Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Johann Botha: ’n Leeu se stem is stil

Die geliefde TV- en radioman Johann Botha, wat Woensdagaand in ’n rooftog doodgeskiet is, het in 2007 by sy huis met Marida Fitzpatrick gesels oor die talle dinge wat hom passievol kwaad en gelukkig gemaak het.

Johann Botha.

SOOS ’n mannetjiesleeu kom hy uitgestap: kaalvoet, die pype van sy jeans effens opgeslaan en sy maanhare deurmekaar.

Maar vanmiddag is dit ’n mak leeu. Geen tande wat wys of lippe wat krul nie. Niks van die afgelope tyd se baklei in sy blou oë nie. Dalk omdat dit Moedersdag is.

Ja, Johann Botha het ook ’n ma. Op die tafel in die gesellige kombuis van sy huis in Greenside, Johannesburg, is die bewys daarvan: piesangbrood, met liefde gebak deur ma Mollie.

Hy het vergeet dis Moedersdag, sê Botha. Eers toe iemand hom herinner, het hy sy ma gebel. Haar moederhart is seer, “want sy hou nie daarvan dat iemand haar seun slegsê nie”.

Asof dit ’n tafelgebed was, volg ’n paar oomblikke stilte voor ons wegval.

Maar tuisgebakte piesangbrood met botter kan enige moeder of seun se seer hart troos.

Daarom sny Hermien de Vos, sy aktrise-vrou, sommer dík snye en smeer dit lekker dik met botter. Die vet weet, ná die afgelope tyd se baklei met RSG het almal in hierdie huis báie piesangbrood nodig.

Toe almal om die tafel ’n klam stuk in die hand het, haal Botha droogweg uit Eitemal se gedig aan: “Twee kleintjies met dik snye brood / sê omie onse ma is dood.”

Asof dit ’n tafelgebed was, volg ’n paar oomblikke stilte voor ons wegval. En die vertel kom geleidelik, saam met die troos, krummeltjie vir krummeltjie.

*****

HY wil nou nie meer eintlik iets oor die RSG-bakleiery sê nie, sê Botha en vroetel met ’n rubberrekkie om sy vingers.

Die warmte van sy stem dryf saam met die reuk van filterkoffie die koue van die vroeë wintersaand uit die kombuis uit. Sy stem is donker en korrelrig soos die bruinsuiker op die tafel. Hy is 43. ’n Bietjie grys tussen die blond krul deurmekaar en sag oor sy voorkop en staan kort en grof in sy stoppelbaard.

“Dit raak nou ’n hy sê, sy sê en ’n is-issie-is-issie-is-issie en dis nie lekker nie,” sê hy en vryf moeg oor sy leeu-gesig.

Die nuwe aanbieder kan dalk werk, maar hou hom net asseblief in ’n wye skoot, hy is donners lelik

Hy praat van die vete tussen hom en Magdaleen Krüger, stasiebestuurder van RSG (sien kassie hiernaas). Hy skuif effens ongemaklik rond in die stoel en skiet die rekkie teen sy been. As hy sterk voel oor ’n saak, hol hy nie weg nie, hy bakléi, maar eintlik hou hy nie van ’n bakleiery nie, sê hy. “Dis vir my moeilik om te dink daar is actually iemand wat nie van my hou nie. Ek lê in die nag en dink: ‘Maar hoekom hou hulle nie van my nie?’ ” sê hy laggend voordat hy ernstig byvoeg: “Ek het nie gesoek daarvoor nie. Ek is net lus om aan te gaan met my lewe.”

Botha se lewe is buitendien só vol dat daar nie veel plek is vir baklei nie. Hy is ook aanbieder van die TV-program 50/50.

“My onderhoud met Danie (Van der Walt, 50/50 se vervaardiger) het uit twee vrae bestaan: ‘Hou jy van die bos?’ en ‘Wil jy vir ons werk?’ ”

Ná die eerste program wat hy vir 50/50 aangebied het, was daar ’n terugvoervergadering. “Iemand het gesê: ‘Die nuwe aanbieder kan dalk werk, maar hou hom net asseblief in ’n wye skoot, hy is donners lelik,” vertel hy en bars uit van die lag. “Ek sal dit altyd onthou.”

Net so lief soos hy vir die natuur is, net so lief is hy vir musiek, duik en die maak van dokumentêre programme – om maar net ’n paar van sy passies te noem. “Ek dink ek is maar net so; ek stel in baie goed belang.”

Hy kan nie sê wat sy grootste passie is nie; net soos hy nie kan sê wie sy gunsteling- operasanger of wat sy gunsteling-dier is nie. Soos vir ’n kind in ’n lekkergoedwinkel is daar nét te veel om van te kies.

“Ek is baie lief vir leeus,” begin hy stadig, peinsend en dan al hoe vinniger, opgewonder: “Maar ek is ook baie lief vir hiënas en vir koedoes. Ek’s lief vir spinnekoppe, slange, enige ding. Hier’s ’n muis of rot hier agter,” vertel hy en beduie na die agterdeur. “Ek moet hom seker doodmaak, want hy gee probleme. Maar hy’s vir my só mooi. As niemand kyk nie, gooi ek vir hom pap.”

Hy weet ook presies hoeveel aalwynblomme wag om oop te gaan in hul voortuin. “71. Ek tel hulle elke dag.”

Skielik roep ’n hiëna. Dis sy selfoon wat lui. Hy het self die geluid een nag in die wildtuin opgeneem. ’n Leeu se brul kondig ’n SMS op sy foon aan.

Die hiëna roep elke nou en dan, gevolg deur die leeu. Oproepe en SMS’e sonder einde.

*****

DALK het hy so baie liefdes omdat hy so ’n emosionele mens is, sê Botha ná ’n sluk koffie en hap piesangbrood. “Ek het nou die laaste ruk gehoor dis nie ’n goeie ding om te wees nie,” voeg hy by en lag sinies. “Maar dis hoe ek is. Ek is warmbloedig.

“Ek verstaan jy moet kalm en rustig wees en met jou hande slap langs jou sye staan. Ek kry dit gewoon nie reg nie.

“Ek raak opgewonde oor goed en dan moet ek almal vertel en dan raak ek kwaad oor goed en dan moet ek almal vertel en dan raak ek só kwaad dat ek die huis wil afbreek en dan raak ek só bly dat ek sommer nog ’n verdieping bo-op hom bou,” bereik hy die klimaks van sy uitasem-sin.

Weer rustiger: “Ek beleef goed intens. Wanneer ek uiteindelik by die bed uitkom, is ek gewoonlik moeg.”

Ek wou altyd ’n operasanger word. Ek het in matriek opgehou om wiskundeklas toe te gaan, want wat wil beroemde sangers weet van sin en tan en cos?

Die eerste magic wat hy onthou, was as kind in sy pa se donkerkamer, vertel hy en die geesdrif begin weer sy woorde aanjaag. “Dit was ongelooflik vir my – om ’n wit stuk papier te vat en in ’n bak te gooi en dan met ’n tangetjie te skud-skud-skud totdat ’n hele prent daaruit verskyn,” en die verwondering van 30 jaar gelede is weer in sy oë.

Sy pa, Hannes Botha, was ’n professor in Afrikaans by Unisa. Hy en Mollie het al vier hul kinders met boeke grootgemaak en vir hulle ’n liefde vir lees geleer, vertel Botha. “Ek is nou nog baie lief vir boeke en lees.”

Eintlik is dit ’n liefde vir stories, sê hy asof hy so pas tot die besef gekom het. “Hetsy dit vir radio of TV is, of ’n operaprogram of wat ook al, ek hou van stories.”

Maar lank voor hy stories op die TV of radio begin vertel het, was opera alles in sy lewe. “Ja, quite ’n loopbaan,” lag hy selfspottend. “Ek wou altyd ’n operasanger word. Ek het in matriek opgehou om wiskundeklas toe te gaan, want wat wil beroemde sangers weet van sin en tan en cos? Ek het lank sang geneem, maar toe kom diensplig tussen my en ’n internasionale loopbaan,” sê hy gemaak ernstig, maar lag dan vir homself.

Nou kan hy lag, maar toe was dit verskriklik. “My hele bestaan was daarop gemik. Toe crash die vliegtuig en ek het gedink dit is die einde van my lewe.” Vandag is hy baie dankbaar oor die pad wat sy lewe geloop het. “Ek sê altyd ek speel nie die Lotto nie, want ek het ál my geluk opgebruik om my werk te kry. Dis fantasties en spesiaal. Om in die nag in die middel van die wildtuin te wees en die olifante te hoor. Hoe vertel jy dit vir iemand? Jy kan nie.”

Hy blaas sy lippe en maak ’n diep olifantgeluid na. “Dis vir my die mooiste geluid in die wêreld. Dis net so móói!” sê hy meegevoer.

As dít die mooiste is, wat is die lekkerste? “Hermien se osstert,” antwoord hy dadelik en dink dan ’n bietjie na voordat hy ingedagte byvoeg: “Ek dink die lekkerste lê iewers tussen Hermien se osstert en die waansin-toneel in die opera I Puritani. Ek luister dit net op spesiale dae, want elke keer sing sy my in trane in.”

*****

MET sy operadrome aan skerwe en ’n dramagraad agter sy naam het hy in 1988 by die SAUK aansoek gedoen.

“Daai tyd moes jy vir sielkundige toetse gaan voor hulle jou aangestel het. Hulle kon nie enige ou op die lug loslaat nie,” sê hy in so ’n diep, amptelike stem.

Dan spot hy weer: “Maar ek is lewende bewys dat sekere ouens steeds deurgeglip het.”

Ek het geen, géén aspirasie om iemand anders se baas te wees nie. Ek wil nie enigiets van enigiets wees nie. Ek wil net my lewe kan lei.

Die toetse hét egter een van Botha se streke uitgewys. “Al wat ek onthou, is dat hulle gesê het ek is heeltemal orraait en als,” sê hy en grinnik, “maar hulle was bietjie benoud dat ek nie ’n spanspeler is nie.”

As die SAUK tóé maar geweet het wat dit nog in die toekoms sou beteken . . .

Dit is so, gee Botha toe, hy funksioneer nie goed onder ’n baas nie. “Dit kom van skool af so. Die oomblik as jy vir my sê ‘jy sal’ of ‘jy moet’, staan al my hare regop.”

Ek kry die prentjie in my kop en vir ’n oomblik het ek simpatie met Magdaleen Krüger.

Dis een ding wat hý nooit wil wees nie, sê Botha. “Ek het geen, géén aspirasie om iemand anders se baas te wees nie. Ek wil nie enigiets van enigiets wees nie. Ek wil net my lewe kan lei.”

Die piesangbrood is amper op, die gesels nog lank nie, maar dis al lank ná donker en die onderhoud moet tot ’n einde kom.

Ons stap uit, maar is skaars buite toe hy weer moet omdraai. Met ’n groot hand waai hy voor hy met ’n swaai van sy maanhare in die huis verdwyn.

Die leeu moet hol, want die hiëna roep weer. Dalk is dit sy ma . . .

Meer oor:  Johann Botha
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.