Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Jeremy Vearey: ‘Ek was volgende ná Kinnear’

Die motief met sy afdanking uit die polisie was bloot “wraaksugtig”, sê die voormalige speurhoof in die Wes-Kaap Jeremy Vearey. Hy stel sy kant van die saak aan Willemien Brümmer.

Jeremy Vearey, voormalige speurhoof van die Wes-Kaap wat volgens die ondersoekende joernalis Jacques Pauw 'die Wes-Kaap se mees geesdriftige anti-bende-stryder' was, is sowat ’n maand gelede uit die polisie afgedank. Tog sal hy enduit baklei om sy pos én sy beskermingsdienste terug te kry. Foto: Stephen Fourie

Hy’s op dag 7 van sy reis met Covid-19, maar hierdie keer is die Okapi-mes van sy jeug en die Makarov 9 mm van sy dae as teikengerigte MK-operateur nutteloos teen die vyand.

Sy wapens is ewe nutteloos teen die waarnemende polisiekommissaris in die Wes-Kaap, wat hom vandeesweek laat weet het sy beskermingsdienste word einde vandeesmaand opgeskort.

Desondanks is Jeremy vannie Elsies se stem vol vuur. Bekroonde skrywer, voormalige politieke gevangene en deesdae ook voormalige speurhoof in die Wes-Kaap, wat presies ’n maand gelede in wat hy noem ’n “kangaroe-tugverhoor” van die polisie van ernstige wangedrag aangekla, skuldig bevind en afgedank is.

In sy pas verskene boek, ’n polisie-memoires getiteld Into Dark Water, beskryf hy hoe die San van die Kgalagadi en die mense op die Kaapse Vlakte uitgeworpenes in hul “bloedland” geword het; krygers wat met gebreekte boë moes leer skiet. Min het hy toe geweet watter raak beskrywing dit van hom sou word.

Die probleem is dat die donker stroom waarin hy vir meer as 25 jaar moes leer swem sedert hy ’n lid van die polisie geword het, gemaak het dat hy homself vir te lank moes bewapen ter wille van beginsels wat baie van sy oud-kamerade versaak het.

Almal weet medaljes word soos soetkoek in die polisie uitgedeel, maar dit het geen betekenis nie.

Ons gesels per rekenaar en partykeer is net sy seunsagtige oë en voorkop sigbaar teen ’n kaal, gelerige muur in sy eenvoudige huis in die voorstede van Kaapstad. Die enigste “tierlantyntjies” in sy huis is sy oorvol boekrak vol versamelaarsitems. Iewers onderin ’n laai is agt polisiemedaljes in ’n onoopgemaakte bruin koevert wat hy nog nooit gedra het nie.

Maar dié medaljes, spoeg hy dit amper uit, beteken vir hom “absoluut niks. Almal weet medaljes word soos soetkoek in die polisie uitgedeel, maar dit het geen betekenis nie. Daar is gevalle waar dit verdien is, maar hierdie klomp generale wat rond pronk met hul medaljes, is absoluut belaglik. Ek wil nie eens daai koevert oopmaak nie. As ek moet doodgaan terwyl ek aan diens is, kan hulle dit seker vir my vrou gee soos die seremonie dan nou verlang, maar ek stel absoluut niks daarin belang nie.”

Hier sit Vearey saam met Xaru, oftewel Piet Berendse, nadat hy in Februarie 2016 twee pyle na die parlementsgebou afgeskiet het. Die polisie het hom hierna beveel om die boogskutter dringend op te spoor omdat die provinsiale kommissaris gedink het dit grens moontlik aan 'hoogverraad'. Soos Xaru het Vearey nou ’n uitgeworpene geword in sy 'bloedland' wat met ’n gebreekte boog moet jag. Foto: NB Uitgewers

Hy gebruik opsetlik die woorde “aan diens”, want watch net, hy gaan terug na die polisie. Daar is ’n klomp senior advokate wat bereid is om pro bono vir hom op te tree, en hy “is nie ’n persoon wat opgee nie”. Hy het al vantevore epiese gevegte in die polisie gewen, en dié een gaan hy ook enduit sien. Die polisievakbond Popcru het intussen sy bedanking na die sektorale bedingingsraad vir die sekerheidsbedryf verwys, en noudat hulle met sy beveiliging mors, “is dit ’n anderster oorlog”.

Ek beskou dit as ’n gevoellose skuif om my lewe verder in gevaar te stel en dis eens met die belange van bendes wat my lewe bedreig.

Sy stem is seer, dié voormalige ster-speurder wat nie eens meer kan onthou hoeveel aanslae daar al op sy lewe was nie. Oor die jare het hy ’n teiken vir bendes geword, onder meer oor al die hoëprofielsake waarin hy al getuig het – en steeds móét getuig. “Ek beskou dit as ’n gevoellose skuif om my lewe verder in gevaar te stel en dis eens met die belange van bendes wat my lewe bedreig. Ek is tans in dispute met die SAPD oor my skorsing, so van waar die haas?”

’n Droë hoes rasper deur sy bors. “Daar is baie mense wat gemobiliseer het rondom hierdie voorval wat gebeur het met my. Daar is ook mense wat op hoë vlak intree (die minister van polisie, Bheki Cele, is glo een) en ter ere van húlle wil ek teruggaan. Maar as ek nou moet teruggaan, is 60 om die draai,” sê dié voormalige generaal-majoor wat onlangs 58 geword het.

Sy bruin oë is ’n oomblik ontwapen. “Maar my toekoms lê in die letterkunde. Ek het drie boeke wat ek so krap-krap aan. Ek sal teruggaan om die gemeenskap tot die beste van my vermoë te dien, maar hierdie keer as ’n meer gebalanseerde mens en ek sal meer moet ag slaan op my sielkundige belange.”

’n ‘Oorlogsgewaad’

Sy nuwe memoires is nie net ’n homeriese swerftog deur die skaduwêreld van die polisie nie. Dis ook ’n odussee terug na homself en sy gesin, wat hy in die opdrag heel voorin as sy nuwe “cause” beskryf.

Hier is Vearey saam met sy vrou, Bernice, in 2019 by die kykNET-Rapport-funksie pas nadat sy eerste boek, 'Jeremy Vannie Elsies', die nie-fiksie-prys gewen het. Foto: Stephen Fourie

“Vir lank was my elikser die verkeerde ding, dit was Jack Daniel’s, maar op Sowetodag (16 Junie 2011) het ek afskeid geneem van hom.”

Hy glimlag skamerig. “Jy weet, ek het nooit besef hoe minder ’n mens ek was met my gesin en met my familie in die tyd dat ek my so totaal en al oorgegee het aan wat ook al ’n saak daar was en wat ook al verlang is in diens van ander sonder om my eie belange te dien nie. So ek besef dit nou. Toe my vrou (Bernice) my op ’n tyd wou los, toe besef ek dit nou régtig. Maar dis ’n stadige proses vir my. Ek is stadig besig om myself te probeer herskep om terug te kom na myself.

“Dié dat ek vir ewig ’n oorlogsgewaad in my kop dra; dit skep ’n ander persoon. Maar ek voel nou eindelik ek kan asemhaal.”

‘Selektiewe moraliteit’

My vraag bly of hy regtig wil teruggaan na die polisie nadat hy meer as 25 jaar lank moes koppe stamp in ’n proses waar hy en ander met die koms van demokrasie “die Boeing moes leer bou terwyl ons gevlieg het”.

Vearey se nuwe boek is ’n polisie-memoires wat ’n opvolg is vir sy bekroonde eerste boek, 'Jeremy Vannie Elsies'. Dit het vandeesweek op die rakke verskyn. Foto: NB-uitgewers

In die jongste veldslag is hy deur die nasionale polisiekommisaris, genl. Khehla Sitole, ontslaan omdat hy glo die polisie én Sitole “in oneer gebring het” met ’n reeks Facebook-inskrywings. In een van die inskrywings het hy onder meer die woorde “moer hulle” gebruik met verwysing na die dissiplinêre aanklagte teen sy groot vriend die voormalige misdaadintelligensiebaas lt.genl. Peter Jacobs, vir wie hy destyds in ’n tugverhoor verteenwoordig het.

“Dit was die misdaadintelligensiehoof van hierdie provinsie, genl.maj. Mzwandile Tiyo, wat ’n Facebook-post gevat het, dit ge-Facebook translate het vanaf ‘moer hulle’ na ‘fuck them’ en dit toe deurgestuur het na genl.maj. Feroz Khan by misdaadintelligensie in Pretoria, wat dit toe weer laat deursypel het na sy kontakte daarbo. En toe besluit hulle hulle maak iets daaruit. En om te keer dat daar nie te veel vrae gevra word nie, sit hulle dit deur ’n versnelde proses sonder dat enige getuienis aangehoor word en sonder dat getuies van hulle kant af ondervra word.”

Dié stryd woed voort. Vroeër die week het Vearey ’n brief van Tiyo en Khan se prokureurs ontvang waarin hulle soortgelyke stellings wat hy op televisie oor hulle gemaak het, ontken. Boonop dreig hulle met regstappe as hy nie om verskoning vra en dié stellings terugtrek nie.

Breë teorieë is al geopper oor wat in sommige kringe ’n “heksejag” genoem word teen Vearey en mense soos genl.maj. André Lincoln, hoof van die Wes-Kaapse teen-bende-eenheid, Jacobs en Anwa Dramat, voormalige hoof van die Valke. Dinge soos rassisme (hulle is almal “Camissa Afrikane”, soos wat Vearey hulle noem), etniese nasionalisme, provinsiale chauvinisme en faksiegevegte. Hulle was ook almal saam in MK, maar anders as baie oud-kamerade, sê Vearey, gaan hulle voort met hul stryd teen korrupsie. Hy glo dis die “politiek van georganiseerde misdaad” wat hom oor die jare ’n teiken gemaak het.

“Ons sit met generale wat met betaling geskors is vir eintlike korrupsie en al vir twee jaar ’n salaris verdien terwyl hulle verhoorafwagtend is. Ons sit met ’n situasie waar die hof in die Opod-aangeleentheid (Opod is die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat) ’n beslissing maak teen Sitole en sy hele bestuur en hulle kom niks oor nie.”

Dit wys dat hulle motief met my bloot wraaksugtig was.

Hy verwys hier na regter Norman Davis, wat onlangs in die hooggeregshof in Pretoria ’n aansoek van die polisie om verlof tot appèl teen ’n bevel wat hy in Januarie vanjaar teen die polisie gemaak het, met koste van die hand gewys het. Davis het in sy uitspraak gesê die polisie, in dié geval Sitole, sy adjunk, lt.genl. Lebeoana Tsumane, en lt.genl. Francinah Vuma, hoof van ondersteuningsdienste, het die “klassifikasie” van dokumente wat Opod versoek het in sy ondersoek na die verkryging van ’n selfoonsein-onderskepper “teen ’n opgeblase prys van R45 miljoen” as ’n rookskerm gebruik.

“Hulle gaan mors verder met ons belasting deur die judgement te challenge. Dié tipe van selective morality van hoe hulle hierdie tipe goed hanteer in vergelyking met hoe hulle my gehanteer het met ’n manufactured proses. Dit wys dat hulle motief met my bloot wraaksugtig was.”

‘Groot visse wat moet verdrink’

Die ironie is natuurlik dat Vearey en Jacobs naby die wenstreep was met een van die suksesvolste polisie-operasies in post-apartheid-Suid-Afrika, toe hulle skielik in Junie 2016 geskuif is uit hul provinsiale poste na mindere poste. Dié projek wat só sy tande verloor het, was Operasie Impi, ’n ondersoek na vuurwapens wat vanaf die polisie na bendes gesmokkel is.

Vearey toe hy in Mitchells Plain stasiebevelvoerder was. Hy het bekend gestaan as die 'people’s general'. Hy het onder meer gereeld saam met die vroue van Mitchells Plain 'Skolliepatrollie' gestap. Foto: NB Uitgewers

Kol. Christiaan Prinsloo, destyds die provinsiale hoof van vuurwapenbeheer in Gauteng, was in beheer van die polisie se vuurwapen-opslagplekke in Germiston en Silverton, waar duisende vuurwapens wat geoormerk is vir vernietiging gestoor is. Teen Januarie 2015 het Vearey en sy span hierdie wapens verbind aan meer as ’n duisend bendemoorde en selfs meer pogings tot moord. In daardie stadium het hulle reeds meer as 800 van die meer as 2 000 vuurwapens teruggekry.

Die probleem is, sê Vearey, is dat hy en Jacobs die huidige polisiekommissaris reeds jare gelede in Pretoria gaan sien het oor dié “wapenskandaal”, maar hy het sy hande gevou.

“Toe hy nog adjunk- nasionale kommissaris was vir sigbare polisiëring onder Riah Phiyega het ons hom persoonlik gaan brief nog voordat Prinsloo in hegtenis geneem is. Ons het ’n klomp voorstelle gemaak van wat in die CFR (die polisie se sentrale vuurwapenregister) moet gebeur. Ons ondersoek het uitgebrei na die weermag, waar ons eie mense met ons vuurwapens geskiet word in Afrika. Dit het verder gegaan na hoe hy (Prinsloo) vuurwapens aan die taxi’s verskaf het. Ongeag hierdie dinge waaroor ons feite gehad het, nie net teorieë nie, het ons nooit weer enigiets van hom gehoor nie.”

As daar nog net één persoon gedood word deur ’n Prinsloo-vuurwapen, dan moet hy (Sitole) moreel aanspreeklik gehou word.

Prinsloo is in April verlede jaar op parool vrygelaat nadat Vearey gesorg het dat hy in die tronk beveilig word onder ’n valse naam.

Hy glimlag. “Hy is nou op ’n veilige plek totdat hy gereed is om te getuig en ek kan jou verseker die mense wat nou daar lê, is maar net die tippie van die hele storie. Daar is groot visse wat nog hier moet verdrink.”

Natúúrlik sal hy getuig in die voorgenome klasaksie waar ’n koalisie van nie-regeringsorganisasies en die families van diegene wat vermoor en vermink is die polisie wil verantwoordbaar hou. “Ek het reeds vir Gun Free South Africa aangedui ek sal getuig. As daar nog net één persoon gedood word deur ’n Prinsloo-vuurwapen, dan moet hy (Sitole) moreel aanspreeklik gehou word.”

’n Dans met sy skaduwee

Die ander ding waarvoor hy sekere groot visse verantwoordelik hou, is dat daar geen beskerming was vir lt.kol. Charl Kinnear, speurhoof van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, toe hy op 18 September voor sy huis in Bishop Lavis in ’n sluipmoordaanval geskiet is nie.

By die gedenkdiens van Charl Kinnear nadat hy in September verlede jaar in sy diensmotor buite sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet is. Foto: NB Uitgewers

Dieselfde Kinnear vir wie hy ’n mentor was en wat hy reeds op hoërskool ontmoet het toe hy agter hom weggekruip het vir die onluste-polisie. Hierdie keer kon hy nie weer sy lewe red nie . . .

Hy hoes, soos dikwels terwyl ons gesels. “Ja, ek was beslis volgende. Daar was vier name op die lys wat aan genl. Sindile Mfazi (destyds die polisiekommissaris in die Wes-Kaap) gegee is en hy het absoluut niks gedoen aan die situasie nie. Dit was ek, Lincoln, Kinnear en kapt. Althea Jeftha. Ek het nou wel my beveiliging gehad, maar daar was ander mense na wie destyds al gekyk moes word. As dit gebeur het in die tyd toe Mfazi met die inligting gesit het, sou ons nie ’n jaar later met die situasie gesit het waar Kinnear alleen in ’n voertuig ry en voor sy huis doodgeskiet word nie.”

Vearey saam met wyle lt.kol. Charl Kinnear buite die hof in 2017. Eersgenoemde was ’n mentor vir Kinnear. Foto: NB Uitgewers

Hy vertel vir die eerste keer van die argument wat hy met Kinnear gehad het kort voor sy dood. Daar was ’n reël tussen hulle dat hy altyd vir Vearey moes sê waar hy is. “Die tyd toe hy in Gauteng was vir ’n saak, het hy rondgehardloop sonder dat hy ingecheck het met my en ek was bloedend kwaad vir hom daaroor. Die tweede punt is, hy is ingeroep deur ’n sekere generaal wat allerlei promises gemaak het. Toe sê ek vir hom: ‘Bly weg van daai generaal af, bly weg!’”

Sy stem breek. “Ek het vir hom gesê ‘die enigste mense wat jou gaan beskerm, is ek en Lincoln’. Ek het vir hom gesê ‘as jy nie luister nie, gaan ek jou terugtrek na my toe by organised crime’. Ek kon met hom praat, want ek was sy mentor en dit was die konteks. Sy vrou het later gesê sy weet nie waaroor dit gegaan het nie, maar hy was baie upset. Maar dít was waaroor dit gegaan het, en ek sê dit nou vir jou vir die eerste keer.”

Hy sit die gesprek met moeite voort. Die virus eis sy tol. Buite kletter die reën op die dak neer. Het hy werklik vrede gemaak met homself soos wat hy aan die einde van Into Dark Waters skryf?

Hy bly ’n oomblik stil. “Nee, ek het vrede gemaak met myself. Met my demone. Ek weet wat dit is en ek het geleer om dit te hanteer. As daar ’n geveg voor is in die toekoms, gaan ek nie toelaat dat dit ten koste van myself gebeur, soos al die jare, nie.”

Hy klem op sy kake soos ’n geswore soldaat. Dié kryger wat geleer dans het met sy eie skaduwee. “Maar hierdie geveg moet eers uitwoed, verstaan jy?”

*Vearey is Donderdag gehospitaliseer weens kliniese Covid-19-longonsteking, maar is later weer ontslaan nadat hy gestabiliseer is.

Meer oor:  Jeremy Vearey  |  Khehla Sitole  |  Peter Jacobs  |  Charl Kinnear  |  Polisie  |  Facebook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.