Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Izelle Venter: Trots VIA, trots Afrikaans

Ondanks doemprofete se voorspellings, vier VIA vanjaar sy vyfde bestaansjaar. Die dryfkrag agter dié TV-kanaal is Izelle Venter. Hanri Wondergem het met haar gesels.

Izelle Venter, Via se kanaalhoof. Foto’s: Jacques Stander

Dis ’n gesukkel om ’n oop gleuf in Izelle Venter, kanaalhoof van VIA, se dagboek te kry. Tussen ’n magdom oproepe en vergaderings maak dié bondel energie wel tyd om te gesels oor die sukses van Via, wat haar ná vyf jaar steeds opgewonde maak.

Toe Media24 die eerste Afrikaanse leefstyl-en-vermaakkanaal op 9 November 2015 op DStv (kanaal 147) bekend gestel het, het baie mense gewonder oor die volhoubaarheid daarvan in ’n omgewing waar daar reeds groot mededinging was vir Afrikaanse kykersgetalle.

Maar sedert Venter in Maart 2016 die leisels oorgeneem het, beweeg Via volstoom net in een rigting: Vorentoe.

Voor sy by VIA aangesluit het, was Venter hoof van ’n afdeling by Media24 wat inhoudsbemarking vir tydskrifte hanteer het – ’n taai omgewing in ’n tyd toe die gedrukte media reeds onder beleg gekom het. Venter beskryf haar tyd in dié pos as “een van die aakligste tye van my lewe”.

Die geleentheid om by Via betrokke te raak was ’n geleentheid wat sy met albei hande aangegryp het.

“Dit was ’n baie groot verandering van die een medium na die ander, van gedrukte media na televisie,” vertel Venter, wat tot in daardie stadium haar hele loopbaan by tydskrifte gewerk het.

“Ek het altyd gehoop om ’n draai in TV te maak, maar ek kon amper nie glo die goeie geleentheid van VIA val sommer in my agterplaas (Media24) in my skoot nie.”

Vi(v)a spanwerk

Venter sê sy het vinnig besef dat ’n TV-kanaal net kan werk as jy met ander mense saamwerk, omdat jy heeltemal afhanklik is van veral vervaardigers en ander kleiner ondernemings in dié bedryf.

Boonop het Via die kassie getref op dieselfde tydstip wat tegnologie die tradisionele TV-omgewing begin ontwrig het.

“Waar en hoe TV gekyk en gemaak word is baie anders. Almal het kameras en daar is platforms soos YouTube wat video-inhoud demokratiseer het. Die bedryf behoort nou aan almal, nie net aan die skatryk TV-base, ateljees of platforms met diep sakke nie,” verduidelik Venter.

Weens haar ervaring in kommersiële inhoudsbemarking het sy egter die vernuf gehad om baie te vermag met ’n klein begroting.

“Dit het dalk gehelp om van ’n ander industrie te kom – een waar ons al harde lesse geleer het oor hoe om meer ekonomies te werk.”

Venter beskryf haar verhouding met al die verskillende belangegroepe wat saamwerk om van Via ’n sukses te maak, as “een groot onderhandeling”.

“Dis baie soos ’n verhouding. Eers vry jy na mekaar, dan hou jy hande vas. Later raak jy verloof. Jy trou met enkeles. Met party het jy huweliksberading nodig. En soms moet ’n mens skei.”

Wat VIA laat wérk, is die interessante mense met ’n ingesteldheid op probleemoplossing. “Ons maak heeltyd planne om die beste moontlike produk op die tafel te sit, al het ons min geld.”

En sy leer nog, elke dag.

Izelle Venter by haar man, Charl Bezuidenhout en hul kinders, Izak en Conrad.
Doof vir doemprofete

Venter erken dat sy steeds elke nou en dan die stemme van diegene wat nie gedink het Via gaan oorleef nie, in haar agterkop hoor.

Party het voorspel dat Via nooit sal kan meeding met kanale soos BBC Lifestyle, TLC Entertainment en Fine Living nie. Ander het gewaarsku dat nog ’n kanaal net kykers by die kwynende, sukkelende SAUK gaan steel.

“Gelukkig het ons nie eintlik tyd gehad om na die doemprofete te luister nie! Ons is vyf jaar oud en ons het steeds ’n kontrak by MultiChoice wat vir ons hierdie geleentheid gee.”

Sy kan nie raai wat die toekoms gaan inhou nie. “Media is elke dag se fight. Patrone verander, verbruikers verander. Die wêreld is dinamies. Hoe VIA oor drie jaar gaan lyk, is interessant. Ek hoop ons groei en beweeg saam met die omgewing. Wie weet wat gaan gebeur.”

Vir nou skryf sy Via se sukses toe aan die kykers: Afrikaanse mense, haar mense, ons mense.

As ek VIA kyk, is ek meestal trots om Afrikaans te wees.

Venter sê haar hoofdoel met Via is om ’n spieël op te hou vir die hele, diverse Afrikaanse gemeenskap.

“Om ons leefstyl te reflekteer. Hoe ons kosmaak, hoe ons kuier, hoe ons trou, hoe ons mekaar liefhet, mekaar vind, hoe ons baklei en hoe ons vergewe. Die régte wêreld.”

Ná al die jare in die mediabedryf laat die ongelooflike stories van Suid-Afrikaners haar steeds stom. “En daarom is ek trots op Via. Ons vertel baie mense se stories. Ons het nie ’n silo-benadering tot die Afrikaanse gemeenskap nie. As ek Via kyk, is ek meestal trots om Afrikaans te wees. Dis ’n gesonde benadering tot die rigting waarin ’n mens wil hê jou taal moet beweeg.”

Kom ons braai!

’n Groot deel van die wenresep is dat mense hulself in VIA se programme moet kan herken. Hulle kan daaroor lag, daaroor huil én hulle word kwaad daaroor.

“Jy sien ’n deel van die gemeenskap met wie jy assosieer, na wie jy opkyk of op wie jy neersien. Jy het dadelik ’n verhouding met wat op die televisie aan die gang is,” sê Venter. Sy beskryf dit as observational reality.

In dié opsig weet sy presies wat in haar kykers se koppe aangaan. “Mense geniet dit vreeslik om in ander mense se huise te kyk. Jy weet, hoe lyk die magnete op die yskas? En waar slaap die honde en hoe lyk die braaibakke?”

Van VIA se gewildste programme is staatmakers soos Kom Ons Braai, ’n program wat baie diep in die harte van Via se mense ingekruip het, sê Venter.

Dis lekker vir mense om ’n plek te hê waar Afrikaans waarde het en waar dit gevier word.

“Ek is ook baie trots op Huisgenoot Ware Lewensdramas. Laat die Potte Prut is ook ’n ou gunsteling onder ons kykers,” sê Venter. En deurlopend bly sy en haar span vernuwe, met núwe gunstelinge wat so hul weg na kykers se TV-kamers vind.

Venter verduidelik dat Via nie ’n alternatiewe realiteit skep nie, want daar is nie ’n begroting daarvoor nie. Via wys die werklikheid.

“Iemand het eenkeer vir my gesê as jy ’n dokument van ons tyd opstel oor tien of 20 jaar, sal Via so ’n goeie bron wees. Dis lekker vir mense om ’n plek te hê waar Afrikaans waarde het en waar dit gevier word. Dis lekker om die gemak van jou moedertaal te hê en om dan goed op televisie te sien waarop jy kan trots wees.”

Dis ook hoekom VIA nie wegskram van onderhoude met Engelssprekende mense, mense wat ’n ander manier van dink en ’n ander manier van doen het nie. “Die kanaal groei en verander voortdurend, net soos die omgewing waarin ons as Afrikaanse mense funksioneer en leef.”

Aandrang op gehalte

Venter sê sy is veral in haar skik omdat al hoe meer mans verkies om Via te kyk. “Waar ons in ’n stadium aansienlik meer vroue-kykers gehad het, is dit nou meer ewewigtig.”

Hoe het hulle dit vermag?

“Ek vermoed in baie huishoudings sukkel die vrou om die bestuurder te wees van die afstandbeheerder. As sy haar man kan intrek by die programme, het sy ’n beter kans,” lag sy.

Dit is daarom belangrik om inhoud te verskaf wat aanklank vind by almal in die huis. Iets vir die man, iets vir die vrou en iets vir kinders.

Dis is vir my ’n bekommernis dat ons nie genoeg jong mense lok in Afrikaans nie.

Om jonger kykers te trek bly egter ’n uitdaging.

“Dis is vir my ’n bekommernis dat ons nie genoeg jong mense lok in Afrikaans nie. Ek weet nie of my kinders eendag met nostalgie gaan praat soos ek praat oor Haas Das of Sonkring nie.”

In dié opsig gee sy vir kykNET ’n pluimpie, met programme soos Hotel, wat gemik is op ’n jonger generasie.

Een van die grootste lesse wat sy geleer het, verklap Venter, is dat jy nooit ooit gehalte mag inboet nie, selfs al is jou begroting hóé knap.

“Iemand het eenkeer vir my gesê ‘your budget is like your face, there is not much you can do about it’.” Daarom moes sy leer om, ten spyte van die kanaal se laekoste-model, aan te dring op goeie gehalte.

DStv bied boonop verskillende pakkette vir verskillende inkomstegroepe en behoeftes en dit bepaal ook die demografie van Via se kykers.

“So hoe gee jy iets vir almal sonder om jou kernkyker te verloor? Ons is ’n dubbele-niche-mark. Ons is Afrikaans én ons is leefstyl. Ons moes ons plek vind.”

Om TV te maak in 'n pandemie

Watter impak het Covid-19 op Via gehad?

“As life goes het ons redelik lig daarvan afgekom,” sê Venter.

Via se kyksyfers was ietwat deurmekaar, maar sy glo dis omdat mense se lewens en hul kykpatrone noodgedwonge deur die pandemie en inperking verander is. “Ons het probeer om ons skedule vars te hou. Ons het inhoud gekoop wat ons vertaal en subtitels gegee het, maar ons kykers het niks daarvan gehou nie. Niks.”

Die kykers se reaksie op dié vertalings was vir Venter ’n duur maar waardevolle les.

“Dit was bevestigend oor wat Via anders maak. Ons is Afrikaans, ons is leefstyl en ons moenie daarmee neuk nie. Ons moet hou by dit wat werk.”

Ontmoet vir VIA

In marknavorsing het Via vir sy kykers gevra: Wie sou VIA wees as die kanaal ’n mens was?

Kykers se antwoorde was vir haar ’n ware riem onder die hart, met mense wat daardie iémand van wie hulle hou, in die kanaal gesien het.

Een kyker sien Via as ’n gay man, die ander weer as ’n jong vrou. Vir Venter staan een kyker se mening uit. Hy het gesê Via is definitief ’n wit vrou, maar sy is ’n bietjie soos ’n omgekeerde kokosneut, want haar hart en siel is bruin.

Dit bevestig vir Venter die diversiteit van Via se gehoor en dat die kanaal sy kyker kén. As inhoud outentiek, onopgesmuk en oorspronklik is, gáán mense daarmee identifiseer, sê sy.

En om dié stories te mag vertel, bly vir haar ’n voorreg en ’n ongelooflike geleentheid.

Sy het grootgeword in ’n huis waar werksetiek belangrik was en tot vandag toe is werk vir haar lekker, vertel Izelle Venter.
Venter se pad na die kassie via die tydskrifte

Izelle Venter is op 19 Desember 1975 in Lichtenburg gebore, maar het in Johannesburg grootgeword. “Ek beskou myself steeds as ’n Johannesburger in my hart, al is ek seker al 18 jaar in Kaapstad.”

Haar ma, Hester, was ’n onderwyser en haar pa, Boet, ’n sakeman. Sy het ’n broer, Stephan.

“Ek het in ’n huis grootgeword waar harde werk ’n ding is. Dis die waarde wat jy in die lewe het – jy werk.”

Venter was in die Laerskool Louw Geldenhuys en die Hoër Meisieskool Helpmekaar.

“My hoërskooldae was van die gelukkigste dae in my lewe.”

Ná skool is sy na die Universiteit Stellenbosch “vir ’n redelike treurige BA-graad.” Sy het daar besef sy wil ’n joernalis word en het ’n honneursgraad in joernalistiek gedoen.

“Ek het koerante gesidestep en dadelik by tydskrifte begin.”

Venter se eerste werk was by DeKaten van daar is sy na verskillende tydskrifte in verskillende poste.

“Skrywer, stilis . . . ek het telefone opgetel. Ek het enigiets gedoen. Ek het vir klomp tydskrifte gewerk. Maar toe ek 27 is, het ek my eerste redakteurskap gekry by TV Plusen Kaap toe getrek.”

In hierdie tyd het sy haar man, Charl Bezuidenhout, ontmoet. Sy en Bezuidenhout, ’n kunshandelaar, het twee seuns, Izak (12) en Conrad (10).

Venter sê sy is soggens vroeg uit die vere, sy draf graag en bring graag tyd deur met haar gesin en vriende.

En sy werk. “Die werk is vir my verskriklik lekker. Ek is mal oor die mense saam met wie ek werk. Ons lag saam en ek is baie eerlik met hulle.”

Venter en haar span is ook betrokke by ’n splinternuwe Afrika-leefstylkanaal, wat op 15 Februarie op DStv bekend gestel word.

Haar lewensdroom is om vir Media24 ’n TV-onderneming te bou wat tred hou met die tyd “om wérklik ’n verskil te maak in die besigheid waaraan ek tog so verknog is”.

Vir Via is haar wens verdere groei. “Daar is so baie dinge aan die gang. Ek het die lekkerste job in die wêreld!”

  • Wondergem is ’n senior redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Via  |  Stemme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.