Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Jan Boland: Boer op die drumpel van die paradys

Jan Boland Coetzee praat met Murray La Vita oor wyn, rugby, Dok Craven en grondonteiening.

Jan Boland Coetzee in die wingerd op sy plaas Vriesenhof. Foto: Jaco Marais

Jan se een bruingebrande arm bloei.

“Ek het daar tussen die drade in geneuk. Dié tyd van die jaar is dit mos maar so. Ons is nog in die oes; ons is nou op die end,” sê die legendariese 74-jarige oud-Springbok en wynboer in daardie lakoniese brystem van hom.

Dit is dié Sandveldse bry wat aan hom die bynaam Boland besorg het. En die Boland-skolerugbybaadjie, sy enigste, wat hy aanvanklik as student in die koshuis Dagbreek aan die Universiteit Stellenbosch gedra het.

Ek vra hom om die reuk te beskryf wat op hierdie stralende herfsoggend swaar in die lug hang hier op sy plaas Vriesenhof in die Paradyskloof aan die voet van Stellenboschberg.

Dis hoe jy weet dis parstyd. Die cabernet se gis is ’n bietjie anders as die ander soorte s’n.

“Dis die wyn wat so gis. Dis hoe jy weet dis parstyd. Die cabernet se gis is ’n bietjie anders as die ander soorte s’n. Die ander soorte het meer van ’n soetigheid maar die cabernet het amper so ’n grasserigheid wat hy dra en dan is daar so ’n effense benoudheid wat daarmee saamgaan.”

Ons sit by ’n lang tafel op die stoep van die opstal. Van hier af kyk ons uit op wingerde wat besig is om te verkleur. En dan beweeg die oog onwillekeurig na die berge waar daar nog luiperds en bobbejane leef, en op na die wolklose blou hemel waar ons netnou ’n arend sien sweef het.

Jan hou van die reuk wat hy pas beskryf het en sê hy is baie opgewonde oor die huidige oesjaar.

Nou, as jy dit proe dan kan jy nie glo hoeveel geure daarin is nie. As ons daai geure in die wyn moet kry dan weet ek nie, dan gaan ons darem baie dans in die toekoms.

“Die kwaliteit van die druiwe is heel anders as wat die klimaat was. Dit wat jy dink die klimaat sal bied, het anders uitgewerk. Vir die eerste keer is daar in die binnekant van die korrel se skilletjie ’n suikerring, soos wat die tafeldruiwe-ouens dit noem.”

Daar is iets teer in sy stem wanneer hy verduidelik: “Die skilletjie, of die doppie, het homself beskerm. As hy te warm kry dan vorm hy meer kleurpigment om hom te beskerm. En omdat daar nie altyd genoeg vog beskikbaar was nie het hy ’n suikerringetjie gevorm met al die geurvastestowwe net aan die binnekant van die skilletjie.

“Nou, as jy dit proe dan kan jy nie glo hoeveel geure daarin is nie. As ons daai geure in die wyn moet kry dan weet ek nie, dan gaan ons darem baie dans in die toekoms.” Hy lag. “Dan gaan ons juig én dans! Dis baie opwindend. Dis my 52ste of 53ste oesjaar en dis die eerste keer wat ek dit sien.”

’n Boer en die natuur

Jan het in 1963 aan die US wynkunde kom studeer en vir sy studie betaal deur vakansies vir sy “groot pêl” te werk wat die skool verlaat het toe hy 15 was.

“Hy was die nommer-een-visserman op die Weskus wat later vir hom ’n groot kommersiële boot gekoop het. So ek het vakansietye vir hom gewerk: óf kreef óf vis. Die Desembervakansie was lank genoeg [om genoeg te verdien], veral as die vis gebyt het; ons het maklik 300 snoek ’n dag gevang. Elke naweek het ons ten minste tussen 600 en 900 krewe gevang. My eerste Vrydagmiddag se kreefvangs was ’n Hercules- dikwiel-bicycle. Die volgende Vrydag s’n was ’n Roamer-horlosie, dit was ’n fênsie ding; ek het nog nooit weer ’n ander horlosie gehad nie.”

Jan Boland Coetzee in sy kantoor tussen foto’s en memorabilia wat getuig van sy merkwaardige lewe. Foto: Jaco Marais

Ná sy studie het Jan op Paul Sauer se plaas Kanonkop gaan wynmaak en daarna vir 'n jaar in Frankryk gaan werk en studeer. In 1980 het hy Vriesenhof gekoop.

Die intieme verhouding tussen wynboer en die natuur word vir hom ten beste verwoord deur “’n oubaas in Australië”, die wynmaker wyle Jack Mann:

“’n Wynmaker is ’n nederige dienskneg van die natuur; sy rol is om aan die natuur die geleentheid te gee om die beste moontlike wyn te skep. Die natuur skep en die mens is bloot die gids,” aldus Mann.

“Ja, ek is ’n groot ou vir die natuur. Jy kan mos sien, hier bly ek vier deure weg van die hemel,” sê hy en wys na die huis met sy uitsig op die Paradyskloof. “Die naaste wat die meeste ouens aan die hemel kom, is as hulle hier kom kuier.”

Ek het in ’n stroois grootgeraak. Ek kom mos van die Weskus af.

Jan sê hy is nie ’n shiraz-liefhebber nie want shiraz laat hom aan armoede dink.

“Dit ruik soos ’n stroois en ek het in ’n stroois grootgeraak. Ek kom mos van die Weskus af . . . Coetzenburg [waar die Universiteit Stellenbosch se sportgronde is] was ons plaas. Die Coetzees het in 1679 hier aangekom, maar toe is ons Weskus toe in 1682.

“Ons familiegrond lê nog altyd daar; my neef se seuns boer nou daar. Maar toe ek toe nou hier begin bly toe sien ek ek sal nie weer teruggaan nie; ek gaan maar hier by die berge bly.”

Die familiegrond is by Verlorenvlei in die Piketberg-distrik.

“My pa was die derde seun so hy het geleerdheid gekry en toe was hy by Jannie Engelbrecht se oupa die skoolmeester op die plaas, so ek het daar tussen die Engelbrechts grootgeword tussen Eendekuil en Elandsbaai.”

Die waarheid oor grond

Ons praat oor grondonteiening sonder betaling.

“Boere is bekommerd; ons is almal bekommerd . . . Maar dat ons iets moet doen – dís gewis. Die grond is maar net een komponent. Ek meen, jy kan nie grond ontwikkel sonder kapitaal nie. Jy kan nie kapitaal kry sonder sekuriteit nie. Jy kan nie boer sonder vaardighede nie. En jy kan ook nie na die mark toe gaan as daar nie ’n mark vir die produk is nie. Dis ’n mengelmoes van goed.

Wát is die waarheid en hoe gaan ons dit aanpak, want ons gaan die kapitaal nodig hê, ons gaan die vaardighede nodig hê, ons moet mekaar se kultuur verstaan ten opsigte van die landbou.

“Maar ek glo ons sal wys genoeg wees om dit reg te hanteer. En die politici . . . as jy deur die eeue kyk, is dit die politici wat eintlik die geskiedenis van die tyd skryf. Nou, as ons nie met die waarheid kan werk nie, in ons geval die wie, wat, waar in terme van die grond en die water ensomeer nie. Landbou is nie ’n eenvoudige ding nie, daar is wetenskap en ekonomie betrokke.

“Dit lyk asof niemand nog die waarheid het oor waar die grond is en wie dit besit nie. As dit so belangrik is as wat die ANC dit uitmaak om te wees dan moet ons met die waarheid vorendag kom. Ek dink dít is die belangrikste stap: Wát is die waarheid en hoe gaan ons dit aanpak, want ons gaan die kapitaal nodig hê, ons gaan die vaardighede nodig hê, ons moet mekaar se kultuur verstaan ten opsigte van die landbou – wil die mense gaan boer of wil hulle daar gaan bly?

“Dit help nie jy het allerhande stories nie, as hierdie droogte nog ’n jaar aangaan dan sal ons in Suid-Afrika moet besluit watter maaltyd van die dag gaan ons uitsny, want daar gáán nie kos wees nie. Ek meen in my tyd het boere van 125 000 na iewers in die 30 000 afgeneem.”

Dok se witbroodjie

Jan Boland Coetzee het die beeldhouer Pierre Volschenk van raad bedien toe hy dié beeld van dr. Danie Craven gemaak het. Foto: Jaco Marais

Toe sy verhouding met dr. Danie Craven ter sprake kom, staan Jan op en gaan haal die bronsbeeld van Dok en sy hond Bliksem wat ons met die inkomslag voor die vuurherd in die kombuis gesien het. Dit is die maket van die groot beeld wat Pierre Volschenk gemaak het en wat by Coetzenburg staan.

“Ek het hom gehelp met die beeld omdat ek die ou man so goed geken het. Hier kan jy nou sien: Dis soos hy gestaan het. Hy’t altyd die bal só gehou en hy’t met sy vingers en sy hande beduie. So hy’t met sy oë en sy hande gepraat, eintlik.”

Van waar ek sit, kan ek ’n stukkie spinnerak liggies in die wind teen Dok se been sien bewe.

Hy was nie ’n witbroodjie-man nie, maar ek glo ek was een van sy witbroodjies. Hy het baie goed met my gedeel.

“Ek was vir 30 jaar speler en later ook afrigter en bestuurslid saam met hom. Hy was nie ’n witbroodjie-man nie, maar ek glo ek was een van sy witbroodjies. Hy het baie goed met my gedeel.

“Toe ons die projek van die standbeeld begin het, het ek van die begin af vir Pierre gesê: ‘Hoe gaan ons daai kop op die lyf kry?’ Sy kop was altyd ’n bietjie uit verhouding groot met sy liggaam.”

Craven was nie net ’n sportafrigter nie, hy was ook ’n leermeester en mentor, sê Jan.

Dit was ’n voorreg om ’n mens te ken met ’n kompas in sy kop en ’n spesiale iets in sy hart.

“Hy het van ’n klomp seuns wat onder sy hande deurgegaan het manne gemaak, met ander woorde: ouens wat die buitewêreld kon in die oë kyk. Die een dag het jy op Stellenbosch aangekom as ’n seuntjie en dan het jy daar weggegaan ná drie of vier jaar as ’n man.

“Hy het hom altyd bemoei met individue; hy was ’n ongelooflike groepsmotiveerder maar ook ’n motiveerder van individue. Hy het geweet hoe om die beste uit mense te kry.”

Jan raak aan die beeld van Dok en sê: “Dit was ’n voorreg om ’n mens te ken met ’n kompas in sy kop en ’n spesiale iets in sy hart.”

Die Bokke se uitdaging

Ek pols Jan oor die stand van rugby in Suid-Afrika.

“Tot hier by o.13 kyk jy rugby omtrent net in die townships. Die ongelooflike gewaarwording van talent onder daai kleintjies is net . . . Ek dink nie jy kan dit iewers anders in die wêreld sien nie. Die ruimte wat die outjies het en die talent wat jy sien.”

Jan Boland Coetzee wys in die wynkelder hoe daar gepars word. Foto: Jaco Marais

En Springbokrugby?

“Die uitdaging is om hierdie talent so te ontwikkel en saam te snoer dat ons ’n wenspan het want ek meen vandag se mens verstaan net een ding en dit is wen. En dit kan jy net doen met ’n sterk leier; definitief nie met ’n slegte afrigter nie.”

Hy meen spelers rus te veel.

“Nou wil hulle ouens alewig rus. ’n Forward – hoe meer hy speel, hoe beter speel hy; so simpel soos dit.”

Dán wil ons dié afrigter hê, dán wil ons dáái afrigter hê. Hoekom besluit ons nie wie die afrigter moet wees en gee hom ’n raadgewende onderbou nie?

Die Springbokafrigter behoort ’n groep gesoute adviseurs te hê wat hul ervaring met hom kan deel.

“Ek dink dis die vernaamste ding wat ontbreek. Dán wil ons dié afrigter hê, dán wil ons dáái afrigter hê. Hoekom besluit ons nie wie die afrigter moet wees en gee hom ’n raadgewende onderbou nie?”

Jan is bekend as filantroop en dat die heil van sy werkers vir hom belangrik is. Hy sê graag: “Een ou kan nooit die wêreld verander nie maar een ou kan die wêreld vir een ander ou verander.”

Oor die verhouding tussen hom en sy personeel sê hy: “Dis vir my ononderhandelbaar dat elke ou ’n mening mag hê, maar ons moet ook respek vir mekaar se menings hê en ons moenie bang wees om daaroor te kommunikeer en saam te stem of te verskil nie, want wie wil elke dag met ’n dikbek werk? Die voorreg van die lewe is juis om gelukkig te wees.”

* Kyk Driekuns op 25 Maart om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) om vir Jan Boland Coetzee in gesprek te sien met die wynboere Debbie Thompson van Simonsig en Mark le Roux van Waterford.

Meer oor:  Grondhervorming  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.