Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
#ImStaying: ‘Tornado van hoop’ tref SA

Die boodskap wat hy onlangs een oggend op Facebook geplaas het, het ’n tornado van hoop en positiwiteit oor Suid-Afrika geword, sê Jarette Petzer (39), stigter van die #ImStaying-beweging, aan Murray La Vita. Die groep het teen Vrydagoggend net so oor die 480 000 lede gehad.

Jarette Petzer, stigter van #ImStaying, sê dié groep behoort aan almal wat bereid is om ’n positiewe bydrae te lewer. Foto: Jaco Marais

“Ek is, soos die meeste ander mense, die afgelope ruk gebombardeer met negatiwiteit . . . al die goed waarvan ons in die media uitvind . . . wat in die land aangaan en aan die politieke front. En soos ander mense het ek ook daaroor gepraat en daaroor gebroei en gekla,” sê Jarette Petzer.

“Toe besluit ek een oggend [op 6 September] toe ek opstaan om my dag met ’n klein video te begin op my Facebook-blad om dankie te sê vir my lewe en dat ek in ’n pragtige land woon.”

Jarette tel sy selfoon met een van sy groot hande op en soek die video.

“Hier is dit. Vyf minute. Dis al wat dit geneem het om dit alles te begin. Ek wil dit weer wys op die groep wanneer ons ’n miljoen lede het.”

'Facebook kon nie cope nie'

Ingrid sê #ImStaying het Facebook in ’n stadium “gebreek”.

“Laat ek jou vertel wat die eerste paar dae gebeur het,” sê Jarette geesdriftig. “Facebook kon nie met ons platforms cope nie.

“Ons het in daardie stadium sowat 10 moderators gehad wat die boodskappe modereer het soos wat dit deurgekom het. En ons almal is die heeltyd van ons toestelle af geskop en uit ons Facebook-rekeninge gesluit.

“So Facebook kon dit letterlik nie hanteer nie.”

Ingrid: “Die verkeer was massief. Ek dink meer as 11 miljoen interaksies met die groep.”

Jarette: “Ses-en-’n-half miljoen.”

Ingrid: “Dit is ongehoord vir hierdie land om so iets te beleef.”

In die video sê hy ons hét baie probleme, maar dit geld ook baie ander lande – ontwikkelde én ontwikkelende lande. En hy beklemtoon hoe kragtig die woorde is wat uit ons mond kom – woorde kan afbreek en dit kan opbou.

Hy het die opname met sy selfoon gemaak terwyl hy stap in die behuisingskompleks waar hy woon in ’n noordelike voorstad van Kaapstad. Vroeg in die video is daar ’n luide geblaf.

Jarette glimlag dan effens verleë en sê: “The neighbours are all chipping in, can you hear?” voordat hy sy boodskap hervat.

“Iemand het toe in die kommentare voorgestel dat ek ’n groep begin. Ek het dit toe die volgende dag gedoen – die groep #ImStaying begin waarop ek mense aangemoedig het om hul stories te deel.”

Hy het aanvanklik “fluffy content” op die groep se Facebook-blad geplaas.

“Soos Suid-Afrikaanse humor waarmee ons ons almal kan vereenselwig, maar ook goed soos die uitvoerende hoof van Discovery wat praat oor Suid-Afrika as ontluikende mark en hoe sterk ontluikende markte is. Alles wat ek geplaas het, was daarop ingestel om die land te bemark.”

Die groep is ook daarop ingestel om Suid-Afrikaners te help wat op soek is na werk of geleenthede.

‘Ek is alleen’

“Mense van alle gelowe en rasse en uit verskillende dele van die land en die samelewing is deel van die groep.”Foto: Jaco Marais

Die onderhoud met Jarette vind plaas in die portaalrestaurant van ’n hotel in Century City, noord van Kaapstad. Hy is ’n groot, frisgeboude man met grysblou oë. ’n Mens sou hom vir ’n aantreklike uitsmyter of lyfwag kon aansien.

Ingrid von Stein (53), wat hom help om die projek te bestuur, is ook teenwoordig. Om haar nek is ’n kettinkie waaraan die Hand van Fatima hang. Dit is ’n antieke simbool wat veronderstel is om die draer daarvan teen boosheid te beskerm. Ingrid het Jarette op die #ImStaying-groep se blad ontmoet en toe agtergekom hulle is bure.

“Ek het gevoel ek is alleen. Ek is al die afgelope 20 jaar ’n sakevrou aan die stuur van my eie ondernemings [onder meer ’n bemarkingsmaatskappy] en ek het baie werknemers. Ek het elke dag vir myself gevra: Hoe maak ek ’n verskil? Hoe deel ek die stories? Hoe bou ons? Ek en Jarette het toe oor koffie ontmoet en hier is ons,” sê sy.

Koeie en turksvye

Die sakevrou Ingrid von Stein help Jarette Petzer om #ImStaying te bestuur. Foto: Jaco Marais

Jarette het op ’n hoewe in Walkerville, suid van Johannesburg, grootgeword.

“Ons het aan die voet van ’n koppie gewoon. Al my vriende was swart – hulle het daar naby in ’n klein dorpie [village] gewoon. My ouers was nie ryk nie, maar ons het in ’n oulike kothuis gewoon.

“My vroegste herinneringe is van my en my twee vriende wat koeie gemelk en turksvye gepluk en geëet het. Ek onthou ook ons het hierdie pragtige pekanneutbome gehad en ons sou oor naweke pekanneute op die grond gaan optel. Dit was nogal lekker. Ons het later in voorstede soos Kibler Park en Rosettenville gewoon.”

Hy en sy gewese vrou het hulle tien jaar gelede  ter wille van hul dogter in Kaapstad gevestig.

“Omdat die bestaan hier meer op die buitelewe gerig is en gesonder is vir kinders.”

Passievol

Die videoboodskap wat Jarette Petzer op Facebook geplaas het en waaruit die #ImStaying-beweging gegroei het. Foto: Jaco Marais

Jarette was tot onlangs ’n eiendomsagent, maar spits hom nou heeltyds op die #ImStaying-veldtog toe wat by die dag al groter word.

“Hierdie is iets waaroor ek nogal passievol is. Dit was tot dusver baie pret. Senutergend, maar pret. Dit groei so vinnig. Dit is nie asof dit iets is wat oor ’n tydperk van ses maande gegroei het nie. Ons sit nou letterlik met 377 000 lede; teen die tyd dat hierdie onderhoud klaar is, is dit miskien 380 000.”

Ingrid help hom reg: “Teen vanoggend [Dinsdag, 1 Oktober] tienuur het dit op 380 000 gestaan.”

Jarette: “Dit wys jou! Dit is eksponensiële groei. So ons probeer om alles te struktureer soos wat ons aangaan, maar dit verg baie beplanning. Om in die middel van die proses te wees is nogal iets. Dis bietjie soos ’n tornado.

“Ons móét aanhou groei, want hoe meer ons groei hoe meer mense word bewus van hoop en positiwiteit en hoe gouer kan ons dinge begin omdraai. Só kan ons ook begin om die mure wat ons almal om ons het af te breek.

“Ek glo eerlikwaar hierdie is op die oomblik die beste middel wat ons in ons land het om dinge te verander.”

Die fokus is ook op inisiatiewe wat gerig is op werkskepping en om klein ondernemings te help.

“Wat ook in die vooruitsig gestel word, is handelsware – ons word oorval deur voorstelle vir produkte soos T-hemde en pette en so aan – en geleenthede.

“Ek dink ons moet hierdie ding só versigtig hanteer, want as jy dit op die verkeerde paadjie stuur, gaan ons ’n wonderlike geleentheid verongeluk waardeur baie goeie dinge bereik kan word.”

‘Elitisties’

“Dit was net ’n eenvoudige gedagte en een daad wat alles verander het.” Foto: Jaco Marais

#ImStaying word uit sommige oorde daarvan beskuldig dat dit geweldig elitisties is en gerig is op ’n bevoorregte wit minderheid.

Jarette ontken dit. Volgens hom is die groep juis inklusief. Hy het in ’n onderhoud met die radiostasie CapeTalk gesê: “Mense van alle gelowe en rasse en uit verskillende dele van die land en die samelewing is deel van die groep. Almal dra by.”

Die visie van die groep word op Facebook só verwoord:

“Hierdie groep is toegewy aan die Suid-Afrikaanse vroue en mans van alle rasse en gelowe wat lojaal bly aan Suid-Afrika. Hierdie groep eer almal wat glo dat ons as ’n nasie dinge kan omkeer – hulle wat kies om hier te bly en saam te werk om hierdie pragtige land waarin ons woon te red! Hierdie groep behoort aan almal wat bereid is om ’n positiewe bydrae te lewer!”

‘Só leer mense’

“Ek glo eerlikwaar hierdie is op die oomblik die beste middel wat ons in ons land het om dinge te verander.” Foto: Jaco Marais

Jarette sê die vrywilligers wat die plasings op #ImStaying modereer, is jonk en is nie professionele modereerders nie.

“So, soms . . . As jy na iets kyk vanuit jou perspektief dink jy dalk: ‘O, dit is oulik’, en jy plaas dit in die openbare domein.

“En dan kan iemand vanuit ’n heel ander perspektief daarna kyk en dink: ‘Jy maak seker ’n grap!’ So, die plasing kom vanuit ’n plek van ordentlikheid en ’n warm hart, maar dit word heeltemal anders beleef.

“Dít is vir ons baie ingewikkeld ons begaan die hele tyd sulke foute. Soos wat ons aangaan, leer ons om sulke situasies te vermy . . . Dit duik die hele tyd op, byvoorbeeld mense wat verwys na ‘ons’ huishulp of ‘ons’ tuinier. Hulle kom uit ’n era waar dit normaal was om só te praat.

“Maar wat ook nou besig is om te gebeur is mense begin daaruit leer. Hulle sal byvoorbeeld nie na iemand se ras verwys nie, maar eerder ’n foto plaas wat selfverklarend is. Ons hoef mekaar nie meer te etiketteer nie; die etikette moet stop.”

In trane

Die plasings op #ImStaying se blad wissel van foto’s van wit ouers en hul swart aanneemkinders tot verhale van mense se welwillendheid teenoor en ondersteuning van mekaar – dikwels oor rasgrense heen.

’n Treffende aspek van die blad is die interaksie wat om die plasings ontstaan: Hoe mense met vreugde daarvan kennis neem, dank uitspreek, of sê hoe insigryk dit was en dat dit groter begrip kweek.

’n Bron van inkomste

Op die dag van die onderhoud was die proses op dreef om vir #ImStaying ’n webwerf en Instagram- , Twitter- en LinkedIn-rekeninge te skep.

“Die webwerf gaan baie cool wees. Daar gaan ons nuus deel en uitbrei op van die stories wat mense deel – vleis aan die been sit.”

Weens die verwagte volume van interaksie op dié platforms is daar die moontlikheid van inkomste deur byvoorbeeld Google Ads.

“Ons gaan inkomste nodig hê vir byvoorbeeld operasionele uitgawes, maar dit is belangrik dat ons verstaan hóé daardie inkomste na ons toe gaan kom, want ons wil hierdie nie in ’n gekommersialiseerde ding laat ontaard nie. Dít is nie die doelwit nie.”

Te midde van die kritiek op die groep is daar dus die honderdduisende mense wat daardeur begeester en bemoedig word. Mense soos Wannie Carstens, emeritusprofessor aan die Noordwes-Universiteit.

Volgens kollega Gert van der Westhuizen het hy by een van die aktuele gesprekke op die onlangse Aardklop-kunstefees uit die gehoor die volgende oor #ImStaying gesê:

“Ek vind myself kort-kort in trane, want wat daardie mense sê, is: ‘Ek het ’n nuwe erfenis aanvaar, my nuwe erfenis is ’n Suid-Afrikaanse een . . . ’n nuwe Suid-Afrikaansheid omhels ek en daarop gaan ek bou.’

“’n Nuwe Suid-Afrikaansheid word binne ’n maand gebou op die internet. Dit is daardie ding wat ons moet vorentoe neem.”

‘Nie net ’n gier’

Is dit moontlik dat #ImStaying ’n beperkte raklewe het en dat mense mettertyd daarin belangstelling kan verloor?

“Hierdie is nie bloot ’n gier of ’n mode nie. Dit gaan oor die siel van Suid-Afrika en sy mense. Die mense waaruit hierdie massiewe groep bestaan, is skeppers van die inhoud op die groep,” sê Jarette.

“Ek dink dit verryk hul lewens. Daarby is daar so baie wat ons wil doen om dit veel verder te neem as waar dit nou is, naamlik ’n aanlyn platform.

“Ons wil dit na die buitewêreld toe bring en tasbaar maak. En dan wil ons die stories volg van die inisiatiewe wat hieruit voortvloei. Ek dink dit is nie iets wat vinnig gaan vervaag nie. Wat ek wil doen, is om die stories, die werklike cool stories, te vertel: Dít is wat gebeur het; dít is die gevolg daarvan en dit is wat dit vir die mense wat daardeur geraak word – en vir die land as geheel – beteken het. Dit gaan baie moeilik wees om sulke stories te ignoreer.”

‘Politiek verbode’

“Ons hoef mekaar nie meer te etiketteer nie; die etikette moet stop.” Foto: Jaco Marais

Daar was al voorstelle dat die groep tot ’n politieke party omvorm moet word, se Jarette.

“Maar dit gaan nie gebeur nie, want dit druis in teen die reëls van die groep wat lede juis vra om nie politieke boodskappe te deel of van enige politieke groepe melding te maak nie. Ons is nie hier om vanuit ’n politieke standpunt aan dinge deel te neem nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa het in die eerste aflewering van sy weeklikse nuusbrief “From the Desk of the President” geskryf die “Ramaphoria” wat sowat twee jaar gelede in die land ontstaan het, is besig om te taan.

“Baie van die vertroue wat daar 20 maande gelede was, het verdwyn soos wat die harde werklikheid van die omvang van die probleme waardeur ons in die gesig gestaar word al duideliker geword het.”

Dit was net ’n eenvoudige gedagte en een daad wat alles verander het. En ons almal het daardie vermoë.

Ek pols Jarette hieroor.

“Positiwiteit kan nie genoeg beklemtoon word nie. Jy kan die hele tyd oor negatiewe dinge kla en kerm en hopeloos voel daaroor. Maar deur dít te doen, het jy geen positiewe bydrae gelewer wat ’n verskil kan maak nie. Deur hoopvol en optimisties te wees verander jy jou houding en uiteindelik vind jy jy doen iets klein.

“Kom ons wees eerlik: Dié groep is nie begin met ’n groot meesterplan in gedagte nie. Ek het net iets kleins gedoen. Uit die aard van die saak het ek geïnspireer gevoel toe ek dit gedoen het, en kyk net na die gevolge van wat ek gedoen het. Dit was net ’n eenvoudige gedagte en een daad wat alles verander het. En ons almal het daardie vermoë.

“Ek dink ons moet nou daardie momentum van hoop en optimisme handhaaf, ook ’n bereidwilligheid om saam te werk, want as ons dit nié doen nie gaan ons [die land] sonder twyfel misluk. Ons het op dié manier minstens ’n kans om sukses te behaal.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.