Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ivor: Stadsjapie tussen die boere

Hy is daarvan oortuig dat daar niemand in hierdie land is wat méér doen vir Projek Suid-Afrika as boere nie, het Ivor Price aan Murray La Vita gesê.

Ivor Price tydens ’n onderhoud vandeesweek in Oudtshoorn. Foto: Jaco Marais

“Daar is ’n sekere bekoring daaraan om voor sonsopkoms met ’n bakkie op ’n plaas aan te kom en die son te sien opkom en uit daai bakkie te klim en net die wêreld so te bekyk. Vyfuur die oggend léwe daai plaas al. Dis trékkers en mense wat by die werk aankom. Party van hulle het al deurnag gewerk.

“En om dan op hierdie reis te kan gaan met die boere en die son te sien sak en saans op hulle ’n glasie te kan klink en hulle families en vriende te kan ontmoet . . .”

Ivor glimlag en sy oë trek op skrefies. Sy mooi, vriendelike stem is heserig. Kykers van Landbouweekliks, die televisieprogram waarvan hy die aanbieder is, sal weet waarvan ek praat. Baie Suid-Afrikaners ken hom ook al sedert sy dae as aanbieder van RSG se nuusprogram Monitor en as Afrikaanse nuusleser op SABC2.

“Ek kom daar aan as ’n stadsjapie en as ’n bruin persoon in ’n omgewing waar ek nie veronderstel is om welkom te wees nie – dís wat die politici my laat glo. Maar dan deel mense van hul mees intieme goed met my – egskeidings, familielede wat selfmoord pleeg, die stryd teen depressie. Om een of ander rede connect boere op een of ander vlak met my en ek met hulle sodat ons daai tipe stories met mekaar kan deel.”

Ek is nou so ’n jaar-en-’n-half weg by die SAUK en die eerste jaar ná dit was die rofste tyd in my lewe; ek het nog nooit voorheen so ’n donker tyd beleef nie.

Ons sit in die teetuin van die Queen’s Hotel in Oudtshoorn waar Ivor Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks tydens die KKNK aangebied het. Sedert my laaste onderhoud met Ivor het daar dramatiese dinge met hom gebeur.

“Ek is nou so ’n jaar-en-’n-half weg by die SAUK en die eerste jaar ná dit was die rofste tyd in my lewe; ek het nog nooit voorheen so ’n donker tyd beleef nie.

“Ek kan nou eers daaroor praat. As ek nou terugkyk, is ek nie spyt dat ek daardie nou omstrede ope brief aan Netwerk24 geskryf het nie want ek staan nog by elke woord daarin. Ek is ook nie spyt dat ek my kollegas in die openbaar ondersteun het nie.”

Daar is baie mense wat vir my gesê het iemand van my statuur en iemand wat nie ’n kind is nie behoort te weet jy praat nie uit oor wat by die werk gebeur nie, maar dit is ’n openbare uitsaaier; dis belastingbetalers se geld.

Daar is baie mense wat vir my gesê het iemand van my statuur en iemand wat nie ’n kind is nie behoort te weet jy praat nie uit oor wat by die werk gebeur nie, maar dit is ’n openbare uitsaaier; dis belastingbetalers se geld.

Ivor het bedank nadat die brief van hom verskyn het waarin hy onder meer die intimidasie van sy kollegas by die SAUK onthul het.

“Daar is baie mense wat vir my gesê het iemand van my statuur en iemand wat nie ’n kind is nie behoort te weet jy praat nie uit oor wat by die werk gebeur nie, maar dit is ’n openbare uitsaaier; dis belastingbetalers se geld. En ek kon nie toekyk hoe ek agter die mikrofoon is of voor televisiekameras is en my direkte baas, Foeta Krige, of ’n kollega wat langs my sit, Suna Venter, my redakteur, of enige van my agt SAUK-kollegas, gaan deur hierdie verskriklike trauma en die res van ons marsjeer soos soldaatjies in gelid en bly stil nie.

“Toe daai bom gebars het . . . Ek het nou nog nie al die Facebook-boodskappe van die publiek oopgemaak nie want dit is eenvoudig te veel; dis duisende. Mense wat vir my geskryf het met ondersteuning aan die een kant en dan ’n bietjie kritiek uit joernalistieke kringe oor die manier waarop ek dit gedoen het.

“Maar dit hou net ’n ruk, wanneer daardie euforie verby is, ’n maand later, is soos ’n mat wat onder jou uitgeruk is.”

Trane en slapeloosheid

“Ek het hierdie job by Media24 gehad, [ná sy bedanking by die SAUK] maar ewe skielik het ek my doel in die lewe verloor, want om uit te saai is ’n dwelm!

“Dit was vir my ’n verskriklike moeilike jaar; ek kon letterlik nie werk nie. Ek het vir maande soos bietjie van ’n cry baby opgetree. As mense my net voorkeer in ’n Pick n Pay en met my wil praat, dan huil ek daarna in die kar. Ek het nágte wakker gelê. Elke oggend kwart-voor-vier het ek wakker geword – vir ’n jaar lank. Dít was die tyd wat ek opgestaan het om daai oggendskof by Monitor aan te bied.”

“Ék sou lankal opgepak het as ek ’n boer was.” Foto: Jaco Marais

Hy moes uiteindelik gaan hulp soek.

“Ek kon baie dae nie opstaan nie. En dan het ek ook hierdie ding . . . Waar ék vandaan kom, sê hulle hierdie trauma is ’n witmenssiekte. ‘Wees ’n mán! Deal daarmee.’ ” Hy lag. “Maar ek skat daai Prozac elke dag en die regrukplan het my daar deurgetrek. Dis ook belangrik as mense my vra hoe dit was . . . Ek het nooit die SAUK sleg gemaak nie. My kritiek was teen Hlaudi Motsoeneng [toenmalige SAUK-baas] se skrikbewind. RSG en SABC2 se Afrikaanse nuus is dié lekkerste plekke waar ek nog óóit gewerk het. En die mense is great. Maar nou kan ek terugkyk en sê dis nie noodwendig iets wat ek nóú meer wil doen nie. As jy my ’n jaar gelede gevra het, het ek waarskynlik gehuil en gesê: ‘Vat my terug.’

“So dit was donker, maar ook great, as ek nou terugkyk.”

En toe, aan die einde van sy jaarkontrak by Media24 in Johannesburg (waar hy “besigheidsontwikkeling” en “redaksionele projekte” gedoen het), het die wending gekom in die vorm van ’n aanbod van Via om die leefstylprogram Landbouweekliks aan te bied.

Moeilike vrae

Ons gesprek keer terug na sy nuwe lewe.

“Hulle bou die program rondom ’n stadsjapie soos ek, wat eintlik niks van landbou weet nie, so ek kan net myself wees. En dink dit is great, want die feit dat ek reg deur die land kan reis en die awkward vrae kan vra wat die meeste Suid-Afrikaners sou wou vra, is wat die program so spesiaal maak.

“Ek stel nie belang in hoeveel miljoen rand die boer se trekker kos of op hoeveel hektaar hy boer nie. Ek stel belang in wat in sy hart en in sy kop aangaan; wat hy vir mense doen.

“Hopelik kan mense nou anders na die bedryf en ons boere kyk en sê: ‘O, ek het nie dít geweet nie!’ ‘O, is dít hoe dit werk? Nou verstaan ek ’n bietjie beter waar my kos vandaan kom.’”

Ivor Price praat met ’n boer tydens die verfilming van ’n episode van Landbouweekliks. Foto: Verskaf

As ’n nuusjoernalis by RSG en SABC2 was hy daagliks gekonfronteer met die donker kant van die landboubedryf.

“Die politiek; die politieke uitsprake oor grondhervorming: ‘Die boere is slég.’ Die plaasopstande; die minimumloon-debatte; plase wat brand. So, ek het daai kant geken.

“En ver weg van die politieke arena en die stede ervaar ek ’n goedheid van die landboubedryf en ek het bietjie my opinie van boere verander. Ek is daarvan oortuig dat daar niemand in hierdie land is wat méér vir Projek Suid-Afrika doen as boere nie.

So, ek ervaar ’n verbintenis tot Suid-Afrika in die landbougemeenskap wat ek nêrens anders vind nie.

“Ek bedoel, waar het jy al gehoor dat jy jou werkgewer in die middel van die nag kan bel en sê: ‘Ek is siek.’ Dat hy vir jou behuising gee; kos gee; skole bou; klinieke bou; sentrums vir MIV/vigs.

“Ek het op Ficksburg aangekom by die MD Foundation, dis ’n paar families wat saam boer [as hoofsaaklik melkboere]. Sekwestrasie het hulle al getref; ’n haelstorm wat die boerdery omtrent in duie laat stort het; ’n plaasmoord. En daai mense het op ’n stadium gevra: fight or flight? Gaan ons Australië toe of bly ons hier en begin iets nuuts?

“Meer as 90% van die geld wat hulle maak, belê hulle in die bou van skole en klinieke en om paaie reg te maak. Hulle het ’n Christelike inslag en glo alles wat hulle het behoort aan God.

“So, ek ervaar ’n verbintenis tot Suid-Afrika in die landbougemeenskap wat ek nêrens anders vind nie. Hulle hóéf nie al daai goed te doen nie.”

Die swartskape

Ons praat oor stereotipes en stigmas wat aan boere kleef.

“Boere het die slaansakke van die regering geword. Wit mense is te bang om in hierdie land op te staan en te sê: ‘Hoor hier, ons is nie so nie.’ En dan is daar baie mense wat sê: ‘Dis goed so. Ken jou plek.’ Ek dink hulle word onregverdig uitgebeeld as die swartskape. Dis maklik om te sê hulle is sleg wanneer jy as regering eintlik faal in ’n klomp ander goed. So, ja, hulle word definitief gestigmatiseer en onregverdiglik so.

“Ek is seker daar is wel slegte boere soos wat daar slegte joernaliste, slegte dokters, slegte wat ook al is. Maar ek is oortuig dat dit ’n baie klein persentasie is.”

“Waar ék vandaan kom, sê hulle hierdie trauma is ’n witmenssiekte.” Foto: Jaco Marais

Meen hy daar is boere wat oorkompenseer weens die slegte reputasie wat hulle in ’n land soos Suid-Afrika mag hê?

“Nee, ek dink nie boere oorkompenseer nie want hulle baat absoluut niks daarby nie. Dis nie asof die regering hulle ewe skielik gaan raaksien nie. Hul optrede kom uit ’n diepe behoefte om mense te help en hul onmiddellike werkersgemeenskappe te verbeter.

“Ek is deesdae maar net tussen vier en sewe dae per maand by die huis, ek reis nogal wyd deur die land, en ek sien hoe plattelandse dorpe létterlik – met die uitsondering van die Wes-Kaap – uitmekaarval. En ek weet die plaaslike owerhede aanvaar meestal nie aanspreeklikheid vir als van teerpaaie tot wat ook al nie, maar die boere doen. Húlle maak paaie reg; húlle skep werkgeleenthede.

“Hulle het genoeg geld om te kan meganiseer op ’n skaal wat duisende werke op een slag sal wegvat, maar hulle kies om dit nie te doen nie want as die boere dit op groot skaal gaan begin doen dan gaan daai dorpe uitsterf.”

En dit bedreig als, van voedselsekuriteit tot stabiliteit in landelike gemeenskappe.

Ivor neem ’n sluk van sy swart koffie.

“Die regering karring nou aan die groot kommersiële boere en wys vinger na hulle en gebruik hulle as slaansakke omdat hy opkomende swart boere wil vorentoe stoot. En dit bedreig als, van voedselsekuriteit tot stabiliteit in landelike gemeenskappe.

Ék sou lankal opgepak het as ek ’n boer was.

“So, iewers moet daar ’n balans kom waar van die groter boere sterker vennootskappe met die opkomende boere moet vestig, want ons kan nie in hierdie land sonder die groot boere nie. Hulle het ’n te groot verantwoordelikheid teenoor voedselproduksie.

“Boere is onder druk; die marges is klein, daar is die politieke faktore soos minimum lone wat elke jaar styg en wat hulle eintlik nie kan bekostig nie; die geleenthede wat meganisering bied uitvoere; die wisselkoers . . .

“Maar hulle maak dit werk, jy weet. Ék sou lankal opgepak het as ek ’n boer was. Daar’s makliker jobs in hierdie lewe.”

* Landbouweekliks wys elke Dinsdag om 19:30 op Via (DStv-kanaal 147) met heruitsendings op Sondae om 17:30 en Donderdae om 18:00.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Suna Venter  |  Ivor Price  |  Landbouweekliks  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.