Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hulle wat ‘soos familie’ is

Moenie sleg voel dat iemand jou huis skoonmaak nie, behandel haar net met respek en betaal haar behoorlik, sê Ena Jansen

Ena Jansen by ’n portret van Annie Mavata wat ook op die omslag van haar boek Soos familie verskyn. Foto: Corina van der Spoel

’n Mens kan sien sy het gehuil, sê Ena Jansen.

Sy verwys na hoe sy lyk op die foto van haar langs ’n Dorothy Kay-skildery van die sterk, trotse huiswerker Annie Mavata met ’n enamelskottel op haar skoot en ’n mes in haar regterhand. ’n Afbeelding van dié portret verskyn op die voorplat van haar boek Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste.

“Ek was baie aangedaan om Annie Mavata uiteindelik in ‘lewende lywe’ te kan sien daar in Pretoria se Kunsmuseum. Jy kan seker sien hoe waterig is my ogies.”

Die gesprek met Jansen vind plaas in haar en haar lewensmaat, Pamela Pattynama, se woonstel in Kaapstad. Hulle het ook ’n tuiste in Amsterdam waar albei Besondere Hoogleraar aan die Universiteit van Amsterdam was. Jansen het in September uitgetree, haar vakgebied was Suid-Afrikaanse letterkunde. Sy was voorheen ook vir 16 jaar lank verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands aan Wits.

Ons praat oor Soos familie wat vanjaar die Universiteit van Johannesburg-prys vir die beste kreatiewe werk in Afrikaans gewen het

“Ons werk nou aan ’n Engelse uitgawe, maar ek wou my met hierdie boek absoluut rig op die Afrikaanse wít mense wat so maklik praat van ‘sy’s soos familie’. Hierdie boek is enersyds konfrontérend, maar ook eggo dit baie goed, dit weerspieël so baie van wat ons self meemaak of meegemaak het. So baie mense praat oor hul huiswerkers, dis ’n soort gesprek baie dikwels tussen mense.”

Ja, die minimum loon . . . ek dink ’n mens moet regtig by jouself dink wat is jóú uitgawes en besef dáái vrou se uitgawes is baie dieselfde.

Ek vra haar mening oor adj.pres. Cyril Ramaphosa wat vroeër vanjaar voorgestel het die minimum loon per werker per maand moet op R3 500 vasgestel word.

“Ja, die minimum loon . . . ek dink ’n mens moet regtig by jouself dink wat is jóú uitgawes en besef dáái vrou se uitgawes is baie dieselfde. As sy na die Checkers gaan en haar mandjie volpak met goed, kos dit óók ’n klomp geld. Êrens word die minimum lone natuurlik gekoppel aan ’n bestaansminimum – wat kos dit om aan die lewe te bly? Maar so ’n persoon wat so na aan jou is . . . jy wil tog nie hê sy moet net aan die lewe bly nie, jy wil probeer dat sy daar uit kan kom. Maar dis ook die soort selfsugtigheid, as mense weet hulle het ’n goeie persoon, dan wil hulle ook nie hê sy moet nou skielik genoeg geld hê om ’n sekretariële kursus te doen of ’n lisensie te kry of wat ook al sodat sy daar uitgaan nie. Jy is maar te dankbaar sy bly net hierso met daai enamelskottel in jóú agterplaas, op jóú kombuisstoel.

“Maar ek dink wat loon betref, behoort elkeen wat dit kán bekostig te dink wat is haar behoeftes verby daai bedrag wat jy dink oukei, dis al R10 meer as laasjaar. Jy weet, mense sit so half elke jaar nog ’n R10 by, maar dis só mín.

“Maar goed, ek weet ek moet nooit enige vinger wys hierso nie want as ’n mens uit Nederland kom, is daar óók minimum lone. ’n Mens betaal daar máklik iets soos R750 vir enkele ure wat iemand by jou kom werk.

“Maar ek weet met hierdie boek en met hierdie onderwerp . . . ’n mens moet glad nie enige pretensies hê dat jý weet waaroor dit gaan nie. Ek het gekyk na die voorstellinge in letterkunde, in sosiologie, in die geskiedenis en ek het daardeur vir myself eintlik ’n soort objektiwiteit probeer skep deur te kyk hóé word hierdie vroue voorgestel en watter invloed het dit op ons.

“Op ’n manier soek ’n mens na daardie tipe versorgende ideaal wat jy sien in mense se uitbeeldings: in ’n film soos Gone With The Wind, of in stories. So my boek gaan meer oor hóé word hulle uitgebeeld.

“Ek skryf dis nie net ’n kontaksituasie nie, dis ’n grénssituasie wat voortdurend afgetas moet word en daarom kies skrywers ook dikwels as hulle hul eie gedrag aan die kaak wil stel, om te kyk na hierdie soort konfrontasies. Soos as ’n vrou sou vra: ‘Kan ek asseblief my kleinkind saam met julle kinders laat grootword?’

“Hoe moederliker ’n huiswerker amper is in jou gesin, des te minder moederlik kan sy wees dan vir haar eie kinders.”

Zuma se ma was ook ’n huiswerker

Ek het ook byvoorbeeld iewers raakgesien dat Zuma se ma ook ’n bediende was in Durban.

Sy praat oor bekende mense wie se ma’s huiswerkers was.

“Ek het ook byvoorbeeld iewers raakgesien dat Zuma se ma ook ’n bediende was in Durban. Party van daai soort goed . . . as jy dit weet en daaroor nadink dan besef jy weer ánder goed van mense wat jy net so maklik vergeet – dat hulle sonder hul eie ouers grootgeword het. Die oumas is natuurlik wonderlik . . . Dis ook hoekom, as jy by enige garage hier rond vir ’n ou wat vir jou petrol ingooi, vra: ‘Wat gaan jy doen vir Kersfees?’ dan sê álmal omtrent: ‘Ek gaan Oos-Kaap toe.’ Álmal het daai verbintenis nog soontoe. Dis eintlik verstommend hoe die tuislande deurwerk. Die mense . . . baie het stad toe gekom, maar hulle verbintenisse is steeds met die Oos-Kaap.”

Jansen het al gesê die groot inspirasie agter Soos familie is Nomahobe Cecilia Magadlela, ’n vrou wat lank vir haar gewerk het.

“Ek het ’n huis in Melville gehad van 1988 af en kort daarna het sy by my kom werk. Ons is omtrent ewe oud. Ek het uit Nederland gekom waar ek tien jaar gebly het. So ek was al 35 of 36 toe ek eers sélf ’n vrou in diens sou neem. Ek het nie iemand nodig gehad nie, maar sy het haarself kom aanbied. Ons het ’n baie gelyke soort verhouding van die begin af gehad en ek het my huis so geniet dat as daar iets skoongemaak moes word, het ék ook op ’n leer geklim. So ons het byvoorbeeld saam die geute skoongemaak. Ek het van die begin af ’n eweknie-gevoel gehad oor haar. Ek was vars in mý werk by Wits en sy was vars op ’n Donderdag in mý huis. Ek wéét ek het ’n baie besondere verhouding met haar.

“Maar ek het elke keer gesien as sy en die ander vrouens in die straat uit die Oos-Kaap kom, dan is dit weer ’n aanpassing vir hulle. Dan moet hulle van ’n duidelik selfstandiger . . . jy weet hulle loop fier daar weg en hulle kom ook so terug, maar dan is hulle baie gou weer just the maid in die straat. So om meer van Cecilia se wêreld ook te leer ken, het ek vreeslik baie vir haar uitgevra. Ek het laas jaar in Januarie vir die eerste keer soontoe gegaan. [Na waar sy in die landelike Oos-Kaap afgetree het.] Dis ’n persoonlike nuuskierigheid en ’n nuuskierigheid oor hoe die meganismes werk en in my en haar geval, en van baie ander vroue ook, definitief dat ’n mens ook ’n soort eweknie-ding kan doen met mekaar. Ek dink regtigwaar soos met my sussie-hulle in Stellenbosch of my ouers, sien ek ’n besef: daai vrou is goud werd vir ons.

“Dit gaan oor – soos Leah Tutu sê, wat ek ook aanhaal – respek wat jy betoon en dat jy voldoende betaal. Daar is niks daarmee verkeerd dat iemand jou huis skoonmaak nie; daaroor hoef niemand sleg te voel nie. Daar is baie meer as ’n miljoen vroue wat wag om die werk te doen van die miljoen wat op die oomblik huiswerkers is.”

Vroue wat tussenfigure is

Jansen het pas verneem die Noordwes-Universiteit gaan aan haar ’n ere-doktorsgraad toeken. Dis haar derde groot toekenning hierdie jaar. Behalwe die eredoktoraat en die UJ-prys vir haar boek in Mei, het sy sopas verneem dat die Van Ewijck Stigting sy Prestasiebeurs aan haar toeken vir wat sy vir die Afrikaanse letterkunde in Amsterdam gedoen het. 

“Behalwe vir my akademiese loopbaan en vir wat ek vir Afrikaans gedoen het daar in Nederland, is dit veral ook vir my aktivisme om die Zuid-Afrikahuis te red.”

Die gevaar het ’n paar jaar gelede bestaan dat dié belangrike kultuursentrum en brug tussen Nederland en Suid-Afrika, wat aan die Keizersgracht in Amsterdam geleë is, verkoop sou word.

Jansen wil binnekort met ’n biografie oor die Suid-Afrikaanse akademikus Elizabeth Conradie (1903-1939) begin. Sy was onder andere stigter van die Suid-Afrikaanse Instituut in Amsterdam en die grondlegger van die biblioteek in Zuid-Afrikahuis, waar sy ook klas gegee het.

“Haar intellek en haar energie en haar lewe tussen hierdie wêrelde, is vir my interessant. Ek dink ek hou van sulke soort tússenfigure. Hierdie vroue [sy sit haar hand op Soos familie] is ook by uitnemendheid tussenfigure, skakelfigure. Ook Elisabeth Eybers.”

Sy kon ontsettend goed luister; mense dink altyd sy was hierdie kluisenaar, maar sy was báie gesellig en vreeslik snaaks ook.

Ek vra haar na haar jarelange verbintenis met dié groot digter in Amsterdam.

“Sy was ongelooflik belangrik vir mý persoonlik omdat ek hierdie naby, baie gesellige, vertroulike verhouding met haar gehad het. Sy was ’n besonderse vrou. Sy kon ontsettend goed luister; mense dink altyd sy was hierdie kluisenaar, maar sy was báie gesellig en vreeslik snaaks ook.

“Ek kon járe lank by haar gaan sit en net praat. Voordat ek nog in Nederland gebly het, het ek vir haar ook baie administratiewe goed gedoen. So ek was op ’n manier haar skriba ook. Ek het haar gedigte later oorgetik en ek het baie insig gekry in hoe haar werk tot stand gekom het. Ek weet ek behoort eintlik haar biografie te skryf, maar ek het in ’n stadium die gevoel gehad ek het so baie gewerk oor Elisabeth . . . Ek het my proefskrif oor haar werk geskryf nog voordat ek haar goed leer ken het. So ek het my proefskrif en my boek [Afstand en verbintenis: Elisabeth Eybers in Amsterdam] klaar geskryf voordat ons eintlik vriende geword het, waaroor ek bly is.

“Omdat ek haar en haar werk so goed geken het, het sy vreeslik baie beteken vir my loopbaan. Ek het ’n hele stapel publikasies oor Elisabeth Eybers. Wat ek oor haar wou sê, het ek gesê, eintlik.”

Dit was ’n bedrywige en uitputtende jaar, maar nou lê daar ’n rustiger tyd voor met die vooruitsig van reis en lees.

“Vanweë my werk en vanweë my obsessie met so ’n boek [Soos familie] moet jy maar oogklappe opsit en in een rigting storm. Maar nou kan ek weer alle kante toe uitkyk,” sê sy laggend.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Huiswerkers  |  Minimum Loon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.