Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Jan sien lig in Eskom-tonnel

Eskom kan gered word, het Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, aan Carla Lewis gesê. Maar ’n pynlike pad lê voor om die kragreus weer na stille waters te stuur, ook vir Suid-Afrikaanse verbruikers.

Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, in sy kantoor in Megawatt Park in Sunninghill, Sandton. Foto: Carla Lewis

In Jan Oberholzer se kantoor hang ’n geraamde plakkaat. Met die eerste oogopslag lyk dit soos ’n Piet Mondrian-blokkieskunswerk.

By nader ondersoek sien jy elke blokkie het ’n aanhaling van ’n groot denker of leier. Nelson Mandela. Die digter Maya Angelo. Die Amerikaanse president Harry Truman. Die teoretiese fisikus Albert Einstein.

“Dis my manifesto,” sê Oberholzer, Eskom se bedryfshoof.

En dan in die middel, in ’n bloedrooi blokkie, is Oberholzer se eie wysheid: “Elke dag word ek wakker, salig met die kennis dat God die middelpunt van my lewe is. Ek verkeer in ’n ruimte van dankbaarheid en geloof, deeglik bewus daarvan dat my werk ’n vorm van aanbidding is, en dat ek my hoogste doel uitlewe.”

Voor die onderhoud begin, laat dit ’n mens dink: As jy na Eskom se ellendes kyk, lyk dit asof ’n wonderwerk of Goddelike ingryping al is wat die maatskappy kan red.

Eskom sink nie, dis nie onredbaar nie. Dit belowe ek jou.
Jan Oberholzer

Ekonome en ontleders meen dis reeds te laat. Tito Mboweni, minister van finansies, sê daar is nie geld nie, dis tyd om te privatiseer.

“Wat is die verskil tussen Eskom en die Titanic?” vra ek hom.

Diep lagplooitjies trek om sy blou oë. “Nee. Sê vir my?”

“Toe die Titanic sink, het die ligte darem gebrand.”

Hy skaterlag. “My vrou sal daardie een geniet. Maar ek stem nie saam nie. Eskom sink nie, dis nie onredbaar nie. Dit belowe ek jou.”

Hy ontken egter nie dat die maatskappy deur ’n ontsettende uitdagende tydperk gaan nie.

“Ons is nie gewild nie. Ons mandaat is om elektrisiteit aan die land te voorsien. Ons besef deeglik ons is die enjinkamer van die land se ekonomie. Dis ons plig om ’n betroubare en ’n volhoubare produk vir Suid-Afrikaners te gee. Ons weet ook goed dat ons nie tans daaraan voldoen nie.

“Die dilemma waarin die kragreus homself nou bevind, is oor ’n dekade geskep.

“Ons kan nie self die finansiële situasie oplos nie. Ons het hulp, geld nodig. Ons kan die maatskappy regmaak, maar ons het geld nodig.”

Nulle, nulle, nulle!

Daar is planne om Eskom se skuldlas te verklein, sê Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof. Foto: Carla Lewis

Die grootste kopseer is Eskom se finansiële krisis.

“Finansieel is ons in so ’n groot . . .” Hy soek woorde. “Ek weet nie eens hoe om dit te stel nie . . . Dis ’n krisis. Finansieel ervaar ons ’n krisis.”

Het die minister van finansies nie ’n punt beet wanneer hy sê hy wil Eskom privatiseer nie?

“Ek is in minister Pravin Gord­han (openbare ondernemings) se kamp wat glo ons kan Eskom reg­ruk. Dit gaan wel tyd vat.

“Ek hoor wel vir minister (Tito) Mboweni wat sê daar is nie geld nie. Ek verstaan hy is bekommerd en senuweeagtig. Ons is tans die grootste risiko vir die fiskus, daaroor is daar geen twyfel nie. Daar moet pa gestaan word vir amper R500 miljard. Dis massief!

“Weet jy hoeveel is dit? ’n Miljard het nege nulle. Ons is nou op pad na 12 nulle toe. Het jy al so daaraan gedink?”

Al die nulle laat omtrent ’n mens se kop draai.

“Kom ek verduidelik jou waar Eskom hom tans bevind. Tans is ons bedryfswins R32 miljard. Dit beteken ná al ons verkope en uitgawes maak ons R32 miljard wins. Maar dis nie waar die besigheid stop nie.”

Jan het nie Job se geduld

Uit sowel ’n finansiële as ’n bedryfsoogpunt gaan dit ’n tydjie neem om Eskom weer na kalm waters te stuur.

Gelukkig is Oberholzer ook ’n ongeduldige mens.

“Ek is nie ’n maklike mens nie,” erken hy. “Toe die Goeie Vader gesê het ‘môre deel ek geduld uit, wees asseblief daar,’ het ek die memo laat gekry.

“Môre is nie nog ’n dag nie. Maar ons minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan!

“Hy het glád nie die memo gekry nie. Hy is ’n moeilike ou. Hy het my weer vandeesweek gebel. Maar dis waarom ek soveel respek vir hom het.

“Eers het ek gesukkel om by sy bestuurstyl aan te pas, totdat ek besef het, hy is nes ek!

“Dis hoekom ek soveel respek vir hom het. Hy is vir my ’n minister, wat daadwerklik iets doen.

“Ek het gedink my job is moeilik, maar syne . . . Hy is bereid om sy hande vuil te maak.”

Hy vereenvoudig dit na ’n huishoudelike begroting.

“Sê nou jy verdien R10 000 per maand. Jou uitgawes is R8 000. Dan het jy R2 000 oor. Maar nou het jy motor- en huisskuld, waarvan jou paaiemente R4 000 is.

“Nou moet jy bank toe gaan en R2 000 leen, maar jy kan nie net R2 000 leen nie, want jy moet die bank terugbetaal en hy soek rente en hy soek kapitaal.

“Volgende maand is dit dieselfde. Jy verdien R10 000, jou uitgawes is R8 000, jy het R2 000 oor, maar jy skuld die bank R4 000, so weer is jy R2 000 in die rooi.

“Dus, terug bank toe om nog geld te leen. Eenvoudig gestel, dis hoe Eskom se skuldgat al hoe dieper geword het. Dis hoe ons op R454 miljard staan.

“Ons maak R32 miljard, maar ons skuld ander mense R454 miljard.”

Eskom se skuld is nie die maatskappy se enigste kopseer nie.

“Ons sit met munisipaliteite wat ons nie betaal nie, ’n handvol . . . nee, eintlik twee hande vol munisipaliteite skuld ons R25 miljard.”

Tog, meen Oberholzer, kan Eskom homself uit die skuldgat grawe deur vet af te sny.

Hy is besig om met ’n fyn kam deur die verkrygingsdepartement se sake te gaan en meen deur net sekere verskaffers te heroorweeg, sal hulle reeds R25 miljard per jaar kan bespaar.

“Sien ek lig? Ja, ek sien ’n klein spikkel lig. En nee, dis nie ’n sneltrein wat op ons afpyl nie. Ek sien ons beweeg vorentoe.

“Dit was ongemaklik om die laaste paar dae deur beurtkrag te gaan, maar voor verlede week Woensdag was ons 206 dae sonder beurtkrag.”

Stadig maar seker is daar beweging. Maar dis ’n lang pad, ’n pynlike pad wat voorlê. Suid-Afrikaners kan hulself maar regmaak vir opofferings.

“Kragtariewe gaan moet styg en die belastingbetaler gaan moet borg staan vir die beplande reddingsboei wat die regering aan Eskom gaan gee.”

Ons verstaan waar Eskom is. Ons wil vorentoe beweeg, welvaart skep en ons besef ons almal moet opofferings maak.
Jan Oberholzer

Maar is dit regverdig om van landsburgers te verwag om nou op te dok vir die vorige bewind se sondes?

Hy bly ’n lang tyd stil.

“Ons is waar ons is. Ons kan dit nie wegwens nie. Ons kan aanhou blameer soveel as wat ons wil. Gaan ons iets daardeur wen? Niks nie. Ons moet vra hoe maak ons dit reg. Vir my gaan dit selde, indien ooit, deur my kop ‘hoekom het julle dit so gedoen?’

“Ongelukkig glo ek gaan dit moeilik vir alle Suid-Afrikaners wees om die skip weer reg te draai vir die welvaart vir Suid-Afrika. Dit mag hoër belasting beteken of hoër elektrisiteitstariewe.

“Maar om uit die dilemma te kom, het ons hulp nodig. Dit moet van iemand af kom, en dit gaan ongelukkig van ons almal af moet kom.

“Ek verstaan ’n ou gaan nie altyd die aanvaarding van die publiek kry nie. Maar hulle kan sê ons is nie gelukkig nie, maar ons verstaan waar Eskom is. Ons wil vorentoe beweeg, welvaart skep en ons besef ons almal moet opofferings maak.”

Maar, beklemtoon hy, dan moet die publiek ook weet daar is nie verdere korrupsie nie. Daar is mense en leiers wat aanspreeklik vir hul werk gehou word.

Geen kuur vir korrupsie

Eskom kan homself uit sy skuldgat grawe deur vet af te sny, sê Jan Oberholzer, bedryfshoof. Foto: Carla Lewis

Korrupsie hou hom snags wakker.

“Ek het besef daar is korrupsie, maar ek het nooit gedink die organisasie is so deurdrenk daarvan nie.”

Hy het nou besef vir korrupsie is daar nie ’n kuur nie. “Jy moet dit uitsny.”

Hy het dit ook aan sy werknemers duidelik gemaak korrupsie sal nie geduld word nie.

“Ek is nie ’n baie gewilde mens nie. Op die vergaderings maak ek elke keer ’n belofte aan my werknemers. Dis nie ’n dreigement nie. As ek vir jou vang, sal ek jou naam luidkeels verkondig. Ek belowe. Ek sal dit aan die grootste klokke hang.”

Oberholzer werk nou saam met die spesiale ondersoekeenheid en die Valke en hy stel Suid-Afrikaners gerus: Die strop trek al hoe nouer.

“Ons vergader gereeld. Ek weet daar is ’n lys van 28 name van mense wat ondersoek word.”

‘By my sinne’

Jy vra of ’n mens waansinnig moet wees om hierdie job te vat? Albert Einstein het gesê waansin is wanneer jy dieselfde ding oor en oor doen, maar jy verwag verskillende resultate.

“Ek glo ek is heeltemal by my sinne.

“Ek verstaan dat jy nie dieselfde goed kan aanhou doen en nuwe resultate verwag nie. As jy jou bedryf wat nie presteer soos dit moet nie, wil regruk, moet jy nuwe nuwe maniere kry om dinge aan te pak.”

Hy weet daar is Suid-Afrikaners wat besluit om hul belastinggeld, hul vertroue en hul hoop in die land te belê en dat hulle darem ’n beleggingsopbrengs daarvoor verwag.

“Ons besef daardie verantwoordelikheid terdeë. Ek sal nie hier wees as ek gedink het ons kan nie ’n verskil maak nie. Ek sal nie hier gesit het as ek glo ons kan Eskom nie omdraai nie.

“Maar vir my gaan dit nie oor Eskom nie, maar oor die Suid-Afrikaners daarbuite en om ’n verskil in hul lewe te maak. En om beleggers na Suid-Afrika te lok, want wie sal nou in die land wil belê as jy weet daar kan beurtkrag kom?”

Die skuldiges moet aan die pen ry. Dit help nie hy belowe dat die korruptes gaan boet vir hul dade maar daar kom dadels van nie.

“Daar is altyd iemand wat sy hand opsteek en my vra: ‘Vertel my van enigiemand wat al ’n oranje oorpak dra.’ En dan verloor jy kredietwaardigheid.”

Die korrupsie wat hy by die Medupi- en Kusile-kragstasie gesien het, was skrikwekkend.

“Ek het geglo ek gaan korrupsie vind, maar ek het nie verwag op so ’n groot skaal nie. Dit was ’n free for all. Ons ondersoek saam met die spesiale ondersoekeenheid tans vyf kontrakteurs vir wie Eskom R4 miljard te veel betaal het.

“Een van die vyf, ’n internasionale kontrakteur, het erken toe die kontrak vir die kragstasies uitgegaan het, het hulle ’n kapingspan saamgestel. Maar ons trek die strop nouer.”

Gaan hulle boet?

“Ek glo so. Van die kontrakteurs sal nooit weer werk nie.”

Gaan ons mense in oranje oorpakke sien?

“Ek hoop so. Maar die wiele draai te stadig.”

So kaap jy Eskom

“Ons is nie gewild nie, ek besef dit,” sê Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof. Foto: Carla Lewis

Hy sê ’n tekort aan aanspreeklikheid was ’n groot probleem.

“Alle aanspreeklikheid, alle besluite, is weggeneem van die kragstasies en na Eskom se hoofkantore gesentraliseer. Hulle het geen gesag gehad om besluite te neem nie en ek glo dit is bewustelik gedoen.

“ 'n Kragstasiebestuurder in my tyd het sy rol en bydrae tot die land se ekonomie verstaan. Daar is teikens gegee wat jy en jou span moes haal. Toe ek hier kom, kon niemand besluite neem nie. Al die besluite is tot Megawatt Park beperk.”

Dit was nie swak bestuur nie, beklemtoon hy. Dit was ’n strategie om Eskom te kaap.

Hy gooi sy hande in ergernis op.

“Nou hoe op aarde hardloop jy ’n besigheid so? Hoe sal ’n mens hier weet wat by die ander kragstasies aangaan?”

Dit was nie swak bestuur nie, beklemtoon hy. Dit was ’n strategie om Eskom te kaap. “Die plek is so ontwerp dat die mense daarbuite niks besluite kon neem nie.”

Mag is gedesentraliseer en mense is weer bemagtig om aanspreeklikheid te aanvaar.

“Wanneer ek nou na die ouens kyk, dan grap ek dat dit lyk asof hulle min slaap. Dan sê hulle ‘dis te danke aan jou’,” lag hy.

Meer oor:  Eskom  |  Tito Mboweni  |  Jan Oberholzer  |  Pravin Gordhan  |  Medupi  |  Kusile  |  Suid-Afrika  |  Ekonomie  |  Beurtkrag  |  Korrupsie  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.