Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
In pandemie ‘baklei elkeen vir homself’
Malcolm de Roubaix
Dr. Malcolm de Roubaix in die studeerkamer in sy huis. Foto: Jaco Marais

As dit kom by krisisse soos die Covid-19-pandemie, lyk dit asof die mensdom in duisende jare “absoluut niks geleer het nie”, sê dr. Malcolm de Roubaix, wie se boek Hoop, Heling & Harmonie pas verskyn het, aan Murray La Vita.

Mense het “in die ou dae” altyd vir dokters gevra: “Nou hoeveel lewens het jy nou al gered?”

Vir hóm is dit moeilik om enige spesifieke insidente in sy loopbaan uit te sonder, sê De Roubaix (75). Hy is ’n anestesioloog – ’n spesialis-narkotiseur – van Welgelegen, Kaapstad, wat tot in Desember nog gepraktiseer het. Hy het ook ’n doktorsgraad in toegepaste etiek.

Ons gesels per Zoom oor sy boek Hoop, Heling & Harmonie – Dink nuut oor siekte en genesing, wat pas by Penguin verskyn het.

“Wat vir my oor my meer as 50 jaar in geneeskunde uitstaan . . . Wat my gemotiveer en bevredig het, is om diensbaar aan my medemens te wees. Ek glo dít is fundamenteel vir die meerderheid eerbare en etiese geneeskundiges.

“My hele mediese loopbaan is een groot ervaring; daarom is dit moeilik om enige insidente uit te sonder,” sê hy en vertel dan wat gebeur het toe hy en sy vrou en dogtertjie sowat 40 jaar gelede op ’n staptog in die Hottentots-Holland-berge was.

Dit was ’n volmaanaand en ’n verskriklike storm het opgesteek wat hulle genoop het om in ’n berghut skuiling te soek. ’n Groep jong stappers het toe “drupsgewys” by die hut aangekom. Een van hul groep, ’n 14-jarige seun, het soek geraak.

“Ons het hom uiteindelik gekry, maar ek kon geen pols meer voel by hom nie. Ons het hom teruggedra en toe ons nou daar in die hut kom, het ek steeds geen pols gevoel nie en hy was ys-, ys-, yskoud.”

’n Lewe gered

Verskeie pogings is aangewend om hom weer “by” te kry.

“Ná so ’n uur en ’n half of twee het ek gedink: Jislaaik, is dit nou rêrig die moeite werd; moet ons aangaan, want ons het ook nie ’n behoorlike manier gehad om hom te warm te maak nie. En ek dog toe laat ek maar weer probeer, en ek sit my oor so teen die ou se borskas, en weet jy, daar hoor ek doef . . . doef . . . so stadig, 30 slae per minuut.

“Hy het ná uur of wat self begin asemhaal en die volgende oggend wakker geword en hy het twee tone verloor, maar hy het herstel.

“En sy weduwee-ma het vir my gesê: ‘He is very precious to me.’ So, ek het ’n lewe gered. Natuurlik nie alleen nie.”

Ook sý lewe is al gered.

“Ek het op 3 Desember verlede jaar my laaste narkoselys gedoen en op die 12de het ek op die tafel gelê met ’n onverwagse opehartomleiding.” Hy lag. “Dís hoe my aftrede begin het. Intussen moes ek weer ’n stent kry, maar ek is nou weer reg. Ek is vol baklei.

“En nou is ek besig met die laaste hoofstuk van ’n boek oor manlike veroudering – Die A tot Z van manlike veroudering.”

So, dit het my gepla oor hoe ons dink oor siekte. Hierdie hele opvatting dat ons siekte as ’n stryd beskou, en dit ís nie dit nie; dit is net deel van die lewe net soos wat die dood deel van die lewe is.

‘Hoe ons oor siekte praat’

De Roubaix het sowat 20 jaar gelede in bio-etiek begin belangstel en toe in daardie rigting begin studeer en ’n doktorsgraad behaal.

“Dit is ’n soort van ’n parallelle loopbaan vir my. Wat my verskriklik gepla het, is die manier waarop ons oor siekte praat en dink. Ek skryf daaroor in die afdeling “Metafore – die taal van siekte”.

“As jy oor metafore begin dink . . . metafore is nie net lekker, mooi taaltruuks nie. Dit sê vir jou baie meer. Dit sê vir jou wát iemand dink en hóé hy dink.

“So, dit het my gepla oor hoe ons dink oor siekte. Hierdie hele opvatting dat ons siekte as ’n stryd beskou, en dit ís nie dit nie; dit is net deel van die lewe net soos wat die dood deel van die lewe is. Ons moet dit eenvoudig aanvaar.

“Dokters wou dit natuurlik sedert die tyd van Hippokrates nooit aanváár nie. Hulle het weggestap van die dood af. Hulle was nooit opgelei en bekwaam om dit te hanteer nie.”

‘Onkunde die vyand’
“Ja, en kennis is mag.” Foto: Jaco Marais

Hulle is opgelei om wanneer hulle gekonfronteer is met ’n pasiënt wat terminaal siek of sterwend is, dit nie vir die pasiënt te sê nie, maar vir iemand in die familie.

“En dit is dan so half agter die hand wat jy dit sê; jy sê dit nie dirék nie; dis nie goed waaroor ons praat nie. Ek dink daardie era is nou verby. Ons wéét mense kan slegte nuus hanteer. Ons weet mense móét ingelig word, en die groot vyand is eintlik onkunde, of om nié te weet nie en nie jou prognose te ken nie.”

Dit verstom hom om te hoor hoe mense praat oor hul siekte en hoe hulle dit wel kan hanteer.

“Terwyl ons opgelei is om te dink dat hulle dit nie kán hanteer nie. Mense kán slegte nuus hanteer en hulle het die verantwoordelikheid en die reg om dit te weet, want hulle staan in verhouding met ander mense en belange en daar is besluite wat geneem en dinge wat gedoen moet word rondom dit.”

Oorlog en siekte

Die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika is omgeef van oorlogsmetafore.

“Die staat het ’n ‘command council’ gestig – dis ’n oorlogstruktuur, en hulle praat ook van ‘oorlog maak teen die siekte’. Daai ‘oorlog maak teen die siekte’ laat jou toe om dinge te doen wat indruis teen ons regte.

“Die verskríklike behandeling van ou mense, byvoorbeeld – weerlose ou mense wat opgesluit is; nie toegelaat word om hulle kinders te sien nie. En dan word die siekte ingebring by die agterdeur en mense gaan dood daar . . . Elsa Joubert.

“Daardie verskríklike ding. Ek raak skoon histeries as ek net daaraan dink hoe dit misbruik is. En nóú nog! Om vir my te sê ek mag nie ná tienuur in die aand op die straat wees nie . . . Daai soort van verspótheid . . . Om vir iemand wat wil rook te sê hy mag nie rook nie of hy mag nie alkohol drink nie – wettige goed. Nie dat ek dit wil goedpraat nie, maar dit gaan oor die beginsel. So, dit het aan die regering die mág gegee.”

“En hoe ernstiger die siekte, hoe groter is die weerloosheid.” Foto: Jaco Marais

‘Elkeen vir homself’

Die pandemie wys vir ons hoe kwesbaar die mensdom is. “En dat dít wat hy dink hy weet, hy nié weet nie. En dít wat hy dink hy kan beheer, kan hy nié beheer nie.

“En wanneer die mens in ’n krisis kom, is sy reaksie daarop verstommend. As jy kyk na die Amerikaners se reaksie; as jy kyk na die reaksie in Suid-Amerika, en ek dink ons eie reaksie ook op die siekte . . . Dis asof daar ’n gebrék aan enige samehorigheidsgevoel is onder die mense. Elke ou baklei maar vir sy eie ou plekkie onder die son.

“Jy weet, die ryk lande het klaar alle produksiemoontlikhede van middels sowel as van entstowwe teen Covid-19 wat gaan kom, bespreek. Die kanse dat ons iets gaan kry, is baie skraal, behalwe as ons dit uit Indië kry. Hulle het dit al klaar bespreek. Hulle gee nie rêrig om wat met die res van die wêreld gebeur nie. Daai samehorigheid, daai gevoel van ons is een groot gemenebes van ’n mensdom, bestaan nie.

“Dit is asof ons in, ek weet nou nie hoeveel duisende jare nie, níks geleer het nie; absoluut niks geleer het nie as dit kom by sulke basiese krisisse.

“Kyk nou, ons het nou gedink in Suid-Afrika is hier nou ’n geleentheid waar ons nou kan sáámstaan en rêrig bewys ons is één nasie en ons gee om vir mekaar. Maar dis hoegenáámd nie wat gebeur het nie.”

Kennis is mag

Ons praat oor die mag wat dokters vanweë hul kennis het.

“Ja, en kennis is mag. Maar dan het ek nog ’n spesiale típe van kennis en dis dikwels nie kennis wat ek geskep het nie, maar ek het dit nou geleer oor die pasiënt en nou moet ek vir hom kom sê: ‘Ek is jammer, maar dít is die omstandighede.’

“So, ek het nou nog daardie mag oor lewe en dood óók. Nie ons as narkotiseurs eintlik nie, maar in die gewone gang van sake – ’n algemene praktisyn of ’n internis of onkoloog. Hy het letterlik oënskynlik beheer oor lewe en dood en dit is ’n baie magtige posisie om te hê.

En hoe ernstiger die siekte, hoe groter is die weerloosheid, en hoe groter is die impak op die lewe van die pasiënt. Ek dink dokters besef dit deesdae baie meer en beter.

“Ek skryf in die hoofstuk oor ingeligte toestemming oor hoe ’n mens dit kan probeer oplos. Almal weet deesdae die dokter is veronderstel om jou behoorlik in te lig, maar ek weet ook dit is baie moeilik om dit altyd te doen.

“Die groot ding is nie om in te lig nie, maar om te sorg die pasiënt verstáán. Die doel daarvan om die inligting oor te dra is om die speelveld ’n bietjie meer gelyk te maak en dan vir die pasiënt te sê: ‘Nou kán jy besluit en nou móét jy besluit.’

“Maar kán jy? Wíl jy dit regtig doen? Dis ’n dilemma. Wil jy regtig of wil jy sê: ‘Nee jislaaik, Dokter, ek vertróú jou heeltemal!’ Op die ou end is dít wat jy doen. Ek persoonlik wil liewers iemand hê wat ek kan vertrou as een wat ek nie kan vertrou nie en al die inligting vir my gee.”

In sulke omstandighede is mense baie weerloos.

“En hoe ernstiger die siekte, hoe groter is die weerloosheid, en hoe groter is die impak op die lewe van die pasiënt. Ek dink dokters besef dit deesdae baie meer en beter.”

Kanker
“Maar, soos ek in die boek skryf, die definisie van hoop is nie optimisme nie.” Foto: Jaco Marais

Die siekte wat almal steeds vrees en wat ons weet moeilik is om te genees en enige tyd kan terugkom, is kanker.

“Die verloop van kanker is dikwels onvoorspelbaar en dit is half ’n risiko om vir ’n pasiënt te sê: ‘Jy is genees.’ Hoewel dit nie primêr my doel was om oor kanker te skryf nie, is dít tog wanneer jy oor ’n ernstige siekte praat, die ding wat by jou spook.

“Die vraag is nou as ’n mens anders oor ernstige siekte dínk, moet ’n mens jou siekte, jou kanker, anders benáder? En een ding wat my baie getref het, is die feit dat emosies en sielkundige faktore ’n geweldige impak het op immuniteit – dis nou heeltemal wetenskaplik bewys, nè.

“Dit beteken nie as jy positief ingestel is, gaan jou kanker genees word nie. Maar die siekteverloop kan potensieel anders wees. Ons kan nie sê hóé nie; ons kan dit nie voorspel nie, maar daar ís wetenskaplik bewese positiewe effekte.

“Die prognose kán beter wees. Daar is gepubliseerde resultate waar jy definitief ’n beter verlóóp kon kry, maar dit het nie noodwendig die uiteinde vreeslik beïnvloed nie. Maar dis belángrik om die verlóóp te verbeter. As jy die verloop kan verbeter van ’n ongeneeslike siekte, dan het jy die siekte goed behandel, het jy nie?”

‘Emosionele stut’

Die behoud van hoop kan ook die verloop van ’n siekte verbeter.

“En nie alleen kan hoop jou siekteverloop beïnvloed nie, hoop is ook ’n emosionéle stut vir jou.

“Maar, soos ek in die boek skryf, die definisie van hoop is nie optimisme nie. Die Christen se hoop is die beste voorbeeld van wat hoop is. Hy het ’n vaste geloof in wat hy dink met hom gaan gebeur die dag wanneer hy doodgaan en dít is sy hoop.

En dat dít wat hy dink hy weet, hy nié weet nie. En dít wat hy dink hy kan beheer, kan hy nié beheer nie.

“’n Ander interessante vorm van hoop is die woord ‘prognose’ wat dokters gebruik. Dokters praat nie van hoop nie, maar prognose is eintlik hoop. Wat is prognose? Dit is die samevatting van wat ek wéét van ’n siekte; wat ek verwág hoe die siekte sal verloop; wat ek wéét van behandeling, en hoe ek verwag my pasiënt sal reageer.

“So, ek het ’n redelike vaste hoop dat X-Y-Z sal gebeur as ek dit en dit en dit doen in hierdie omstandighede. Dit is niks anders as hoop nie . . .

“Hoop drýf eenvoudig mense aan. Hoop help jou om deur daardie moeilike ding te kom. Maar wat as dit nou so duidelik is dat jy nie genees kan word nie? Waarop hoop jy dan? Beteken dit dat jy nou hoop verloor en as jy nou hoop verloor het, het jy alles verloor?

“Ek dink die antwoord is: Nee, die hoop verskuif dan net van buite jouself – moontlike genesing – na meer binne jouself. Kléiner dinge, soos: ‘Ek hoop ek kan vannag pynvry wees. Ek hoop ek kan my kinders môre sien. Ek hoop ek sal een of ander tyd ’n oproep kry van iemand, of ek hoop die naarheid sal nie hierdie slag so erg wees ná die chemo nie’ – iets van dié aard. Dis ’n realistiese hoop wat jy steeds kan hê en dit hou jou nog steeds aan die gang. Dit laat jou steeds positief voel en dit maak vir jou steeds die lewe die moeite werd.”

Meer oor:  Hoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.