Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
In die binnekring van die ‘boytjies’

Die joernalis Pieter du Toit se boek The Stellenbosch Mafia: Inside the Billionaires’ Club het beroeringe in die Eikestad veroorsaak. Charles Smith het met hom oor geld, mag, rugby, Johann Rupert se honde en die heer Markus Jooste gesels.

Pieter du Toit, skrywer van die boek The Stellenbosch Mafia. Foto: Charles Smith

Is die ryk Stellenbosse boytjies regtig ’n mafia?

Hulle is nie ’n mafia in die misdadige sin van die woord nie, maar daar bestaan wel ’n invloedryke groep sakemanne (nie vroue nie!) wat danksy hul gemeenskaplike bande met skool, koshuis en universiteit ’n formidabele netwerk van sakebelange, kapitaal en intellek vorm. Die netwerk het ’n reuse-invloed op die ekonomie en hul reikwydte strek ver.

Waar het die term vandaan gekom? En wie is almal lede van dié “boeremafia’’?

Die term “Stellenbosch-mafia” is in die vroeë 2000’s die eerste keer deur finansiële en sakejoernaliste gebruik toe spottenderwys en in goeie gees na die ryk Stellenbosse sakelui verwys is. Ek dink dis gebore toe Jannie Mouton se PSG begin presteer het en hy na die dorp toe getrek het. Toe was die Ruperts se Remgro reeds dekades lank op die dorp gevestig en was dit die vernaamste onderneming op die dorp. Die term het in 2016 en 2017 ’n sinistere konnotasie gekry toe dit in die Zuma-Gupta-Bell Pottinger-disinformasieveldtog gebruik is om ’n teenpool vir staatskaping te skep.

Die aandag moes van groot korrupsie afgelei word, en ’n groep wit, Afrikaanse sakelui – die Stellenbosse mafia – op ’n prentjiemooi en bevoorregte Bolandse dorp was maklike afleiding.

Jy het ’n onderhoud met Johann Rupert in sy huis op Stellenbosch gevoer. Dit was seker interessant om ’n blik te kry op hoe die rykste mens in Suid-Afrika leef?

Ek het Johann baie interessant, baie toeganklik en baie eerlik beleef.

Dit was interessant om in sy voorhuis te sit en te gesels oor land- en wêreldpolitiek, die ekonomie en natuurlik ook rugby, waarop hy versot is. Ek was egter teleurgesteld dat hy nie bereid was om oor groot sake en sy eie familiebesigheid se rol in apartheid te praat nie, veral omdat hy een van die min sakemanne was wat voor die Waarheid-en-versoeningskommissie verskyn het.

Hy het sedert die boek se publikasie ook alle bande met my verbreek, wat jammer is. Ek dink hy is diep besorg oor sy nalatenskap en het ’n groot behoefte om gesien te word dat hy ’n bydrae tot die land lewer. Hy’s nie flashy nie, hy gooi nie geld rond nie en sy huis is nie bling nie. Maar hy is moeilik.

Ek het lekker gelag oor sy honde wat winde laat terwyl julle gesels. ’n Ryk ou se brak bly maar net ’n brak, nè?

Ja! Honde skyt maar orals, of jou baas ’n private jet en ’n huis in Genève het, en of jy ’n ou Corolla ry en aan die Oos-Rand woon.

Ek het hom ervaar as baie menslik, baie gewoon, hoewel hy natuurlik ’n gans ander heelal as die meeste van ons bewoon. Maar geld verander ’n mens, maak nie saak hoe hard jy probeer om normaal te bly nie.

Dit geld na my mening ook vir hom.

Jy skryf oor Rupert se onderhoud met die Johannesburgse radiostasie PowerFM wat dramaties skeefgeloop het. Dit blyk dat die Stellenbosch-bubble wel bestaan en dat hulle nie gereeld in kontak kom met die Suid-Afrika noord van die Kaapse berge nie?

Die groep wat vir daardie onderhoud saam met hom na Johannesburg gereis het, het op die dag van die Kaap af ingevlieg en is dieselfde aand terug. Dit was vir my nogal betekenisvol.

Stellenbosch is ’n wonderlike dorp, maar is amper volledig geïsoleer van die werklikhede van die res van Suid-Afrika. En baie van sy inwoners kraai daaroor, vandaar die “bubble”-benaming, al word dit spottenderwys gebruik.

Die dorp is geografies geïsoleer weens die berge, en sielkundig ook – dit waarmee die res van die land worstel, soos werkloosheid, misdaad, rasseverhoudings, beurtkrag, verval – min daarvan vind daar neerslag.

Van die rykes op S’bosch se gedrag gee nogal skietgoed aan die EFF. Soos die ou wat die klomp peperduur Land Rovers ingevoer het. ’n Mens weet nie of jy moet lag of huil nie. Wat het hier aangegaan?

Dit was ’n Merc, een van daai monstertrokke, ek dink ’n G6 of iets. Ja, die spandabelrigheid is soms nogal belaglik. En dis iets wat Rupert ook ontstig. In ons onderhoude het hy dit duidelik gemaak hoe hy die vertoon van welvaart verag en hoe die najaag van materiële goed soos duur karre en groteske huise hom afsit. Daar’s een ou in Mostertsdrift, die dorp se rykste en oudste buurt, wat selfs ’n deursigtige motorhuisdeur het sodat mense kan sien watter kar hy ry. Rupert het gesê: ‘Kyk, op Stellenbosch, wanneer my buurman ’n Maybach I het, wil ek ’n Maybach II hê.’

’n Maybach is vrek duur . . . gaan google dit.

En dan is daar die nimlike heer Markus Jooste. Hy is ’n kleurryke skobbejak. Die Steinhoff-reis na die Wêreldbeker in Engeland laat omtrent ’n mens se mond oophang. Wat dink jy van hom?

Nee, Markus het ’n enorme behoefte gehad om deel van die Stellenbosse set te wees. Hy het daar geswot, maar was nie daar op skool nie, en was derhalwe altyd ’n “inkommer”, met ander woorde nooit ’n true blue-Stellenbosser nie. En dit het hom gebrand. En toe neem hy Steinhoff terug na die dorp toe, maak ’n blink paleis die maatskappy se hoofkantoor en begin jongelinge enorme salarisse betaal. Hy’t geld rondgegooi omdat hy gesien wou word.

Weet jy waar hy hom nou bevind? Kon jy ’n onderhoud met hom voer? En indien jy hom nou kon opspoor, wat sal jy aan hom vra?

Ek weet nie waar hy is nie, maar as die staaltjies wat op die dorp loop waar is, het hy nie veel bekommernisse in die lewe nie. Hy’t ’n groot huis op Hermanus, is al by duur restaurante in die Kaap opgemerk en was relatief onlangs glo die hart van ’n ramparty aan die Weskus waar op tafels gedans en groot gekuier is.

Wat ek hom sal vra? Waar begin ’n mens? Niemand weet hoe die maatskappy gewerk het nie, nie eens sy finansiële ouens nie. Kyk, so ’n persoon gaan ook nie eerlik antwoord nie, so die maatskappy se finansiële state moet die praatwerk doen.

Het jy ook met Koos Bekker vir die boek gepraat? Is hy ’n lid van hierdie binnekring van Die Volkskombuis?

Ek het Koos vir ’n onderhoud gevra, bloot in die konteks van Naspers wat op Stellenbosch ontstaan het en ook omdat hy ’n spogwynplaas buite die dorp het. Maar nee, hy is nie deel van die bekende Decameron-middagete-klub waar baie deals glo bespreek word nie.

Rugby, geld en mag loop hand aan hand op S’bosch. Hoekom was dit belangrik vir jou boek?

Bloot omdat rugby so ’n deel van die dorp se kultuur is. Die Maties-rugbyklub is een van die dorp se kroonjuwele en Stellenbossers is, met reg, baie trots op wat Dok Craven se klub beteken en reggekry het. Dis ook ’n middelpunt van een van die sterkste netwerke wat uit die dorp ontstaan het, en mense wil deel wees daarvan. Al die groot kanonne op die dorp, behalwe Rupert, snaaks genoeg, is of was betrokke by Maties-rugby. Rupert is egter baie nou verwant aan sy skool, Paul Roos.

Het die EFF en ander vingerwysers dit reg as hulle sê sakelui soos Johann Rupert beheer die land se ekonomie en geldeenheid? Wie is eintlik die werklike mafia in Suid-Afrika vir wie ons bang moet wees?

Nee, die EFF blaas doppies. Hulle weet nie hoe die ekonomie werk nie en probeer net politieke munt slaan uit aanvalle op Rupert en kie. Inteendeel, die EFF en Floyd Shivambu het al verskeie kere uitgereik na die sogenaamde mafia, soos wat ek skryf, so hul skynheiligheid en oneerlikheid is opvallend. Rupert het wel groot invloed in plekke soos Washington en Europa. En die regering moet dit eintlik gebruik. Hierdie ouens is nie misdadigers nie, terwyl dit lyk asof die EFF VBS Bank help leegdra het. Ek dink laasgenoemde is eindeloos gevaarliker.

  • Pieter du Toit is adjunkredakteur van News24 en oudredaksielid van Volksblad.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.