Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hy skryf ter wille van die storie, nie die leser

Hy het hom binne ’n kort tyd as een van die beste Afrikaanse spanningskrywers gevestig, maar niks gebeur oornag nie, het Martin Steyn aan Dirk Jordaan vertel.

Martin Steyn se tienerdroom het nie vanself waar geword nie; hy het dit waar gemáák.

“Dit is toe selfs beter as wat ek verwag het,” sê die spanning­skrywer van Somerset-Wes.

“Ek kan nie glo dat ek nou al hier sit nie.”

Hy is met goeie reg tevrede, dog nie selftevrede nie. Steyn het die ATKV-woordveertjie vir spanningslektuur nou twee jaar opeenvolgend gewen.

Die eerste keer met sy debuutroman (Donker spoor) en vanjaar teen van die grootste name wat nog in Afrikaans ink op ’n A4 laat vloei het (met Skuldig).

’n Derde boek, Swartval, is ook al bekend gestel.

Dit het baie harde werk en vasbyt gekos om tot hier te kom.

Hy skryf voltyds en doen al jare lank alles binne sy vermoë om dit moontlik te maak.

“Dit is die verskil tussen ’n loopbaan en ’n passie. As dit jou passie is, gaan jy nie sommer ophou nie.”

Hy is ongetroud en woon saam met sy ouers. Dit beteken egter nie hy is selfsugtig nie.

“Ek is wel ’n selfsugtige skrywer,” bieg hy.

“Ek skryf ter wille van die storie, nie ter wille van die leser nie. Ek wil hê die storie moet klaarkom, moet vertel word.”

Hy gee toe dat hy dit nog nie heeltemal regkry om “professioneel te skryf nie”, byvoorbeeld om op enige plek, enige tyd vinnig ’n hoofstuk kaf te draf nie.

Maar hy probeer deesdae om minstens elke dag iets te skryf.

Tot onlangs was sy skryfproses ingedeel in afsonderlike dele: navorsing en skryftyd.

Baie navorsing.

Dit het benewens maande agter die rekenaar en voor boeke ook al besoeke ingesluit aan ’n lykskouing, ’n aborsiekliniek en die polisie se ballistiese afdeling waar vuurwapens getoets word.

Die insameling van feite is nie vir Steyn nuwe terrein nie.

Hy het ’n honneurs in sielkunde verwerf en daarna eintlik net nooit opgehou navorsing doen nie.

Hy sal “nooit erken” hy het sielkunde en kriminologie gaan swot om hom te help skryf nie.

“Ek het darem voor die tyd daarin belang gestel”, maar dit het sy skryfwerk vir seker gehelp, sê hy met ’n effense glimlag bokant sy skrywersbaardjie.

Die skryfdrang het ’n paar jaar voor sy studies begin. Hy het as tiener die boek The World According to Garp van John Irving as geskenk gekry. Die stimulasie was groot en hy het gretig na nog boeke gesoek om te lees.

Dit het hom by die spanningsmeester Stephen King uitgebring en daarna was die koeël deur die kerk, hy het geweet hy wil ook skryf.

Hy het ook ’n fassinering met gruverhale ontwikkel (dalk is dit waarom sommige van sy tonele so realisties gewelddadig is) en dit het gelei tot sy eerste skryfpoging – ’n vampierverhaal.

Hy lyk verleë as hy daaroor praat.

“Dis afgekeur, maar een van die goeie dinge wat daaruit gekom het, was die feit dat ’n redakteursverslag gesê het my dialoog is goed. Dit het my moed gegee.

“Maar my karakterisering was swak.”

Dit is uiters ironies omdat Steyn se boeke deesdae juis so hoog aangeslaan word vanweë sy sterk, geloofbare karakters.

Van die bestes wat nog in Afrikaans gestalte gegee is. Soos ao. Jan Magson, die stil speurder met sielkundige letsels, en sy partner en literêre teenpool, ao. Colin Menck, die gesinsman met die vlytige humorsin.

“Ek het seker maar net hard daaraan gewerk,” beantwoord hy ’n vraag oor karakterisering.

Hy het iewers tussenin ’n skrywerskursus ook voltooi.

Steyn het destyds ook weggevoer geraak deur niefiksie oor reeksmoordenaars, veral plaaslik. Die feit dat iemand wat heeltemal normaal lyk, so iets kan aanvang, het die sielkundige in hom se aandag getrek. En gou het hy sy eerste spanningsverhaal geskryf.

Dié boek is ook afgekeur. Meer as een keer. Só ook Donker spoor, wat wel later die pad na erkenning vir hom oopgemaak het. Drie keer het hy ’n “nee dankie” teruggekry, totdat Lapa-uitgewers dit gelees het.

“Hulle het in die storie geglo,” sê hy en dissekteer die eier op sy bord versigtig.

In daardie stadium was hy reeds besig met sy tweede boek en dit was uitmergelend om die een klaar te skaaf en die ander klaar te skryf.

Daar is wel karakteroorvleuelings tussen die twee boeke en die skaafproses aan Donker spoor het hom in staat gestel om die foute wat hy aanvanklik gemaak het in die tweede boekte vermy.

“Uiteindelik was ek net dankbaar daardie eerste een is klaar en dat ek ná al die jare ’n boek op die rak het.”

Saam met die sukses het ’n nuwe probleem opgeduik: Hy moes in die openbaar praat en dit is iets waarvan hy nie gehou het nie, erken hy. Maar dit gaan al beter. Hy is nou gewoond daaraan en weet dat dit deel van sy werk is.

Hy gee ook nie om om homself uit te daag nie. In sy jongste, Swartval, is ’n jong vrou, Claire Winters, die hoofkarakter. Dit was moeilik om “in haar kop in te kom”, vertel hy. Om hom in te dink hoe ’n vrou sal voel wat aangehou word, wat in vrees leef en wat afgesny is van almal wat haar kan help.

Hy wou nie net vanuit die ontvoerder se perspektief skryf nie, maar ook uit die slagoffer s’n.

Die sielkunde daarvan ontgin.

Steyn het Donker spoor ook reeds self in Engels vertaal, met oorsese markte sy doelwit.

“ ’n Mens wil mos maar hê dat almal in die hele wêreld jou boek moet lees.

“En ek wou dit self doen . . . omdat ek bang is ’n Engelssprekende vertaler verstaan nie heeltemal wat ek probeer sê het nie.

“Ek dink daar gaan maar altyd iets in ’n vertaling verlore. Maar ons sal maar moet sien.”

Hy gaan wel nie nou skielik in Engels begin skryf nie. Steyn wil homself eers behoorlik in die Afrikaanse mark ingrawe.

Maar hy het reeds. En is daarvoor beloon. Leser, resensent en boekwinkeleienaar hou van sy werk. Daar bestaan geen twyfel meer dat dit goed is nie.

Hy staan op om te groet. Lank, skraal en hoekig – die liggaamsvorm wat vra vir ’n beskrywing deur ’n goeie spanningskrywer.

“ ’n Mens hoop maar net dit bly so goed.”

Meer oor:  Skrywer  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.