Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Mishandelde kinders se engel
Jana Smit gesels met Pixie Pink

Hulle was twee sorgvrye tieners. Boesemvriende.

Terry-Ann Terblanche, beter bekend as Pixie Pink, is ’n stem vir mishandelde kinders. Foto: Elizabeth Sejake

Een aand het Donovan (15) en Kayla (13) gaan fliek en toe Donovan se ouer broer nie soos afgespreek by die destydse Randburg Waterfront opdaag om hulle op te laai nie, het hulle gestap na die kroeg waar die broer gekuier het.

Buite die White Horse Inn het hulle iemand gaan vra om die broer te gaan roep.

Terwyl hulle wag, het ’n man stilgehou en hulle nader geroep. Toe hulle by sy motor kom, het hy ’n vuurwapen op hulle gerig en hulle beveel om in te klim. Hy het met hulle weggery en hulle gedwing om hul klere uit te trek en seks te hê. Hulle was histeries. Albei was maagde. Huilend het hulle gesmeek, hulle kán nie.

Toe skiet die man Donovan in die kop en verkrag en sodomiseer Kayla herhaaldelik oor die volgende ure.

Terry-Ann Terblanche was met die voorval 26 jaar gelede ’n jong polisievrou by die Honeydew-polisiekantoor.

“Kayla was ná die voorval so bang dat sy nie alleen in die stort wou klim nie. Ek is met my klere en al saam met haar in die stort in.”

Tannie, jy weet nie hoe lank bid ek al vir hierdie dag nie.

Dit was die begin van ’n besonderse band tussen haar en die jong meisie, vandag self ma van drie kinders.

Tussen al die onmenslike misdade wat sy in haar polisieloopbaan gesien het, het dié voorval haar al die jare bygebly, vertel Terry-Ann (52), en bygedra tot haar besluit twee jaar gelede om te bedank uit haar skakelbeamptepos by ’n veiligheidsmaatskappy en mishandelde vroue voltyds te help.

Sy het eers ’n Facebook-groep begin wat op geweld teen vroue gefokus het.

Binne maande het een ná die ander saak van kinderslagoffers oor haar pad gekom en sy het haar fokus verskuif.

“Ek het destyds besef kinders het my meer nodig as grootmense. ’n Kind word nie gebore met die wens vir ’n aaklige lewe nie. Hulle vra nie ‘verkrag my, rand my aan nie.’ ”

Terry-Ann Terblanche Foto: Elizabeth Sejake

Die afgelope jaar al ondersoek sy voltyds sake van kindermishandeling en -verwaarlosing. Sy en haar man, Cobus, ry elke maand duisende kilometers agter slagoffers aan. Tussen Januarie en Mei vanjaar het hulle 15 000 km afgelê.

Sy het die Facebook-blad The Royal Network Group, wat nou al 35 000 volgelinge het, begin as ’n platform waar mishandelde vroue hul storie anoniem, of onder hul name, kan deel, waar die ander vroue haar kan ondersteun en “op kan tel en raad gee”.

Sy deel inligting oor haar ondersoeke op ’n tweede Facebook-blad, Pixie Pink Victim Advocate, met meer as 60 000 volgelinge. Sy werk onder die naam Pixie Pink. Deur haar werk het sy te doen met die ergste voorvalle van verwaarlosing en mishandeling. Die sake wat sy ondersoek, gebeur in Afrikaanse huishoudings, sê Terry-Ann.

“Mishandelde vroue sê altyd hulle het nie ’n stem nie. Sit jouself nou in ’n driejarige se skoene wat seksueel misbruik, verwaarloos of gemolesteer word. Hulle is te bang of skaam om daaroor te praat. Na wie toe moet ’n kind wat nog nie eens behoorlik praat nie, gaan vir hulp?

“Soms kyk ek na ’n mishandelde driejarige en sien die oë van ’n 80-jarige. Hulle leef nie. Hulle smile nie. Hulle gaan nie skool nie.

Die meeste dae ontvang sy tussen 300 en 500 navrae.

“Wie gaan eendag daai kinders se bedelbordjies skryf? Ons ouers was altyd so streng oor skool toe gaan. Nou gee baie mense net nie meer om nie. Hulle beroof hul kinders van ’n toekoms, want hoe moet daardie kinders deur die lewe kom?”

Die meeste dae ontvang sy tussen 300 en 500 navrae.

Daar is gevalle waar dwelmverslaafde ouers babatjies doodslaan omdat hulle nie meer die geskree kan hanteer nie.”

’n Proses word gevolg. Bekommerde vriende, familie en bure rapporteer die voorvalle aan Terry-Ann. “Dan begin ek ondersoek doen. Ek stel dadelik ’n maatskaplike werker in kennis. Ek stuur vir haar ’n verslag met die details en ons beplan saam wanneer ons gaan optree. Ek moet konkrete bewyse hê. Wanneer daar ’n seksuele oortreding is, tree ons onmiddellik op en open ’n strafregtelike klag.”

Dreigemente

Sy het al talle dreigemente gekry van ouers teen wie sy klagte van verwaarlosing ingedien het.

Die pa van ’n driejarige het vir haar in ’n stemnota gesê: “Ek sal jou met ’n unlicensed gun kom doodskiet.” Hy het ook gedreig om Terry-Ann te sodomiseer en te verkrag.

Hy hét al ’n moord gepleeg en sy is volgende, het hy bygevoeg.

Terry-Ann Terblanche Foto: Elizabeth Sejake

Sulke boodskappe maak haar ongemaklik, maar sy sal aanhou praat, aanhou baklei vir daardie kinders se regte, sê Terry-Ann. Sy het vir daardie pa ’n stemnota teruggestuur: “Ek weet waar jy bly en ek is op pad. Jy sal sien wat maak ek met mans wat hul kinders verwaarloos.”

Jy kan nie vrees wys nie, het sy as polisievrou al geleer.

“Nou die aand is twee boeties van 11 en 13 wie se pa ’n dwelmhandelaar is, positief getoets vir hardcore dwelms. Daar was meth (metamfetamien) en die dwelmmiddel Cat in hul urine.”

Sy glo die polisie kan meer doen om dwelmgebruik te bekamp.

“(Min. Bheki) Cele is bekommerd oor wettige vuurwapens. Hy moet begin bekommerd raak oor die dwelms wat ons kinders doodmaak. Ons kan nog ’n miljoen kinders uit hul ouers se sorg verwyder, maar wat help dit as die probleem nie aangepak word nie?”

Sy sê baie polisielede is self skuldig aan omkopery en korrupsie in dwelmverwante misdrywe.

“As die polisie wegkyk, is daar bloed aan hul hande.”

Terry-Ann sê in Suid-Afrika word 750 000 kinders per jaar blootgestel aan huishoudelike geweld.

Tydens haar onderhoud met Rapport piep en lui haar selfoon gereeld.

Een oproep is van ’n polisiekaptein.

Terry-Ann praat reguit oor wat sy van die minderjarige slagoffers se ouers dink. Hier en daar val ’n swetswoord.

Cobus bring koffie.

Toe sy die foon neersit, sê sy: “Ek kom by huise waar die kinders van dwelmverslaafdes droë stukke brood met vrot polonie eet. So, verskoon my as ek voel ek wil hulle iets aandoen.” Haar stem is heftig. Sy bly ’n paar sekondes stil.

“Ek sien net die wreedste van die wreedste gevalle. Ons kry vlooie in kinders se hare, maaiers wat in die huise krioel. Sê nou vir my ek moenie kwaad word daaroor nie.”

‘Die kinders is altyd honger’

Sy doen haar ondersoekwerk deeglik voordat sy ouerhuise ondersoek. “As ek op jou drumpel staan, weet ek alles van jou af. Familielede wat my nader, gee my al die inligting oor die ouers.”

Wanneer die kinders wel tuis is wanneer hulle na huise gaan, bly sy kalm. Ter wille van die kinders.

Sy en Cobus koop vir die kinders ’n behoorlike ete, in die teenwoordigheid van die maatskaplike werker. “Die kinders met wie ons te doen kry, is altyd honger. Ek het nog nie by een huis gekom waar die kinders nie gesê het hul laaste ete was two-minute noodles nie. Dan verloor ek dit. Koop aartappels en ’n pakkie boontjies en maak vir jou kinders ordentlike kos,” raak sy weer heftig.

Vir al die kinders wat sy red, gee sy ’n liefdesakkie met ’n trooskombersie, seep, waslap, tandeborsel en ’n speelding.

“Vir elke kind is daar ’n boodskappie dat hulle saakmaak. Ek praat mooi en sag met hulle. Ek bid saam met hulle dat God hulle elke dag sal dra.

“Binne vyf minute hang hulle aan my bene en klou my vas. Hulle ken nie liefde nie.”

Sy wys ’n video op haar selfoon van ’n klein dogtertjie wat vertel hoe sy deur haar pa verkrag is. “Die ma het geweet.

“ ’n Ouer se eerste instink moet wees om hul kind te beskerm. Hierdie kind se hele toekoms is beïnvloed oor wat met haar gebeur het . . . Dit gaan ’n impak hê op elke seksuele verhouding in haar toekoms.”

Sy sit haar in elke kind wat sy red se skoene.

Daar was die ma van Tzaneen wat haar seun só met ’n tuinslang geslaan het dat hy vir ’n week nie kon skool toe gaan nie.

Sy volg elke voorval op en gaan kuier vir die kinders wanneer hulle in pleegsorg is.

Die grootste beloning is sulke besoeke, of foto’s of video’s wat die pleegouers aanstuur.

Nie lank terug nie het hulle ’n 12-jarige seun gaan red by sy ouerhuis waar hy genadeloos mishandel is. “Sy eerste woorde aan my was: ‘Tannie, jy weet nie hoe lank bid ek al vir hierdie dag nie.’ ”

Terry-Ann ontvang baie oproepe van mense wat tevergeefs sukkel om oor naweke die eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksmisdrywe (FCS) in die hande te kry. “ ’n Mens kry net nie die departement van maatskaplike ontwikkeling in die hande nie, nie eens tydens kantoorure nie. Welsynsorganisasies se fone word nie bedags ná vier of oor naweke beantwoord nie.

“Kinderwelsyn sê oor ’n naweek is dit die polisie se taak om in te gryp, maar die polisie sê weer mense moet tot Maandag wag.

“Ek het nie die mag om self kinders te verwyder nie, maar ek kry ’n hofbevel en gaan saam met ’n welsynwerker na die huise.”

Sy het altyd urinetoetse (dieselfde soort wat die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Afhanklikheid van Verdowingsmiddels – Sanra – gebruik) vir dwelms in haar handsak.

“Wanneer ons by die huise aankom, vra ons ouers of ons hulle vir dwelms kan toets. Sodra hulle instem, haal ek die toets uit my handsak.

“In een voorval het ’n pa sy vier maande oue baba met ’n bierbottel in die gesig gegooi.

“Wie is daar vir daardie baba? Wat kan daai arme kind doen? Hy kan nie 112 bel nie.”

Vir landdroste in die land wat bevele maak in hierdie sake het sy die grootste respek, “want herintegrasie van ouers en kinders moet met wysheid gebeur”.

So ook die polisielede en maatskaplike werkers. “Hierdie mense staan oor die land heen my by en help met raad en optrede. Ek leer geweldig baie by hulle. Sonder hulle kan ek nie kinders red nie.

“In baie gevalle beskerm ma’s of oumas hul mans, ma’s beskerm hul seuns wat die oortreders is.

“Wyle prof. Irma Labuschagne, kriminoloog, het toe ek in die polisie was, gesê die enigste manier wat jy ’n pedofiel en reeksverkragter kan rehabiliteer, is die doodstraf. Hulle sal nooit ophou hunker na kinders nie al kastreer jy hulle chemies. Hulle het hande, vingers, voorwerpe.

“Dis slim mans wat pedofiele is. Hulle klim in kinders se koppe.”

Dís haar lewe, elke dag van elke week.

Soms hanteer sy gevalle waarin bejaardes verniel word, soos dié van Ben Pretorius (67), wat in Januarie uit haglike omstandighede gered is. Dit was nadat sy seun en skoondogter hom maande lank sonder sorg in ’n kamer in ’n Vanderbijlparkse huis toegesluit het. Toe sy hom gekry het, kon oom Ben se kromgetrekte ledemate nie meer reguit nie en hy kon net lê.

Nou onlangs het Terry-Ann weer by hom gaan kuier by die tehuis waar hy die laaste paar maande versorg word. Hy het met ’n loopraam en hulp van ’n versorger, Nicole Counihan, ’n paar treë gegee.

Verlede Augustus het Terry-Ann in haar streek die FAK se inspirasievrou-prys gekry.

Subskripsiegeld van die lede op haar Facebook-blaaie help om haar koste, soos petrolgeld, te betaal.

“Nou die dag bel ons predikantsvrou en sê hulle wil nie meer ons tiende hê nie, ons moet dié geld en ’n donasie wat hulle maandeliks gaan maak bymekaarsit en nog kinders gaan red.

“Ek probeer elke dag om in minstens een kind se lewe ’n verskil te maak. Ek lê nagte wakker. Soms sit ek 03:00 regop in my bed en worry oor ander mense se kinders.”

Cobus vertel die verhaal van Irena Sendler, ’n Poolse Katolieke maatskaplike werker wat tussen 1942 en 1943 saam met tien ander mense 2 500 kinders uit die Warschau-ghetto gered het. Sendler het destyds gesê sy het nie genoeg gedoen nie, want vir elke kind wat hulle gered het, is byna 100 dood.

“Dis presies hoe ek voel,” sê Terry-Ann.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.