se droom om berg Everest uit te klim het in Mei 2016 waar geword. Foto: Verskaf

‘Gee om vir jouself’

Sy wou deur die ayahuasca-meditasie probeer vasstel wat dit was wat haar lewe laat ontspoor het.

“Tot in daardie stadium het ek weggehardloop en selfs nie in terapie aandag aan my pyn gegee nie. Ek het gevoel iemand anders is vir die pyn verantwoordelik. Min het egter besef dat die antwoord in myself lê.

“Dit is soms makliker om iemand anders vir ons pyn en trauma te blameer. Ons soek die mens wat daarvoor verantwoordelik is, wat daaragter sit. Maar dit neem in ’n sekere sin ons eie verantwoordelikheid weg.”

Wat belangrik is, is dat ek daardeur geleer het om ook deernis vir myself te hê, iets wat ek nooit voorheen gedoen het nie.

In 2018 het sy met deernis-meditasie begin, ’n praktyk wat ’n baie helende uitwerking op haar lewe het en haar help om nie te drink nie.

“Wat belangrik is, is dat ek daardeur geleer het om ook deernis vir myself te hê, iets wat ek nooit voorheen gedoen het nie.

“Ons is geneig om deernis aan ander te betoon, wat lieflik is . . . Dit is soms makliker om vir ander om te gee as vir onsself.

“Ek het in die proses ook geleer oor gedeelde menslikheid en dat ons nie alleen in ons worstelinge is nie. So, dít is hoe ek my eie demone hanteer en konfronteer. Ek doen hierdie meditasie elke dag.”

Silvia in Peru saam met meisies aan wie sy ondersteuning bied. Foto: Verskaf

Dapper meisies

Sy het in 2019 haar werk by PayPal verlaat om haar heeltyds toe te spits op die skryf van haar memoir en op die organisasie Courageous Girls, wat sy tot stand gebring het. Dit is ’n stigting sonder winsbejag wat meisies en vroue wat die slagoffers van seksuele geweld of slawerny is, help “om hul krag te vind en hul stemme te laat hoor deur hul fisieke krag te openbaar”.

“Heling deur avontuur” is die organisasie se slagspreuk.

Die twee gebiede waarop gefokus word, is Peru en Nepal.

“In Nepal het ons ’n opleidingsprogram begin waar hierdie jong vroue as stap- en klimgidse opgelei word. Ons wil teen volgende jaar, wanneer die toerismebedryf hopelik herstel het, minstens 25 van hulle gereed hê om te begin werk.”

‘Jy het kanker’

Silvia vertel hoe sy op ’n lieflike dag in Mei 2017 met haar fiets van haar huis op ’n heuwel in San Francisco op pad werk toe was. ’n Vragmotor het voor haar ingery; sy het uitgeswaai; haar wiel het in ’n gat in die pad vasgesteek; sy het geval.

“Ek het nie ’n valhelm aangehad nie en het harsingskudding opgedoen. Ek was omtrent vyf minute bewusteloos en is per ambulans hospitaal toe geneem, waar ek in die ongevalle-afdeling behandel is.

“Dit was tien dae voordat ek my laaste piek, Denali in Alaska, sou uitklim om die sewe spitse te voltooi. En hier lê ek met ’n kopbesering in die hospitaal . . . Kyk, jy kan nog die merk sien,” sê sy en raak aan haar voorkop.

“Ek het aanhoudend by die dokters gekerm ek moet gaan bergklim. Uiteindelik het een dokter vir my gesê: ‘Silvia, jy gaan dit nie doen nie – jy het ’n gewas op jou brein.’”

Die Carstensz-piramide in Westelike Papoea het Silvia in Maart 2015 uitgeklim. Foto: Verskaf

Weens die swelsel aan haar kop kon hulle nie dadelik vasstel of die gewas kwaadaardig is of nie.

“Ek lê toe daar en dink: Oukei, die kans dat dit kanker is . . . my ma is aan kanker dood. Wat gaan ek doen as dit kanker is?

“Ek het toe besluit ek sal dadelik uit my werk bedank en die res van my oorblywende tyd gebruik om ’n klein nalatenskap te skep deur met die jong vroue te werk en soveel goeie dinge te doen as wat ek kan en soveel berge te klim as wat ek kan.

“Ek het soveel dankbaarheid gevoel vir al die geleenthede wat ek in my lewe gehad het. Daardie eerste Everest-reis . . . daar is indrukke en beelde wat ek nooit sal vergeet nie; dít is een van die gawes van die natuur.

“Dit blyk toe dat die gewas nie kwaadaardig is nie. Maar toe is die saadjie reeds geplant van wat werklik vir my belangrik is. Dít is wat my laat besluit het om my korporatiewe loopbaan te laat vaar.

“Dit was ’n wonderlike loopbaan. Ek kon reis na talle lande; ek het ’n aantal jare in Europa gewoon; in Asië gewerk; en sentra vir uitnemendheid in Indië geopen. Maar nou het ek besef daar is iets groters; ’n persoonlike keuse wat ek moet uitoefen.”

Selena Gomez gaan as Silvia in die rolprent oor haar lewe te sien wees. Foto: Gallo Images/Getty Images

Gay rolmodel

Wanneer oor Silvia geskryf word, is die invalshoek dikwels dat sy die eerste openlike gay vrou is wat die “sewe spitse” uitgeklim het.

“Persoonlik voel ek verteenwoordiging is wél belangrik. Die bergklimwêreld ís ’n baie manlike wêreld; dit word deur mans oorheers. Ek lag om te dink dat ek, wat baie bang was vir mans, my daarin begeef het.

“Daar was voorvalle waarin mede-klimmers en gidse homofobies teenoor my opgetree het en negatiewe dinge teenoor my kwytgeraak het. So, dit is my klein bydrae – nie noodwendig vanuit ’n ego-posisie nie, maar vanuit ’n identiteitsoogpunt; ’n manier om ander mense te inspireer wat skaam of sku mag voel en wonder: ‘Gaan ek veroordeel word?’

“Dit is vir my belangrik om ’n bydrae te lewer tot ’n jonger generasie, of mense wat worstel met identiteit en soek na rolmodelle.”

In Januarie 2014 op berg Aconcagua in Argentinië. Foto: Verskaf

Mars wink

Ons praat oor wat die toekoms inhou.

“Wat nou op my horison is, is om (van 21 Desember) in die Suidpool en (22 April) in die Noordpool te gaan ski. En wat die berge betref, is dit om die oorblywende berge van 8 000 meter hoog aan te pak. Daar is 14 van hulle wat almal in die Himalaja-bergreeks is.

“Ek wil ook voortgaan om ekspedisies vir my Courageous Girls-organisasie te lei. My grootste droom is om die buitenste ruim te besoek en, wie weet, selfs berg Olimpus op Mars, wat die hoogste berg in die heelal is, aan te durf.”

Meer oor:  Silicon Valley  |  Selena Gomez
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.