Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hy oorleef oorplanting, kanker, hepatitis C en TB
Steve Swanepoel by sy huis in Heuwelsig, Bloemfontein.Foto: Mlungisi Louw

Die enigste bloeier in Suid-Afrika wat al ’n leweroorplanting ondergaan het, vier Saterdag tien jaar sedert dié operasie suksesvol uitgevoer is.

Die operasie is in 2009 in die Wits Donald Gordon-hospitaal in Johannesburg gedoen en toe as ’n mediese deurbraak beskou waaroor Beeld en Volksblad destyds berig het.

Steve (68) en Amanda (55) Swanepoel van Bloemfontein is reeds 25 jaar getroud en in die tyd het hulle saam Steve se hemofilie (bloedingsiekte), hepatitis C, ’n leweroorplanting, prostaatkanker en tuberkulose oorleef.

Amanda vertel een Sondag in die kerk toe Steve baie siek was, het sy gebid dat die Here vir haar ’n teken sou gee of Steve dit gaan maak. “Toe sing ons, en daai woorde val so uit, ‘En ek maak julle nuut . . .’.”

Hemofilie

Steve by sy vrou, Amanda, wat voor hul aftrede saam met hom gewerk het. Foto: Mlungisi Louw

Steve en twee van sy broers is met die oorerflike siekte hemofilie gebore.

Dié siekte het veroorsaak dat sy lewer nie die nodige stollingsfaktor vervaardig het nie en die broers het in pyn grootgeword.

Steve mag nie aan sport deelneem nie, maar het as kind skelm aan atletiek deelgeneem. ’n Onderwyser het hom ’n “sissie” genoem omdat hy nie wou paalspring nie.

Groot pyn, wat toe nog nie behandel kon word nie, word veroorsaak wanneer ’n hemofilie-lyer spontaan of ná ’n stamp inwendig, veral in die gewrigte, begin bloei.

In daardie jare was dokters se raad om ys daarop te sit. “Dan sit ek in die koue winter met die ys om my knie vasgedraai net om die pyn te breek.”

Die gebloei in die gewrigte het later tot ’n knie- en ’n skouervervanging gelei en sy regterelmboog het gedisintegreer.

Nadat hy begin werk het, was stollingsfaktor-8 beskikbaar om ingespuit te word. Ses tot agt botteltjies word oor sowat drie dae 12-uurliks ingespuit om die inwendige bloeding te beheer.

Die bloed van agt skenkers word gebruik om een botteltjie te vervaardig en so is hy gereeld aan 48 mense se bloed blootgestel. Die behandeling kon vir tien dae in die jare 2000 sowat R32 000 kos.

Met al die bloedprodukte het hy hepatitis C opgedoen.

Hoewel dokters aanvanklik nie daaroor bekommerd was nie, het dit sy lewer aangetas en moes hy ’n leweroorplanting kry.

Hy onthou goed hoe hy inwendig begin bloei het.

Steve en Amanda in hul huis wat hulle wil verkoop voordat hulle na Johannesburg verhuis.Foto: Mlungisi Louw

Die waglys en die siekefonds

Ná baie toetse, is vasgestel hy het sirrose van die lewer. ’n Spesialis het hom na prof. Ernie Song, ’n Chinese lewerspesialis wat Afrikaans kan praat, in Johannesburg verwys. Song het gesê hy moet ’n nuwe lewer kry.

Ná nog toetse en ’n bybetaling van R60 000 is hy op die waglys geplaas. Sy mediese fonds sou meer as ’n miljoen rand moes opdok. Die mediese fonds Renaissance waaraan hy behoort het, is egter bankrot verklaar en het selfs betalings wat reeds afgehandel was, onttrek.

Toe gee hulle die lewer vir iemand anders en hy moes terugkom Bloemfontein toe sonder sy lewer.

Steve se siekefonds-adviseur het ’n ander mediese skema gevind wat hom met sy hepatitis C en hemofilie sonder ’n wagtydperk aanvaar het.

“Hulle was só goed vir my.”

Dit was Vrydag, en Maandag het die oorplantingskliniek met die fonds begin onderhandel.

Steve was 18 maande op die waglys.

Hy het meer as 40 jaar saam met sy Portugese vennoot, August de Andrade die Bloemfontein Algemene Mark-agentskap besit en moes soggens 03:00 inval. Steve het al geslaap toe die oorplantingskliniek bel om te sê hy moet die volgende oggend 07:00 in Johannesburg wees.

“Toe ek by die hospitaal instap, het iemand al in die voorportaal gewag. My klere is reggesit en hulle het begin om buisies bloed te trek.”

Toe die lewer teen die middag uit Kimberley aankom, kon hulle nog net vier van die tien nodige eenhede bloed vir hom kry vir die nege uur lange operasie.

“Dis nie sommer enige eenheid bloed nie, dit moes ’n baie spesifieke soort bloed wees.”

Toe gee hulle die lewer vir iemand anders en hy moes terugkom Bloemfontein toe sonder sy lewer.

Steve en Amanda in die Wits Donald Gordon-hospitaal ná die oorplanting.

Jaag teen 160 km/h

Hy was daarna vir dae in die hospitaal met longontsteking en Amanda het brongitis gehad.

Sy het ’n droom gehad terwyl sy koorsig was van ’n doodskis in ’n kerk met ’n rooi lap daaroor.

Die aand voordat hy uit die hospitaal ontslaan moes word, het die oorplantingskliniek weer gebel. Dit was twee weke later en hy moes dadelik terug Johannesburg toe.

Die Wits Donald Gordon-hospitaal waar Steve die oorplanting ondergaan het.

Ná die droom het Amanda geskrik toe Steve bel en sê hulle moet ry.

’n Vriend, Bennie van den Heever, het hom en Amanda geneem – by tye het hulle teen 160 km/h gejaag.

Hierdie keer was die tien eenhede bloed daar.

Die operasie was ’n sukses.

Die chirurg prof. Russel Britz het onder Song die operasie uitgevoer. ’n Narkotiseur wie se naam die Swanepoels nie kan onthou nie, het ná die operasie gesê hy het God in die teater gesien, want die operasie wat nege uur moes duur, was ná ses uur klaar. “En hulle het nie een van die tien eenhede bloed gebruik nie, daar was nie bloed wat gevloei het nie.”

Die volgende dag was daar fout met die bloedsirkulasie na die lewer en is hy weer geopereer. Hy was drie maande in die Wits Donald Gordon-hospitaal.

Song het die nuwe lewer vyf jaar gegee weens die hepatitis C en hy moet lewenslank medisyne neem om sy immuniteit te onderdruk sodat die lewer nie verwerp word nie.

Die ingevoerde medisyne

Song het sonder sukses probeer om ’n Amerikaanse pil wat hepatitis C kon genees teen $1 000 per pil in te voer. Nadat die mediese raad en die mediese fonds ’n Indiese pil goedgekeur het, kon ’n apteek dit spesiaal invoer.

Iemand by dié apteek het gesê dit is ’n wonderwerk dat die mediese fonds daarvoor betaal.

In daardie tyd het hy so baie gehoes dat hy ’n rib gebreek en ’n liesbreuk opgedoen het. Dit was tuberkulose (TB).

Toe die hepatitis C-pil aankom, besef die dokters die duur pil en die TB-pil werk teen mekaar en hy kan dit nie gelyk drink nie.

Nadat Song internasionaal raad gevra het, het ’n plaaslike dokter, Cloete van Vuuren, met ’n werkbare plan vorendag gekom om die TB eers te onderdruk totdat hy die kursus Indiese pille oor drie maande klaar gedrink het, en om dan daarna die TB-pille drink.

“Ons kan net die Here prys, want die eerste toetse het toe gewys die hepatitis C is gesond en so is ’n tweede leweroorplanting afgeweer.”

Steve in die Wits Donald Gordon-hospitaal.

In 2016 is sy prostaat weens kanker verwyder.

Dokters het nie gedink die lewer sal so lank werk nie en hy het uitgevind die verwerpingspille het reeds sy niere beskadig.

Steve was onlangs in die hospitaal vir toetse omdat sy niere net 32% funksie gehad het. Dokters is nou besig om sy medisyne aan te pas en sy nierfunksie het reeds tot 38% verbeter.

Komende Sondag kom hul kinders en vriende by hulle eet – want dan leef hy al tien jaar met sy nuwe lewer.

Dié lewer kan die stollingsfaktor vervaardig en dus is hy nie meer ’n bloeier nie.

Hy is genees van hemofilie, TB, kanker en hepatitis C.

Die rustigheid wat ek gekry het, weet jy, nie een operasie nie, selfs nie die oorplanting nie, ek was nie een keer bang nie. Ek was nie een oomblik bekommerd nie, ek het net geglo. Die Here het my daardeur gevat.
Steve Swanepoel

“Die Here is groot,” sê Amanda. “En hierdie niere-storie – die Here is gróót hoor.”

Steve sê: “Die Here is besig, ons sien dit nie raak nie. Oral is hy besig met mense, en ons kom dit nie agter nie.”

Op die vraag of hulle soms met die Here gestoei het, sê Amanda vinnig: “Glad nie, ek het net vasgehou.”

Hulle vertel iemand het die droom vir hulle uitgelê: Die drie kerse was die Drie-eenheid, die rooi lap die bloed van Jesus en die doodskis wys op die ou lewe wat dood is en die nuwe lewe wat kom.

“Die rustigheid wat ek gekry het, weet jy, nie een operasie nie, selfs nie die oorplanting nie, ek was nie een keer bang nie. Ek was nie een oomblik bekommerd nie, ek het net geglo. Die Here het my daardeur gevat,” sê Steve. “Wat my gedra het, is Psalm 23: Al gaan jy ook deur ’n dal van doodskaduwee, jy hoef nie bevrees te wees nie. Hy is daar.”

Steve vertel hy het van kleins af altyd pyn gehad, maar nou het hy geen pyn meer nie en is nie meer siek nie. “Ek is gesond.”

Hulle wil na Johannesburg verhuis noudat hulle afgetree het, waar hulle beplan om baie vis te vang en in die natuur te stap.

Die Here is nét goed vir my, sê Steve.

Wees goed vir iemand
* Bloedskenkers moet gesond wees, behoorlik eet voor hulle gaan skenk, meer as 50 kg weeg en tussen 16 en 64 jaar oud wees. Besoek die webtuiste www.sanbs.org.za vir meer inligting.

* Om 'n orgaanskenker te wees, is gratis en dis maklik om te registreer. Een orgaanskenker kan sewe mense se lewe red en tot 50 mense se lewe verbeter. Organe wat ’n lewe kan red, sluit in die hart, lewer, longe, bene, niere en pankreas. Korneas, senings en hartkleppe kan ook oorgeplant word. Registreer by odf.org.za of bel 0800 22 66 11.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Johannesburg  |  Oorplanting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.