Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hy begin elke week met ’n skoon blad
Elma Smit gesels met Mondli Makhanya
“Soos wat mense The New York Times assosieer met nuus in Amerika, en Der Spiegel in Duitsland, so moet hulle eerste aan City Press dink as hulle aan nuus in Afrika dink.” Dis waarvan Mondli Makhanya, die nuwe redakteur van die Engelse Sondagblad, droom. Foto: Felix Dlangamandla

City Press se nuwe redakteur, Mondli Makhanya (45), sit en gesels loslit, agteroor in sy raadsaalstoel. Sonder ’n greintjie van die sinisme waarvoor geharde koerantmanne so bekend is nie.

‘Ek geniet hierdie werk só baie. Dis lékker.” Opgewonde flits ’n ry wit tande vir die soveelste keer saam.

’n Muur vol kamma lamppaal-plakkate pryk agter Makhanya in City Press se glaskas-raadsaal.

MAKHANYA: JZ IS NOT FROM KZN

MAKHANYA: I DID NOT START STUDENT PROTESTS

Dié vertrek kyk soos ’n moderne weergawe van ’n ou NG kerk-preekstoel af op die ontvangsarea van Media24 se Johannesburg-kantore.

“Ag, die plakkate was sommer ’n grap van Ferial toe sy nou die dag hier weg is. Die produksiebestuurder het al hierdie plakkate vir my opgemaak.”

Ferial Haffajee was tot vier weke gelede nog die redakteur van City Press, ’n pos waarin sy die afgelope sewe jaar baie gedoen het om Percy Qoboza se nalatenskap te eer. Qoboza was in die 1980’s ’n rateltaai koerantredakteur van City Press wat die apartheidsregering hard gekap het.

Foto:

Dié mantel hang deesdae om Makhanya se skouers.

In sy geestesoog is hy maar net nog ’n seun van die KwaZulu-Natalse platteland. Deep rural, soos hy sê.

Sy oupa Ambrose was nie net sy vaderfiguur nie, “hy was die Zoeloelandse korrespondent vir die Katolieke Kerk-koerantjie, ’n blad wat destyds oor Afrika heen versprei is”.

As kind het hy die naam Ambrose Makhanya altyd in die koerant uitgesoek en daaroor gevee met sy vingers.

Gemesmeraais.

Ná sy skooljare in die koshuis op Eshowe het sy pad ’n wye draai Johannesburg toe geloop agter ’n internskap by die Daily Mail (deesdae die Mail & Guardian) aan.

Daarna het hy vir ’n rukkie by Newsweek in New York gaan leer en in die daaropvolgende 24 jaar was hy byna heeltyd een of ander soort redakteur. Eers by The Star, Mail & Guardian, Sunday World, Sunday Times én nou by City Press.

Meer as dit sal jy nie sommer van hom op die internet lees nie.

Hy twiet of Facebook glad nie – en al vra jy hom reguit, sal hy nie eens uitlap hoeveel kinders hy het nie. Net dat hulle tieners is en net so baie soos hul pa van Orlando Pirates hou.

Dan gee hy jou nóg ’n breë glimlag, pasella.

Toe Makhanya so oud was soos sy eie kinders nou is, het hy al alles geleer van die politieke slagveld in sy tuisdorp KwaMashu.

“Wat ek daardie jare voor my eie oë gesien gebeur het, was wrééd.” Hy skud sy kop en kyk weg.

Hy het oor naweke self met tuisgemaakte wapens in die strate losgetrek.

In 1990 het hy onder die skuilnaam Oscar Gumede in die Daily Mail geskryf oor daardie wrede werklikheid wat so ver verwyder was van die belewenis in Johannesburg.

“Ek hoor hierdie jong joernaliste wat nou sê die onderhandelings en die skikking voor die 1994-verkiesing was ’n uitverkopery. Dat ons eerder ’n burgeroorlog moes gehad het, dat ons (swart Suid-Afrikaners) sou kon wen. Daai tydperk was brutaal, man. Hulle moet weer dink. Dit was bitter erg.

“Die beelde waarmee jy soggens moes wakker word en waarmee jy saans in jou kop huis toe moes gaan . . .”

Oscar Gumede het geskryf van hoe mans voor hom aan die brand gesteek is, lewend van ledemate en selfs geslagsorgane ontneem is. Hoe die skare toegekyk het.

“Ons hét ’n burgerloorlog gehad. Dit was lelik. Dit was nie lekker nie. Ek gee nie om of jy ’n politieke party is of wie jy is nie, dis nie die pad daai nie.

Foto:

Die laaste paar jaar was hy “soos ’n minister sonder portefeulje,” lag hy. Byna drie jaar lank was hy editor at large – pens en pootjies in Haffajee se span, maar agter die skerms. Gefokus op strategie en besluitneming, eerder as die dag-tot-dag-besluite.

“Nou moet ek as uitvoerende redakteur pa staan vir élke besluit, ek kan nie meer terugstaan as daar goed soos personeelprobleme opduik nie. En natuurlik moet ek nou ook baie meer met ander departemente skakel.”

Makhanya glo vas dat koerante se rol in Suid-Afrika is om die samelewing toe te laat om stoom af te blaas, voordat daar ’n aar iewers bars.

“Ons moet openlik práát oor dit wat fout is, dis baie beter so, as om in ons eie hoekies te fluister.

“As goed soos Penny Sparrow se uitlatings gebeur of daai outjie wat in reaksie op haar, lelike goed oor wit mense gesê het, dán moet ons eintlik raaksien hoe die samelewing reageer.”

Dat albei vir hul rassisme in die bek geruk is – dáároor knik hy tevrede.

“Zapiro kan teken wat hy wil en ek kan skryf wat ek wil. Ons ís vry. Voor die EFF of enigiemand iets aan Nkandla gedoen het, was dit die media wat die Nkandla-storie gedryf het.”

Sy linkerhand waai in die rigting van die konstitusionele hof, wat 4 km oos lê.

“Ons eis in hierdie land elke hoekie van die Grondwet op. Nie dat die regering dit nie probeer stopsit nie,” lag hy wrang, “maar ons veg terug. Akademici, die vakbonde, burgerlike samelewing – álmal klim in. Hulle weet mediavryheid gaan nie oor die media nie, dit gaan oor hoeveel toegang die ou op straat tot die waarheid het.”

Benewens ’n tydperk by The Star, het Makhanya al die jare by weeklikse koerante gewerk.

“Ek’s mal oor ’n Sondagkoerant want jy weet jou leser jaag nie agter ’n rits vergaderings aan nie. Hulle lees om dit te geniet. En ons, ons móét die agenda skep, ons móét op Sondae stories breek – jy het mos by ’n Sondagkoerant heel week om jou storie te bak.”

Dat die son eendag op die koerantwese gaan sak, skeel Ma-khanya nie veel nie. “Ons is in die nuusbedryf, punt. Die medium waarin ons die storie vertel, maak nie meer so baie saak nie. Die Suid-Afrikaanse storie sal mense altyd boei en ons het ’n ringside seat. Ja, in my wese is ek ’n koerantman en ek dink gedrukte koerante het in Suid-Afrika nog ’n pad om te stap, maar die opmars van ontwikkeling beteken ons gaan in ’n stadium tot siens moet sê aan die gedrukte weergawe van wat ons skep.”

Dan haal hy ’n skouer nonchalant op. “Dis maar ’n teken van groei.”

In sy jare by die Sunday ­Times het hy voorgeloop met ’n toetsfase waarin die ganse koerant in Zoeloe vertaal is. Die staak van dié projek, “oor begrotingsoorwegings” verduidelik hy, is iets waarop hy hartseer terugkyk.

“Ek wens meer van ons wat inheemse tale praat, wil so hardegat oor ons taal wees soos wat Afrikaanse mense oor Afrikaans is.”

Hy kan nie verstaan hoekom daar nie, soos in KwaZulu-Natal met sy Zoeloekoerante, nie ook Sothokoerante in ander dele van die land is nie, of dalk selfoonnuusdienste in ander inheemse tale nie, vir mense op die afgeleë platteland.

“Ons moet juis passievol, byna obsessief wees oor ons tale, om seker te maak hulle bly voortbestaan. Engels se mag ís oorweldigend. Natuuurlik is dit op skoolvlak net moeilik om eksklusiwiteit te regverdig as daar ’n skaarsheid is aan skole, maar tale kan mos saambestaan?”

“Suid-Afrika se plaaslike verkiesings was so ‘n mooi, ideale, demokratiese oomblik. Ons moes die afgelope maand meer geniet het. Die manier waarop al daardie vooruitgang met hierdie Gordhan-debakel in ‘n week ongedaan gemaak is, is ‘n own goal soos nog nooit tevore nie.” Foto: Felix Dlangamandla

Grade het Makhanya dalk nie, maar vir sy tekort aan akademiese kwalifikasies vergoed hy met nuuskierigheid.

“Ek lees geweldig baie en wyd. Ek’t al ’n paar kursusse gedoen en by Newsweek het ek in 1992 vreeslik baie geleer oor akkuraatheid. Jy móét eenvoudig die feite respekteer.

“Die internet het toe al bestaan, maar dit was so klein, jy het maar meestal persoonlik van alles seker gemaak, of jy’t gebel.”

Wat sou hy vir ’n jong blinkoog joernalis sê, iemand wat droom van ’n lewe in die nuuswêreld?

“Wanneer ons by hierdie vrome stam – die joernalistiek – aansluit, is ons so vol idealisme. Ons almal glo ons gaan die wêreld verander. Met die jare raak die sinisme meer, want dit laat jou toe om deur die leuens te sien, maar hou vas aan wat jou in die eerste plek na die bedryf gelok het. Geniét dit. Dis die lekkerste werk, man. So lekker!”

Dan vertel hy hoe iemand in sy beginjare by die Daily Mail eenkeer vertel het dat, benewens sportmanne en rocksterre, nét joernaliste betaal word om hul werk te geniet.

“Daar was ek destyds, 20 jaar oud, besig om mense wat op Robbeneiland in die tronk was, by perskonferensies ongemaklike vrae te vra. Sommer so, in hul gesigte.

“Daar is nie plek vir helde-verering dáár nie, as jy ’n joernalis wil wees, moet jy almal dieselfde behandel.”

Aan die einde van 2012 is hy stilletjies weg uit sy pos as Sunday Times-redakteur en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Redakteursforum om te skryf aan ’n boek oor die ANC.

“Ek het ’n bietjie . . . verlore geraak in die proses, man.”

Hy kyk skaam weg. “Hopelik maak ek hom nog voor die einde van hierdie jaar uiteindelik klaar.”

Gunstelinge

TV-programme: Die drama Isibaya, hulle praat die mooiste Zoeloe daarin. House of Cards en lekker komedie soos Trevor Noah se The Daily Show.

Musikante: Ek hou maar van radio luister, maar in ’n stadium het ek deur ’n groot Bob Marley- en Peter Tosh-fase gegaan.

Sport: As dit by rugby kom is ek ’n Sharks-ondersteuner en natuurlik is ek fanaties oor 
Orlando Pirates. Ek het verlede jaar my bedenkinge oor die Springbokke gehad, maar ek sal dié naweek vir hulle skree teen Argentinië. Verder kyk ek nogal graag tennis en boks.

Kos: Vleis, veral varkvleis. Maar, ek is eintlik mal oor enige soort vleis, soveel as moontlik.

Teen die einde van 2013 het Haffajee hom op ’n deeltydse grondslag by City Press begin betrek en kort voor lank het die nuuskantoor hom weer heel ingesluk.

“Dis darem net so lekker om in hierdie magiese plek te werk. Om elke week met ’n skoon blad te begin en dit vol te maak met wonderlike stories. Ek het dit so gemis.

“Ek wil voortaan hê City Press moet nie net Suid-Afrika se stories oopskryf nie, maar ook dié van ons streek.

“Daar ís maniere om Swaziland-stories te vertel wat boeiend is. Ons is so besig om die groot storie van die week te jaag, dat ons dikwels die teks-tuur, die interessante teenstellings, die inspirasie en die rykdom van ons mense miskyk.”

  • "Op Rekord” deur Elma Smit verskyn vandag die laaste keer. Sy gaan haar meer op televisiewerk toespits, maar sal nog by geleentheid vir Beeld skryf.

Beeld begin aanstaande Saterdag met ’n nuwe onderhoudreeks “Middagete met . . .” waarin joernaliste onderhoude met interessante mense voer.

Beeld gaan ook elke Vrydag ’n onderhoud met ’n nuusmaker van die week publiseer.


Meer oor:  Mondli Makhanya  |  Profiel  |  Onderhoud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.