Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Jesse Hess: Toe breek alles vir pa Lance

Om sy vermoorde dogter, Jesse, se lyk uit te ken, is die “swaarste ding” wat hy nog ooit moes doen, sê Lance Hess aan Murray La Vita.

Lance Hess praat in die sitkamer van sy huis in Parowvallei oor sy vermoorde dogter Jesse. Foto: Jaco Marais

Lance Hesse (42) is ’n groot man. Hy verdwerg die wit teddiebeer van sy dogter Tristan (9) op die bruin bank langs hom.

Ons sit op ’n Maandagmiddag in die sitkamer van die pienk-en-wit huis in Parowvallei, ’n noordelike voorstad van Kaapstad, waar Lance saam met sy tweede vrou, Audrey, woon.

Die vertrek is in ’n ongewone lig gebaai aangesien die son gefiltreer word deur dun rooi gordyne wat toegetrek is. In die hoek staan ’n wit Kersboom. Lance se hand rus vir ’n oomblik op die been van die teddiebeer.

Ek probeer baie hard om vir my net in toom te hou.

“Toe Jesse jonger was, het sy ook ’n teddiebeer gehad wat oral saam met haar gegaan het. Ek het dit vir haar gekoop toe sy ’n jaar oud geword het,” sê hy.

Jesse, wat op 25 Oktober 19 sou word, is Saterdag begrawe. Sy was ’n teologiestudent in haar eerste jaar aan die Universiteit van die Wes-Kaapland (UWK) en is twee weke gelede saam met haar stiefoupa, Chris Lategan (85), in sy woonstel in Parow, waar sy gewoon het, vermoor.

“Ek probeer baie hard om vir my net in toom te hou. Ek slaap nog nie so lekker nie, maar ja . . . Dit ease my pyn om te weet dat sy nou op ’n veilige plek is.”

n Pak slae

Jesse en haar pa, Lance, voor haar matriekafskeid.

Lance vertel van die laaste gesprek wat hy met sy dogter gehad het die dag voordat haar lyk gevind is.

“Ek tel haar elke middag op by die universiteit en Donderdagmiddag het ek en sy gepraat en toe vertel ek haar van die dag wat ek vir haar haar eerste en laaste pak gegee het. Dit was eintlik nie ’n pak nie, ek het haar ’n hou gegee. Nadat ek dit gedoen het, het ek maar in die voorkamer gaan sit en huil toe sy begin huil.

“En ons het [dié Donderdag] nog daaroor ge-guy. Wat sy uitgeklim het, was sy so . . . Gewoonlik klim sy uit en dan sê sy: ‘Bye, Daddy’, en dan loop sy in en dan wag ek tot sy nou in is en dan ry ekke, maar Donderdag was net anderster.

“Sy het gesê: ‘Bye, Daddy’ en toe het sy stilgestaan en my so gekyk en geloop en toe weer gesê: ‘Bye, Daddy’. Toe sê ek weer: ‘Bye, Jesse’. Ek weet gewoonlik as sy klaar bye gesê het dan loop sy. Maar toe sy by die flat se hek kom toe sê sy nog weer bye.

“Ja . . . Ná almal dié . . .” Hy wys na die blomruikers op die koffietafel, “het dit so gevoel of sy nog iets vir my wil sê.”

Jy sal nooit my kleinkinders slaan nie, want jy het nooit pak gekry nie.

Hoekom het hulle oor ’n pak slae gepraat?

“Sy het beginne praat van as sy die dag kinders het dan sal sy vir hulle pak gee as hulle stout is. Toe sê ek vir haar: ‘Jy sal nooit my kleinkinders slaan nie, want jy het nooit pak gekry nie. En so het die gesels gekom by die pak wat sy gekry het.

“Sy was seker so twee jaar oud gewees. Sy en haar stiefbroer het in die bad gespeel en ek het gesê: ‘Julle moenie so aangaan nie, julle gaan huil.’ En my eksvrou het altyd gesê ja, ek promise net en promise net die kinders dat ek hulle ’n pak sal gee . . . Dit is maar hoe ek is; ek kan nie pak gee nie.

“Toe het hulle begin huil in die bad en toe het ek hulle gaan uithaal en toe gee ek hulle elkeen so ’n smack op die bum. En toe stuur ek hulle kamer toe en droog hulle af en trek hulle aan. En toe ek dit nou klaar gedoen het toe gaan sit ek in die voorkamer en toe gaan huil ek maar daar, want toe kry ek hulle weer jammer.

“So ek was maar altyd ’n . . . Even met my babatjie nou [die negejarige Tristan, dogter uit sy huwelik met sy tweede vrou Audrey]; ek kán nie. My vrou sê ook altyd vir my ek moet ophou praat en ’n slag iets doen. Toe sê ek vir haar: Maar ek hou nie van pak gee nie.”

’n Vriendelike kind

Jesse was ’n baie “hype en vriendelike” kind. Foto: Facebook

Lance is klaarblyklik kalm. In die loop van die gesprek is daar geen dramatiese uiting van emosie nie.

“Ek is baie emotional; ek huil baie, maar ek het nog nie rêrig uiting gegee nie. My vrou se tante het vir ons ’n psychologist georganise. Hy was laas week Donderdag hier gewees vir onse eerste session en dan sal hy nou weer dié week kom; hy sal elke week kom. So ons is besig om deur die stappe te gaan om oor die ding te kom.”

Ek vra hom uit oor Jesse se kinderdae en wat haar laat besluit het om teologie te bestudeer.

“Sy was ’n baie hype en vriendelike kind. Ons het nooit rêrig probleme met haar gehad nie. Daar was een keer wat ek kan onthou wat haar ma my gebel het en gesê het ja, sy’t ge-backchat. Maar ons het dit uitgesort en sy het dit nie weer gedoen nie.

“Sy was ’n baie vergeterige kind. Sy sal vir my kom kuier en dan vra ek vir haar: ‘Jess, do you have all your stuff?’ En as sy by die huis kom dan stuur sy vir my ’n boodskap: ‘Oh, daddy, I forgot my toothbrush . . . I forgot this, I forgot that.’ Dan sê ek: ‘But I asked you: Did you take all your stuff.’

En toe eendag bel sy my en sê: ‘Daddy, I want to get baptised.’

“Een naweek toe bel sy my: ‘Oh daddy, I forgot all my books there.’ Omdat ek by ’n courier company werk, het ek dit toe die oggend vróég laat FedEx dat dit by haar by die skool kan uitkom.

“Hulle het in Table View gebly en sy het daar na ’n kerk toe gegaan. En toe eendag bel sy my en sê: ‘Daddy, I want to get baptised.’ Ons het toe na die baptism toe gegaan en seker nog nie eens ’n jaar ná daai nie toe move sy na haar ouma toe want haar ma het toe oorsee gegaan. En toe het sy beginne kerk gaan by ons in die Matroosfontein Family Church of the Nazarene.

“En toe sê sy haar calling is to study theology; she wants to go into ministry; she wants to evangelise and all of that.”

‘Swaarste ding’

“In ’n tyd soos dié makeer ’n mens baie mense om jou.” Foto: Jaco Marais

Lance en sy gewese vrou, Brenda Mills, wat in Florida in die VSA woon, het Jesse se lyk uitgeken.

“Dit is die swaarste ding wat ek nog ooit gedoen het in my lewe . . .”

Vir ’n ruk is dit stil. Ons praat nie. In die verte hoor ons ’n vliegtuig. ’n Vragmotor wat vullis verwyder, beweeg stadig voor die huis verby.

“Haar tante het my die Vrydag [30 Augustus] gebel, dit was seker so past five, en gesê sy probeer die heeltyd om haar in die hande te kry, maar sy antwoord nie haar phone nie en sy is nie ’n kind wat nie haar phone antwoord nie.

Ons het die heeltyd daar gewag toe die forensies en almal die speurders en die goeters gekom het. Maar voor hulle die liggame uit die flat uit gebring het, het ek vir my vrou gesê ek wil liewerster huis toe kom want ek wil nie nog sien hoe haar lyk uit die flat uit kom nie . . . Ek sal nie dít kan hanteer nie.

“Toe het ek en my vroutjie oorgery soontoe. Toe ons daar kom was die deure nog toe en toe sê hulle net hulle kan vir Uncle Chris in die badkamer sien deur die gleufie van die kombuisvenster . . . Hy lê daar en dit lyk of hy ’n belt om sy nek het.

“Ons kon toe nie vir háár sien nie want sy was in die kamer gewees. Toe het ons nou gewag vir die polisie, wat baie disappointing gewees het . . . Daai Vrydagaand het ek gevoel ek kan die polisie se goeters vloek, want ons het twéé ure vir hulle gewag om te kom.”

Wat het in daardie twee ure deur sy kop gegaan?

“Omdat hulle net vir Uncle Chris kan gesien het, het ek gedink miskien het hulle vir haar ge-kidnap. Ek het gehoop dat sy dálk nog kan lewe . . . Ja . . . En . . . Hulle het toe ook gedink dat sy kan dood wees. So, dit was ’n bietjie mind boggling om daar te staan en nie te weet wat gaan aan nie.

“Oom Chris se kleindogter en sy dogter het daar aangekom en toe het hulle die venster oopgebreek en toe het ’n ander outjie die deur afgetrap.

“Toe kom sy [kleindogter] uit en skreeu: ‘Jesse is lying on the bed naked.’ Toe het ek in my bakkie geklim en maar getry om myself te comfort daar in die bakkie deur te dink dat hulle miskien nog orraait is.

“Nét daarna het die polisie aangekom. En toe het hulle nou vir haar gekry in die kamer en vir Uncle Chris in die badkamer. Dit lyk of sy versmoor het want daar was ’n kous in haar mond, apparently en ook sellotape om haar kop gedraai.

“Ons het die heeltyd daar gewag toe die forensies en almal die speurders en die goeters gekom het. Maar voor hulle die liggame uit die flat uit gebring het, het ek vir my vrou gesê ek wil liewerster huis toe kom want ek wil nie nog sien hoe haar lyk uit die flat uit kom nie . . . Ek sal nie dít kan hanteer nie.

“Toe ons by die huis kom en ek is hier in die stilte, toe breek alles. Ek kon nie ophou huil nie. Ek het basically heelnag gelê en huil. My vrou het probeer om my te comfort en daai, maar dit was tough gewees.”

Die Saterdagaand kon hy met die hulp van slaappille slaap.

‘Wreed en gevoelloos’

Jesse verlede jaar voor haar matriekafskeid saam met haar halfsuster, Tristan.

Lance gee ’n diep sug voordat hy praat oor sy gevoelens teenoor die mens of mense wat verantwoordelik is vir die moorde.

“Ek dink dat hulle wrééd is; dat hulle niks gevoelens het nie. Hulle kon mos die goed wat hulle wou hê gevat het en gegaan het.”

Twee televisiestelle en Jesse se selfoon en handsak is gesteel.

“Ek dan het ek ’n gróót opinie oor die drúgs wat aangaan in onse country in. Ek voel as jy die drugs uitskakel dan gaan daar nie crime wees nie want jy gaan nie nodig het om in te breek om goed te steel sodat jy kan drugs koop nie. Die government doen níks daaraan om die drug probleem in onse country uit te sort nie.

“Onse land . . . Die government kyk nie na hulle mense nie. Ek is baie disappointed in ons government. Hulle doen níks, níks, níks.

“Ek het nou die dag vir my vrou gesê ek wil nie eers my ander kleinmeidjie [Tristan] skool toe stuur nie, maar hulle is nou besig om eksamen te skryf so ek moet vir haar stuur.”

Ons praat oor die #GenoegIsGenoeg-veldtog en die reuse-optogte verlede week ná die onlangse vlaag moorde op vroue en kinders.

“Ek hoop dat dit nie net ’n ding gaan wees vir nóú nie. Gewoonlik dan gebeur die dinge dan is daar optogte en sulke goeters en dan word dit nie verder reg uitgevoer nie. Ek het vir my vrou gesê ek gaan ook nou beginne saam met die vroumense staan want ek voel onse mansmense doen níks rêrig aan die dinge nie.

“Ek sal waar hulle optogte en goed het dit bywoon, want ek voel net onse kinders moenie vrees om buitekant of even binne in die huis te wees nie.”

Dieselfde persoon wat my dogter lewe lekker van mý tax geld.

Oor die maatreël, insluitend swaarder strawwe, wat pres. Cyril Ramaphosa verlede week in die vooruitsig gestel het met betrekking tot gendergebaseerde geweld, sê Lance hy voel die doodstraf moet teruggebring word.

“Dieselfde persoon wat my dogter en ander mense se kinders al doodgemaak het, lewe lekker van mý tax geld; so ek betaal eintlik vir hom om lekker in die tronk te gaan lewe. Ek voel dis unfair.”

Wanneer ons vertrek, sê Lance:

“In ’n tyd soos dié makeer ’n mens baie mense om jou. My werksvriende was nou die aand hier gewees en toe kan ons weer praat oor die ou dae. Dit het net my mind ’n bietjie afgevat van almal, dié dinge.” Hy wys weer na die blomme. “Ons het hier gesit en gelag en net bietjie gesels. Ek kan nie genoeg dankie sê vir al die mense nie. Daar is nog mense wat hart het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.